• No results found

HOOFSTUK 2 : EVALUERINGSPROSESSE EN

3.5 KRITIESE BELEIDSONTLEDING VAN DIE NASIONALE GSE-BELEID

3.5.2 INHOUDSONTLEDING VAN DIE GSE-BELEID

3.5.2.7 EKSTERNE EVALUERING

Tydens eksterne evaluerings neem ʼn span onafhanklike evalueerders die gehalte van onderrig en leer in oënskou, met die oorhoofse doel om skoolverbetering te fasiliteer ten einde aan bepaalde eise te kan voldoen (cf. 2.2.3). Alhoewel die waarde van eksterne evaluerings erken word, is konsekwente implementering van verbeteringsinisiatiewe allesbehalwe ʼn algemene praktyk in selfs die mees gevorderde onderwysstelsels. Eksterne evaluering kan alleenlik skoolverbetering bevorder as dit op onderrig en leer, asook professionele opleiding en aanspreeklikheid van rolspelers fokus.

Volgens die GSE-beleid (DoE, 2001(b):Section 3.1) is dit die verantwoordelikheid van die Nasionale Onderwysdepartement om ondersteuning aan provinsies te verleen ten opsigte van die beplanning en uitvoer van eksterne evaluerings. Dit is ook hulle verantwoordelikheid om skole vir evaluering te selekteer en die lengte van evaluerings vas te stel. Artikel 3.2 van die GSE-beleid (DoE, 2001(b)) stel bepaalde vereistes voor waaraan ʼn eksterne evalueringspan moet voldoen. Hiervolgens moet ʼn span uit vier tot ses bevoegde, opgeleide en geakkrediteerde evalueerders bestaan en behoort hulle van die nodige administratiewe ondersteuning voorsien te word. So ʼn span, aangevoer deur ʼn spanleier, moet die eksterne evaluering binne drie tot vier dae afhandel, afhangende van die grootte van die skool (DoE, 2001(b):Section 2.9). Alhoewel dit die verantwoordelikheid van die provinsiale departement van onderwys is om skole vir eksterne evaluering te identifiseer en om evalueringspanne saam te stel, moet nasionale kriteria tydens evaluerings gebruik word (DoE, 2001(b)):Section 2.1.1b). Evaluering- spanne of provinsies mag dus nie hul eie kriteria opstel of gebruik nie.

Die eksterne evalueringsproses bestaan uit ʼn pre-evaluering, die eksterne evaluering en ʼn post-evalueringsfase (DoE, 2001(b):Section 2.9). Tydens pre-evaluering ontleed die GSE-span relevante dokumente, modereer die skool se selfevaluering en stel roosters vir klasbesoeke op. Na afloop van die pre-evaluering vind die eksterne evaluering plaas, waartydens skooldokumente, soos skoolverbeteringsplanne, bywoningsregisters, leerderprestasie, kurrikulumplanne en leerderportefeuljes, ontleed word (DoE, 2005:Section 2.3.1). Tydens die eksterne evaluering moet daar op die volgende areas

gefokus word: basiese funksionering van die skool; leierskap, bestuur en kommunikasie; beheer en verhoudinge; gehalte van onderrig en leer, asook personeelontwikkeling; kurrikulum voorsiening en hulpmiddele; leerderprestasie; skoolveiligheid, sekuriteit en dissipline, skool-infrastruktuur; ouers en die gemeenskap (DoE, 2001(b):Section 2.6).

Met betrekking tot die gehalte van onderrig en leer bepaal die Guidelines and Criteria- dokument (DoE, 2005:Section 2.3.2) dat GSE-spanne voldoende lesse moet waarneem sodat dit as regverdige steekproef kan dien om die gehalte van onderrig en leer te beoordeel, en dat, ten minste 50% van individuele GSE-amptenare se tyd by ʼn skool aan leswaarneming gewy moet word. Verder behoort evalueerders ook leerders se werk deur te gaan en moet onderhoude gevoer word met leerders asook verteenwoordigers van die onderskeie belangegroepe in ʼn skool (DoE, 2005:Sections 2.3.2 & 2.3.4). Vir die doeleindes van die onderhoude mag vraelyste gebruik word om te verseker dat ʼn regverdige steekproef van rolspelers by die evaluering betrek word (DoE, 2005:Section 2.3.5).

Ten opsigte van die werkswyse en insameling van inligting word verwag dat evalueringspanne ten tye van die eksterne evaluering moet vergader om bevindinge te bespreek en met skoolrolspelers te deel voordat hulle die skool verlaat aan die einde van die evaluering (DoE, 2005:Section 2.4.1). Evaluering word op ʼn skaal van 1 tot 5 gedoen, waar ʼn waarde van 1 bepaal dat ʼn skool dringende ondersteuning in daardie spesifieke area benodig, terwyl ʼn waarde van 5 daarop dui dat die skool ten opsigte van daardie aspek uitstekend vaar (DoE, 2001(b):Section 2.8). Hiervolgens dui ʼn waarde van 4 aan dat ʼn bepaalde aspek goed is, ʼn waarde van 3 dat die aspek aanvaarbaar is en ʼn waarde van 2 dat dit verbetering benodig.

Na afloop van die eksterne evaluering vind die post-evaluering plaas. Hierdie fase behels dat die GSE-spanleier, binne vier weke na die eksterne evaluering, ʼn skriftelike evalueringsverslag aan die skool moet voorsien, waarin hoofbevindinge bespreek word (DoE, 2005:8). Al is hierdie verslag die verantwoordelikheid van die spanleier, word aanbeveel dat spanlede by die finalisering daarvan betrek word en behoort dit skole in staat te stel om prioriteite te bepaal wat skoolverbetering kan bevorder (DoE, 2005:Section 2.4.2). Evalueringsverslae moet volgens ʼn vasgestelde formaat voltooi word en in ooreenstemming met die riglyne vir elke evalueringsarea (DoE, 2005:Section

gebruik om, met die hulp van ander rolspelers, verbeteringsplanne op te stel wat die ontwikkelingsbehoeftes van die skool sal hanteer.

Volgens Jansen (2004:8) is eksterne evaluerings gebaseer op insetaanduiders (soos finansiering en aantal personeellede), prosesaanduiders (soos gehalte van onderrig) en uitsetaanduiders (soos standaarde van prestasie, asook bywoning). Hiervolgens word eksterne evaluering dus gerig deur insette, prosesse en uitsette. Insette verwys na daardie aspekte van die GSE-verslag wat agtergrondinligting van die skool verskaf (DoE, 2001(b):Section 27). Hierdie agtergrondinligting sluit in die sosio-ekonomiese konteks waarbinne die skool funksioneer, verworwe kennis van leerders by toelating, taalgroepe verteenwoordigend in die skool, leerdertalle, fisiese hulpmiddele, professionele en ondersteuningspersoneel, asook finansiering. Prosesaanwysers verwys na aksiestappe wat die skool onderneem om doeltreffende beheer, leierskap, bestuur, veiligheid en gehalte van onderrig te verseker, terwyl uitsetaanwysers na aspekte soos akademiese prestasies en standaarde van leerdergedrag verwys.

Na afloop van die pre- en eksterne evalueringsfases moet weldeurdagte verbeterings- planne opgestel word. Hierdie planne het ten doel om leemtes reg te stel en skole op ʼn pad van volgehoue verbetering te plaas. Maar skole beskik soms nie oor die nodige vaardighede en/of hulpbronne om hierdie verbeteringsplanne te implementeer en so effek te gee aan die bepalings en doelwitte van die GSE-proses en -beleid nie. Derhalwe is die betrokkenheid van distriksondersteuning ʼn belangrike komponent van die GSE- proses om te verseker dat die GSE-beleid suksesvol toegepas word en volhoubare skoolontwikkeling aan die orde van die dag is.

Soos reeds aangedui (cf. 3.3.1), is daar by die implementering van enige beleid bepaalde aspekte wat in plek moet wees ten einde die suksesvolle implementering van sodanige beleid en beoogde verandering en vooruitgang te verseker. Dieselfde geld vir die suksesvolle implementering van die GSE-beleid. Daarom sal verandering en vooruitgang in die volgende afdeling onder die loep geneem word.