• No results found

HOOFSTUK 2: AGTERGRONDSOORSIG 10

2.3   EKOTEOLOGIE 29

2.3.4   VERDERE TEOLOGIESE OORWEGINGS 36

Beduidende verwarring bestaan steeds binne Christelike kringe met betrekking tot die doelmatigheid van pragmatiese, biosentriese, ekosentriese, antroposentriese en teosentriese benaderings tot die bewaring van die aarde. Daar is ʼn heersende behoefte aan ʼn groter aantal vollengte studies oor die trinitariese en soteriologiese aspekte van die Christelike teologie. Conradie (2005a:294 – 306) stel dit egter duidelik dat sodanige teologiese grondrede vir aardbewaring te kort sal skiet totdat betekenisvolle teologiese vraagstukke bevredigend geadresseer word en hy onderskei daarbenewens ses vraagstukke wat teologiese aandag verlang. Die eerste vier sake onder bespreking is aanduidend van areas waar Christelike piëteit dikwels ʼn omgewingsetos, -spiritualiteit en –praktyk geïnhibeer het. Die vyfde en sesde sake dui onderliggende teologiese probleme aan wat geadresseer moet word met die oog daarop om ʼn soteriologie wat fokus op die verlossing van die hele aarde in stede van menslike verlossing van die aarde, in aanmerking te neem.

Die eerste saak handel oor die vraag na begrip oor die transendensie van die Skepper. Verskeie ekologiese teologieë onderbeklemtoon die onderskeid tussen Skepper en skepping. Dit is ʼn uitvloeisel van pogings om die inwoning van God in

die skepping te oorbeklemtoon. Volgens Moltmann (1993:13) impliseer ʼn ekologiese leerstelling oor die skepping ʼn nuwe gedagtegang oor God wat nie onderskei tussen God en die wêreld nie. Die nuwe kerngedagte is herkenning van die aanwesigheid van God in die wêreld en die aanwesigheid van die wêreld in God. Die nadruk op die inwoning van God is algemeen aanwesig in ekofeministiese teologieë (met verwysing na die idee dat die geskape wêreld die liggaam van God is) en in verskeie eksponente van prosesteologie waaronder John Cobb, John Haught en Jay McDaniel. Bydraes deur onder ander Ian Barbour en Arthur Peacocke in gesprek oor die natuurwetenskappe en teologie beklemtoon ook die transendensie van God. Aansluitend hierby is die panenteïsme van toonaangewende ekologiese teoloë waaronder Ivone Gebara, Leonardo Boff, Sallie McFague en Jürgen Moltmann (Conradie, 2005a:295). Panenteïsme is ʼn Christelike konsep uit die verlede wat menslike spiritualiteit kan versterk en teologiese begrip van ekologie kan verryk. Gunton (1992:56) toon aan dat die vertrekpunt hier die onderskeid is tussen God en kreatuur, met handhawing van die onderlinge verband. Die afstand tussen Skepper en skepsel bewerk nie noodwendig vervreemding nie, maar bewaar juis die integriteit van die skepping. Elk beskik oor eie outonomie maar bly onderling verbind. Nie alles is God nie, maar God is in alles. Boff (1995:50, 51) voer aan dat panenteïsme ʼn toepaslike wyse is vir die omhelsing en omsluiting van die heelal. Aangesien transendensie misteries van aard is en menslike konstruksies van transendensie hermeneuties onvermydelik is, vind dit ten beste uitdrukking in metafoor, mite en ritueel. Die belydenis dat God die wêreld geskep het, betwis enige aanspraak op onafhanklikheid van God. Derhalwe word ʼn denkbeeld van transendensie vereis wat nie vervreem nie en ʼn denkbeeld van inwoning wat nie gelatenheid of tirannie bevorder nie.

Die tweede vraagstuk behels die vermyding van antropologiese dualisme en reduksionisme. Conradie (2005a:297) toon aan dat ekologiese teologieë konsekwent betoog dat ʼn dualistiese antropologie vermy moet word. Soos reeds na verwys in voorafgaande afdelings het ekofeministiese bydraes ineengeskakelde dualismes van die patriargale Westerse kultuur en kennissisteme blootgelê. As gevolg van die kritiek teen veral die antropologiese dualisme van liggaam en siel wil dit voorkom asof sommige kontemporêre teoloë

die kategorie van die menslike siel oorboord gegooi het. Meer resent egter is pogings om hierdie kategorie te herstel na aanleiding van kritiek teen wetenskaplike reduksionisme en die behoefte om die neiging tot toenemende kompleksiteit in die natuur te verklaar. Brown (1998:221) wys daarop dat die kategorie van die siel die menslike vermoë tot ʼn spesifieke konteks van ervaring beskryf, eerder as ʼn nie-fisiese essensie wat die menslike liggaam bewoon. Volgens Peacocke (2001:50, 51) word die mens beskou as psigosomatiese eenheid met fisieke, spirituele en verstandelike vermoëns. Die menslike persoon verteenwoordig die totale psigosomatiese, holistiese ervaring van die menslike wese in al sy/haar modaliteite – bewustelik en onbewustelik, rasioneel en emosioneel, intellektueel en esteties, aktief en passief, asook individueel en sosiaal (Peacocke, 2001:61). Anderson (1998:194) sê ʼn herstel van die sielskategorie huldig nie noodwendig ʼn beskouing van die siel as afsonderlike entiteit naas die fisiese liggaam nie, maar gee uitdrukking aan besorgdheid oor die kwaliteit van menslike lewe en die volheid van menslike bestaan. Op hierdie wyse word beide dualisme en reduksionisme vermy. Menslike taal, kultuur, kennis, etiek en religie is geanker in die stoflike biologiese en ekologiese interaksie van die mens onderling sowel as binne die omgewing. Hierdie aspekte van menslike lewe kan gewis in diens van oorheersing en eksploitasie aangewend word, maar kan ook verrykend wees indien daar ʼn skerpsiende besef van die plek en rol van die mensdom in die aardgemeenskap is (Conradie, 2005a:298, 299).

Die derde vraag wentel om die vermyding van ʼn ontvlugtings en wêreldsgesinde eskatologie. Keller (1997:86) wys daarop dat die eskatologiese hoop fokus van die aarde verplaas en dus meewerk aan ekologiese vernietiging van die aarde. Sy is van mening dat ʼn verantwoordelike Christelike eskatologie ʼn ekologiese eskatologie is wat motiverend is op die terreine van prediking, modellering, lering, organisering, politiek en gebed, met die oog op aardbewaring. Dit moet Bybelse rentmeesterskap inspireer. Bybelse eskatologie wat die droom van ʼn perfekte toekoms ontketen het, is vir menige nadelig tot omgewingsbelange. Berry (1988: 205, 206) is van mening dat die profetiese blik op ʼn beter toekoms ʼn ekologies gevaarlike eienskap van die Christendom is. Conradie (2005a:299) sê die kernvraag is hoe die Christelike toekomsblik van hoop verstaan kan word om nie vernietiging nie, maar wel genesing vir die aarde en meegaande skepsels voort te

bring. Aangesien die Christelike hoop op die ewige lewe dikwels gekritiseer word as ontvlugting, dring talle ekologiese teologieë die mens om te fokus op hierdie lewe alleen. Volgens Conyers, soos aangehaal deur Conradie (2005a:300), loop ʼn kultuur wat aanvaar dat daar nie meer is as hierdie aardse lewe nie, gevaar om te degenereer tot ʼn verbruikerskultuur, hedonisme, nihilisme en sinisme. Moltmann (1997:107) steun hierdie argument, naamlik dat die onversadigbare honger na plesier, besittings, mag, sukses en erkenning, die verdorwenheid van die moderne mens is. In die afwesigheid van ʼn toekomsblik wat hierdie aardse lewe transendeer sal die mens ongetwyfeld ʼn preokkupasie met hierdie lewe ontwikkel (Rasmussen, 2002:69)10.

Die vierde vraag handel oor die herintegrasie van die temas van skepping en verlossing. Conradie (2005a:301) verduidelik dat Christelike teologie met die oog op selfbeskerming teen indringende wetenskaplike ondervraging oor die status van Bybelse skeppingsverhale, tot onlangs gepoog het om ʼn eie spesialiseringsveld af te baken deur die leerstelling oor die skepping los te maak van kosmologie. In hierdie klimaat is skeppingsteologie gevolglik dikwels gemarginaliseer. Meer resent het die teologiese fokus na die ander uiterste van eksklusiewe belangstelling in die skeppingstema beweeg, terwyl die leerstelling oor verlossing weinig aandag geniet. In hierdie verband verwys Conradie (2005a:301) spesifiek na die skeppingspiritualiteit van Matthew Fox en Thomas Berry. ʼn Omvattende teologiese integrasie van die temas van skepping en verlossing is noodsaaklik vir ʼn Christelike ekologiese teologie. Conradie (2005a:302) is die mening toegedaan dat die oeuvres van Colin Gunton, Jürgen Moltmann en Arnold van Ruler saam met die werke van Joseph Sittler rigtinggewend is in onlangse Protestantse teologie.

Die vyfde vraagstuk fokus op begrip oor die verhouding tussen die werk van Christus en die werk van die Heilige Gees. Weerklank tussen ʼn ekologiese nadruk op die gemeenskap van lewe en ʼn teologiese beskouing van die gemeenskap van die Drie-eenheid word deur verskeie ekologiese teologieë geïdentifiseer (Conradie, 2005a:302). Sommige, waaronder Moltmann (1993:2)

voer aan dat die aardgemeenskap deelname het binne die lewe van die Drie- eenheid wat op sigself ʼn ekologiese gemeenskap van Vader, Seun en Gees is. Edwards (1995:135) sê die besef dat die wese van God verhoudingsgeoriënteerd is, roep na ʼn heroorweging van alle realiteit wat gekenmerk word deur verhouding, gemeenskap en persoonskap. Dit is egter van belang om te veel pseudologiese afleidings en teologiese spekulasie te vermy uit eerbied vir die goddelike misterie. Skepping, verlossing en nuwe skepping as werk van die Gees van God is ʼn repeterende tema in ekologies sensitiewe pneumatologieë van outeurs, waaronder Dennis Edwards, Van de Beek, Welker en Moltmann (Conradie, 2005a:303). Nogtans is dit nie duidelik hoe die nuwe skeppingswerk van die Gees geskied nie. Ook vind ons hier konfrontasie met die voortgaande debat wat terug dateer na die Westerse en Oosterse beskouings oor die verhouding tussen die Gees en Christus naamlik, die sogenaamde “filioque”-stryd. Talle eietydse teologiese strominge pleit vir meer ruimte vir die inklusiewe werk van die Heilige Gees. Hierdie debatte roep na ʼn herinterpretasie van trinitariese teologie waarin die verhouding tussen die werk van Christus en die werk van die Gees uitgeklaar kan word (Conradie 2005a:304).

Die sesde vraag handel oor hoedanig Christelike aardbewaringspraktyke verband hou met aardbewaringspraktyke binne ander kontekste, diskoerse en oortuigings. Conradie (2005a:305) meld dat religieuse tradisies potensieel inspirasie, spirituele visie, ekologiese wysheid, etiese onderskeiding, morele krag en hoop bied om ekologiese transformasie te ondersteun. Ter aansluiting sê Tucker en Grim (2000:xvi) religieuse tradisies voorsien onder andere oorlewingskrag, verlossing, genesing en verklarings oor die herkoms van die mens en die natuur. Morele beskouings word ook binne hierdie raamwerke van vertolking geïntegreer. ʼn Knellende vraag is of groot religieuse tradisies vanoor die wêreld sowel as religieuse redevoering voldoende morele mag kan versamel om die gety van aardverwoesting te stop? Die antwoord hierop is ingrypende transformasie in alle geloofstradisies. Hierdie oorwegings het daartoe gelei dat aardbewaring ʼn nuwe fokus in inter-religieuse dialoog geword het. Die opbloeiende ekologiese bewussyn het ook aanleiding gegee tot ʼn nuwe bewustheid van die aardgemeenskap waartoe alle spesies, kulture, volke en religieë behoort. McDonagh (1990:192, 193) steun hierdie argument deur te sê: “there are no

Catholic lakes, Protestant rivers or Muslim forests. We all share a common earth and in the face of a threat to the survival of the planet we should unite our efforts and forget which institution should have precedence, and other ecclesiastical niceties.” Verskillende benaderings in die Christelike teologie ontlok verdere vrae aangaande die universele en die besondere, die rol van religie in die samelewing, die struktuur van godsdienstige oortuigings en onder meer ook die plek wat die Bybel inneem in die Christelike tradisie (Conradie, 2005a:306).

In sy oorsig van bydraes deur Ou-Testamentiese vakkundiges in Suid Afrika oor omgewingsake, onderskei Van Heerden (2009:74) die volgende vraagstukke wat verdere oorweging verlang:

 Tot watter mate is genderkwessies en aardekwessies verweef?

 Indien wysheidsperspektiewe en die wysheidsmetafoor relevant is tot ekoteologie, kan wysheidsperspektiewe vanuit Afrika ekoteologie tot voordeel wees?

 Kan ʼn verbondenheid tot ekoteologie deur teoloë vanuit uiteenlopende religieuse tradisies die weg baan vir sinvolle dialoog in ʼn ruimer sin?  Wat is die impak van sosiale probleme waaronder armoede, politieke

bevrydingstryd, en menseregtebewegings op ekologiese vraagstukke?