• No results found

HOOFSTUK 2: AGTERGRONDSOORSIG 10

2.5   EKOLOGIESE HERMENEUTIEK 84

2.5.2   BENADERINGS IN EKOLOGIESE HERMENEUTIEK 86

2.5.2.5   THE GREEN BIBLE 95

The Green Bible20 (NRSV) is in 2008 onder redaksie van Kohlenberger & Petersen gepubliseer. Soortgelyk aan verskeie “rooi-letter” uitgawes van die Bybel wat direkte uitsprake van Jesus Christus in rooi druk bevat, het die span van die Green Bible hierdie gebruik aangepas om die “groen-letter” uitgawe bekend te stel. Hierdeur word die aandag gevestig op direkte Bybelse uitsprake met betrekking tot die denke en handelinge van die mens in konfrontasie met die omgewingskrisis. Sorgvuldige seleksie van teksgedeeltes fokus onder andere op: hoe God en Christus intiem betrokke is by die skepping deur sorgsaamheid en interaksie; hoe die elemente van die skepping – land, water, lug, plante, diere en mense onderling verbonde is; hoe die natuur respons toon teenoor God; en hoedanig die mens geroep is tot die versorging van die skepping. Verder bevat die Green Bible ’n Green Subject Index met indelings wat onderwerpe soos diere, sorgsaamheid teenoor die menslike naaste, land en water dek. Die Green Bible Trail Guide is ʼn reeks Bybelstudies rondom hooftemas van skeppingsorg en die rol van God in die skepping. Verskeie bydraes deur gerespekteerde omgewingsbewaarders en teoloë lig belangrike temas uit wat verband hou met die sorgsaamheid van God teenoor die skepping en gee ook riglyne vir die lees van die Bybel deur ʼn “groen lens”. ʼn Hulpbron Where Do You Go From Here? bied riglyne om die eerste treë te gee tot skeppingsbewaring asook ʼn lys van organisasies en webwerwe wat reeds betrokke is by omgewingsbewaring vanuit ʼn spirituele verwysingsraamwerk op ʼn praktiese vlak (The Green Bible, 2008:15, 16).

ʼn Verwerking van die resultate van ʼn studie deur Calvin B. DeWitt (2007) Earth- Wise: A Biblical Response to Environmental Issues, is in die Green Bible opgeneem. DeWitt21 (2008:24) verduidelik dat die Bybel nie alleen ʼn ernstige

oproep tot skeppingsbewaring lewer nie, maar terselfdertyd ʼn invloedryke ekologiese handboek oor regverdige lewe op aarde is. Hy onderskei op sy beurt agt Bybelse beginsels as kragtige omgewingsboodskap betrokke by die herstel van die integriteit van die skepping:

20 Kyk The Green Bible (NRSV) 21 Sien ook DeWitt (1997:79 – 103)

 Die beginsel van Aardbewaring

Na die mate wat God die mens onderhou en bewaar is die mens geroep om God se skepping te onderhou en te bewaar. Hierdie beginsel vloei uit Genesis 2:15 voort. God het die mens in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en te bewaar (shamar) sodat dit volhoubaar sou wees en gedy. Shamar word soms vertaal as “beskerm”, “bewaak”, “versorg” of “oppas”. Die bewaring van die aarde moet gekenmerk word deur goedertierenheid (DeWitt, 2008:28, 29).

 Die beginsel van vrugbaarheid

Die vrugbaarheid van die skepping mag deur die mens geniet word sonder om dit te vernietig. Volgens Genesis 1:20 – 22 het God die geskape wesens geseën en die opdrag gegee om vrugbaar te wees en te vermeerder. Die skepping reflekteer die vrugbare werk van God, naamlik versadiging en volhoubaarheid. Na die mate wat die vrugbare werk van God vrug aan die skepping voorsien, moet die werk van die mens ook daarvan getuig (DeWitt, 2008:29).

 Die beginsel van Sabbatsrus

Die mens moet voorsiening maak vir die Sabbatsrus van die skepping. In Eksodus 20 en Deuteronomium 5 gee God die opdrag om een dag uit sewe opsy te hou vir die rus van mens en diere. Dit is ʼn tyd om God te aanbid, die vrug van die skepping te geniet, te rus en vir restourasie. Eksodus 23:10 en 11 getuig dat die Sabbatsrus die grond ook toekom. In Levitikus 25:20 – 21 gelas God die volk om nie bekommerd te wees oor wat hulle sal eet in die sewende jaar nie, aangesien Hy sy seën oor hulle sal gebied in die sesde jaar sodat die grond ʼn oes vir drie jare sal oplewer. Die Sabbat is gemaak vir die mens en deur hom/haar vir die res van die skepping. Die Sabbat is ook gegee om die grond teen ongenadige eksploitasie te beskerm, om dit te vernuwe en ʼn tyd van rus en restourasie te gun. Die Sabbat is ʼn diepgaande wet wat nie tot die landbou beperk is nie, maar ook van toepassing is op die ganse skepping (DeWitt, 2008:30, 31).

 Die beginsel van dissipelskap

Die mens is geroep tot dissipels van Jesus Christus, die Skepper Onderhouer en Versoener van alle dinge. Volgelinge van Christus is dissipels van die laaste Adam, ʼn lewendmakende Gees volgens I Korintiërs 15:45. Waar die volgelinge van die eerste Adam dood en degradasie bewerk, bring die kinders van God lewe en restourasie. Dissipels van die laaste Adam werk om alle dinge met God te versoen in Jesus Christus (DeWitt, 2008: 31, 32).

 Die beginsel van prioriteit aan die Koninkryk

Soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid, lui Matteus 6:33. Dit vorm ʼn skrille kontras met die hedendaagse kultuur wat die soeke na geld en sukses as prioriteit aanmoedig. In die soeke na die Koninkryk van God sal die mens vind dat vreugde en geluk by- produkte van rentmeesterskap is. Verwesenliking is ʼn gevolg van die soeke na die Koninkryk. Die Koninkryk sal beërwe word deur diegene wat nie hul naaste, die aarde, die grond en dieregemeenskap en die res van die skepping op arrogante wyse uitbuit nie. Hierdie roeping word bevestig wanneer die mens in Christus volgens Matteus 6:9 en 10 bid: “Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word; laat U Koninkryk kom; laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde ..” (DeWitt, 2008:32).

 Die beginsel van tevredenheid

Die mens vergryp hom/haar aan die vrugte van die skepping tot selfsugtige winsbejag. Meedoënlose druk op die grond en lewe om meer te produseer degradeer die skepping. In Psalm 119:36 bid die Psalmdigter: “Neig my hart tot U getuienisse en nie tot winsbejag nie”. Goddelike gewin is om die roeping te vervul wat God op die mens geplaas het. Tevredenheid dra by tot die preservering van skeppingsintegriteit. Die strewe na goddelike voldaanheid as gewin plaas minder druk op die aarde om te produseer en sal meer ruimte laat vir die nie-menslike skepsels van God (DeWitt, 2008:32, 33).

 Die beginsel van praktyk

Die mens moet volgens geloofsoortuiging wandel. Jakobus 2:20 vermaan die mens dat geloof sonder werke dood is. God verlang van die mens om Sy voorskrifte vir die versorging van die skepping op ʼn praktiese vlak uit te leef (DeWitt, 2008:33).

 Die beginsel van instandhouding

Die mens moet die diensbetoon van die skepping aan die mens met menslike diensbetoon beantwoord. Hierdie beginsel omvat alle voorafgaande beginsels. Die Hebreeuse woord (abad) kom 290 keer in die Ou Testament voor en word merendeels as “diens” vertaal. Verskeie vertalings van abad in Genesis 2:15 naamlik, “bewerk”, “dien”, “bemes” en “berei” hou verband met waardige diens. Die tuin van die skepping bedien die mens met goeie voedsel, skoonheid, kruie, vesels, medisyne, mikroklimate, prosessering van voedingstowwe en saadproduksie. Die tuin en die groter biosfeer voorsien ekosisteemdienste soos watersuiwering deur verdamping en perkolasie, ontwikkeling van grondsoorte deur die afbreking van rotsmateriaal en regulering van die plaaslike klimaat deur naby geleë watermassas. Nietemin raak Genesis menslike diens aan die skeppingstuin. Diens van die skeppingstuin aan die mens is implisiet, diensbetoon van die mens aan die skeppingstuin is eksplisiet (DeWitt, 2008:34).