• No results found

HOOFSTUK 2 : EVALUERINGSPROSESSE EN

3.3 DEFINISIES VAN RELEVANTE BEGRIPPE

Voordat kritiese beleidsontleding in oënskou geneem word, is dit belangrik om eers definisies van relevante begrippe ten opsigte van beleid en beleidsontleding te verduidelik.

3.3.1 DIEWESEVANOPENBAREBELEIDENONDERWYSBELEID

Onderwys is ʼn openbare aangeleentheid en as sodanig word onderwysbeleid deur openbare beleid gerig, wat vervolgens bespreek sal word.

3.3.1.1 OPENBARE BELEID

Die term “beleid” is kompleks van aard en nie maklik definieerbaar nie. Omdat die uitgangspunt van beleidmakers verskil, is daar gevolglik ook geen enkele definisie vir beleid nie (Ozga, 2000:2). In hierdie verband waarsku Taylor et al. (1997:24) egter teen ʼn simplistiese siening van beleid. Bell en Stevenson (2006:14) beskou beleid as ʼn aksieplan of riglyn wat binne bepaalde omstandighede toegepas moet word. Hanekom (1987:8) definieer beleid as “a desired course of action and interaction which is to serve as a guideline in the allocation of resources necessary to realize societal goals and objectives, decided upon and made publicly known by the legislator”. Hiervolgens is openbare beleid ʼn artikulering van beoogde aksies en behoort dit as riglyn te dien in die toekenning van hulpbronne ten einde gemeenskaplike doelwitte en doelstellings te kan verwesenlik. ’n Belangrike komponent van openbare beleid, wat in hierdie definisie na vore kom, is die feit dat openbare beleid, soos in die geval van die GSE-beleid, deur die wetgewer daargestel word en dus ʼn regeringsinisiatief is.

Beleid bestaan egter uit meer as slegs doelwitte en aksieplanne. Ozga (2000:1) voer aan dat beleid nie in swart en wit geproklameer kan word nie, maar dat dit geskep word na een of ander stryd. As sodanig dui beleid dus nie op ʼn produk nie, maar eerder op ʼn proses van onderhandelinge en konflik tussen verskillende groeperinge wat oor

bepaalde koverte of overte mag beskik, maar nie noodwendig almal binne die formele wetgewerskringe gesetel is nie. Beleid behoort dus ook geïnterpreteer te word teen die agtergrond van die toepassing van overte of koverte mag en beheer. As sodanig is beleid dus nie noodwendig onskuldige en neutrale draers van implementeringsriglyne nie; veel eerder is dit ʼn artikulering van stemme van bepaalde groeperings, waardeur waardes en belange van sodanige groepering bevorder word. Beleidsvorming, en gevolglik ook beleid, kan dus nooit neutraal wees nie en word deur politieke, godsdienstige, kulturele, ekonomiese, historiese en ander waardes bepaal en gerig (Hanekom, 1987:12). Derhalwe is dit moeilik om beleid te skei van belange, konflik, oorheersing en ongeregtigheid (Teise, 2013:124).

As sodanig word beleid bepaal en beïnvloed deur historiese konteks en waardes. Ten eerste is Adams (2004:21) van mening dat beleid gelees behoort te word teen die agtergrond van die tyd en die spesifieke konteks waarbinne dit opgestel is. Taylor et. al (1997:16) asook Taysum en Iqbal (2012:15) voer ook aan dat beleid altyd deur ʼn vorige geskiedenis met belangrike gebeure gerig word; dat daar altyd ʼn bepaalde ideologie en politieke klimaat is, asook ʼn bepaalde sosiale en ekonomiese konteks wat ʼn beduidende invloed op, nie net die formulering nie, maar ook die ontwikkeling en uitkomste van beleid het. Tweedens beklemtoon Kogan (1975:55) die sentraliteit van waardes deur beleid te beskryf as “the operational statements of values”. Alhoewel die impak en manifestering van waardes vanuit die oogpunt van kritiese beleidsontleding meer volledig in afdeling 4.3.1 bespreek word, moet daar egter aangedui word dat beleid nie slegs deur die behoeftes van die gemeenskap en die bereiking van bepaalde openbare uitkomste gerig word nie, maar veel eerder deur bepaalde waardes – veral die waardes van die magsdraers.

Teen die agtergrond van die voorafgaande bespreking van die aard en wese van beleid, kan aangevoer word dat beleid enersyds voorskrifte bevat wat daarop gerig is om bepaalde uitkomste te bereik wat allerweë beskou word as in die beste belang van die breër publiek. Andersyds is beleid egter ook ʼn instrument wat misbruik kan word om bepaalde voorafbepaalde en moontlik ook ideologiese doelwitte te kan bereik deur bepaalde waardes voorop te stel en te bevorder. Voorts is beleid konteksgebonde en gevolglik is dit tentatief van aard en voortdurend in ʼn staat van verandering. Gedagtig

aan hierdie kenmerke van beleid, sal die GSE-beleid as openbare en, meer spesifiek, onderwysbeleid benader word.

3.3.1.2 ONDERWYSBELEID

Onderwys is hoofsaaklik ʼn openbare aangeleentheid en word as sodanig deur onderwysbeleid gerig. Onderwysbeleid is dus ook veronderstel om openbare en gemeenskaplike doelwitte en doelstellings na te streef. Soos met openbare beleid, is daar ook verskeie definisies vir onderwysbeleid. Onderwysbeleid kan gedefinieer word as “a course of action adopted by government, through legislation, ordinances, and regulations, and pursued through administration and control, finances and inspection, with the general assumption that it should be beneficial to the country and its citizens” (Hartshorne, 1999:5). Volgens Waghid (2003:1,2) word onderwysbeleid geformuleer deur rolspelers wat oor mag beskik, bestaan dit uit ʼn stel regverdigbare voorgeskrewe aksies en stel dit ʼn raamwerk voor met die oog op vernuwing.

Berkhout en Wielemans (1999:403) waarsku egter dat die konseptualisering van onderwysbeleid in komplekse, dinamiese en diverse sosio-politieke stelsels nie so eenvoudig is nie. Vir hulle is onderwysbeleid meer as net ʼn beskrywing van uitvoerende, administratiewe, doelgerigte of amptelike teks wat as rigtinggewend vir onderwys beskou word, maar word dit veel eerder gerig deur die politieke ideologie van die regerende party en deur dominante waardes in die gemeenskap. As sodanig word onderwysbeleid grootliks bepaal deur diegene in mag en bestaan die moontlikheid dat onderwysbeleid misbruik kan word om bepaalde betekenisse te vorm en ʼn bepaalde diskoers te konstrueer, waarbinne sekere stemme binne die onderwys stilgemaak en sekere waardes uitgesluit word.

Onderwys en -beleid kan derhalwe nie as vanselfsprekend aanvaar word nie en word gekenmerk deur voortdurende stryd (Olssen, Codd & O’Neill, 2004:2,3) wat dit ʼn hoogs politieke, historiese en waarde-belaaide aangeleentheid maak. Dit is hierdie aard daarvan wat dit moontlik maak dat onderwysbeleid misbruik kan word vir polities- ideologiese doeleindes en waardeur onderwysbeleid op ʼn koverte wyse die potensiaal het om die waardes, doelstellings, bedoelings en belange van die skrywers daarvan te verhef en te bevorder. Dit is teen die agtergrond van die voorafgaande dat Taylor et al. (1997:15) tot die slotsom kom dat onderwysbeleid oor meer as die blote teks handel,

maar dat dit eerder verteenwoordigend is van die politieke ooreenkomste tussen strydende partye ten opsigte van onderwysveranderinge

3.3.2 BELEIDSONTLEDING

Noudat ons weet wat die wese van beleid en onderwysbeleid is, is dit nodig om die konsep “ontleding” of wat dit beteken om te ontleed eers van naderby te bekyk. In beleidsontleding word na die woord “ontleding” (of “om te ontleed”) in sy mees algemene vorm verwys, naamlik die gebruik van intuïsie en oordeel om nie alleen ʼn spesifieke beleid deeglik te ontleed nie, maar ook om nuwe alternatiewe te ontwikkel (Quade in De Coning, 2011:7). Vir Hill en Bramley (1986:2) dui die konsep “ontleding” op ʼn sistematiese, kragtige en ondervraende proses, wat afhanklik is van objektiewe bewyse. Vir die doeleindes van hierdie studie verwys “ontleding” nie slegs na die ontleding van dele binne die geheel nie, maar is dit ook ondervraend en op soek na alternatiewe om beleidsimplementering te bevorder.

Bogenoemde beskouing stem ooreen met Merriam (2009:34) se siening dat kritiese beleidsontleding daarop uit is om te kritiseer, uit te daag, te transformeer en te bemagtig. ʼn Ontleding van die GSE-beleid sal my dus in staat stel om pertinente vrae te vra ten opsigte van die vermoë van hierdie beleid om ʼn bydrae te lewer ten einde die algehele gehalte van skoolevaluering te verbeter en om alternatiewe voor te stel wat die proses van skoolevaluering en volhoubare skoolontwikkeling moontlik meer belyn en doeltreffend sal kan maak. Voorts behoort ʼn ontleding ruimte te skep vir die bemagtiging van skoolgemeenskappe om verantwoordelikheid te neem vir volgehoue skoolontwikkeling ten einde die verbetering van onderrig en leer in hul betrokke skole te fasiliteer.

Die konsep “(onderwys-)beleid” dui op die bekendmaking deur die regering van ʼn voorgestelde aksieplan, wat as riglyn dien om bepaalde gemeenskaplike doelwitte (binne die onderwys) te verwesenlik. Aan die ander kant dui die konsep “ontleding” op die ontleding van dele binne die geheel, asook op die soeke na alternatiewe om implementering te bevorder. Daar kan dus aanvaar word dat die konsep “beleidsontleding” daarop dui dat die bedoeling(s) of riglyne van die regering ontleed gaan word deur, onder andere, krities na voorgestelde riglyne te kyk ten einde alternatiewe daar te stel vir oorweging. Die GSE-beleid sou dus ontleed kon word, nie

net om bepaalde dele daarvan te ontleed nie, maar ook om alternatiewe te vind, wat óf die implementering daarvan sou kon verbeter, óf as alternatiewe beleid sou kon dien.

Daar bestaan verskillende sieninge oor die doelwitte van en redes vir beleidsontleding. Vir Dale (in Ozga, 2000:39) is die primêre doelwit van beleidsontleding om te bepaal of beleide doeltreffend geïmplementeer word ten spyte van die inhoud daarvan. Vir Dale gaan dit dus oor wat regerings doen, waarom hulle dit doen en watter verskil daardie aksieplanne maak. McDonnell (1991:241) is ook van mening dat beleidsontleding enersyds onderneem word om te bepaal of ʼn bepaalde beleid binne die voorgenome raamwerk van die beleidmakers geïmplementeer word en, andersyds, om te bepaal watter faktore bydra tot die nie-implementering van die betrokke beleid. Op hierdie wyse kan daar dus bepaal word watter aspekte van die beleid werk, watter nie werk nie en hoekom dit nie werk nie (Hanekom, 1987:68). Beleidsontleding is derhalwe noodsaaklik ten einde faktore te identifiseer wat beleidsimplementering belemmer of om te bepaal waarom geïmplementeerde beleid nie die gewenste impak maak om die bepaalde probleem op te los nie.

ʼn Meer kritiese benadering ten opsigte van beleidsontleding veronderstel egter dat beleidsontleding onderneem kan word om drie redes: eerstens, om algemene aannames uit te daag; tweedens, om te bepaal hoe beleide ongelykhede en onregverdigheid teenoor sekere groepe veroorsaak; en, derdens, kan beleidsontleding ook daartoe lei dat onderwysleiers veranderinge aanbring om ongelykhede en onregverdighede uit te skakel (Ozga, 2000:47). As sodanig speel beleidsontleding ʼn belangrike rol om waardes uit te lig, om belange en politieke oorwegings te ontbloot en om aksieplanne wat sosiale probleme moet hanteer daar te stel (Patton & Sawicki, 1993:365). Dit is veral die potensiaal van beleidsontleding om waardes uit te lig en belange van bepaalde groepe of politieke oorwegings bloot te lê, wat belangrik is vir hierdie studie, want daardeur sou daar bepaal kon word watter waardes, asook wie se waardes, belange of politieke oorwegings, deur die GSE-beleid bevorder word.

Vir die doeleindes van hierdie studie is ʼn kritiese beleidsontleding onderneem. Meer spesifiek is die raamwerk vir kritiese beleidsontleding van Taylor et al. (1997:17-21) gebruik word. Hiervolgens word daar in die beleidsontleding gefokus op die konteks, die inhoud en die gevolge van implementering van beleid. In wat volg, is ʼn kort uiteensetting