• No results found

HOOFSTUK 4 : DIE REALITEITE EN PERSEPSIES VAN

4.4 RESULTATE VAN DIE NAVORSING

4.4.1 IMPLEMENTERING EN IMPAK VAN DIE GSE-BELEID

Die primêre navorsingsvraag het ten doel om antwoorde te verkry ten opsigte van die doeltreffendheid van GSE-prosesse wat interne sowel as eksterne evaluerings en post- evalueringsaksies insluit. Derhalwe is dit belangrik om te verwys na die implementering van die GSE-beleid, veral ten opsigte van die bydrae wat post-evalueringsaksies lewer om volhoubare skoolontwikkeling na afloop van interne en eksterne evaluerings te bevorder. Voordat hierdie aspekte onder die vergrootglas geplaas word, toon ek kortliks aan wat ek wys kon word uit ontleding van dokumente asook onderhoude met belanghebbendes oor die impak van GSE op volhoubare skoolontwikkeling. Volgens die WSE Policy Review Document (Draft) van Augustus 2013 is die GSE-beleid sedert 2001 nie na wense in Suid-Afrika geïmplementeer nie, wat die impak op skoolverbetering tot minimaal gereduseer het (SA DBE, 2013(b):4). Die volgende word in die dokument as redes aangevoer waarom die GSE-proses nie doeltreffend geïmplementeer is nie: Neither the national nor the provincial education departments, budgeted for the development and support of schools after external evaluation. Dit toon duidelik dat die

beleidmakers nie die finansiële impak van die beleid deeglik ontleed het om te verseker dat die implementering van GSE volhoubaar is nie. Die WSE Policy Review Document (Draft) (RSA DBE, 2013(b):4) wys ook die volgende uit:

Provinces did not employ an adequate number of WSE supervisors to evaluate the required number of schools per year; Provinces were not able to evaluate all schools within a five year cycle; recruitment procedures for WSE supervisors are not the same in all provinces, resulting in the appointment of persons who are not always able to evaluate all aspects of a school at the same level, or to give adequate on-site support and advice to educators; evaluation processes tended to be too long, resulting in bulky reports that make interventions difficult. Few schools were also covered at a very high cost.

Onderhoude met distrik- en skoolrolspelers bevestig dat GSE ook nie ʼn noemenswaardige impak gemaak het om volhoubare skoolontwikkeling in die Vrystaatprovinsie te bevorder nie. Van die skoolrolspelers was ook betrokke by eksterne evaluerings in 2003 en die algemene gevoel was dat dit ʼn groter impak gemaak het op volhoubare skoolontwikkeling. Dit het ʼn groter impak gemaak – Die span het alle aspekte van die skool geëvalueer en almal kon saamstaan om die tekortkominge aan te spreek.

Die senior bestuur van die Vrystaatse Onderwysdepartement het in Mei 2012 besluit om die aanslag van die GSE-proses te verander om skoolontwikkeling en ondersteuning te bevorder deur die implementering van ʼn multidissiplinêre benadering soos in die Provincial Guidelines: Implementation of Whole-School Evaluation (Draft) document (FS DBE, 2012(b):2-6) saamgevat: GSE-amptenare is na distrikte oorgeplaas as kringbestuurders, vakkoördineerders en ander amptenare. Die Superintendent- Generaal van die Vrystaatse Onderwysdepartement het voorts multidissiplinêre spanne saamgestel om skole ekstern te evalueer. Hierdie spanne het bestaan uit amptenare van verskillende distrikseenhede, soos kringbestuur en vakadviesdienste. The District Director must identify relevant officials to constitute a multi-disciplinary team (MDT) for appointment by the HOD for purposes of implementing WSE.

Dit wil egter voorkom of die sogenaamde multi-dissiplinêre benadering ten opsigte van GSE nie die gewenste uitwerking op skoolontwikkeling het nie. Na afloop van die

loodsprogram, waartydens GSE-amptenare na distrikte oorgeplaas is om skole in distriksverband te evalueer, het die GSE-amptenare sekere aanbevelings gemaak om die evalueringsproses te verbeter en skoolontwikkeling te bevorder. Van hierdie aanbevelings sluit in die funksionering van GSE-spanne vanaf die provinsiale kantoor en die aanwending van personeel uitsluitlik vir GSE-aktiwiteite (FS DBE, 2013(a):5-6). Een van die organisasies in Suid-Afrika wat ʼn groot invloed in die daarstelling en bepaling van onderwysbeleid het, is onderwysersunies. Hul goedkeuring is belangrik vir die suksesvolle implementering van beleide (3.4.2). Een van die tekortkominge van hierdie veranderde aanslag in die Vrystaatprovinsie word soos volg in die Review report on the implementation of WSE (FS DBE, 2013(a):3) uitgelig:

For the purposes of this report, it needs to be recognized that the implementation of the MDT model proceeded without the support of the Teacher Unions. During the consultation meeting of 28 August 2012 the Teacher Unions expressed their displeasure with the approach of the Department in relation to the implementation of WSE. More importantly, the Teacher Unions were in unison in expressing the view that the national policy on WSE makes provision for Supervisors to carry out the function of evaluation of schools. Thus the establishment of MDTs for purposes of WSE was therefore viewed as an anomaly that is in conflict with the national policy on WSE.

Die senior bestuur van die Vrystaatse Onderwysdepartement het na meer as twee jaar nog nie terugvoer verleen ten opsigte van aanbevelings in hierdie hersieningsverslag nie en daar is tans geen eenvormige evalueringstelsel in die Vrystaatprovinsie nie. Vanaf die begin van 2013 gebruik distriksdirekteure van die Vrystaatse Onderwysdepartement hul eie inisiatief om alternatiewe benaderings, soos fokusevaluerings, in te stel. Een van die deelnemers van die distrik het hom sterk uitgespreek teen die gebruik van fokusevaluerings:

Wat huidiglik verkeerd loop, is dat ons meer gefokusde evaluerings doen en ons kry nie die geheelbeeld van ʼn skool nie. Om aanbevelings te maak wat werkbaar is, is die geheel evaluering beslis nodig. Ek dink nie soos ons dit nou doen, maak ons enige impak nie – ons gaan maar net om krisisse te

hanteer in plaas van om te kyk wat is die geheelbeeld en hoe kan die geheelbeeld help om die krisisse op te los.

Belanghebbendes het ook tydens onderhoude redes aangevoer vir die klaarblyklike gebrek aan impak na evaluerings en voorstelle gemaak hoe interne asook eksterne evaluerings volhoubare skoolontwikkeling kan bevorder. Hierdie aspekte sal in die volgende afdelings bespreek word.