• No results found

HOOFSTUK 2: AGTERGRONDSOORSIG 10

2.2   DIE AANVANG VAN DIE DEBAT 15

2.2.2   AANKLAGTE TEEN DIE CHRISTENDOM 16

2.2.2.3   OORTUIGINGSKRAG VAN DIE AANKLAGTE 20

Die artikel van White het wye reaksie ontlok. Sonder om spesifiek name uit te lig in sy bespreking, verduidelik Simkins (1994:5, 6) dat sommige Christelike teoloë die aanklag teen die Bybelse beskouing van die natuur, as verantwoordelik vir die ekologiese krisis, aanvaar het en selfs verdere fundamentele teologiese redenasies verstrek het om die aanklagte te regverdig. Kritiek teen die wesenlike aanklag van White is in oorvloed aangevoer. Enersyds redeneer historici dat die

moderne wetenskap en tegnologie nie uit die Christelike en Bybelse wêreldbeskouing ontstaan het nie; trouens, die moderne wetenskap kan teruggevoer word tot so vroeg as die Klassieke Griekse kultuur. Bowendien word die verhouding tussen die Christendom en wetenskap dikwels gekenmerk deur antagonisme. Andersyds voer Bybelse geleerdes aan dat White se interpretasie van die skeppingsgebeure en die inherente Bybelse natuurbeskouing verkeerd voorgestel is. Hy openbaar ʼn wanbegrip van die Bybelse strekking van “heers” en “die beeld van God” en het nagelaat om die betrokke tekste in eie historiese konteks te lees. Die argument wat die grootste afbreuk doen aan die sentrale tesis van White, is dat omgewingsverwoesting nie ʼn uitsluitlike prerogatief van Christelike kulture is nie. Die menslike ras is die gemeenskaplike kenmerk in die vernietiging van die natuur.

Enkele aanklagte word vervolgens uitgelig. Die vraag word gevra tot watter mate die eerste hoofstukke van Genesis gestalte verleen aan monoteïsme? Volgens Bouma-Prediger (2001:73, 74) tref Genesis 1:26 onderskeid tussen mens en dier. Alleen die mens is geskep volgens die beeld (tselem) en gelykenis (dĕmut) van God. In hierdie opsig is die mens uniek onder die skepsels van God. Ook het God aan die mens die verantwoordelikheid opgedra om die diere te benoem, wat wesenlike begrip impliseer. ʼn Ander aspek wat dikwels oor die hoof gesien word, is hoewel die mens in ʼn sekere sin van diere onderskei word, die mens ook een is met ander skepsels en ingebed is in die skepping. Die mens is op die sesde dag, volgens Genesis 1:24 - 31, saam met ander lewende wesens voortgebring. Kortweg is die mens beide aanspreeklike gesagdraer en aardse wese. Genesis 1:26 - 28 toon aan dat heerskappy ʼn dimensie van die menslike roeping is. Bouma-Prediger (2001:74) argumenteer dat “heerskappy” teen die agtergrond van ʼn wyer kanonieke perspektief die betekenis van diensbaarheid inhou. Hy steun sy argument met verwysing na Psalm 72 wat die ideale koning uitlig as heerser wat reg verskaf aan die ellendiges, met geregtigheid oordeel, die kinders van die behoeftiges verlos en hom ontferm oor die armes en behoeftiges. Behoorlike beoefening van heerskappy bring shalom voort en die ganse skepping sal gedy hierdeur. Aansluitend hierby verduidelik Loader (1987:18) dat die mens veronderstel is om te heers na die beeld van God soos God in liefde, versorging en in harmonie.

Met verwysing na die aanklag oor dualisme tussen die spirituele en die materiële stel Bouma-Prediger (2001:75, 76) die vraag of die dualisme gebaseer is op Bybelse gronde en of dit verteenwoordigend is van die enigste perspektief binne die tradisie? In antwoord op bogenoemde vrae voer hy aan dat dit nie duidelik is of enige van die Ou of Nuwe Testamente die liggaam/siel dualisme soos veronderstel deur voorstanders van hierdie argument, staaf nie. Algemeen aanvaarde opvattings oor Bybelse antropologie bevestig òf ʼn funksionele holisme òf ʼn holistiese dualisme. In geen geval word die liggaam geringskat nie. Insgelyks geld bogenoemde antwoord die sogenaamde dualisme tussen materie en gees waarvolgens materie gedevalueer word. ʼn Verskeidenheid van Bybelgedeeltes vanaf Genesis tot Openbaring, sowel as leerstellings ontleen aan die Bybel, bevestig dat materie vir God van belang is. Volgens Nash (1991:72 - 75) was die teologiese fokus sedert Augustinus7 tot Luther, Aquino8 tot Barth, en die meerderheid van teoloë daartussen en daarná, op sonde en verlossing, die sondeval en redding, en die God-mens verhouding teenoor die bio-fisiese wêreld as geheel. Hierdie fokus is dikwels geassosieer met kenmerkende digotomieë in Christelike ingesteldhede insake die “wêreld” waaronder: liggaam en siel, materiële en spirituele, natuurlike en bonatuurlike, natuur en mensheid, sekulêr en heilig, skepping en redding, manlik en vroulik, met weinig begrip vir onderlinge interafhanklikheid. Die radikale tradisie van contemptus mundi met sy obsessie vir verlossing van die siel en minagting vir biofisiese realiteite het die dualisme tot uiterstes gevoer. Dit moet in gedagte gehou word dat die aanklag teen die Christendom ʼn oorveralgemening is wat te dikwels gebaseer word op die lees van Genesis 1:28 volgens die bewysteks-metode. Ook is dit van belang om daarop te let dat die Christelike denke gekenmerk word deur verskeie strominge met radikale uiteenlopende aksente (Nash, 1991:79). Ook Santmire (1985:25) verduidelik dat ʼn persoon se identiteit as menslike wese enersyds essensieël geanker is in ʼn ekologiese grondidee en andersyds in ʼn spirituele grondidee. Die ekologiese grondidee is een van die dominante teologiese temas in die Christelike tradisie. Hierdie beeld van menslike bestaan vermy die dualisme van gees en materie deur die geworteldheid van die mens in die natuur te erken en verlange

7 Kyk die bespreking van die teologie van Augustinus onder 2.1.4 8 Kyk Aquino onder 2.1.6

om God se aanwesigheid in en saam met die natuurlike orde in die geheel te verheerlik.

Nash (1991:95, 96) wys daarop dat die eerste verklaring van die klassieke Apostoliese Geloofsbelydenis ʼn belydenis van geloof in God as Skepper van hemel en aarde is. Dit is ʼn bevestiging van goddelike soewereiniteit, universele voorsiening, skeppingsafhanklikheid en implisiete ekologiese verantwoordelikheid. God is die soewereine bron van alle syn en wording. In die lig van hierdie perspektief van radikale monoteïsme is daar geen gronde vir die bestaan van mindere gode nie. Volgens hierdie beskouing is politeïsme, astrologie, animisme en andere vorme van natuuraanbidding afgodediens, nietigheid en dwaasheid. Aanbidding en eer mag slegs tot die Skepper gerig word. Desnieteenstaande het alle skepsels van God die reg op morele oorweging as ʼn teken van waardigheid waaraan God hulle deelagtig gemaak het. Dit dien ook om uitdrukking te verleen aan die verheerliking van God. Die aanklag dat monoteïsme die desakralisering van die skepping sanksioneer, is nie verantwoordbaar op Bybelse gronde nie.

Die eskatologiese komponent van die ekologiese aanklag ontlok verskeie vrae. Bouma-Prediger (2001:76, 77) stel van die vrae soos volg: Word hierdie eskatologie gesteun deur die Bybel? Sal die aarde met vuur vernietig word? Vertoon die Christelike eskatologie noodwendig ’n gebrek aan ekologiese etiek? In antwoord op die vrae word 2 Petrus 3:10 uitgelig. Feitlik alle Bybelvertalings interpreteer hierdie Skrifgedeelte in ʼn trant wat die skepping loёn. Die New Revised Standard Version vertaal hierdie teksgedeelte meer akkuraat soos volg: “and the earth and everything that is done on it will be disclosed”. De Nieuwe Bybelvertaling (KBS/VBS) van 2005 bied ʼn meer getroue weergawe van die beste Griekse teks as: “de aarde wordt blootgelegd en alles wat daarop gedaan is komt aan het licht”. Die Griekse werkwoord in gedrang hier is heurethēsetai (“to find”). Finger, soos aangehaal deur Bouma-Prediger (2001:77), is daarvan oortuig dat 2 Petrus 3:10 in hoofsaak handel oor God se beoordeling van alle sake, en nie noodwendig vernietiging nie. Korrek gestel getuig hierdie Skrifgedeelte van ʼn basiese kontinuïteit van die huidige aarde met die volgende wêreld, eerder as van ʼn diskontinuïteit. Die skepping is die tuiste van alle skepsels huidig sowel as toekomstig. Ook beklemtoon Bybelse eskatologie die verlossing en herstel van

die skepping. Die algemene omgewingsimplikasie van hierdie bevestiging is dat die aarde kosbaar is in die oë van God en dat gepaste rentmeesterskap van die nie-menslike natuur ʼn taak is met ewige gevolge. Uit die bespreking dusvêr is dit duidelik dat die ekologiese aanklag teen die Christendom faal om die bewering te staaf.