• No results found

HOOFSTUK 2 : EVALUERINGSPROSESSE EN

3.4 KRITIESE BELEIDSONTLEDING

3.4.2 FOKUS OP DIE MOONTLIKE MISBRUIK VAN MAG

Nie net is kritiese beleidsontleding besorg oor waardes nie, maar dit veronderstel ook die teenwoordigheid van en moontlike misbruik van mag (Taylor et al., 1997:20). Mag verwys na die beheer of invloed wat ʼn persoon op ander het deur direkte of subtiele beheer (Extension, 2015:1).

In onderwysbeleid blyk daar ʼn noue verband te wees tussen waardes en mag, en blyk onderwysbeleid misbruik te kan word om deur middel van ongebalanseerde magsverhoudings sosiale ongeregtighede te bevorder. Volgens Bell en Stevenson (2006:19) gaan beleidsvorming gepaard met onderhandelinge, kompromieë, dispute en stryd, soos wat verskillende rolspelers met uiteenlopende waardes (en mag) poog om spesifieke doelwitte te bereik. Hierdie stryd, onderhandelinge en dispute is allerweë teenwoordig in onderwysbeleidsvormingsprosesse en kom tot uiting in die inhoud van onderwysbeleid. Derhalwe, wanneer ons die klem op waardes in die onderwys en op die ontleding van onderwysbeleid plaas, dan veronderstel kritiese beleidsontleding dat daar ook aandag gegee word aan die inhoud van die beleid, en hoe en deur wie daardie inhoud bepaal is (Taylor et al., 1997:19,20). Volgens Teise (2013:127) is die beleidsproses oop vir die immorele misbruik van mag en die bevordering van die belange van bepaalde groepe, met ʼn bewustelike, en moontlik doelbewuste, disrespek

vir die belange en behoeftes van ander. Meer nog, Taylor et al. (1997:20) bepaal verder dat daar op die beleidsontwikkelings en -implementeringsprosesse gefokus moet word, veral omdat dit in hierdie prosesse is dat die invloed van politieke, ekonomiese en sosiale magte na vore mag kom en waargeneem kan word. Deur middel van kritiese beleidsontleding behoort ons dus dieper te delf as bloot die vanselfsprekende en behoort ons ook sensitief te wees vir bepaalde magsverhoudinge, veral ten opsigte van die daarstelling van spesifieke beleide, soos die GSE-beleid.

Een van die organisasies in Suid-Afrika wat klaarblyklik ʼn groot invloed, en dus groot mag, in die daarstelling en bepaling van onderwysbeleid het, is onderwysersunies. Mahlangu en Pitsoe (2011:365) voer aan dat die mag van onderwysersunies daarin gesetel is dat hulle op veranderende omstandighede reageer, gapings in beleide identifiseer en na oplossings soek deur hul tweeledige verhouding met lede en beleidsmakers. In Suid-Afrika is die South African Democratic Teachers Union (SADTU) die unie met moontlik die grootste magsbasis en sterk invloed in die beleidsvorming en implementeringsproses. SADTU is verreweg die grootste onderwysvakbond in Suid- Afrika en hul goedkeuring is belangrik vir die suksesvolle implementering van beleide. Letseka, Bantwini en King-McKenzie (2012:1197) bevestig dat SADTU uit 240 000 lede bestaan, wat meer as 70% van die onderwysers in Suid-Afrika verteenwoordig. SADTU se sterk magsbasis is gesetel in sy lidmaatskap van die Congress of South African Trade Unions (COSATU). Saam met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die African National Congress (ANC), vorm COSATU deel van die drie-party regerende alliansie. As sodanig is SADTU nie net nog ʼn onderwysersunie nie, maar vorm dit deel van die regerende alliansie. Vir die ANC, as regerende party in Suid-Afrika, is dit dus polities sinvol om na die belange van sy alliansievennote om te sien. In terme van onderwysbeleid is dit dus die verantwoordelikheid van die ANC-regering om onderwysbeleid daar te stel wat in lyn is met die verwagtinge van hierdie alliansie- vennote.

Dit wil egter voorkom asof die Suid-Afrikaanse regering teenkanting vanuit alliansie- geledere ervaar het met die ontwikkeling en die implementering van die GSE-beleid. Dit, ten spyte van die versekering van die Minister van Basiese Onderwys dat daar met alle rolspelers onderhandel is (DoE, 2001(b):6). Die Konsepbeleid (2013) vir die wysiging van die GSE-beleid bevestig dat “(s)ector wide consultations, especially with provinces

and Unions, led to the introduction of the National Policy on Whole-School Evaluation (DBE, 2013(b):3). In hierdie verband toon Letseka et al. (2012:1197) aan dat, ten spyte van die feit dat GSE veronderstel was om ondersteunend en ontwikkelend van aard te wees, daar steeds teenkanting van SADTU was en dat hulle ʼn stryd gevoer het om te voorkom dat hul lede geëvalueer word. Dit blyk dat die beleid nie in alle onderwyskringe met eweveel entoesiasme begroet is nie en gevolglik nie die gewenste uitkoms in terme van die verbetering van die gehalte van onderwys vir alle Suid-Afrikaners gehad het nie. Dit lyk verder of die gesagdraers (in dié geval die Ministerie van Onderwys) nie rekening gehou het met die magsbasis van SADTU nie. Teenkanting vanuit SADTU-geledere het moontlik daartoe bygedra dat die gesagsdraers nie die implementering van die GSE- beleid doelgerig nagestreef het nie.

ʼn Ander aspek van mag wat ʼn belangrike invloed op die implementering van nasionale beleide het, is die verwarring wat bestaan tussen nasionale en provinsiale mag. Die Grondwet van Suid-Afrika maak voorsiening vir die skeiding van magte, gesamentlike regering en oordrag van mag (Mahlangu & Pitsoe, 2011:366). Die Suid-Afrikaanse regering bestaan uit drie vlakke van regering, naamlik nasionaal, provinsiaal en die skoolbeheerliggaam op plaaslike skoolvlak. Een van die grondbeginsels van NEPA (1996(a):1-4) is “achieving close co-operation between the national and provincial governments on matters relating to education, including the development of capacity in the departments of education, and the effective management of the national education system”. Dit is dus noodsaaklik dat nasionale, provinsiale en skoolbeleid met mekaar moet ooreenstem. Die GSE-beleid is ʼn nasionale beleid en dit is belangrik dat ʼn mate van eenvormigheid in die implementering daarvan deur provinsies weerspieël sal word. Sou daar nie eenvormigheid bestaan oor die implementering van die GSE-beleid nie, loop Suid-Afrika die risiko om verskillende evalueringstelsels te hê, waarvan die doeltreffendheid moeilik gemoniteer gaan word. Meer nog, indien daar onsekerheid in die Vrystaatprovinsie bestaan oor die implementering van die GSE-beleid, mag dit daartoe lei dat skole die erns van die onderwysdepartement ten opsigte van skoolevaluerings en volhoubare skoolontwikkeling in twyfel kan trek.

Omdat beleidsinhoud gevorm en bepaal word deur rolspelers met die meeste mag, kan daar aangevoer word dat die belange van hierdie magsdraers gevolglik ook die beste in die beleid vergestalt sal word, ten koste van die belange van dié wat nie in posisies van

mag is nie. Bell en Stevenson (2006:22) argumenteer dat rolspelers in magsposisies dikwels in staat is om probleme te definieer, grense te stel waarbinne probleme hanteer kan word en selfs om bepaalde oplossings af te dwing. As sodanig kan beleidsvorming nie geskei word van dominering nie. Die gevare hiervan vir die Suid-Afrikaanse demokrasie is dat sekere groepe uitgesluit kan voel van die beleidmakingsproses, wat weer die implementering van beleid in die gedrang kan bring.