• No results found

HOOFSTUK 4 : DIE REALITEITE EN PERSEPSIES VAN

4.2 INTEGRITEIT VAN DIE NAVORSING

4.2.2 GELDIGHEID (VALIDITY)

Volgens Mertens (2010:383) is geldigheid ʼn aaneenlopende proses om ʼn spesifieke doel te bereik deur ʼn verskeidenheid van bronne as bewyse te gebruik. Soos reeds aangetoon, ontmoedig Guba en Lincoln in Mertens die beginsel dat verskillende bronne gebruik moet word om bewerings te staaf, want dit is in teenstelling met die idee van ʼn verskeidenheid van werklikhede, wat die hoeksteen van post-positivistiese navorsing is (cf. 1.8.3). Die kriterium van bevestigbaarheid wat ook relevant ten opsigte van hierdie beginsel is, impliseer dat die interpretasie van data in ooreenstemming moet wees met die bronne en dat die interpretasie van data deeglik verduidelik moet word (Mertens, 2010:260). Wetenskaplike geldigheid is steeds van belang in anti-positivistiese navorsing en daar moet na maniere gesoek word om die geldigheid van die navorsing te verhoog. Indien die navorsing wetenskaplik geldig is, verhoog dit die moontlikheid dat dit ʼn impak op volhoubare skoolontwikkeling kan hê. Mertens (2010:259) is van mening dat oordraagbaarheid die verantwoordelikheid van die leser is om ooreenkomste tussen die studie en hul spesifieke konteks te identifiseer.

Vir my beplande navorsing om wetenskaplik geldig te wees, is dit krities dat dokumente en onderhoude deeglik ontleed moet word om relevante inligting te bekom en nuwe waarhede te ontdek. Ek is van mening dat, vir die navorsing om betroubaar te wees, daar eenvormigheid van bewyse tussen die onderskeie metodes moet wees, sonder om afbreuk te doen aan die beginsel van verskillende werklikhede. Die kriterium van oordraagbaarheid is ook van toepassing op hierdie beginsel in soverre die bevindinge van die navorsing ook gebruik kan word om skoolontwikkeling in ander skole en distrikte as dié wat aan die navorsing deelgeneem het, teweeg te bring. Om hieraan gehoor te gee is dit krities dat ek die lesers van voldoende en gedetailleerde inligting voorsien

sodat hulle die bevindinge van die navorsing in verband kan bring met hul spesifieke situasie. Merriam (2009:213) onderskei tussen interne en eksterne geldigheid.

4.2.2.1 INTERNEGELDIGHEID(VALIDITY)

Interne geldigheid verwys na die vraag of navorsingsresultate in ooreenstemming is met die werklikheid (Merriam, 2009:213). Dit lyk egter of dit baie moeilik is om die werklikheid vas te vang, omrede die werklikheid eerder ʼn doel as ʼn produk is en dit relatief is tot die doelwitte en omstandighede van die navorsing (Merriam, 2009:214). Richards (2005:21) waarsku egter daarteen dat verskillende databronne nie altyd vergelykbare inligting na vore bring nie. In dié verband leen kwalitatiewe navorsing hom dus uitstekend tot die bevordering van interne geldigheid, in die sin dat interpretasies van die werklikheid direk deur onderhoude vasgestel word, wat ons nader aan die werklikheid bring.

Ek het reeds daarna verwys dat Merriam (Tabel 2) strategieë voorstel wat die geldigheid en betroubaarheid van kwalitatiewe navorsing kan verhoog. Ek verwys kortliks na enkele van hierdie strategieë.

Triangulering (triangulation) verwys na verskillende bronne van data wat op verskillende tye ingewin word. Triangulering is relevant vir my navorsing en verwys na die gebruik van verskillende metodes om bevindinge te bevestig. Wat iemand in ʼn onderhoud aan my meedeel, kan gekontroleer word met inligting in relevante dokumente. Triangulering word soos volg in my navorsing gebruik om geldigheid te bevorder: onderhoude met verskillende soorte skole, wat primêre, sekondêre en gekombineerde skole insluit; onderhoude met verskillende rolspelers op skoolvlak, soos skoolhoofde, bestuurspanne, posvlak 1-onderwysers en die ouerkomponent van die beheerliggame; onderhoude word egter nie net beperk tot skole nie en evalueringspanne asook distriks- en provinsiale amptenare word by die proses betrek om te verstaan hoe die verskillende rolspelers na afloop van evaluerings oor skoolontwikkeling voel.

Deelnemerbekragtiging is ʼn verdere strategie om interne geldigheid te verhoog, waar terugvoer oor beoogde bevindinge van deelnemers verlang word om misverstande uit die weg te ruim. Transkripsies van onderhoude wat ek gevoer het, toon aan dat ek voortdurend bevestig wat deelnemers sê en ook aan die einde opsommende opmerkings maak om deelnemers se bydrae te bevestig.

Nog ʼn strategie wat Merriam (2009:219) voorstel om interne geldigheid te bevorder, is dat die navorser voldoende betrokke moet wees by data-invordering. Richards (2005:140) wys voorts uit dat deelnemerbekragtiging aan die einde van die navorsing plaasvind, waar die navorsingsresultate met deelnemers aan die studie bespreek word om geldigheid te bepaal. Afgesien daarvan dat ek vir vyftien jaar direk betrokke was by GSE in die Vrystaatprovinsie, het ek tydens die skoolbesoeke die grootste deel van ʼn dag by ʼn skool deurgebring om eers dokumente te ontleed, waarna ek onderhoude met skoolbelanghebbendes gevoer het.

ʼn Voorlaaste strategie om geldigheid te bevorder, is om die posisie van die navorser, vooroordele en ondervindinge ten opsigte van die studie te kommunikeer. Ek is vir vyftien jaar betrokke by skoolevaluerings en het sekere aannames en vooroordele. In hierdie tyd het ek baie frustrasies ervaar, soos die sluiting van die GSE-eenheid in die Vrystaatprovinsie, asook gebrek aan ondersteuning vanaf distrikskantore, wat sekere aannames tot gevolg gehad het. Ek moes selfondersoek doen om te verseker dat ek slegs ingesamelde data sou interpreteer sonder om persoonlike vooroordele in oorweging te bring. Om die proses te vergemaklik het ek besluit om nie skole in my tuisdistrik in te sluit by die navorsing nie. ʼn Laaste strategie is dat moontlike bevindinge en interpretasies met kollegas bespreek moet word om te verseker dat ontledings geldig en betroubaar is. In hierdie verband het ek ʼn ervare kollega betrek om te help met die interpretasie van versamelde data. Die implementering van bogenoemde strategieë dra by tot die interne geldigheid van die navorsing.

4.2.2.2 EKSTERNEGELDIGHEID (OORDRAAGBAARHEIDOF TRANSFERABILITY)

Eksterne geldigheid verwys na die mate waarin die bevindinge van een studie veralgemeen kan word om ook in ander situasies toegepas te word. Merriam (2009:224) verwys ook na veralgemening wat ʼn aanvegbare besprekingspunt in kwalitatiewe navorsing is. Sy gee toe dat veralgemening, in die statistiese betekenis daarvan, nie moontlik is in kwalitatiewe navorsing nie, maar dit beteken nie dat ons niks van kwalitatiewe navorsing kan leer nie. Mertens (2010:259) gebruik die term, “oordraagbaarheid” (transferability), om te verwys na die toepassingsmoontlikhede van een studie op ander situasies. Mertens plaas die verantwoordelikheid op die leser om ooreenkomste tussen die studie en hul spesifieke konteks te identifiseer en relevante

lesse op hul spesifieke konteks toe te pas. Merriam (2009:224), daarenteen, voer aan dat die navorser voldoende beskrywende data beskikbaar moet stel om dit vir die leser moontlik te maak om relevante toepassings in ander omstandighede te maak. Om hieraan gehoor te gee, is dit dus krities dat die lesers van voldoende en gedetailleerde inligting voorsien word, sodat hulle die bevindinge van die navorsing in verband kan bring met hul spesifieke situasie. Die kriterium van oordraagbaarheid is van toepassing op my studie in soverre die bevindinge van die navorsing ook gebruik kan word om skoolontwikkeling in ander skole en distrikte as dié wat aan die navorsing deelgeneem het, te bevorder.