• No results found

HOOFSTUK 2: AGTERGRONDSOORSIG 10

2.2   DIE AANVANG VAN DIE DEBAT 15

2.2.3   FUNDAMENTELE WORTELS VAN DIE PROBLEEM 24

Dat Christene nie aldeur Bybelse rentmeesterskap uitgeleef het nie, is onbetwisbaar waar, en hoewel die Christelike geloof nie noodwendig anti- ekologies van aard is nie, het Christene egter ’n ongeërgde houding teenoor die skepping ingeneem. Volgens Bouma-Prediger (2001:80) plunder menslike oortuigings, gewoontes en praktyke die aarde. In hierdie verband identifiseer Granberg-Michaelson (1988:34 - 45) vyf onderling verbonde, fundamentele wortels in die kerk:

Ten eerste is die kerk vasgevang in die moderne Westerse kultuur wat God skei van die skepping. Die Verligting, die wetenskaplike revolusie en die proses van industrialisasie het gelei tot die ontwikkeling van ʼn meganiese en wiskundige materialisme wat die realiteit van God se betrokkenheid by die skepping negeer. Die spirituele dimensie van realiteit word nie gereken as waarneembare feite nie en word dus nie as “waarheid” aanvaar nie. Volgens hierdie beskouing is die natuur outonoom en ʼn bron van rou materiale vir menslike eksploitasie. Die kerk is fundamenteel vasgevang in sy onderdanigheid aan die gode van benutbaarheid en rykdom (Bouma-Prediger, 2001:80).

ʼn Tweede wortel is die aanvaarding van moderne antroposentrisme deur die kerk. Granberg-Michaelson (1988:35, 36) verduidelik dat die moderne konsep van individuele “regte” wat die basis vorm vir Westerse politieke en ekonomiese ideologieë, gefundeer is in die oortuiging dat die outonome oogmerke van die mensdom die vernaamste doel van die skepping is. Binne hierdie raamwerk is die welsyn van die mens aanwysend vir beslissings oor etiese vraagstukke. Die skepping as geheel bestaan tot diens aan en onderhouding van menslike lewe. Op teologiese vlak is die kerk in hierdie strik vasgevang. Sedert die Reformasie

en dominante invloede vanaf die Verligting veronderstel die meeste moderne Westerse teologieё dat die verhouding van God tot menslike ervaring, hetsy persoonlik of histories, die kern van die teologiese taak is. Teologiese sowel as kulturele veronderstellings wentel rondom ʼn antroposentriese perspektief.

Derdens is die mensdom in die Westerse kultuur aanhangers van blinde geloof in tegnologiese vooruitgang. Granberg-Michaelson (1988:37, 39) wys daarop dat die lys van tegnologiese rampe soos Bhopal en Chernobyl met skrikwekkende snelheid groei. Ook Bouma-Prediger (2001:81, 82) steun hierdie argument maar beklemtoon ook die mening dat die mag om vorm te verleen aan kultuur ʼn God- gegewe dimensie van die menslike bestaan is. Die aanwending van tegnologie op sigself is egter nie die kernprobleem nie, maar wel die tipe tegnologie en tot watter koste dit aangewend word. Rigsnoere by die keuse van tegnologie kan geïmplementeer word aan die hand van ʼn raamwerk van waardes wat die integriteit van die skepping voorstaan. In hierdie opsig kan die kerk ʼn kritiese rol vertolk deur hulp te verleen by die formulering van sodanige waardes en die praktiese toepassing daarvan bepleit (Granberg-Michaelson, 1988, 39).

Die vierde oorsaak van die ekologiese situasie is die rol wat die kerk speel om die skepping op die agtergrond te skuif. Granberg-Michaelson (1988:40) voer aan dat die moderne teologie ’n stryd gevoer het tussen verpersoonliking en verpolitisering en derhalwe die teologie van die skepping as vertrekpunt opsy geskuif het. In die teologie van die skepping word prominensie verleen aan die skeppingsorde. Die handelinge van God in die geskiedenis word vooraf gegaan deur die aanwesigheid van God as onderhouer van die skepping. Net só word die beloftes van God aan Abraham vooraf gegaan deur die verbond wat ʼn aanvang neem met Noag en gesluit word tussen God en die hele aarde. Deur die lens van die skeppingsteologie is die vleeswording van Jesus Christus die kwesbare omhelsing van die ganse skepping deur God. Skeppingsteologiese perspektiewe is grootliks verontagsaam in die stryd tussen diegene wat die Bybelse boodskap verpersonaliseer en diegene wat dit bloot verpolitiseer. Volgens Bouma-Prediger (2001:82) word die Koninkryk van God tot kerklike aktiwiteite gereduseer. Hoewel die skepping nie die sentrale boodskap van die Bybel is nie, vorm dit wel ʼn

onderliggende fondasie. ʼn Gebrek aan insig in hierdie verband gee onvermydelik aanleiding tot ʼn verwronge begrip van sonde en verlossing.

Die vyfde wortel behels die aanmatigende houding van die Westerse kerk. Granberg-Michaelson (1988:42, 43) is die mening toegedaan dat die Westerse kerk teologies arrogant en onoplettend sowel as neerbuigend teenoor nie- Westerse Christelike perspektiewe opgetree het. Ekonomiese en politieke kolonialisme van die Weste het gepaard gegaan met die teologiese kolonialisme van die kerk. Westerse Christene veronderstel dat die Westerse Apostoliese Geloofsbelydenis wat dateer uit die vierde eeu bindend is vir Christene wêreldwyd. Die waarheid van die Evangelie vir Christene in ander wêrelddele sal egter eers blootgelê word wanneer die sluier van die Westerse kultuur gelig word en die Bybelse boodskap sodoende lewendig word deur vars lewenskrag binne daardie kulture. Westerse Christene sal baat by dialoog met Christene uit nie- Westerse kulture om nuwe insig te bekom met betrekking tot die wisselwerking tussen die mens en die res van die skepping.

Die leidende omgewingshistorikus Donald Worster, soos aangehaal deur Bouma- Prediger (2001:84, 85), is van mening dat dit nie nodig is om sover as Genesis terug te gaan of om die ganse Christelike erfenis te beskuldig vir die huidige ekologiese situasie nie. Die vernaamste wortels van die krisis lê in die moderne kultuur self met sy wêreldbeskouing van materialisme wat die ouer godsdienstige siening opsy geskuif het. Sukses word gedefinieer in terme van materiële besittings en ekonomiese produktiwiteit. Die vorm van materialisme wat verbind is tot sekularisme is verenig met wetenskaplike materialisme, naamlik, dat die natuur bloot fisiese materie is wat georganiseer is onder en onderworpe is aan fisiese wette. Genoemde materie is rasioneel georden maar ontdaan van gees, siel, of inwonende rigtinggewende doel. Adam Smith, beroemde ekonoom, word genomineer as die persoon wat hierdie materialistiese gees die beste beliggaam. Indien die omgewingskrisis die reeds lank voorbereide uitvloeisel is van die moderne materialistiese wêreldbeskouing, is dit nie sinvol om enige van die tradisionele wêreldreligieë te beskuldig nie.

In hierdie verband sê Du Rand (1993:180) dat die moderne mens tot ʼn groot mate verkneg geraak het aan arbeidsvergoding met die klem op ekonomiese groei ongeag hulpbronuitputting. Hoewel arbeid lewensnoodsaaklik is, moet dit ewewigtig binne God se omvattende bedoeling perspektief kry. Die druk van welvaart het ʼn moderne afgod geword.