• No results found

5.9 GELDIGHEID EN BETROUBAARHEID

5.9.4 Bekragtiging

6.3.2.3 Aanstellings

Ingevolge artikel 7(1)(a) van die SASW moet die SBL verseker dat kandidate se bekwaamheid by die aanstelling van onderwysers of die vul van poste in ag geneem word (§ 4.2.1.9). Die deelnemer se gevoel is dat die SBL aanstellings gemaak het sonder om die bekwaamheid van die onderwyser in ag te neem. Die onderwyser is aangestel om ʼn spesialis-leerarea, naamlik Engels, aan te bied waarvoor sy nie die nodige kennis, opleiding en ondervinding gehad het nie. Sy noem verder dat die spesifieke onderwyser slegs ʼn week by skool was omdat sy nie die mas kon opkom nie. Die

aanstellings van onderwysers wat nie die nodige bekwaamheid in ʼn spesifieke leerarea het nie, kan veroorsaak dat die druk te veel vir die onderwyser raak en dit veroorsaak dat onderwysers psigologies geaffekteer word, soos die onderwysers wat na slegs ʼn week handdoek ingegooi het. Dit is belangrik dat die SBL onderwysers aanstel in leerareas waarin hulle gekwalifiseerd is en waarmee hulle vertroud is ten einde te verseker dat onderwysers gelukkig is en sodoende emosionele sekuriteit ervaar:

Hulle stel iemand aan. Hier was ʼn vroutjie wat bedank het, sy sê oraait. 14:00 begin haar klas by ʼn ander werk. Sy sê as Mnr. vir haar sal toelaat [tot] net so kwart-voor- twee, dan gee hulle vir haar ʼn salaris. Hulle stel ʼn vrou [aan] wat in haar lewe nog nooit haar voet in ʼn klaskamer ingesit [sic] het nie. Kan jy so iemand vir Graad 6- huistaal English aanstel? Jy wat mos op die SBL [is]. Jy kort mos vir talle ʼn vakkundige. Daai vrou het net ʼn week gehou. Sy voel seer sy is net eenkant gestoot. Hulle stel iemand anders aan […] (7:33).

Die deelnemer voel verder dat die SBL aanstellings maak indien daar skielik nood is in ʼn spesifieke afdeling, sonder om bekwame onderwysers te kry wat die spesifieke leerarea kan aanbied. Die eerste beskikbare onderwysers word aangestel, alhoewel hy/sy nie die nodige kennis en vaardigheid het nie:

Voel vir my somtyds asof die SBL wil net hê daar is ʼn krisis, die skool het nou net iemand nodig. Ek kan miskien net NST gee; ek het nooit Afrikaans gegee nie. Ek maak ma’ ʼn voorbeeld hulle nodig [sic] vir Afrikaans. So is die kandidaat, jy word ma’ so ingeskuif. Jy is die kandidaat, jy moet dit net doen. As die bousteen nie reg gelê is nie, dan gaan hy later in die fondasie wys die krake. Vir my voel dit daar lack die SBL, dan kan jy dit nie doen nie (7:2).

Ingevolge artikel 20(1)(a) van die SASW moet die SBL die beste belang van die skool bevorder en daarna streef om die voorsiening van gehalte onderwys vir almal by die skool moontlik te maak (§ 4.2.1.1). Die aanstelling van onbekwame onderwysers kan vak- of departementshoofde wat spesifiek vir die onderwyser moet leiding gee ten einde goeie resultate te behaal, psigologies onveilig laat voel. Die psigologiese onveiligheid kan veroorsaak word deur swak vordering wat leerders in die spesifieke leerarea maak. Dié swak vordering kan ʼn direkte refleksie wees op die vakhoof wat veronderstel is om leiding te gee om goeie resultate te behaal. Die onvermoë van die SBL om bekwame onderwysers aan te stel laat vak- en departementshoofde psigologiese onveiligheid ervaar omdat die swak prestasie van leerders as gevolg van die aanstelling van onbekwame onderwysers deur die SBL ʼn refleksie op die seniors is en gevolglik tot addisionele spanning lei.

Een deelnemer is baie ongelukkig oor die aanstelling van ʼn wit nie-doserende personeellid. Die deelnemer meen dat anderskleuriges oorweeg moes word, aangesien die skool hoofsaaklik uit swart leerders bestaan. Die SBL-voorsitter wat “pastoor” genoem word, het ʼn wit persoon in ʼn SBL- betaalde pos aangestel omdat hy die persoon ken. Die SBL moet waak teen bevooroordeling en nepotisme by die aanstelling van personeel, aangesien dit negatiewe emosies kan wek: dit kan onderwysers psigologies ongeborge laat voel omdat hulle nie die oordeel van die SBL kan vertrou nie, want die SBL se ondeursigtige optrede kom voor as diskriminasie (§ 2.4.2). Dit is presies wat die aanstelling by die deelnemer gewek het: dit het ongelukkigheid veroorsaak. Die deelnemer het haar ongelukkigheid so verwoord:

Hoe sê ʼn mens nou vir discontent? Daar was dinge wat opgeduik het, hier was ʼn aanstelling van die van die SBL ʼn blanke man hy het afgetree. Nou voel ek mos nou uit ons se gemeenskap […] Ek weet nie was hy die enigste kandidaat wat aansoek gedoen het nie (7:30),

Die pastoor het iemand geken uit die wit gemeenskap om die rol te vul [van] die swart werkers wat onder hom is. Die anderskleuriges doen hulle werk. Die hoof moet maar meeste van die tyd inspring. Hy doen wat hy kan en so as daar regtigwaar niemand anders wat daai werk kon vervul. Hoekom net ʼn witman? Ons skool is omtrent 70% wit en as jy kyk na ons kinders is hulle 70% swart (7:31).

Ingevolge artikel 7(1)(b) van die SASW moet die SBL by aanstellings en aanbevelings die behoeftes van die skool oorweeg (§ 2.4.2). Die beste belang van die skool moet eers oorweeg word met die aanstelling van ʼn voorman ten einde vooruitgang te kan bewerkstellig. Dit is ʼn baie belangrike aangeleentheid wat geneig is om ongelukkigheid by onderwysers te veroorsaak omdat hulle nie bewus is van die wetgewing wat gebruik is om aanstellings te maak nie. Die belangrikheid van wetgewing in terme van aanstellings moet duidelik deur die SBL aan onderwysers gekommunikeer word. Indien die SBL die onderwysers inlig oor die prosedures en kriteria wat gevolg is om sekere aanstellings te maak, duidelik aan die personeel kommunikeer, kan dit nie onderwysers emosioneel affekteer nie. Die regstelling van die wanbalans van die verlede deur breë verteenwoordiging te bewerkstelling, dien as ʼn bykriteria (§ 2.4.2). Die SBL moet dus verseker dat die aanstelling die behoeftes van die skool aanpak in terme van die beste belang van die skool. Voorts, indien die kandidaat die beste belang van skool sal bevorder, kan die wanbalans en verteenwoordiging in ag geneem word wanneer aanstellings gemaak word. Dit wil uit die bogenoemde aanhaling voorkom asof die SBL by die aanstelling nie die verteenwoordiging van die skool oorweeg het nie, wat gevolglik negatiewe emosies gewek het. Die moontlikheid bestaan egter dat die ander kandidate nie die beste belang van skool sou bevorder nie en daarom is die kandidaat aangestel. Die oningeligtheid van onderwysers aangaande die kriteria wat gevolg word ten opsigte van aanstellings kan negatiewe emosies wek.

Tydens die fokusgroeponderhoud het dit duidelik na vore gekom dat die ouer-komponent van die SBL gewoonlik aanstellings van onderwysers op grond van ander lede se voorkeure maak omdat hulle nie die nodige opleiding en kwalifikasies het nie. Die ouers luister nie eens wat die kandidate sê nie, maar gee gewoonlik dieselfde punte vir ʼn spesifieke kandidaat. Die deelnemer vermoed dat ouers vooraf ingelig word wie om te kies:

Wat die aanstelling van onderwyser ook aanbetref het ek al persoonlik ervaar toe ek deel van die SBL was. Die SBL, veral die ouers, luister nie eens na wat die kandidate sê nie, hulle gee net punte gewoonlik vir dieselfde kandidaat. So asof hulle vooraf gekoukus het of voorgesê is wie om te kies. Baie van die ouers sou ek sê is ongeletterd, het nie die vermoë om die beste kandidaat aangestel nie en gaan maar agter wie ook hulle voorsê. Hulle voel ek moet hulle in die eerste plek nie beskikbaar stel, oor hulle gebrek aan nodige opleiding en kwalifikasies om die werk te verrig nie (13:65).

Die SBL moet verseker dat aspekte soos gelykheid, billikheid, wanbalans en verteenwoordiging in ag geneem word wanneer aanstellings gemaak word en dat die prosedures soos wat in artikel 6 van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders beskryf word, toegepas word (§ 4.2.1.18). Die aanbeveling van onderwysers op grond van ongelykheid en onbillikheid, soos deur die bogenoemde aanhaling uitgewys is, kan meebring dat die verkeerde kandidaat aangestel word wat nie die beste belang van die skool bevorder nie. Dit kan meebring dat die ander kandidate wat nie in die onderhoude met gelykheid behandel is nie, langtermyn psigologiese letsels kan hê, wat veroorsaak is deur die SBL wat sy regsplig verkeerd uitgevoer het.