• No results found

HOOFSTUK 2: AGTERGRONDSOORSIG 10

2.4   ALGEMENE ONTWIKKELINGS EN PERSPEKTIEWE 43

2.4.4   DIE EVANGELIESE TONEEL 71

2.4.4.3   ALGEMENE RESPONS VANUIT DIE KERK 77

Hoewel belangrike bydraes tot omgewingsfilosofie en omgewingsetiek van alle vertakkinge van die Christendom afkomstig is, is die houding van die kerk tot ekologie oor die algemeen dubbelsinnig. Weens hierdie verwarring is daar volgens Young (1994:237) nóg ʼn duidelike boodskap nóg ʼn homogene krag vir omgewingsaksie afkomstig vanaf die Christelike gemeenskap. Verder verduidelik Young (1994:238, 239, 249) dat die bestaande dualismes binne die Christelike

kerk die transformasie van die planeet belemmer. Hierdie dualismes sluit in: heilig en sekulêr; spiritueel en fisies; siel en liggaam; goed en boos; God en skepping; mens en natuur. Hierdie ongebalanseerde beskouing oorbeklemtoon die spirituele ten koste van die fisiese werklikheid en lei tot ʼn heersende geringskatting vir die fisiese. Ook word die dualistiese raamwerk oorgedra na die terrein18 van gedrag en sedes. Hoewel die Bybel onderskeid maak tussen mens en natuur en tussen die spirituele en die fisiese, raak dit problematies wanneer die onderskeid verabsoluteer word. Conradie (2003:131) verwys in sy bespreking na die navorsingsbevinding van Jacklyn Cock, ʼn Suid-Afrikaanse sosioloog, oor omgewingsbewustheid onder kerkleiers. Cock (1992:174,175, 177, 183) het tot die gevolgtrekking gekom dat ʼn “swaar stilte” in die Christelike kerk in Suid Afrika aanwesig is met betrekking tot omgewingsake. Die redes is uiteenlopend maar bevestig ook die suspisies van Lynn White: ʼn preokkupasie met menslike verlossing; die leerstelling oor goddelike transendensie; omgewingskwessies verwerp as “new age”-denke en praktyke; die beklemtoning van Joods-Christelike tradisies as menslike heerskappy oor die natuur; sowel as die persepsie dat die ekologiese krisis Bybelse apokaliptiese profesieë bevestig. In teenstelling hiermee het die onderhoude wat Cock (1992;178) met omgewingsaktiviste gevoer het die opvallende afwesigheid van enige religieuse affiliasie geopenbaar. Verder noem Conradie (2003:130) dat die vertikale verhouding met God vir sommige Christene van groter belang is as ʼn horisontale besorgdheid oor die omgewing. In sommige ekstreme vorms van die Christendom word die mening gehuldig dat weerstand gebied moet word teen onder andere: pogings om armoede te verlig, ekologiese rehabilitasie, en sowel as om oorlog af te weer. Hierdie pogings word beskou as nie alleen teenstrydig met die wil van God nie, maar vertraag ook die finale oordeel (Conradie, 2003:130). ʼn Ander vorm van weerstand binne die konteks van Christelike gemeenskappe teen omgewingsaksies is die vraag deur vele Christene of die omgewing werklik as prioriteit beskou moet word op die sosiale agenda van die kerk. Is ander kwessies soos armoede, opvoeding, behuising, gesondheidsdienste, misdaad en werkloosheid nie van groter belang nie? (Conradie, 2003:130).

In sy bespreking oor die sending van die kerk sê Young (1994:257) dat sommige van die oortuiging uitgaan dat ekologiese aangeleenthede alleenlik ʼn geregverdigde strewe kan wees indien dit ondergeskik is aan die kerklike roeping van sorg aan die armes en verdruktes. Die reikwydte van God se opdrag aan die kerk is egter groter aangesien elke Bybelse taak van die kerk daarna streef om ʼn deel van die geskape orde te herstel.

Met verwysing na evangeliesgesindes en die omgewing skryf Wilson (1998:300 - 302) waar teoloë leiding geneem het met betrekking tot aardbewaring (earthkeeping) en daarmee saam ʼn sterk etiek van rentmeesterskap binne die ortodokse leer van Bybelse outoriteit ontwikkel het, was daar ook diegene wat binne dieselfde konteks van die Bybelse leer die ekologiese krisis aanvallend benader en enige oproepe tot menslike verantwoordelikheid teenoor die skepping verkleineer het. Hierdie meningsverskil lê ʼn tekortkoming bloot in die teologie om ʼn deeglike dialektiek van skepping en verlossing te handhaaf. Oortuigings aangaande die skeppingswerk van God en verlossing informeer, korrigeer en belig mekaar. Hierdie dialektiek word nie beoefen indien die werk van verlossing en skepping in afsonderlike teenstellende kategorieë verdeel word nie.

Taalgebruik vir menslike verantwoordelikheid teenoor die skepping onder evangeliesgesinde omgewingsbewustes sentreer rondom “aardbewaring”, “rentmeesterskap” en “versorging van die tuin”. Wilson (1998:303) sê dat hoewel taalgebruik bruikbaar is vir konseptuele en praktiese lering oor skeppingsverantwoordelikheid dit desnieteenstaande kan impliseer en lei tot ernstige verwaarlosing van die werk van verlossing. Dit is nodig om taalgebruik oor rentmeesterskap en aardbewaring te wysig sodat dit die menslike situasie na die sondeval en God se werk van verlossing kan reflekteer. Sodanige gewysigde taalgebruik is dikwels soos volg te bespeur in die werk van evangeliesgesinde omgewingsbewustes: “sodat die wêreld herstel kan word deur die verlossingswerk van Jesus Christus”. Wilson (1998:303, 304) onderskei dat die taalgebruik van “verlossing” heel dikwels nie geïntegreer kan word met ʼn etiek van die omgewing op konseptuele vlak nie. ʼn Tweede konseptuele probleem wat voortspruit uit die versuim van Christene om ʼn deeglike dialektiek van skepping en verlossing te handhaaf is die onvermoë van diegene betrokke by aardbewaring, om hulle

versorging van die skepping in teologiese terme te artikuleer. Indien skepping en verlossing nie in ʼn juiste dialektiese verhouding staan nie, bestaan die moontlikheid dat Christene in foutiewe praktyke kan verval. Ekologiese besorgdhede kan dan afgesonder word van die Evangelie waar ʼn spesifieke omgewingsetiek geen melding maak van God se liefde vir die skepping in Jesus Christus nie. Christelike besorgdheid oor die skepping moet gewortel wees in die Evangelie dat God in Jesus Christus Sy liefde vir die wêreld toon en werk om dit te herstel.

Evangeliese anti-omgewingsbewustes faal dikwels ook om ʼn juiste dialektiek van skepping en verlossing te handhaaf. Wilson (1998:305) verduidelik dat die gebruik van uitrukkings soos “siele wen” die indruk skep dat God en gehoorsame gelowiges werk om siele te red, en nie mense nie. Hierdie aanwending van taal en die aanvang van ʼn gnostisisme wat daardeur verteenwoordig word, vind uiting in gedagtes en praktyke wat ʼn diepgaande uitwerking op die mens se verhouding tot die skepping het. Verskeie populêre evangeliese geloofsoortuigings toon die afwesigheid van enige leer oor die skepping. Vele onder die evangeliese Christendom verstaan verlossing as verlossing vanuit die skepping en nie as verlossing van die skepping in geheel nie. In die lig van hierdie wanvoorstellings is dit besonder moeilik om ʼn verband te sien tussen omgewingsorg en die Evangelie van verlossing. Verder sê Wilson (1998:306) dat evangeliesegesinde anti-omgewingsbewustes in die praktyk die resultaat van hul versuim om ʼn dialektiek van skepping en verlossing te handhaaf uitleef in die oortuiging dat die skepping ten doel het om rykdom en gemak vir die mens te voorsien.