• No results found

HOOFSTUK 2: AGTERGRONDSOORSIG 10

2.5   EKOLOGIESE HERMENEUTIEK 84

2.5.2   BENADERINGS IN EKOLOGIESE HERMENEUTIEK 86

2.5.2.6   THE EXETER PROJECT 98

ʼn Ander belangrike resente bydrae tot ekologiese hermeneutiek is die resultate van die Exeter Projek onder leiding van David Horrell. Twee boeke wat die debat oor ekoteologie in ʼn ander rigting stuur is na afloop van die projek in 2010 gepubliseer: Ecological Hermeneutics. Biblical, Historical and Theological Perspectives onder redaksie van D. Horrell, C. Hunt, C. Southgate en F. Stavrakopoulou en The Bible And The Environment. Towards a Critical Ecological Biblical Theology deur D Horrell.

2.5.2.6.1 ECOLOGICAL HERMENEUTICS

In die inleiding tot die volume Ecological Hermeneutics. Biblical, Historical and Theological Perspectives verduidelik Horrell (2010b:8) diegene betrokke by die projek het moontlikhede verken om ʼn standpunt te ontwikkel tussen die vertrekpunt van “herwinning” van ekologiese wysheid in die Bybel soos weergegee in sommige evangeliese skrywes en in die Green Bible aan die een kant en die ekogeregtigheidshermeneutiek van die Earth Bible projek aan die ander kant. Volgens Horrell (2010b:8) laat die voorgaande benadering die indruk dat ekologiese teologie en etiek op eenvoudige wyse in die Bybelteks gelees kan word indien die teks behoorlik begryp word; dat die Bybel verdedigbaar is teen alle kritiese aanklagte; en dat dit as ʼn “groen” boek met ʼn “groen” boodskap bestempel kan word. Hierdie benadering slaag nie daarin om reg te laat geskied aan beide die teenstrydigheid en uitdaging van Bybelse materiaal en tot die mate waartoe eietydse teologiese en etiese toewysing noodwendig ʼn konstruktiewe onderneming deur die huidige konteks sowel as Christelike teologiese tradisies ingelig is nie. In teenstelling hiermee voer Horrell (2010b:8) aan dat die kritiese ekogeregtigheidsbenadering van die Earth Bible projek, hoewel dit veelvuldige teologies pertinente materiaal genereer, nie op voldoende wyse artikuleer hoe sodanige kreatiewe en kritiese interpretasie sou kon bydra tot die ekologiese hersamestelling van Christelike teologie nie. Sodanige teologie vereis dat die Bybel ʼn formatiewe en gesaghebbende posisie beklee en kontinuïteit met die Christelike tradisie demonstreer. Horrell (2010b:8, 9) toon aan dat die benadering wat hy en sy span gepoog het om te ontwikkel in die breë beskryf kan word as ʼn poging om ʼn ekologiese teologie saam te stel wat tegelykertyd innoverend maar nogtans samehangend en in dialoog met ʼn Skriftuurlik gevormde Christelike evangelie is. Enige poging om sodanige teologiese ekologiese hermeneutiek te ontwikkel moet deeglik kennis neem van die geskiedenis verbonde aan Christelike teologiese interpretasie om vrugbare interpretasies in die huidige klimaat te bewerk.

Horrell (2010b:9) lig die doel en omvang van die volume Ecological Hermeneutics. Biblical, Historical and Theological Perspectives as volg uit: Eerstens om Bybelse en teologiese perspektiewe in diepgaande dialoog deur ekologies georïenteerde

en hermeneuties geïnformeerde refleksie op die Bybel te bring. Tweedens, om op kritiese wyse uit die geskiedenis van interpretasie te leer en te erken dat vroeëre verklaarders nie die hedendaagse besorgdheid en bewustheid oor die ekologie beleef het nie en inderdaad moontlik bygedra het om antroposentrisme van die teologiese tradisie te versterk en om daarop ingestel te wees om potensieël vrugbare verklarende perspektiewe in vorige interpretasies van Bybeltekste te onderskei. Deel I van die volume bevat ʼn verskeidenheid aan selektiewe lesings van Bybeltekste wat lank reeds geïdentifiseer is as pertinent tot of problematies vir ekologiese temas. In ander gevalle varieër dit binne die korpus van literatuur waarvan die ekologiese belang nog nie in diepte aandag geniet het nie. Horrell (2010b:9, 10) sê dat hoewel die medewerkers ʼn diversiteit van moontlike interpretasies bied, is hulle bewus van hindernisse in die soeke na ekologies relevante materiaal in die Bybel. Deel II handel oor die geskiedenis van interpretasie, vanaf Irenaeus en die vroeë Kerkvaders tot twintigste–eeuse teoloë waaronder Karl Barth en Jürgen Moltmann. Ruimte word ook aan die Ortodokse tradisie afgestaan. Deel III van die volume is meer selektief en beknop met betrekking tot materiaal. Die fokus van essays in hierdie afdeling is die artikulasie van ʼn benadering in eietydse Bybelse interpretasie wat ʼn besondere ekologiese hermeneutiek verteenwoordig. Die volume word afgesluit met ʼn programmatiese en uitgebreide essay deur Ernst Conradie aangesien sy metodologiese refleksies fundamenteel is tot die algehele taak en doelwit van die volume. Horrell (2010b:10) meld dat Conradie22 se werk ook ʼn sterk invloed gehad het op die

benadering wat deur die Exeter projek ontwikkel is. Conradie (2010:300, 301) wys op drie strategieë van interpretasie wat ʼn brug vorm tussen die Bybelteks en die konteks van die leser. Een strategie is om ʼn saak van blywende waarde in die teks wat steeds relevant is vir eietydse konteks, te identifiseer. Hier word gelet op eksterne waarhede of morele beginsels wat direk in die eietydse konteks aangewend kan word. Gehoorsaamheid aan God se opdragte is ʼn voorbeeld hiervan. ʼn Tweede strategie is om analogieë tussen situasies soos in die Bybelse vertellings beskryf en ervarings in eie konteks te vind. ʼn Derde strategie identifiseer sekere beloftes in die teks en antisipeer die vervulling van die beloftes van God nogeens in eie konteks. Conradie (2010:301, 302) meld dat hoewel die

vermelde strategieë wyd aangewend word, die gevaar van verkeerde voorstellings ʼn werklikheid is. Lank bestaande teologiese tradisies het hierdie eendersheid blootgelê en die nodige konseptuele middelle ontwikkel wat Christene tot hulp kan wees in Bybelinterpretasie. Hierdie onverfynde toepassing het moontlik regdeur die geskiedenis van die Christendom teoloë aangespoor om konseptuele modelle wat hierdie proses fasiliteer saam te stel. Sodanige dogmatiese konstrukte vertolk ʼn beslissende rol in interpretasie en vertoon ʼn drievoudige funksie: Dit bied ʼn strategie om die betekenis van beide die eietydse konteks en die Bybelteks te identifiseer. Dit bied dus ʼn interpreteerder die geleentheid om ʼn verband tussen teks en eietydse konteks te bewerkstellig. Dogmatiese konstrukte word nie alleenlik aangewend om ooreenkomste te vind nie maar om ooreenkomste te konstrueer indien nodig. Die doelstelling is om ʼn sleutel te bied tot die kernbetekenis van die huidige konteks as ʼn geheel en die Bybelteks as ʼn geheel. Oorvereenvoudiging en ʼn verreikende harmonisering van verskille in analisering van beide die Bybel en die huidige konteks is onvermydelik aangesien enige handeling van interpretasie die identifikasie van een of ander vorm van eendersheid – in – verskil vereis.

2.5.2.6.2 THE BIBLE AND THE ENVIRONMENT

In die voorwoord tot die volume The Bible And The Environment. Towards a Critical Ecological Biblical Theology stel Horrell (2010a:vii) dat sy benadering tot die boek in die Christelike tradisie gelokaliseer is en in gesprek met die Christelike Bybel en debatte oor die interpretasie en betekenisinhoud daarvan. In Deel I beskryf hy die hooftrekke en kategoriseer hy verskillende benaderings tot die Bybel in verband met omgewingsake. In Deel II ondersoek hy ʼn reeks van die mees relevante Bybeltekste en die moontlike betekenis en verskeidenheid van interpretasies daaraan verbonde. In Deel III word voorstelle tot ʼn ekologiese hermeneutiek aan die hand gedoen.

Horrell (2010a:125, 126) onderskei drie dimensies van ʼn meer genuanseerde en hermeneuties–eksplisiete benadering tot Bybelse ekoteologie. Ten eerste beklee historiese studies en geïnformeerde eksegese ʼn belangrike rol. Dit dra by om te verseker dat noukeurig gelet word op die inhoud van Bybeltekste aangesien dit

produkte van ʼn antieke kultuur is. Tweedens is daar ʼn behoefte aan interpretasie wat deur die teologiese tradisie geïnformeer is. ʼn Benadering wat opnuut in gesprek tree met die Bybel moet in dialoog met die Christelike tradisies tussen konserwatiewe preservering van daardie tradisies en die wysiging daarvan beweeg. ʼn Derde dimensie is gesprekvoering met eietydse natuurwetenskappe en ander velde van menslike kennis (soos etiek) wat relevant is tot die begrip van huidige ekologiese sake. Hierdie benadering vereis kritiese insig in verskeie vakkundige studievelde en in ander religieë en kulturele tradisies. ʼn Ekologiese teologie en etiek moet deur analise van ekosisteme, klimaat en moontlike toekomsverwagtings geïnformeer, maar nie voorgeskryf word nie.