• No results found

HOOFSTUK 4 : DIE REALITEITE EN PERSEPSIES VAN

4.2 INTEGRITEIT VAN DIE NAVORSING

4.2.4 SELEKTERING VAN DEELNEMERS

Uit die voorafgaande blyk dit dat onderhoude ʼn toonaangewende rol in die navorsing gaan speel. Daarom is dit belangrik dat die regte deelnemers gekies word sodat voldoende inligting ingewin kan word om die navorsingsvrae bevredigend te beantwoord. Merriam (2009:94) beskou doelgerigte selektering van deelnemers as belangrik omrede die navorser persone soek wat iets van die onderwerp af weet. Die versoeking bestaan om dieselfde beginsels wat vir kwantitatiewe navorsing geld ook op kwalitatiewe navorsing toe te pas en, as gevolg van die kleiner en minder lukrake selektering, kan die navorsing se wetenskaplike geldigheid in die gedrang kom (Kelly, 2006:288). Volgens Kumar (2014:247) speel selekteringstrategie en grootte van die steekproef egter nie so ʼn toonaangewende rol in kwalitatiewe navorsing nie, omdat die ondersoek van verskeidenheid aan die orde van die dag is; indien selektering dus deeglik gedoen word, kan verskeidenheid akkuraat beskryf word vanuit ʼn onderhoud selfs met ʼn enkele individu. In kwalitatiewe navorsing word jy gelei deur jou oordeel oor wie jou van die beste inligting sal voorsien. In die geval van my navorsing sal slegs skole wat aan eksterne evaluering blootgestel was, geselekteer word.

4.2.4.1 DOELGERIGTE SELEKTERING(PURPOSEFULSELECTION)

Volgens Merriam (2009:77) is doelgerigte selektering die mees toepaslike strategie in kwalitatiewe navorsing. Hierdie strategie is gegrond op die aanname dat die navorser wil ontdek, verstaan en insig in ʼn betrokke situasie wil bekom. Daarom is dit krities dat deelnemers gekies word by wie die navorser kan leer oor die bepaalde probleem. Patton (2002:230) bevestig dat die waarde van doelgerigte selektering daarin lê dat inligtingryke gevalle gekies moet word vir ʼn diepgaande studie. Voordat deelnemers gekies word, moet die seleksiekriteria van die deelnemers of skole eers vasgestel word. Hierdie kriteria moet as riglyn gebruik word om die regte deelnemers by die navorsing te betrek en moet direk aansluit by die doel van die studie (Merriam, 2009:78). Dit is verder belangrik om aan te toon hoekom die kriteria van belang is vir die studie. Johnson en Christensen (2004:220) waarsku dat daar altyd praktiese aspekte, soos die koste van navorsing, is wat selektering beïnvloed. In die geval van my navorsing kon ek drie van die vyf distrikte nie oorweeg vir selektering nie, omrede ek in die een werksaam is en die lang afstande na die ander twee dit nie koste-effektief sou maak nie.

Merriam (2009:78) voer verder aan dat doelgerigte selektering verder onderverdeel kan word in selektering wat tipies, uniek en netwerkgebaseer is, asook maksimum verskeidenheid voorstaan en gerief najaag. Tipiese selektering verwys na die gemiddelde persoon of situasie wat nie anders is as die res nie. Unieke selektering, daarenteen, verwys na eienskappe wat die persoon of die situasie onderskei van ander. Maksimum verskeidenheid selektering het ten doel om uiteenlopende groeperinge of situasies by die studie te betrek. Selektering wat gerief najaag, is nie geloofwaardig nie en deelnemers word slegs gekies omrede dit vir die navorser gerieflik is. Mertens (2010:322) verwys ook na kriteria-gebaseerde selektering, waar die navorser sekere kriteria saamstel en dan gevalle selekteer wat aan die kriteria voldoen, as ’n gepaste strategie vir kwalitatiewe navorsing.

Hierdie kriteria-gebaseerde selektering van deelnemers is toepaslik vir my studie. Die eerste kriterium waaraan die steekproef moet voldoen, is dat skole aan self- en eksterne evaluerings blootgestel moet wees om te bepaal of evaluerings tot volhoubare skoolontwikkeling gelei het. Die tydstip van die evaluerings is ʼn tweede kriterium, waar voldoende tyd na afloop van evaluerings toegelaat moet word om skoolontwikkeling te bepaal. Dit is egter ook belangrik dat skole geselekteer word wat nie te lank terug

geëvalueer is nie, want rolspelers wissel en detail-inligting gaan verlore. ʼn Derde kriterium vir die selektering van distrikte en skole het te doen met my betrokkenheid as skoolevalueerder by een van die distrikte. Om die geldigheid van die navorsing te bevorder is dit raadsaam om nie hierdie distrik en skole van die distrik by die steekproef in te sluit nie. Koste-effektiwiteit is die vierde kriterium, wat twee van die onderwys- distrikte uitsluit. Dit laat twee onderwysdistrikte wat vir selektering oorweeg kan word. Die provinsiale GSE-kantoor het ʼn lys van skole in die twee distrikte wat aan selekteringskriteria voldoen en in die eerste semester van 2014 geëvalueer is, aan my beskikbaar gestel. Volgens hierdie lys is twee sekondêre skole (Engels as medium van onderrig) in die een distrik geëvalueer, wat albei by die steekproef ingesluit is. In die ander distrik is vier skole in die spesifieke tydperk geëvalueer, wat drie skole van een dorp insluit. Ek het die primêre skool in hierdie dorp, met Afrikaans as medium van onderrig, vir die navorsing geselekteer, asook ’n gekombineerde skool van die ander dorp, met Engels as medium van onderrig. Die vier skole wat ek doelgerig vir die navorsing geselekteer het, voldoen aan al die geïdentifiseerde navorsingskriteria. Die volgende groeperinge is by die onderhoude betrek: skoolbestuurspan en personeelontwikkelingspan, skoolbeheerliggaam, GSE-span, kringbestuurders van die distrik en die provinsiale koördineerder van GSE in die Vrystaatprovinsie.

4.3

NAVORSINGSMETODOLOGIE

Hierdie studie val binne die konstruktivistiese paradigma, wat gegrond is op die oortuiging dat verskillende belanghebbendes uiteenlopende sieninge het, en dus ook oor programme en die ontwikkeling daarvan (Potter, 2006:415). Die konstruktivistiese paradigma is ontwikkel as ʼn skuif weg van positivisme na ʼn studie wat betrokke is by die belewing van mense ten einde te begryp en betekenis te kan interpreteer (Henning et al., 2004:21). Volgens Merriam (1998:5) is kwalitatiewe navorsing ʼn sambreelbegrip wat ander benaderings, soos konstruktivistiese navorsing, insluit. Kelly (2006:287) toon aan dat kwalitatiewe navorsers sin wil maak van gevoelens en ondervindinge soos wat hulle in die werklike wêreld voorkom en nie kunsmatig nie. Die rol van die navorser as medeskepper van betekenis is belangrik in die konstruktivistiese paradigma, tesame met die gebruik van verskillende bronne en ontledingsmetodes om geldigheid te bevorder (Henning et al., 2004:21). Die konstruktivistiese paradigma gaan dus van die veronderstelling uit dat die werklikheid verbeter kan word deur die ontleding van

dokumente asook onderhoude met verskillende rolspelers. Hierdie metodologiese oorwegings sal vervolgens bespreek word.

Metodologie verskaf ʼn raamwerk vir navorsers waarbinne hulle bestaande kennisbronne kan ontgin om antwoorde op probleemvrae te kry. Mertens (2010:19), verklaar dat kwalitatiewe metodes, soos onderhoude, waarnemings en dokumentontleding, die aangewese metode vir die konstruktivistiese paradigma is. Een van die belangrike verskille tussen kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsing, soos deur Merriam (2009:85) verklaar, is dat data wat deur woorde vasgevang word, kwalitatief van aard is en data wat deur getalle vergestalt word, kwantitatief is. Volgens Patton (2002:4) bestaan kwalitatiewe data uit direkte aanhalings van persone oor hul ervarings, standpunte en gevoelens, soos tydens onderhoude vasgevang, asook inligting wat uit verskeidenheid van dokumente verkry kan word. Dokumentontleding en onderhoude is relevant vir my navorsing en word in die volgende afdelings onder die loep geneem.