• No results found

HOOFSTUK 2: AGTERGRONDSOORSIG 10

2.3   EKOTEOLOGIE 29

2.3.3   BENADERINGS IN EKOTEOLOGIE 32

Tot onlangs was ekologiese teologie gekenmerk deur ʼn apologetiese benadering in reaksie op die aantygings van Lynn White. Verwant hieraan is die poging om ekologiese wysheid9 vanuit die Bybel te herwin. Conradie (2006a:118) verduidelik dat verskeie eksegetiese studies vanuit hierdie uitgangspunt ontwikkel het en merkwaardige insigte oor ekologiese wysheid na vore gebring het. Dit fokus onder andere op Genesis 1 en 2, die sabbatswette in Levitikus 25, die openbaring van God deur die natuur in Job 37 – 39, sommige Psalms, profetiese tekste soos Jesaja 40 en 65, asook Esegiël 36. In die Nuwe Testament vind ons verskeie voorbeelde wat aan die landbou ontleen is in die gelykenisse van Jesus, die versugting van die skepping in Romeine 8:18 – 23, en die nuwe Jerusalem, hemel en aarde in Openbaring 21 – 22. Conradie (2006a:118, 119) waarsku egter dat dit aan te beveel is om die hele Bybel deur die lense van ʼn ekologiese bril te lees. Verwysings na onder meer berge en heuwels, see, mere en riviere, plante en bome, soogdiere en voëls behoort ook aandag te geniet. Die nadeel verbonde aan die keuse van opvallend geliefkoosde tekste verbind ekologie slegs met die tema van die skepping en gevolglik met die mens se rol as rentmeester. Ekologie as reïnterpretasie van skeppingsteologie raak nie die kern van die Evangelie nie. Alle aspekte van Christelike geloof insluitende die Drie-eenheid, mens en sonde, skepping, voorsienigheid, verlossing, kerk, sakramente en Christelike hoop behoort opnuut in oënskou geneem te word.

In Ecology, Justice and Christian Faith onderskei Bakken et al (1995:16, 17) ses invloedryke teologiese benaderings wat ʼn aansienlike bydrae lewer tot die agtergrondliteratuur van die ekoteologie. Ten eerste die Protestantse neo- Reformatoriese teologie wat gekenmerk word deur ʼn sterk teosentriese veronderstelling en klem op basiese Bybelse grondidees. Bekende outeurs wat hierdie groep verteenwoordig is onder meer Hall, Moltmann, Nash, Rasmussen en Wilkinson. Tweedens bou verskeie Katolieke teologiese strominge voort op sekere oortuigings gebaseer op die tradisie van die Katolieke natuurwet; ander volg ʼn meer direkte benadering vanuit offisiële posisies en handelinge van

Katolieke kerkleiers soos Charles Murphy en Pous Johannes Paulus II; ander werk vanuit reïnterpretasies van Thomas van Aquino, en dan is daar diegene wat meer besorg is oor die kosmologie en skeppingspiritualiteit. Onder hierdie groep vind ons Thomas Berry, Matthew Fox en Sean McDonagh. Derdens verteenwoordig onder andere Barbour, Cobb en McDaniel prosesteologie, ʼn prominente denkrigting in Noord-Amerikaanse besprekings. Vierde op die lys van benaderings is die onderskeie vertakkings van bevrydingsteologie. Bekende name in hierdie groep is onder andere Soelle, McFague, Radford Reuther, Williams en Boff. ʼn Vyfde benadering fokus op teologie en die diereryk. Dit is ʼn interdissiplinêre veld saamgestel uit die werke van Jay McDaniel, Andrew Linzey, in die Suid-Afrikaanse konteks Hennie Viviers, en wetenskaplikes waaronder Michael W. Fox, en fokus op die welsyn, regte en versorging van diere. ʼn Sesde benadering is ontwikkelings rondom die verhouding tussen teologie en die natuurwetenskappe wat gedurende die sestigerjare in die vorige eeu ʼn aanvang geneem het. Volgens Conradie (2006a:129, 130) het daar in die afgelope twee dekades ʼn stortvloed van literatuur in hierdie verband verskyn. Belangstelling in hierdie veld is veral sterk in Engeland, noordwes-Europa, die VSA, Suid-Afrika en Australië. Hierdie gesprekke gee in detail aandag aan die skepping, evolusie, lyding, uniekheid van die mens, God se handelinge in die wêreld en die toekoms van die heelal. Bekende name op hierdie terrein is onder meer Denis Edwards, Nils Gregersen, John Haught, Wolfhart Pannenberg, Nancy Murphy, George Ellis en Wentzel van Huyssteen. Die inhoud en betekenis van die Christelike geloof word deur die verskillende benaderings verteenwoordig.

Binne die Christelike tradisie identifiseer Haught (1993:90) ʼn teologiese oorweging wat verteenwoordig word deur drie verskillende benaderings. Volgens die apologetiese benadering wat strek van Bybelse literalisme tot gesofistikeerde teologiese vakkundigheid, is die rykdom aan ekologies relevante materiaal binne die Christelike tradisie geïgnoreer. Hierdie model is geneig om die Skrifte te fynkam vir brokkies naturalisme in ʼn poging om Bybelse gronde vir die versorging van die kosmos te vind. In ʼn meer simplistiese graad word die Psalms en ander Bybelgedeeltes wat die skepping as God se handewerk verkondig, aangehaal. Op ʼn meer erudiete vlak van interpretasie word die temas van inkarnasie en skepping as teologiese waarborg vir ʼn ekologiese teologie opgediep.

Daarbenewens word omgewingsensitiewe en gedeeltes wat voorheen oor die hoof gesien is in vroeë Christelike sowel as ander teologiese geskrifte, aan die lig gebring. Haught (1993:92, 93) verwys na hierdie benadering as apologeties aangesien dit die integriteit van Bybelse religie en tradisionele teologie verdedig sonder voorgeskrewe transformasie. Implisiet toon hierdie model aan dat die probleem nie by die Christendom lê nie, maar wel by die mensdom se gebrekkige aanvaarding van die boodskap daarvan. Op ʼn positiewe noot ontwikkel die apologetiese benadering ʼn onontbeerlike komponent van ʼn ekologiese teologie, naamlik die vestiging van aandag op klassieke Christelike werke wat voorheen nie voldoende beklemtoon is nie asook die omgewingsrelevantheid van tradisionele leringe, vergete teksgedeeltes en religieuse waardes. Hoewel pogings tot die eksegese van Skrifgedeeltes wat handel oor die deugde van die natuur of die belangrikheid van rentmeesterskap nie onbeduidend is nie, is dit nie fundamenteel voldoende nie.

Die sakramentele benadering toon tekens van die interne verandering ten opsigte van Christelike waardes wat nodig is vir ʼn Christelike ekologiese teologie. Haught (1993:93 – 95, 100) toon aan dat hierdie benadering meer fokus op die sogenaamde sakrale kwaliteite van die kosmos, en minder klem lê op normatiewe religieuse tekste of historiese openbarings. Dit laat meer ruimte vir die openbaringskarakter van die natuur en is waarneembaar in teologiese vorme waaronder teologie van die natuur, kosmiese spiritualiteit, nie-Christelike religieë, asook ekofeministiese spiritualiteit en diepte ekologie. Die sakramentele benadering interpreteer die natuurlike wêreld as die primêre simboliese onthulling van God, en omsluit ʼn holistiese beskouing van die aarde as ʼn organisme bestaande uit ʼn delikaat gebalanseerde net van interafhanklike verhoudings. Die benadering akkommodeer in die reël die evolusieteorie sowel as aspekte van eietydse fisika. Sterk klem word geplaas op die kontinuïteit van die mens met die res van die skepping. Binne die Christelike konteks kom hierdie benadering tot oortuigende uitdrukking in die skeppingsgesentreerde teologie. Die sakramentele benadering word beskou as ʼn belangrike tree tot ʼn aanvaarbare Christelike omgewingsteologie wat gerig is op ʼn ingrypende transformasie van inbegrepe religieuse tradisies.

Die derde oorweging tot ekologiese teologie is die eskatologiese benadering wat voortbou op die sakramentele interpretasie van die natuur. Die vraagstuk hier ter sprake is die mees fundamenteel Bybelse tema van die belofte van toekomsvervulling en spesifiek of die karakteristieke hoop van die Christendom op ʼn volmaakte toekoms die onderliggende basis kan vorm vir ʼn omgewingsensitiewe religieuse toekomsblik. In die soeke na ’n Christelike omgewingsteologie is dit van belang om na te speur hoe die toekomsgerigte aspek van die religie aansluit by eietydse ekologiese besorgdhede. Menslike geskiedenis sowel as die hele skepping is inbegrepe by die Bybelse perspektiewe van belofte en hoop. Dit lees in die kosmiese en sakramentele realiteit ʼn intense strewe na die toekoms (Haught, 1993:101, 102, 104, 109). In sy bespreking oor skepping aan die einde van die tyd in Waar op dees aarde vind mens God? verduidelik Conradie (2006a:220): “Die Christelike hoop is ʼn ander manier om te sê dat ons in God die Skepper glo, dat God as Skepper menslike en kosmiese begrensinge te bowe gaan, dat God nie die werke van God se hande sal laat vaar nie en dat God steeds kreatief met die skepping omgaan”. God het nie net alles deur Christus tot stand gebring nie. Met Sy opstanding het Christus die eerste plek in die heelal ingeneem (Kol 1:16 – 18) en só God se trou aan die hele skepping bewys. Die Christelike hoop is ʼn vertroue in die krag van die Gees wat alle dinge nuut maak. Die Heilige Gees is immers “die Een wat lewe gee” soos die belydenis van Nicea dit stel – selfs deur die dood heen. ʼn Hoopvolle blik op die toekoms vereis die preservering van die natuur juis weens die inherente aanwesige belofte. Derhalwe stel Haught (1993:103, 104, 109, 110) ʼn inklusiewe eskatologiese kosmologie as begronding vir ʼn Christelike omgewingsteologie voor.

Ten slotte meld Santmire (2013:5, 6) dat ʼn aantal Lutherse teoloë sedert 1961 ʼn teologiese paradigmaskuif van teo-antroposentrisme na teo-kosmosentrisme gemaak het. Volgens die teo-antroposentriese paradigma is teologiese refleksie in hoofsaak God en die mensdom. Die natuurlike wêreld word geïdentifiseer as die platform wat God se geskiedenis met die mensdom moontlik maak. Die etos wat tipies met hierdie paradigma gepaard gaan varieër van totale verwaarlosing van en selfs veragting vir die natuur, tot emfatiese en energieke verbondenheid tot verantwoordelike rentmeesterskap ter wille van God se primêre doel met die

mensdom. Dit word tipies in Bybelse terme in ouer vertalings van Genesis 2:15 om die aarde “te bewerk” onderskryf. Menslike geregtigheid en ekogeregtigheidsake word binne die raamwerk van hierdie teo-antroposentriese etos uitgewerk. Volgens die teo-kosmosentriese paradigma is teologiese refleksie in hoofsaak God en die hele geskape wêreld. Die klem is op die Goddelike immanensie in die natuur omdat God naby aan alle dinge is. Verder is die klem ook op die menslike immanensie in die natuur aagesien die mensdom ten volle in die natuur ingebed is. Die etos van die teo-kosmosentriese paradigma beklemtoon die verwantskap van alle kreature en meer spesifiek menslike versorging van alle skepsels. Die etos van die teo-kosmosentriese paradigma word toenemend in terme van nuwe vertalings van Genesis 2:15, naamlik om die aarde “te dien en te beskerm”, onderskryf. Menslike geregtigheid en ekogeregtigheidsake word gevolglik binne die raamwerk van die teo- kosmosentriese etos uitgewerk.