• No results found

HOOFSTUK 2: AGTERGRONDSOORSIG 10

2.2   DIE AANVANG VAN DIE DEBAT 15

2.2.4   SAMEVATTING 27

Sedert die publikasie van die artikel van Lynn White jr. in 1967 word die Christendom van ekologiese vernietiging beskuldig. Die aard van die argumente wat hy aangevoer het, was nie nuut of volledig nie. Volgens hierdie argumente dra die Christendom die blaam dat die interpretasie van Genesis 1:28 naamlik, om oor die skepping te heers, ontaard het in ʼn respeklose plundering van die aarde en haar hulpbronne. ʼn Wye verskeidenheid argumente word aangevoer ter ondersteuning van die algemene aanklag teen die Christendom. Die beklemtoning binne die Christelike tradisie van dualisme tussen die spirituele en materiële dimensies het ʼn ontgoddeliking van die natuur tot gevolg gehad. Die patriargale raamwerk binne Joodse en Christelike tradisies verteenwoordig ʼn breuk in religieuse en sosiale ekologie. Monoteïsme word as algemene oorsaak van die vernietiging van die aarde beskou. Die stryd wat die Joodse en Christelike tradisies teen politeïsme gevoer het, sou dit onmoontlik gemaak het om elemente van waarheid in politeïsme te bewaar, en het ʼn veels te groot verwydering tussen die Skepper en skepsel en God en die wêreld tot gevolg gehad. Die politieke nasleep van monoteïsme was die regverdiging van outoritarisme en gesentraliseerde mag weens die beskouing dat alleenlik die mens God in die skepping verteenwoordig en gemaak is na Sy beeld en gelykenis. Die antroposentriese benadering sou ontleen wees aan gesentraliseerde mag en outoritarisme. Hierdie benadering ontken die wesenlike waarde en goedheid van die natuur. Die stamgebonde ideologie van uitverkiesing waaronder erfgename van die Abrahamitiese geloof gereken word, sou ʼn hindernis skep teen die vorming van ʼn ekologiese denkbeeld van die wêreld. Oortuigings dat die kosmos onder die mag van die duiwel verkeer vanweë die sondeval, rig die meeste skade aan die ekologie. Hiervolgens word die aarde met sy volheid gestraf weens die sonde van die mens. Aanhangers van die

Christelike eskatologie ontken grondredes vir die bewaring van die aarde aangesien die Wederkoms van Christus naby is. Hierdie eensydige siening dat die mens ʼn bonatuurlike verlossingsbestemming het lei daartoe dat die ekologiese bewussyn skade ly.

Oorvloedige kritiek is teen die wesenlike aanklag van White aangevoer. Tereg som Granberg-Michaelson (1988:33) White se aanklag teen Bybelse lering op as verdraaid en selektief. Die moderne wetenskap en tegnologie kan teruggevoer word tot die Griekse kultuur. Omgewingsverwoesting kom nie uitsluitlik by Christelike kulture voor nie. Die mens is die gemeenskaplike kenmerk in die vernietiging van die omgewing. White openbaar ʼn wanbegrip van die Bybelse strekking van heers en die beeld van God. Dit is nie duidelik of die Ou of Nuwe Testamente die dualisme van die liggaam en die siel staaf nie, terwyl ʼn verskeidenheid van Skrifgedeeltes bevestig dat materie vir God van belang is. Ook die klassieke Apostoliese Geloofsbelydenis bevestig dat God die soewereine bron van alle syn en wording is. Bybelse eskatologie beklemtoon die verlossing en herstel van die skepping en die omgewingsimplikasie hiervan is dat die aarde waardevol is in die oë van God.

Hoewel die Christelike religie nie noodwendig anti-ekologies van aard is nie, is die aanklag dat Christene ʼn ongeërgde houding teenoor die skepping ingeneem het, geldig. Menslike gewoontes, oortuigings en praktyke plunder die skepping. Binne die kerklike arena word meer fundamentele wortels van ʼn oënskynlike anti- ekologiese aard onderskei. Die kerk is vasgevang in die moderne Westerse kultuur wat God afskei van die skepping. Daarom is dit noodsaaklik dat die teologie die mens se verhouding met die nie-menslike natuur opnuut vanuit die Bybel moet herdefinieer. Die moderne mens sien homself as outonoom en bou strukture deur politiek en industrieë en wend die omgewing hoofsaaklik tot eie vooruitgang aan. Die kerk het hierdie moderne antroposentrisme aanvaar. Kenmerkend van die mensdom in die moderne Westerse kultuur is ʼn blinde vertroue in tegnologiese vooruitgang. Die vernietiging van ekosisteme wat mense insluit deur tegnologiese rampe beklemtoon die gewaande selfstandigheid van die mens wat homself van God gedistansieer het. Tegnologiese vooruitgang moet deurgaans rekening hou met ekologiese ewewig. Die kerk het ʼn leidende rol

gespeel om die moderne teologie voorop te stel ten koste van die teologie van die skepping. Skeppingsteologiese perspektiewe is grootliks verontagsaam in die stryd tussen die verpersonalisering van die Bybelse boodskap en die verpolitisering daarvan. Die arrogansie van die Westerse kerk veronderstel dat die Apostoliese Geloofsbelydenis bindend is vir alle Christene wêreldwyd. Teen die agtergrond van kulturele oorsprong, toon sommige Christene in ander dele van die wêreld meer insig vir die posisie van die skepping in hulle geloofsbesef. Dit is sonder twyfel gedeeltelik die geval omdat hulle tradisionele kulturele leefwêrelde nie ʼn skerp skeidslyn gestel het tussen die mens en die omgewing nie.

Die mening word ook gehuldig dat die vernaamste wortels van die omgewingskrisis in die moderne kultuur self met sy beskouing van materialisme gevind kan word. Sukses word gedefinieer in terme van materiële besittings en ekonomiese produktiwiteit.

Loader (1987:6) verklaar dat die ekologiese debat onontbeerlik is vir die Christelike geloof. Nie net is die mens se fisiese lewe, bestaan en oorlewing afhanklik van gebeure in die omgewing nie, maar ook die innerlike lewe, die essensie van geloof, is onlosmaaklik verbind met die ekologiese krisis. Die Christelike omgewingsteologie het ontluik sedert die publikasie van die artikel van White.