• No results found

HOOFSTUK 2: AGTERGRONDSOORSIG 10

2.4   ALGEMENE ONTWIKKELINGS EN PERSPEKTIEWE 43

2.4.1   BOEDDHISTIESE TEOLOGIESE TRADISIE 43

2.4.1.5   GEWELDLOOSHEID EN LYDING 46

ʼn Sterk tema in Boeddhisme wat die Boeddhistiese piëteit in die besonder tipeer, is die aandrang op geweldloosheid (ahimsa). Kinsley (1995:84) stel dat in die Boeddhistiese analise van realiteit lyding gesien word as ʼn onlosmaaklike deel van eksistensie. Die oorsaak van menslike lyding is tot ʼn groot mate aan onkunde toe te skryf. Lyding word egter ook versterk deur onnodige gewelddadigheid van een wese teenoor ʼn ander. Die verwagting in Boeddhisme is om sodanig te handel dat skade aan ʼn ander geminimaliseer word. Weerhouding van geweld teenoor ander is ʼn basiese Boeddhistiese lering. Die Boeddhistiese ideaal is om die posisie van bodhisattva (ʼn individu toegewyd aan verligting) te bereik en volgens eed die lyding van alle wesens te verlig (Barash, 2001:4). Andersyds word die eksistensiële toestand van die universaliteit van lyding met die morele deug van medelye verbind (Swearer, 2001:226). Nog ʼn deug, goedertierenheid, word deur Batchelor (1992:4) uitgelig. Dit word gesien as begeerte vir ander om gelukkig te wees. Medelye is die begeerte om lyding te versag. Beide medelye en goedertierenheid vind as vertrekpunt die individu deur eie lyding te herken en die oorsaak daarvan te ontwortel. Voordat die benarde toestand van ander aangespreek kan word, is die vereiste om innige begrip te toon vir die oorsprong van lyding in die self. Uiteindelik omsluit goedertierenheid alle lewende dinge: mense, diere, plante en die aarde op sigself.

2.4.1.6 ONDERLINGE AFHANKLIKHEID

Die genre in Boeddhistiese literatuur bekend as “Jatakas” vertel die verhale van die vorige lewens van die Boeddha, wat die idee van reïnkarnasie veronderstel. In hierdie verhale word die toekomstige Boeddha in die vorm van ʼn dier uitgebeeld terwyl sy gedrag as held die Boeddhistiese etiek illustreer. Kinsley (1995:88) verduidelik dat genoemde verhale tesame met die Boeddhistiese geloof in reïnkarnasie belangrike implikasies inhou vir ekologiese belange. Ten eerste is menslike lewe verwant aan nie-menslike lewe. Die oorgang van een spesie na ʼn ander in ʼn volgende lewe dui op die solidariteit van alle lewensvorme. Ten tweede suggereer die Jataka-verhale dat diere, net soos die mens, oor ʼn morele bewustheid beskik sowel as oor die vermoë om eties op te tree. Die klemtoon op

nie-menslike spesies as morele wesens verflou ʼn absolute onderskeid tussen menslike en ander spesies.

Kaza (1996:80, 81) verduidelik die heelal word beskryf as ʼn onderling oorsaaklike web of verhouding; elke aksie en individu dra by tot die aard van vele ander. Dit is ʼn fundamentele wet in Boeddhisme. Die beeld ter illustrasie van hierdie kosmologie heet die “Jewel Net of Indra”. Hierdie multidimensionele “Net” strek oor alle ruimte en tyd en verbind ʼn eindelose aantal juwele in die heelal. Hierdie “Net” vorm ʼn noue verband tussen Boeddhisme en die omgewing. Net só is ekologiese sisteme verbind deur water-, lug- en grondweë. Dog, die “Jewel Net of Indra” omsluit meer as die ekologiese som van die biosfeer, atmosfeer en litosfeer. Menslike denke, persepsie en waardes, en die impak daarvan op die ekologiese diskoers is inbegrepe by die Boeddhistiese beginsel van interafhanklikheid. Hierdie kritiese verskil maak dit moontlik en ʼn vereiste vir mense in die “Net” om eties op te tree uit eerbied vir ander wesens in die “Net”.

2.4.1.7 DIE NATUUR

Besorgdheid oor die welstand van die natuur is ʼn belangrike element deurlopend aanwesig in die geskiedenis van Boeddhisme. Ofskoon Boeddhisme oortuig is dat die mens oor die unieke geleentheid beskik om die toestand van verligting te realiseer, is die mens egter nie superieur in vergeleke met die res van die natuurlike omgewing nie.

De Silva (1992:19 – 21) wys daarop dat hoewel verandering ʼn essensiële eienskap van die natuur is, natuurlike prosesse deur menslike morele agteruitgang beïnvloed word. Dit verhaas verandering en bring omstandighede teweeg wat ongunstig is vir menslike welstand en geluk. Menslike sedes beïnvloed nie net die psigologiese samestelling van die mens nie, maar ook die biologiese en fisiese omgewing van ʼn betrokke area. ʼn Patroon van wedersydse interaksie ontwikkel hieruit. Indien die mensdom gedemoraliseer word deur gierigheid, is hongersnood ʼn natuurlike uitvloeisel daarvan. Morele degenerasie wat voortvloei uit onkunde lei tot onafwendbare epidemie. Wanneer haat die demoraliserende faktor is, is wydverspreide geweld die uiteindelike gevolg. In die

geval wanneer die mensdom tot die besef kom dat grootskaalse verwoesting plaasgevind het as gevolg van morele verval, kom mense tot inkeer. Namate moraliteit vernuwe word verbeter omstandighede oor ʼn lang periode van oorsaak en gevolg en die mensdom kan geleidelik weer welvaart en ʼn langer lewe geniet. Die wêreld, waarby ingesluit die natuur en die mensdom, oorleef of gaan ten gronde weens die aard van die aktiewe morele krag.

Die lewensfilosofie van Boeddhisme beeld ook die skoonheid van die natuur uit (De Silva, 1992:27). Dit word beskou as ʼn bron van groot vreugde en estetiese genoeë. Menige digters ontleen hulle inspirasie aan die natuur weens die sentimente wat hierdeur in hulle innerlike wese ontlok word. Daar ontstaan dan ʼn emosionele betrokkenheid by die natuur. Die waardering wat die Boeddhistiese heilige vir die natuur het, is egter van ʼn heel ander aard. Die skoonheid van die natuur word op sigself waardeer en ontlok vreugde wat nie verontreinig is deur sinlike assosiasies en selfgeprojekteerde idees nie. Soos reeds aangetoon onder paragraaf 2.1.2.4 hierbo, vind ons in die Christendom by Franciscus van Assisi ʼn sterk motief van ʼn harmonieuse verhouding tussen die mens en die natuur. Hertzberg en Khalid (1998:34) wys daarop dat Franciscus sy siening dat die ganse skepping deel vorm van een familie sterk beklemtoon het. Hy het sy volgelinge die voorbeeld gestel om diere en voëls as hulle broers en susters te erken. Hierdie leefwyse was nie ʼn oppervlakkige en kinderagtige sentimentaliteit nie, maar wel ʼn grondige model van die mens se verhouding tot die res van die skepping onder God.

2.4.1.8 SAMEVATTING

In wese kan Boeddhisme beskryf word as ʼn ekologiese religie of ʼn religieuse ekologie (Batchelor, 1992:10). In die vroeë ontwikkeling van die Boeddhistiese geskiedenis is sterk klem gelê op die Boeddhistiese gemeenskap as verteenwoordigend van ʼn kontra-kultuur. Uit Boeddhistiese geskrifte is dit duidelik dat Boeddhiste bewustelik ʼn gemeenskap geskep het wat heersende waardes verwerp het. Volgens hul beskouing was die hoofstroom kultuur verteenwoordigend van selfbevrediging, geweld, vermorsing, blindelingse strewe na mag en rykdom asook gebrek aan medelye met ander ten gunste van

selfverheerliking. Hierdie vroeë neiging om ʼn kontra-kultuur te skep is van belang weens die ekologiese implikasies daarvan (Kinsley, 1995:90). Bestudering van die self en meegaande gedrag vorm die wese van Boeddhistiese lering. Meditasie as sentrale aspek van Boeddhisme is ʼn praktiese wyse om ʼn toestand van kalmte te bereik en die denke te stabiliseer. Deur beoefening van meditasie word empatie vir mense en ander skepsels in die natuur gekultiveer. Die voortvloei van positiewe dade uit positiewe gedagtes en negatiewe dade uit negatiewe gedagtes vorm die grondslag van karma. Aansluitend hierby is die weerhouding van geweld teenoor ander. Die Boeddhistiese ideaal is om die lyding van alle wesens te verlig. Onderlinge afhanklikheid tussen alle spesies en die idee van reïnkarnasie dui op die solidariteit van alle lewensvorme. Patrone van wedersydse interaksie ontwikkel uit die invloed wat menslike sedes op die biologiese en fisiese omgewing het. Besorgdheid oor die welstand van die natuur is ʼn belangrike element in die Boeddhistiese geloofstradisie. Dit word beskou as ʼn bron van vreugde en estetiese genot. Die waardering wat Franciscus van Assisi getoon het vir die heiligheid van die natuur sluit sterk aan by die Boeddhistiese geloofstradisie.

2.4.2 EKOFEMINISME 2.4.2.1 INLEIDING

Ekofeminisme verteenwoordig die samesmelting van diepte ekologie, oftewel die radikale ekologiese beweging, en feminisme (Radford Ruether, 1994:45). Anders gestel, blyk die evolusie van ekofeminisme saam te hang met die sekulêre beweging wat oor die afgelope dekades by ekologie aangesluit het. Die term “ekologiese feminisme” is in 1972 deur Francoise d’Eaubonne daargestel (Hill, 1998:214). Sy redeneer dat die vernietiging van die aarde voortspruit uit die winsmotief wat inherent aanwesig is in die manlike gesag, en dat ʼn ekologiese rewolusie alleen deur vroue bewerkstellig kan word. Primavesi (1991:24) verduidelik die begrip ekofeminisme as die onbewustelik aanvaarde verhouding tussen vroue en die natuur wat die basis is vir ʼn spesifieke soort ekologie. Volgens Radford Ruether (2000:97) ondersoek ekologiese feminisme die onderlinge verbondenheid tussen die heerskappy oor die vrou en heerskappy oor die natuur. Dit strewe na wêreldbeskouings en strategieë ter bevryding en

genesing van hierdie onderlinge verbondenheid deur beter begrip van die etiologie en afdwingbaarheid daarvan.