• No results found

HOOFSTUK 2: AGTERGRONDSOORSIG 10

2.5   EKOLOGIESE HERMENEUTIEK 84

2.5.2   BENADERINGS IN EKOLOGIESE HERMENEUTIEK 86

2.5.2.1   THE EARTH BIBLE PROJECT 86

Indringende ontleding van die wyse waarop veral Westerse Christelike tradisies die Bybel gelees het, het ʼn sterk neiging om die aarde te devalueer, ontbloot (Habel 2000a:25). In die lig van die veronderstelling dat die Bybel deurspek is van ekologiese wysheid wat soms implisiet is, maar meer dikwels misverstaan word (Conradie, 2006a:118, 120), is die Earth Bible projek onlangs voltooi. Die Earth Bible reeks is volgens Conradie (2004:123) ’n sinvolle vakkundige produk wat poog om die Bybel vanuit ʼn ekologies sensitiewe perspektief te lees deur die toepassing van ʼn ideologies-kritiese hermeneutiek. Die reeks bestaan uit vyf bundels wat fokus op temas van Bybelse hermeneutiek.

Volume 1, Readings From The Perspective Of Earth is inleidend tot die hermeneutiese benadering en ekogeregtigheidsbeginsels wat deur die Earth Bible span ontwikkel is. Gekose teksgedeeltes dek die Psalms, Profete, evangelies, Romeine en Openbaring, asook deuterokanoniese literatuur waaronder Tobit en die Wysheid van Salomo. Die kernlede van die span vir die eerste twee volumes van die Earth Bible projek verteenwoordig ʼn verskeidenheid van perspektiewe, godsdienstige affiliasies en eksegetiese uitgangspunte (Habel, 2000a:9, 10). Volume 2 The Earth Story In Genesis, ontbloot hoedanig die aarde gewaardeer of gedevalueer word, tot watter mate die stem van die aarde erken of ontken word en na gelang van die teksoriëntasie, hoedanig die aarde gedomineer of gedien word. Hierdie volume sluit ook die eerste van ʼn dialoog-reeks in tussen die Earth Bible span en sleutelfigure wat sake verteenwoordig wat sigbaar word uit die lees van die Bybel vanuit die perspektief van die aarde (Habel & Wurst, 2000:9). In volume 3, The Earth Story In Wisdom Traditions, het die Earth Bible span hulle ten doel gestel om te bepaal of ʼn teks ʼn skeppingsgeoriënteerde verband toon, al dan nie. Ter sprake is waar die stem van die aarde in die wysheidsliteratuur gehoor kan word, nie net in verheerliking nie maar ook téén onbillikheid (Habel & Wurst, 2001:9). Kenmerkend van volume 4, The Earth Story In The Psalms And

The Prophets, is onder andere lesings van tekste wat populêre opvattings van die “Chaoskampf”-mite, die teofanie van Psalm 29 en die Nuwe Aarde in Jesaja 65 betwis. ʼn Tema wat herhaaldelik aangetref word in hierdie studies is die sterk verwantskap tussen die grond en tradisionele voogde van die land wat agter inheemse mensegroepe se geskiedenis van gedeelde voogdyskap lê (Habel, 2001b:10). Die laaste volume in die reeks, The Earth Story In The New Testament is saamgestel uit essays wat verskillende temas in teksgedeeltes uit onder andere die vier evangelies, Hebreërs en Openbaring uitlig. Die intrinsieke waarde van die aarde en al sy komponente, asook die seggenskap van die aarde, word in hierdie volume aangedui (Habel & Balabanski, 2002:9). Conradie (2004:123) betreur dit egter dat die reeks voltooi is sonder dat verdere volumes in die vooruitsig gestel is. Verdere verkenning is aan te beveel met die oog op ʼn volume oor die wettekodes in die Pentateug; verdere ontwikkeling van die volume oor die Psalms en Profete tot twee volumes; en afsonderlike volumes oor die sinoptiese evangelies, die Johannes–literatuur en die Paulus/deutero–Paulus briewe.

Habel (2000a:36, 37) definieer die basiese doelstellings van die Earth Bible projek soos volg:

 Om, voordat die Bybelteks gelees word, te erken dat Westerse eksegete erfgename is van ʼn lang antroposentriese, partriargale en androsentriese benadering tot die lees van ʼn teks, die aarde gedevalueer het en dat dit steeds die wyse waarop die teks gelees word, beïnvloed;

 Om te verklaar, voordat ons ʼn Bybelteks lees, dat ons deel is van ʼn menslike samelewing wat die bestaan van die aardgemeenskap uitgebuit, onderdruk en bedreig het;

 Om progressief meer bewus te word dat ons deel is van die bedreigde aardgemeenskap in dialoog met antieke tekste;

 Om die aarde te erken as ʼn subjek in die Bybelteks wat empaties benader moet word, eerder as rasioneel-analities;

 Om geregtigheid vir die aarde te bepleit deur vas te stel of die aarde en die aardgemeenskap in die Bybelteks onderdruk, tot stilswye gemaak of bevry word;

 Om tegnieke van lees te ontwikkel waardeur alternatiewe tradisies geïdentifiseer en teruggebring word, sodat die stem van die aardgemeenskap gehoor kan word.

As riglyn om genoemde doelstellings te bereik het die Earth Bible span ses (Habel, 2000a:42 – 53) kritiese hermeneutiese ekogeregtigheidsbeginsels tot Bybelinterpretasie geformuleer (Conradie, 2004:27):

 Die beginsel van intrinsieke waarde

Die heelal, aarde en die komponente daarvan het intrinsieke waarde. Hierdie ekologiese beginsel is fundamenteel vir die ontwikkeling van ʼn etos, ʼn teologie of ʼn hermeneutiek wat daarna streef om geregtigheid vir die aarde te bevorder. Dit voer aan dat die aarde en sy komponente oor inherente waarde beskik, nie vanweë enige nuttigheidswaarde vir die mens nie of omdat dit die skeppingswerk van God weerspieël nie. Die hele aarde as ʼn kompleks van ekologiese sisteme en al die komponente van daardie sisteme, het intrinsieke waarde omdat hulle deel vorm van daardie sisteme. ʼn Tipiese vraag wat hierdie beginsel illustreer sou wees: Word die aarde in die lig hiervan so verstaan en lei die begrip hiervan tot agting en eerbetoon deur stemme in die teks? (Habel, 2000a:108, 109).

 Die beginsel van onderlinge verbondenheid

Die aarde is ʼn gemeenskap van onderling verbonde lewende elemente wat wedersyds afhanklik van mekaar is vir lewe en voortbestaan. Alle lewende wesens asem dieselfde lug in. Wanneer ʼn gegewe teks in die lig van die beginsel van onderlinge verbondenheid gelees word, mag alternatiewe tradisies teruggevind word wat ʼn verbondenheid en interafhanklikheid tussen die sfere van die biologiese wêreld asook tussen hierdie wêreld en menslike wesens bevestig. Tipiese vrae wat

hierdie beginsel ondersoek is: Wys die figuur van wysheid in Spreuke 8 op ʼn onderliggende beginsel wat die fisiese, sosiale en spirituele sfere integreer? Bestaan tekste wat aandui dat die mense èèn is met die aarde, verwantskap toon met die diere, sowel as ʼn integrale deel van die geïntegreerde aardgemeenskap is?

 Die beginsel van stem

Die aarde is ʼn subjek wat in staat is om sy stem te verhef in verheerliking sowel as teen ongeregtigheid. Bioloë, ekoloë, feministe en teoloë is dit eens dat die aarde ʼn biologiese en spirituele eenheid is. Die aarde is ʼn alles omarmende organisme. Die wyses van selfuiting deur die aarde en nie-menslike lede van die aardgemeenskap reflekteer hulle eiesoortige geaardhede. Die toepassing van die beginsel van seggenskap wek die suspisie dat die geskiedenis van Bybelinterpretasie oor die algemeen geneig was om die taal van die aarde die swye op te lê. Skrifgedeeltes wat verwys na die skepping wat God seën en loof is van die tafel gevee as poëtiese vryheid. Hierdie beginsel kan ontbloot word deur te vra: Reflekteer die woorde van die profete en digters in die Bybel die stem van die aarde of lede van die aardgemeenskap (Habel, 2000a:46 – 48)?

 Die beginsel van doelgerigtheid

Die heelal, die aarde en al sy komponente is deel van ʼn dinamiese kosmiese ontwerp waarbinne elke deeltjie ʼn plek het in die oorkoepelende doel van die ontwerp. Vrae ter sprake by die toepassing van die beginsel van doelgerigtheid op die teks is onder andere: Is die aarde weggooibaar? Het die aarde ʼn ander einddoel en ontwerp? Word die dood van die aarde as onvermydelik beskou in ʼn Skrifgedeelte soos Openbaring? Indien wel, is die dood ter sprake deel van ʼn natuurlike siklus van geboorte, dood en vernuwing? Hoe word die lewenssiklusse van die aarde verstaan (Habel, 2000a:48 – 50)?

 Die beginsel van gemeenskaplike voogdyskap

Die aarde is ʼn diverse maar gebalanseerde gebied, waar voogde of rentmeesters as vennote, eerder as heersers, optree om ʼn diverse en gebalanseerde aardgemeenskap te onderhou. Hierdie beginsel is ontwerp om die rol van die mens in die aardgemeenskap te reflekteer. ʼn Heersende opinie bestaan dat sleuteltekste soos Genesis 1:26 – 28 en interpretasies daarvan die mens as rentmeester wat namens God regeer, ʼn onderliggende antagonisme tussen die mens en die res van die skepping reflekteer. ʼn Alternatiewe ekologiese model beskou die mens as spesie wat integraal deel van die aardgemeenskap is, onvermydelik onderling verbind met ander spesies en ekostelsels en afhanklik is van hierdie stelsels vir voortbestaan. Die mens het daarom ʼn natuurlike verwantskap met lede van die aardgemeenskap. Voogdyskap19 is ʼn wedersydse vennootskap. Ten spyte van die veronderstelde heerskappy van die mens, is die aarde en die res van die aardgemeenskap die versorgers van die mens deur voedsel, beskutting, skoonheid en ander rykdom te voorsien om die mens liggaamlik en spiritueel te onderhou. Verkenning van tekste in die soektog na alternatiewe tradisies lewer vrae op soos: Beskou die Skrif die aarde as heilig? Word die mens hoegenaamd beskou as voogde van die nie-menslike verwante? Word die rol van die aarde as voog in Bybeltekste gereflekteer (Habel, 2000a: 50, 51)?

 Die beginsel van weerstand

Die aarde en sy komponente ly nie slegs onder menslike ongeregtigheid nie, maar weerstaan dit ook aktief in die worsteling om geregtigheid. Diegene behorende tot groepe wat hulle onderdrukkers weerstaan en oorleef, is bewus daarvan dat die onderdruktes gebruik maak van alle moontlike maniere van weerstand om situasies van onderdrukking te oorleef. Dit blyk dat sommige tekste waarskynlik fokus op sonde teen God en kwaad teenoor medemense, maar ignoreer die ongeregtighede teenoor die aarde omdat die aarde

19 ‘n Goeie voorstel is om “Gemeenskaplike voogdyskap”: as “onderlinge sorg” te formuleer aangesien

beskou word as ʼn voorwerp sonder gevoelens of stem. Wanneer God plae en vloeke oor die aarde stuur, wil dit voorkom asof die aarde weens die misdade van die mense ly. Vrae wat hierdie beginsel daarom oproep sluit in: Is dit regverdig? Is daar aanduidings dat die aarde hierdie ongeregtigheid weerstaan? Of kan aanduidings dat die aarde en aardgemeenskap sensitief is teenoor hierdie ongeregtighede gevind word in boeke soos Levitikus, Jeremia en Romeine (Habel, 2000a:52, 53)? In sy bespreking van die Earth Bible projek wys Horrell (2010b:7,8) op ʼn beswaar teen die benadering, naamlik dat die gesag daarvan nie in die Bybelse of Christelike tradisie geleë is nie maar in die ekogeregtigheidsbeginsels. Hierdie beginsels is doelbewus in algemene en nie–teologiese wyses geformuleer wat nie die spesifieke Bybelse en Christelike tradisie reflekteer nie.