• No results found

2.4 ONDERWYSWETGEWING

2.4.1 Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996)

Kragtens die Grondwet het almal in Suid-Afrika die reg op basiese onderwys, soos in artikel 29 vervat. Artikel 7 van die Grondwet verplig die staat om alle regte te eerbiedig, bevorder en verwesenlik. Die regering het dus ʼn enorme taak wat hulle moet vervul om beheer oor skole uit te oefen en almal wat by die skool betrokke is, se regte te beskerm. Volgens Beckmann (2006:182) is dit onmoontlik vir die staat om alleen gehalte onderwys aan almal te voorsien. Die Grondwet maak gevolglik voorsiening vir die stigting van organisasies en instansies (artikels 91 en 92), asook die

verspreiding van funksies (artikel 104). Basiese onderwys dien gevolglik as ʼn funksionele area waarvoor provinsiale en nasionale regerings verantwoordelik is (artikel 40(2)). Die nege provinsies mag hulle eie wette opstel om skole te reguleer, maar dit moet binne die raamwerk van die Grondwet en SASW gedoen word. Die SASW se doel is om een enkele nasionale sisteem vir skole daar te stel wat die ongelykheid in onderwys van die verlede regstel, asook die voorsiening van gehalte onderwys aan alle leerders in Suid-Afrika moontlik maak. Soos uiteengesit in die SASW, is die SBL as agent van die skool onder meer verantwoordelik om onderwysersekuriteit te verseker ten einde gehalte onderwys aan leerders te voorsien.

Ingevolge artikel 15 van die SASW is elke openbare skool ʼn regspersoon met die wetlike bevoegdhede om sy werksaamhede ooreenstemmend met die SASW te verrig. Regspersone is onafhanklike entiteite met onafhanklike bestaansreg, regte, verpligtinge, bates, laste en het ʼn eie, onafhanklike vermoë om aan die regsverkeer deel te neem, byvoorbeeld om kontrakte te sluit (bv. die vermoë om in hul eie naam ʼn fotostaatmasjien aan te koop), asook om gedagvaar te word en te dagvaar. Dit impliseer dat ʼn skool as ʼn entiteit aanspreeklik is teenoor die gemeenskap waarbinne dit funksioneer en dat ʼn skool deur middel van die SBL kontrakte mag sluit. Die skool is die regspersoon en die SBL sy funksionaris. Gevolglik kan die skool gedagvaar word en hulle is wetlik aanspreeklik vir besluite wat geneem word teen die agtergrond van die magte en funksies wat aan die SBL toegeken is. Die SBL het dus ʼn regsaanspreeklikheid teenoor onderwysers om hulle sekuriteit te waarborg en die skool kan gedagvaar word indien hulle deur middel van die SBL as funksionaris nie hulle regsplig reg uitvoer nie.

Artikel 16 van die SASW bepaal soos volg:

(1) Behoudens hierdie Wet setel die beheer van elke openbare skool in sy beheerliggaam en mag dit slegs sodanige werksaamhede en verpligtinge uitvoer en slegs sodanige regte uitoefen soos deur die Wet voorgeskryf.

(2) ’n Beheerliggaam staan in ʼn vertrouensposisie teenoor die skool.

(3) Behoudens hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet, moet die professionele bestuur van ʼn openbare skool deur die prinsipaal onder die gesag van die Departementshoof onderneem word.

Ingevolge artikel 16(1) van SASW is die SBL die beheerstruktuur van die skool wat uit ʼn groep mense bestaan wat verantwoordelik en aanspreeklik is vir die neem en implementering van besluite ten opsigte van hulle beheerfunksies soos voorgeskryf. Die artikel beklemtoon ook dat die SBL slegs sodanige werksaamhede en verpligtinge uitvoer en slegs sodanige regte uitoefen soos in dié wet beskryf. Die SBL het nie onbeperkte werksaamhede en outoriteit nie. Die SBL moet hom dus deeglik vergewis van hulle beperkte werksaamhede sodat daar nie op bestuursvlak ingemeng word en onderwysersekuriteit sodoende negatief beïnvloed word nie. Dit behoort in die praktyk alle misverstande rondom skoolbeheer en professionele bestuur wat tussen die SBL en onderwysers

kan ontstaan uit die weg te ruim. Die SBL is gevolglik weens hulle regsverpligting direk verantwoordelik vir onderwysersekuriteit in skole.

Ingevolge artikel 16(3) moet die professionele bestuur van openbare skole deur die prinsipaal onder die gesag van die Departementshoof onderneem word. Die byvoeglike naamwoord “professionele” verwys na “die bestuur van die professie” of “die bestuur van die professionele mense” – dit wil sê die onderwysers. Die staat, deur middel van die prinsipaal, se rol in die skool is dus beperk tot “die bestuur van die professionele mense” en dit wat hulle doen. Hulle is verantwoordelik vir onderrig en dus is die staat se rol (en seggenskap) oor wat in die betrokke skool gebeur beperk tot onderrig. Die prinsipaal het, buiten sy bestuursrol, ook ʼn rol om as deel van die SBL sekere verpligtinge uit te voer. Die feit dat hy/sy lid is van die SBL verleen nie aan hom/haar enige spesiale status of rang anders as enige van die ander lede van die SBL nie. Binne die SBL bestaan daar nie ʼn rangorde van lidmaatskap of enige besondere belange word nie verteenwoordiging nie. Alle lede van die SBL is wetlik daartoe aangewese om uit hoofde van die vertrouensposisie wat hulle beklee, die beste belange van die skool voorop te stel en dit sluit die prinsipaal in. Die wet bepaal dat die beheer van die openbare skool in sy SBL gesetel is, maar dat professionele bestuur van ʼn openbare skool deur die prinsipaal onder die gesag van die Departementshoof onderneem word. Die werksaamhede en verpligtinge van die SBL moet dus net uitgevoer word soos uiteengesit in die SASW en nie in die professionele aangeleenthede van die skool inmeng nie.

Artikel 16(2) noem dat die SBL in ʼn vertrouensposisie met die skool moet werk. Dit beteken dat die SBL altyd in die beste belang van die skool moet optree en dat ʼn lid van die SBL persoonlik aanspreeklik kan wees indien die vertrouensposisie, byvoorbeeld tussen onderwysers en die SBL, verbreek word. Bedrieglike of roekelose optrede van SBL-lede kan aanleiding gee tot die verbreking van die vertrouensposisie en sodoende persoonlike aanspreeklikheid meebring. Nalatigheid deur SBL-lede kan ook as roekelose optrede beskou word (Pillay, 2012:21).

Dit is die funksie van die SBL om die regspersoonlikheid, identiteit, belange, kultuur, ensovoorts van die skool te bevorder en te beskerm. Waar daar dus ʼn botsing ontstaan tussen die belange van die skool aan die een kant en die staat of ʼn ander skool of ander entiteit aan die ander kant, is die SBL wetlik verplig om die skool se belange te beskerm en/of te bevorder. Dit is denkbaar moontlik dat daar ʼn botsing kan ontstaan tussen die regte of belange van die skool aan die een kant en die breër gemeenskap in ʼn bepaalde dorp/stad of gemeenskap. In so ʼn geval is dit altyd die funksie van die SBL om die skool te verteenwoordig en die skool se beste belange te dien. Die fiktiewe regspersoon, genaamd die openbare skool, moet die opvoedkundige belange van sy leerders en skoolgemeenskap dien. Onder “skoolgemeenskap” verstaan ons gewoonlik die leerders, hulle ouers en die personeel van die skool. Dit is nie die hele dorp, stad of streek nie. Dit is slegs die interne skoolgemeenskap (Clarke, 2012:123).