• No results found

HOOFSTUK 2 : EVALUERINGSPROSESSE EN

3.5 KRITIESE BELEIDSONTLEDING VAN DIE NASIONALE GSE-BELEID

3.5.3 GEVOLGE VIR IMPLEMENTERING

3.5.3.1 VERANTWOORDELIKHEDE VAN ROLSPELERS

a) NASIONALE ONDERWYSDEPARTEMENT

Soos voorheen aangedui (cf. 3.5.2.7), is dit die verantwoordelikheid van die Nasionale Onderwysdepartement om ondersteuning aan provinsies te verleen ten opsigte van die beplanning en uitvoer van eksterne evaluerings, die selektering van skole vir evaluerings en die vasstel van die lengte van evaluerings. Verder is dit ook die verantwoordelikheid van die Nasionale Onderwysdepartement om in die jaarlikse begroting voorsiening te maak vir ’n “conditional grant specifically for school evaluation activities and for supporting schools in their efforts to implement the recommendations of the evaluation report” (DoE, 2001(b):Section 3.1.1).

Die Nasionale Onderwysdepartement is ook verantwoordelik vir die daarstelling van ʼn nasionale liggaam om die GSE-beleid van tyd tot tyd te hersien (DoE, 2001(b):Section 3.1.2). Voorts moet die departement ʼn beleid ontwikkel om provinsies en distrikte te evalueer ten opsigte van GSE-aktiwiteite, asook om ondersteuning aan skole te verleen (DoE, 2001(b):Section 3.1.3.). Hiermee saam moet die departement skoolevalueerders oplei en stelsels ontwikkel om die gehalte van Geheelskoolevaluering en die werk van evalueerders te moniteer (DoE, 2001(b):Sections 3.1.7 & 3.1.8). Met hierdie bepalings plaas die GSE-beleid ʼn bepaalde verantwoordelikheid op die Nasionale Onderwysdepartement om stelsels te ontwikkel om die implementering van die beleid te vergemaklik.

b) PROVINSIALE ONDERWYSDEPARTEMENTE

In Suid-Afrika vorm die Provinsiale Onderwysdepartemente die tweede vlak van regering. Hierdie departemente is daarvoor verantwoordelik om toe te sien dat onderwys op provinsiale vlak gelewer word in ooreenstemming met nasionale beleide. Ten opsigte van die implementering van die GSE-beleid, is Provinsiale Onderwysdepartemente dus daarvoor verantwoordelik dat die beleid geïmplementeer word volgens voorskrifte wat deur die Nasionale Onderwysdepartement daargestel is. Ten einde hieraan te kan voldoen, moet provinsiale departemente toepaslike administratiewe ondersteuning aan evalueringspanne verleen ten einde hulle in staat te stel om skole te evalueer in

ooreenstemming met die nasionale steekproef (DoE, 2001(b):Section 3.2). Volgens artikel 3.2.8 (DoE, 2001(b)) is Provinsiale Onderwysdepartemente ook verantwoordelik om die gehalte van distriksondersteuning te moniteer en om tekortkominge reg te stel. Provinsies is voorts daarvoor verantwoordelik om beleide te ontwikkel en om personeel te voorsien wat skole moet bystaan ten einde aanbevelings van evalueringspanne te implementeer (DoE, 2001(b):Section 3.2.3).

Dit is verder die verantwoordelikheid van die Provinsiale Onderwysdepartemente om te begroot en fondse beskikbaar te stel om sodoende skole in staat te stel om aanbevelings van GSE-spanne te implementeer en om veral vir onvoorsiene uitgawes voorsiening te maak vir skole wat dringende ondersteuning nodig het (DoE, 2001(b):Section 3.2.6). In ooreenstemming met die GSE-beleid, moet die provinsiale en politieke hoofde van onderwys jaarverslae publiseer wat die hoofbevindinge van die evalueringspanne bevat (DoE, 2001(b):Section 3.2.10). Die doel van hierdie jaarverslae is, enersyds, om die vernaamste areas vir skoolontwikkeling met rolspelers te kommunikeer, met die doel om skoolverbetering te bewerkstellig en, andersyds, om inligting aan die Nasionale Onderwysdepartement te verskaf ten opsigte van die gehalte van onderrig en leer in ʼn spesifieke provinsie.

c) EVALUERINGSEENHEDE

Provinsiale evalueringseenhede bestaan uit spanne van vier tot ses lede en dit is die verantwoordelikheid van die Provinsiale Onderwysdepartement om hierdie eenheid saam te stel en om administratiewe ondersteuning aan hulle te verleen (cf. 3.5.2.7). Volgens die GSE-beleid (DoE, 2001(b):Section 3.3.1) moet hierdie spanne evaluerings uitvoer onder die leierskap van die provinsiale onderwyshoof, maar binne ʼn nasionale raamwerk. Evalueringspanne kan ook gebruik word (DoE, 2001(b):Section 3.3.4) om distriksondersteuningspanne te help om standaarde by nie-presterende skole te verhoog. Distriksondersteuningspanne bestaan uit distriksamptenare wat deur die distriksdirekteur aangestel is om ʼn bepaalde skool na afloop van eksterne evaluering by te staan om ʼn skoolverbeteringsplan op te stel en te implementeer. Die beleid is egter nie duidelik oor wat hierdie hulp behels nie. Dit kan moontlik daarna verwys dat distrikte niepresterende skole kan nomineer, wat deur GSE-evalueringspanne geëvalueer moet word, of dat evalueringspanne skole wat reeds geëvalueer is, moet bystaan om aanbevelings te implementeer. Die GSE-beleid (2001(b):Section 3.3.2) bepaal verder

dat skoolevaluerings moet plaasvind in distrikte wat nie evalueerders se tuisdistrikte is nie. Die doel van hierdie bepaling is om objektiwiteit van evalueringspanne te bevorder. Doeltreffende kommunikasie is ʼn belangrike verantwoordelikheid van evalueringspanne. Een van die doelwitte van die GSE-beleid (cf. 3.5.2.3) is om terugvoer aan alle rolspelers te verleen ten einde skoolverbetering te fasiliteer. Ook veronderstel die beginsels van openheid en samewerking (cf. 3.5.2.4) doeltreffende kommunikasie. Die afdeling oor etiek in die GSE-beleid (DoE, 2001(b):Section 2.5) toon aan dat evalueerders skole eerlik en regverdig moet evalueer, daar moet openlik met rolspelers gekommunikeer word en terugvoer moet objektief en dadelik gegee word. Evalueringspanne is ook, volgens die GSE-beleid, verplig om sleutelinligting beskikbaar te stel, wat in provinsiale en nasionale verslae neerslag moet vind om die gehalte van onderrig en leer in die provinsie asook die land te bepaal (DoE, 2001(b):Section 3.3.3).

d) ONDERWYSDISTRIKTE

Ten einde skoolbeheer te vergemaklik en gestalte te gee aan die beginsel van demokrasie, word provinsies verder in bepaalde distrikte verdeel en word verskillende skole binne hierdie onderwysdistrikte georganiseer. Ten opsigte van geheelskoolontwikkeling is elke onderwysdistrik weer verantwoordelik vir die versekering van gehalte-onderwys, asook die verbetering van onderwys, deur distriksondersteuningspanne te stuur wat, na afloop van die eksterne evaluerings, skole moet ondersteun om verbeteringsplanne op te stel en te implementeer (DoE, 2001(b):Section 2.1). Volgens die GSE-beleid (DoE, 2001(b):Section 3.4) moet distriksondersteuningspanne oor kundigheid beskik ten opsigte van verskillende velde. So moet spanne lede insluit wat kundig is in algemene skoolbestuur, leierskap, skoolbeheer, kurrikulum, personeelontwikkeling en finansiële bestuur, sodat hulle relevante ondersteuning kan bied ten opsigte van leemtes in die nege evalueringsareas uitgewys. Hierdie bepaling word herhaal in die NDP, wat voorstel dat multidissiplinêre spanne saamgestel moet word om skole oor die kort en medium termyn by te staan (RSA, 2012:310).

Ondersteuning is belangrik omdat personeelontwikkeling en -opleiding van kritiese belang is om skoolverbetering te bevorder (DoE, 2001(b):Section 2.3). Ook die GSE- benadering (DoE, 2001(b):Section 2.4) en GSE-prosesse (DoE, 2001(b):Section 2.9)

van professionele ontwikkelingsprogramme om skoolverbetering te bewerkstellig. Artikel 2.5 van die Whole-School Evaluation Guidelines and kriteria-dokument (DoE, 2005) bevestig ook dat die implementering van skoolverbeteringsplanne deurlopend deur distrikte gemoniteer moet word.

Volgens die GSE-beleid (DoE, 2001(b):Section 3.4) is onderwysdistrikte vir die voorsiening van voldoende vervoer-, reis- en verblyfbegrotings verantwoordelik om die distriksondersteuningspanne in staat te stel om skole by te staan in die opstel en implementering van verbeteringsplanne, die koördinering van personeel- ontwikkelingsprogramme en die verlening van hulp aan skole om die aanbevelings van evalueringspanne uit te voer. Distrikte se verantwoordelikhede sluit ook die monitering van skole in hul pogings om onderwysstandaarde te verhoog in (DoE, 2001(b):Section 3.4.1). Hierdie bepaling impliseer dus dat onderwysdistrikte in hul begrotings, behalwe vir normale ondersteuning aan skole, ook nog voorsiening moet maak vir ondersteuning aan skole wat aan eksterne evaluering blootgestel is.

Alhoewel distrikte verantwoordelik is vir die koördinering van personeelontwikkelings- programme, skiet hierdie ondersteuning dikwels te kort en word skole na afloop van evaluerings nie ondersteun om prestasiegapings te identifiseer en die hoof te bied nie (Faubert, 2009:48; Khosa, 2010:5). Dit is veral in Suid-Afrika, waar skoolbeheerliggame dikwels nie oor die nodige vaardighede beskik nie, wat dit belangrik is dat distrikte spesifieke spanne moet saamstel om ʼn bepaalde skool te help met die opstel en implementering van ʼn verbeteringsplan in reaksie op aanbevelings van die evalueringspan.

e) SKOLE

Die GSE-beleid (DoE, 2001(b):Section 3.5) bepaal dat die “executive authority for the professional management of schools is vested in the principal supported by the school governing body”. Die beleid wys verder daarop dat die skoolhoof sekere funksies, wat aspekte van gehaltebestuur insluit, kan delegeer, indien nodig (DoE, 2001(b):Section 3.5). In hierdie verband word daar van skoolhoofde verwag om toe te sien dat selfevaluerings uitgevoer word in ooreenstemming met die GSE-beleid, dat daar samewerking is met die evalueringspan, veral wat die organisering van onderhoude en die beskikbaarstel van skooldokumente aanbetref, en dat die hoofbevindinge van die

evalueringsverslag aan die beheerliggaam, ouers en ander rolspelers gekommunikeer word (DoE, 2001(b):Section, 3.5).

Die GSE-beleid plaas ook ʼn verantwoordelikheid op die skoolhoof om toe te sien dat ʼn verbeteringsplan opgestel word in samehang met die distrik en skoolbeheerliggaam (DoE, 2001(b):Section 3.5.5). Hierdie verbeteringsplan het ten doel om aanbevelings van die evalueringspan te hanteer. Evalueringspanne maak dus slegs aanbevelings vir skoolverbetering, terwyl dit die verantwoordelikheid van die skool is om, in samehang met die distriksondersteuningspan, ʼn skoolverbeteringsplan op te stel en te implementeer ten einde hierdie aanbevelings in oënskou te neem; dit wil sê, die verbeteringsplan is konteksgebonde en hanteer die unieke ontwikkelingsbehoeftes van ʼn bepaalde skool. Omdat geen twee skole se behoeftes dieselfde is nie, kan die ontwikkelingsplanne van twee skole dus nie dieselfde wees nie.

Nadat die verbeteringsplan opgestel is, moet die skoolhoof toesien dat dit aan die distriksdirekteur deurgegee word vir goedkeuring (DoE, 2001(b):Section 3.5.6). Goedkeuring van die distriksdirekteur is belangrik ten einde op hoogte te bly van skoolontwikkeling en om finansiële implikasies vir die distrik te moniteer. Ten laaste bepaal die GSE-beleid ook dat die skoolhoof verantwoordelik is vir die implementering van die verbeteringsplan in ooreenstemming met ʼn tydsraamwerk (DoE, 2001(b):20). Hierdie tydsraamwerk word deur die skool, in samehang met die distriksondersteuningspan, vasgestel. Dit blyk dus dat skoolhoofde primêr daarvoor verantwoordelik is dat planne opgestel word om geïdentifiseerde leemtes reg te stel.

Die suksesvolle implementering van die GSE-beleid is grootliks afhanklik van die toewyding van die onderskeie rolspelers. Dit is egter veral akkurate begroting en doeltreffende finansiële bestuur deur Nasionale en Provinsiale Onderwysdepartemente, asook die onderskeie onderwysdistrikte, wat van belang is, anders is die implementering daarvan en gepaardgaande distriksondersteuning tot mislukking gedoem.