• No results found

INTEGRITEIT, VREDE EN GEREGTIGHEID IN DIE SKEPPING 62

HOOFSTUK 2: AGTERGRONDSOORSIG 10

2.4   ALGEMENE ONTWIKKELINGS EN PERSPEKTIEWE 43

2.4.3   DIE EKUMENIESE TONEEL 58

2.4.3.4   INTEGRITEIT, VREDE EN GEREGTIGHEID IN DIE SKEPPING 62

Die integrasie tussen ekologie en die ekonomie, en die interafhanklikheid tussen omgewingsbewaring en geregtigheid teenoor die skepping word allerweë in ekumeniese kringe aanvaar. Volgens Bakken et al. (1995:19) steun eko- geregtigheid op ʼn onwrikbare oortuiging dat ekologie en sosiale geregtigheid onskeibaar is. Nash (1991:218) beklemtoon hierdie kritiese verband met die stelling dat ekologiese integriteit nie sonder sosiale geregtigheid en vrede kan bestaan nie. Ekologiese geregtigheid is ʼn voorwaarde vir sosiale geregtigheid, en vrede met die skepping is ʼn voorwaarde vir vrede onder die nasies. Dieselfde beginsels wat in die biosfeer aanwesig is, geld ook in die politieke sfeer, naamlik gevolge voortvloeiend uit interafhanklikheid. Die Bybelse konsep van shalom13 is ʼn sleutel in hierdie verband. Tarazi (1990:116, 117) verduidelik dat shalom teen die agtergrond van die antieke Nabye Ooste gedui het op die harmonieuse orde wat die skepping sowel as die sosio-politieke bestel gehandhaaf het. Die heersende bestel in die hemele en op die aarde het uitdrukking gevind in die gevestigde troon van ʼn godheid of koning. Die troonsbestyging van die godheid of koning was sinoniem met die instelling van hierdie harmonieuse orde, naamlik die implementering van shalom. Die onderlinge verband tussen die heerskappy van God en Sy shalom word duidelik uitgebeeld in onder andere Psalm 29:10, 11 en volgens Jesaja 26:12 is dit alleen God wat oor shalom beskik. Sodoende is shalom ʼn goddelike prerogatief aangesien dit verband hou met die goddelike skeppingswerk. Shalom kan nie deur die mens gerealiseer word nie, aangesien dit ’n realiteit van die skepping is waarbinne die mens sy eksistensie vind en ook handel. Voorts verduidelik Tarazi (1990:122) dat die Bybelse denkbeeld van shalom nie ooreenstem met die hedendaagse konnotasie van vrede nie. Hiervolgens dui vrede op die afwesigheid van oorlog tussen lande of die rus wat in ʼn land heers. In hierdie verband is vrede dan ʼn saak waarvoor die mens hom moet beywer. Shalom daarenteen is reeds ʼn gegewe, sowel as ʼn positiewe begrip. In ʼn teologiese lig beskou, is vrede ʼn element in die menslike koninkryk, terwyl shalom op sigself die Koninkryk van God is.

Volgens Giultsis (1990:57 – 59) verteenwoordig geregtigheid en vrede onderskeie eienskappe van die verheerlikte menslike wese. Die belewenis van geregtigheid en vrede word nie gevind in die aanvaarding van sosiale reëls wat daargestel is om orde in die samelewing te handhaaf nie. Dit behels ʼn innerlike benadering voortspruitend uit die heiligmaking van die menslike wese van wie alle politieke, sosiale of kulturele verandering afhang. Die voorafgaande illustreer dat die konsepte van geregtigheid en vrede alleen in verhouding tot die skeppingsdoel van die mens en die heelal begryp kan word. Die ware sin van betekenis moet gesoek word in die teologiese vooronderstelling dat die mens na die beeld van God geskep is. Die suiwer inhoud van geregtigheid word gevind in Efesiërs 4:23, 24 waar Paulus die gelowiges maan dat hulle vernuwe moet word in die gees en hulle met die nuwe mens moet beklee wat na God in ware geregtigheid en heiligheid geskape is. Feitlik alle Ou-Testamentiese gedeeltes wat verband hou met vrede stel dit gelyk met harmonieuse verhoudings en spesifiek die blydskap wat volg op die aflegging van twis, verwarring en boosheid in alle gedaantes. Vrede is ʼn wyse van terugkeer tot die skepping na die beeld van God.

Rasmussen (2000:524) voer aan dat die bewerk van sosiale geregtigheid en ekologiese volhoubaarheid verreikende veranderinge inhou. Hierdie veranderinge vorm ʼn raamwerk waarbinne die Christendom as positiewe krag kan optree. In hierdie verband onderskei Diefenbacher (2006:282, 284, 287) dat ekologiese ekonomie essensieël ʼn saak van geregtigheid is. Die distribusie van natuurlike hulpbronne kan deurslaggewend wees in die beslissing of ʼn samelewing regverdig optree al dan nie. ʼn Teologiese beskouing van die taak van ekonome behels die vestiging van ʼn ekonomiese orde wat korrespondeer met die waardes en norme van Christelike religieuse oortuiging. Op grond hiervan kan eko- geregtigheid konkreet toegepas word binne die bestuursriglyne vir volhoubare ontwikkeling. Volgens El Sarafy, soos aangehaal deur Diefenbacher (2006:287), behoort hernubare hulpbronne alleen binne die bepaalde tempo van regenerasie gebruik te word. Nie-hernubare hulpbronne behoort alleen gebruik te word tot die mate waarin ’n fisiese en funksionele ekwivalente plaasvervanger in die vorm van hernubare hulpbronne geskep kan word. Afval van enige aard mag alleen geproduseer word tot die mate wat die omgewing dit sonder skade kan absorbeer op lokale, sowel as streeks - en globale vlak. Die spesifieke kenmerke van die

ekosisteem en omgewingstoestande moet in ag geneem word. Die tempo waarteen menslike bemoeienis met ekosisteme plaasvind, moet tred hou met die mate waarin die omgewing daarop kan reageer. In hierdie verband speel voorsorgmaatreëls ʼn rigtinggewende rol by die risiko’s wat tegnologiese ontwikkeling vir die omgewing inhou. Bakken et al. (1995:29) is van mening dat die algemene neiging tot die aanvaarding van die dringende behoefte aan die integrasie van ekologie, geregtigheid en vrede en die Christelike geloof beskou kan word as ’n uiters betekenisvolle prestasie van die ekogeregtigheidsbeweging. ʼn Volhoubare samelewing word gekenmerk deur die saamleef van mense met mekaar en die fisiese omgewing op wyses wat voortgesette lewe bevorder eerder as om dit te vernietig.