• No results found

HOOFSTUK 4 : DIE REALITEITE EN PERSEPSIES VAN

4.2 INTEGRITEIT VAN DIE NAVORSING

4.3.4 BESTUUR VAN DATA

Die waarde daarvan om jou gedagtes, spekulasies en gewaarwordinge neer te skryf terwyl jy navorsing doen, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit kan ook help om self transkripsies van onderhoude te maak om sodoende insig in die verworwe inligting te verkry. Daar moet ook ʼn lys beskikbaar wees van al die onderhoude wat ‘n navorser gaan voer en dokumente wat ontleed gaan word. Hierdie lys van data behoort op so ʼn wyse bestuur te word dat alle inligting geredelik beskikbaar is. Die bestuur van data kan óf per hand gedoen word, óf met behulp van rekenaarprogrammatuur wat spesifiek vir kwalitatiewe navorsing ontwikkel is (Merriam, 2009:173-175). Die lys van dokumente wat ontleed is en onderhoude wat gevoer is, is elektronies beskikbaar en aangeheg as Addendum A. Transkripsies van onderhoude is ook op band beskikbaar.

Merriam (2009:173-175) staan verder ʼn koderingstelsel voor, waarvolgens kodes aan die verskillende aspekte van die data verleen word om die ontleding daarvan te vergemaklik. Richards (2005:86) beklemtoon dat kwalitatiewe kodering oor die behoud van data gaan. Die doel van kodering is dus om die data te gebruik om meer oor die onderwerp te wete te kom deur die inligting herhaaldelik te besoek, totdat die navorser patrone en die verskillende onderafdelings daarvan deeglik onder die knie het. Kodering stel navorsers dus in staat om altyd terug te keer na die relevante data om dit te inspekteer en te interpreteer. Volgens Richards (2005:88) word daar tussen drie soorte kodering in kwalitatiewe navorsing onderskei, naamlik beskrywende, analitiese en onderwerp-kodering. Beskrywende kodering verwys na die stoor van inligting volgens die relevante dokument of onderhoud. Onderwerpkodering, daarenteen, sorteer inligting volgens die spesifieke onderwerp, byvoorbeeld selfevaluering. Richards (2005:88) beskou analitiese kodering as die hartklop van kwalitatiewe navorsing, omrede dit tot die vorming van teorie lei; in die geval van my studie, het dit byvoorbeeld antwoorde verskaf oor die betrokkenheid van belanghebbendes by die selfevalueringsproses. Ek het dus van onderwerpkodering gebruik gemaak waar die inligting gestoor word in ooreenstemming met die betrokke onderwerp.

Alhoewel data-ontleding reeds ʼn aanvang neem wanneer die eerste inligting ingesamel word, is daar tog ʼn periode van intensiewe ontleding wanneer al die inligting beskikbaar is. Merriam (2009:178) stel die volgende stap-vir-stap-proses van data-ontleding voor:

4.3.4.1 INTERIM ONTLEDING

Volgens Merriam (2009:170) is dit van onskatbare waarde om data van dag een af te ontleed en om tentatiewe bevindinge en kategorieë te identifiseer. Hierdie bevindinge help ook om te bepaal watter dokumente ontleed moet word en hoe onderhoudsvrae aangepas moet word. Johnson en Christensen (2004:500) vergelyk navorsers met speurders wat inligting inwin, vrae daaroor vra en dan opnuut inligting inwin om die vrae te beantwoord. Hulle noem verder dat om al die dokumente bymekaar te maak, al die onderhoude te voer en dan met die ontleding te begin, ʼn nie-werkbare scenario is. Dit kan maklik gebeur dat die navorser oorweldig kan word deur die massa inligting. Merriam (2009:171) voer verder aan dat die kwalitatiewe navorser reeds met die aanvang van die navorsing weet wat die probleem is en derhalwe deelnemers doelgerig kies om die probleem te ondersoek. Wat die navorser egter nie weet nie, is wat ontdek sal word, op wie om te konsentreer en hoe die finale ontleding daar sal uitsien. Sonder deurlopende ontleding kan dit maklik gebeur dat die navorsing sonder fokus is. Die ouditspoor van die navorsing (Addendum K) toon aan dat deurlopende ontleding van inligting vanaf die aanvang van die navorsing plaasgevind het.

4.3.4.2 BOU VANTEMAS

Vanaf die aanvang van die studie is dit belangrik om reeds potensiële temas aan te toon, wat “kodering” genoem word. Enige bruikbare inligting moet aangetoon word, wat as “oop kodering” bekend staan (Johnson & Christensen, 2004:384; Merriam, 2009:178). Deur kodes aan stukkies data toe te ken, word moontlike temas geïdentifiseer wat later saamgevoeg kan word. Richards (2005:94) verwys hierna as “analitiese kodering” wat fokus op interpretering asook vasstel van betekenis. Charmaz (2006:42) beskou kodering as die bene van jou ontleding, wat deur teoretiese integrasie omskep word tot ʼn werkbare skelet. Kodering skep dus ʼn analitiese raamwerk waaruit jy jou ontleding kan bou. Deur kodering definieer ons wat belangrik is in die data en ons beskryf daardeur wat ons dink besig is om te gebeur (Charmaz, 2006:47). Kelly (2006:323) stel voor dat jy die taal van die deelnemers gebruik om jou temas vas te stel en nie abstrakte teoretiese taal nie. Alle relevante dokumente en onderhoude moet op hierdie wyse ontleed word om uiteindelik ʼn algemene lys van konsepte vas te stel. Hierdie algemene lys is ʼn voortydige klassifiseringstelsel wat die aspekte wat herhaaldelik voorkom, uitlig, en ook moontlike temas of bevindinge vorm. Volgens Merriam (2009:181) is die

uitdaging om temas te identifiseer wat ʼn herhalende patroon in alle bronne van inligting vorm. Temas word dus geskep vanuit die data en is nie die data self nie.

Die volgende temas het uit die ontleding van hierdie dokumente na vore gekom, waarvoor ek spesifieke kodes gebruik het:

 Implementering en impak van GSE IMP  Departementele ondersteuning DO

 Skoolverbeteringsplan SV

 Selfevaluering SE

 GSE-posbeskrywing PB

Geen nuwe temas het na vore gekom tydens ontleding van skooldokumente nie, maar die volgende temas is bygevoeg na onderhoude met die verskillende belanghebbendes.

 Eksterne evaluering EE

 Evalueringsinstrument EI

 Moraal van onderwysers MO

 Ouerbetrokkenheid OB

 Opleiding OPL

 Departementele fokus DF

 Verwarring VW

Na afloop van die skoolbesoeke het ek ook onderhoude met evalueringspanne, asook provinsiale en distriksamptenare gevoer, waarna die volgende tema na vore gekom het:

 Bekendstelling (Advocacy) AD

4.3.4.3 SORTERING VANDATAEN TEMAS

Gedurende die eerste fase van data-ontleding (oop kodering) gaan talle moontlike temas na vore kom, maar daar gaan ook dié wees wat herhaaldelik voorkom. Hierdie herhalende temas moet in ʼn afsonderlike lys saamgevat word, maar soos wat die navorsing vorder, kan die name van temas verander en ander kan as subtemas oorweeg word. Wanneer die navorser tevrede is met die voorlopige lys van temas, moet weer deur die data gegaan word om alle bruikbare brokkies inligting te verwoord (Merriam, 2009:182). Johnson en Christensen (2004:384) verwys na hierdie fase van data- ontleding as “tematiese kodering”, waar die navorser poog om konsepte in temas te

ontwikkel. Volgens Charmaz (2006:61) is die doel van tematiese kodering om temas en subtemas te verbind en die verband tussen hulle uit te wys. Om die data te stoor is dit belangrik om afsonderlike lêers vir die onderskeie temas te skep. Hierdie proses kan per hand gedoen word of met behulp van ʼn rekenaarprogram. Elke brokkie inligting moet identifiseerbare kodes, soos die naam en die reëlnommer van die betrokke bron van inligting, insluit om toekomstige verwysings te vergemaklik (verwys na Addendum L vir ʼn voorbeeld van hoe data in een van die temas (Skoolontwikkeling) gesorteer is).

Merriam (2009:183) voer aan dat die ontledingstrategie aan die begin van die studie insluitend is; met ander woorde, die navorser oorweeg elke brokkie inligting om tentatiewe temas te identifiseer. Soos wat die navorsing vorder, word inligting vergelyk met voorlopige temas om die geldigheid van temas te bevestig. In die proses sal sommige temas verdwyn, omrede daar nie voldoende inligting beskikbaar is om bevinding te regverdig nie. Teen die einde van die studie sal die ontledingstrategie meer herleidend wees, waar die navorser meer inligting verlang om die finale lys van temas te ondersteun. Volgens Merriam (2009:187) hang die hoeveelheid temas af van die inligting en fokus van die navorsing. Sy voer egter aan dat die hoeveelheid temas bestuurbaar moet wees en ondervinding haar geleer het hoe minder temas, hoe makliker kan bevindinge met ander gedeel word.

Die proses om temas en subtemas te identifiseer, asook die verband tussen hulle, kan lei tot ʼn model om hierdie verband te vergestalt en moontlik ook ʼn teorie om die betekenis van die data te verduidelik, soos deur Merriam (2009:192,193) saamgevat: “This level of analysis transcends the formation of categories, for a theory seeks to explain a large number of phenomena and tell how they are related”. ʼn Model visualiseer hoe die verskillende temas in een of ander betekenisvolle manier saamwerk (Merriam, 2009:189). Selfs ʼn eenvoudige diagram of model kan die interaksie tussen die verskillende temas aantoon. Johnson en Christensen (2004:384) verwys na hierdie fase as “uitsoekende kodering” waar data-ontleding meer gefokus is op die sentrale idee van die ontluikende teorie. Volgens Corbin en Strauss (2015:12) moet navorsers kennis neem van die verskil tussen beskrywing en teorie; beskrywings vertel van iets wat gebeur het, terwyl teorie verduidelik hoekom dit gebeur het. Teorie verskaf dus die skakeling tussen temas en maak ook voorsiening vir ʼn kerntema, wat al die ander temas integreer in ʼn teoretiese verduideliking van hoe en hoekom iets gebeur het. Tydens

hierdie fase word die data nagegaan om onnodige foute uit te skakel, die teorie word breedvoerig verduidelik en gepubliseerde literatuur word gebruik om teorie te ontwikkel (Johnson & Christensen, 2004:384). Nadat ek die verskillende temas gegroepeer het, het ek die relevansie van elke tema aan die hand van ʼn model verduidelik, waar volhoubare skoolontwikkeling die sentrale tema is, in ooreenstemming met die primêre navorsingsvraag van die studie.

4.3.4.4 DIE WEERGEEVAN NAVORSINGSRESULTATE

Volgens Richards (2005:193) is die volgende belangrik wanneer dit by die skryf van die navorsingsresultate kom: daar moet ʼn duidelike verband wees tussen die navorsingsvrae, navorsingsontwerp en die metodes wat gebruik word om die navorsingsvrae te beantwoord; navorsers moet die navorsingsontwerp eerlik assesseer om te bepaal of die data wat ingesamel is, voldoende is; aangepaste en innoverende tegnieke wat gebruik is, moet ook aangetoon word; die rekenaarprogrammatuur wat navorsers gebruik het, moet ook aangedui word en die doeltreffendheid daarvan moet met die lesers gedeel word. Een van die uitdagendste aspekte van kwalitatiewe navorsing is om te beweeg van die oorvloed van die data na die interpretering daarvan. Om dit deur lang aanhalings te doen is dikwels frustrerend. Dit is soms beter om ʼn situasie volledig te verduidelik en slegs te verwys na wat deur deelnemers gesê is. Aanhalings moet verder binne konteks geplaas word en verwys na mense en skole in hul geheel.

Ten einde die navorsingsvraag te probeer beantwoord het ek relevante dokumente ontleed en onderhoude met belanghebbendes gevoer, en die resultate hiervan sal in die volgende afdeling bespreek sal word.