• No results found

3.2 REGTE VAN ONDERWYSERS

3.2.5 Regverdige administratiewe optrede (artikel 33)

Regverdige administratiewe optrede word soos volg in artikel 33 van die Grondwet uiteengesit:

(1) Elkeen het die reg op administratiewe optrede wat regmatig, redelik en prosedureel billik is.

(2) Elkeen wie se regte nadelig geraak is deur administratiewe optrede het die reg op die verskaffing van skriftelike redes.

(3) Nasionale wetgewing moet verorden word om aan hierdie regte gevolg te gee, en moet‒

(a) voorsiening maak vir die hersiening van administratiewe optrede deur ʼn hof of, waar dit gepas is, ʼn onafhanklike en onpartydige tribunaal;

(b) die staat verplig om aan die regte in subartikels (1) en (2) gevolg te gee; en (c) ʼn doeltreffende administrasie bevorder.

Artikel 33(1) van die Grondwet handel oor regverdige administratiewe optrede en beklemtoon dat elkeen die reg op administratiewe optrede het wat regmatig, redelik en prosedureel billik is. Die doel van “administratiewe optrede” is om administratiewe wat deur openbare liggame uitgevoer word, in te sluit. Die optredes sluit in bevooroordeelde administratiewe besluite en regeringsadministrasie deur middel van regulasies (Devenish, Govender & Hulme, 2001:11).

Sekere outeurs beskou artikel 33(1) as die kodifisering van die beginsels van gemene reg, veral die reëls van natuurlike geregtigheid (Rossouw, 2005:20; Smit, 2011:332). Volgens Smit (2011:332) is die twee hoofkomponente van die reëls van natuurlike geregtigheid nemo iudex in sua causa (reël teen bevooroordeling) en audi alteram partem (hoor die anderkant). Die twee regsbeginsels sal bespreek word omdat dit verband hou met onderwysersekuriteit.

3.2.5.1 Reël teen bevooroordeling

Enige persoon of liggaam (d.w.s. die SBL) wat optredes van onderwysers in hulle diens ondersoek, moet dit onpartydig, objektief en sonder bevooroordeling ondersoek (Oosthuizen, 2014:119). Volgens Smit (2011:332) is die volgende aspekte moontlike bronne van bevooroordeling: finansiële belangstelling, persoonlike belangstelling of amptelike bevooroordeling. Geen direkte of indirekte belangstelling ten opsigte van die bogenoemde moet ʼn regspersoon (d.w.s. die SBL) se besluit beïnvloed nie. SBL-lede wat persoonlike belang by aangeleenthede het, kan SBL-betaalde onderwysers skuldig bevind aan ʼn oortreding, alhoewel die onderwyser onskuldig is. Optredes teen die onderwyser, soos ʼn waarskuwing indien hy/sy skuldig bevind word, kan die onderwyser psigologies affekteer en sy/haar sekuriteitsgevoel skaad.

ʼn Voorbeeld van ʼn hofsaak wat handel oor bevooroordeling, is die saak van M J De Kock NO v Departementshoof van die Onderwysdepartement, Provinsie Wes-Kaap en andere (12533/98) Kaap Die Goeie Hoop Provinsiale Afdeling, waar die onderhoof gedien het as lid van die dissiplinêre komitee en hoofooggetuie was in ʼn saak waar die leerder met dagga betrap is. Die leerder is skuldig bevind en geskors deur die SBL, terwyl die hooggeregshof bevind het dat die prosedures onregverdig was omdat daar ʼn redelike vermoede was dat die onderhoof bevooroordeeld was. Die besluit van die SBL is ter syde gestel. Die uitspraak bevestig dat SBL’e altyd die reël van bevooroordeling nougeset moet toepas omdat onderwysers se psigologiese sekuriteit negatief geaffekteer kan word en dat hulle boonop ʼn moontlike hofsaak sal verloor indien daar enige

vermoede is van bevooroordeling tydens enige optrede of verhoor van ʼn onderwyser (d.w.s. ʼn SBL- betaalde onderwyser).

3.2.5.2 Audi alteram partem

Dié term beteken letterlik “die ander kant moet gehoor word”; met ander woorde ’n persoon of regsubjek (d.w.s. ʼn onderwyser) moet die geleentheid gegun word om sy weergawe van die saak te stel (Oosthuizen, 2014:112).

Die beginsel van audi alteram partem is uitgebrei om die vereistes van ʼn regverdige verhoor in te sluit. Die drie elemente van ʼn regverdige verhoor is (Smit, 2011:333):

 kennisgewing van die beplande verhoor;  geleentheid om gehoor te word; en

 verteenwoordiging om te assisteer tydens die verhoor.

Die onderwyser moet nie net ʼn gepaste kennis gegee word nie, maar ook die detail en inligting wat nodig is om deeglik te beplan, onder meer die datum, tyd en plek van die verhoor, die aard en omvang van die voorgestelde ondersoek, klagtes of besware teen die onderwyser of teen die aansoek en die feite waarop dit gebaseer is (Burns & Beukes; Devinish et al., 2001; Hoexter, 2007:333; Oosthuizen, 2014:113). Volgens Smit (2011:333) moet die onderwyser genoeg tyd gegun word om hom/haar deeglik vir die verhoor voor te berei. Die onderwyser moet die geleentheid gegun word om sy/haar saak te stel, terwyl die SBL daarna moet luister en oorweeg ten einde ʼn gepaste besluit te neem (Oosthuizen, 2014:114).

In die hofsaak van die Governing Body, Tafelberg School v Head, Western Cape Education Department 2000 (1) SA 1209 (C) het die SBL van Tafelberg Skool aansoek gedoen vir die hersiening van die hoof van die departement se beslissing om die skool se aanbeveling om ʼn leerder wat rekenaartoerusting by die skool gesteel het te skors, ter syde te stel. Die hoof van die departement het sy besluit om die leerder weer toe te laat gemaak op geskrewe aansoeke deur die leerder se ouers.

Die SBL is egter nie van die geskrewe aansoeke voorsien nie en ook nie die geleentheid gegun om daarop te reageer nie. Die leerder is gevolglik geskors omdat die departement nie die SBL ʼn kans gegee het om op die ouers se verteenwoordiging te reageer nie. Dit illustreer dat die SBL te alle tye onderwysers die geleentheid moet bied om hulle saak te stel in ʼn verhoor, aangesien optredes of uitslag gegrond op eensydige inligting van ʼn leerder kan veroorsaak dat onderwysers verkeerdelik beoordeel of gestraf word. Onderwysers kan deur die optredes van die SBL psigologies geaffekteer word.

Artikel 33(1) verwys nie uitsluitlik na reëls van natuurlike geregtigheid nie, maar verwys na “prosedureel billike” administratiewe optrede (Rossouw, 2005:20). Die term wat uitstaan in bogenoemde artikel is ‘prosedurele billikheid’. Dit is noodsaaklik vir elke onderwyser om op ʼn bepaalde standaard van optrede teenoor die SBL te kan aanspraak maak omdat dit een van die ononderhandelbare grondslae vir onderwysersekuriteit uitmaak. Vervolgens, ʼn bespreking van prosedurele billikheid.

3.2.5.3 Prosedurele billikheid

Grogan (2003:171) beweer dat prosedurele billikheid ʼn maatstaf is waaraan die werkgewer se aksies voor dissiplinêre aksie gemeet word. Elke werknemer het die reg op billike prosedures, ongeag die redes vir hulle optrede. As die werkgewer nalaat om die regte prosedures te volg wanneer daar dissiplinêr teenoor ʼn werknemer opgetree word, kan die werknemer hom op sekere wetlike prosedures beroep. Bogenoemde maak dit duidelik dat elke werknemer die reg het op billike prosedures voordat optrede kan plaasvind. Enkele gemeenregtelike beginsels in terme van billike prosedures word vervolgens bepreek.

Die saak van Nozuko Amanda Mahlasela en andere v Die Hoof Wes-Kaapse Onderwysdepartement van 2000 handel oor aanstellingsprosedures. Die vier applikante was onderwysers wat in die jaar 2000 op ʼn tydelike of kontrak-basis by Simonye Sekondêre Skool aangestel is. In Februarie 2000 het die hoof van die Wes-Kaapse Departement van Onderwys permanente poste geadverteer en by Simonye Sekondêre Skool was daar 28 poste beskikbaar. Die vier applikante, onder andere, het aansoek gedoen. Hulle was almal op die kortlys en is vir onderhoude genooi. In Julie 2000 is al vier die applikante aangestel in die onderskeie poste by Simonye Sekondêre Skool. In Junie 2000 is griewe deur individuele onderwysers ingebring aangaande 17 van die nuwe poste. Die griewe het gehandel oor die prosedures wat deur die hoof van die Wes-Kaapse Departement van Onderwys gevolg is, asook die daaropvolgende aanbevelings. Daar is ʼn ondersoek ingestel na die nominasies, die onderhoude en die aanstellingsproses. Die gevolgtrekking was dat die prosedures wat deur die Wes-Kaap Departement van Onderwys gevolg is, prosedureel onbillik was. As gevolg daarvan is alle verdere aanstellings opgeskort. Tog was daar reeds agt kandidate aangestel, waaronder die vier applikante. Op 4 Oktober 2000 het die Wes-Kaapse Departement van Onderwys op aanbeveling van ʼn interne regsadviseur die aanstellings nietig verklaar. Die rede was dat daar ongerymdhede met die aanstellingsproses was. Die agt kandidate is desnieteenstaande toestemming gegee om op ʼn kontrakbasis by Simonye Sekondêre Skool aan te bly totdat daar sekerheid oor die aanstellings is. Mahlasela en andere was ongelukkig oor die Wes-Kaapse Departement van Onderwys se optrede. Hulle wou hê dat die eerste respondent se handeling ter syde gestel word en dat hulle in die permanente poste heraangestel word met die intrede op 4 Oktober 2000, asook dat hulle alle voordele soos vir permanente personeel vanaf hierdie datum moet ontvang.

Die hof se besluit het aangetoon dat die besluit van die Departement van Onderwys op 4 Oktober 2000 ongeldig verklaar word en die applikante is in die betrokke poste aangestel. Die Departement van Onderwys moes enige gelde of voordeel waarop die applikante geregtig was en nie in die periode van die besluit ontvang het nie, aan die applikante betaal. Die Departement van Onderwys moes dus die applikante se kostes betaal.

Hierdie hofsaak is ʼn goeie voorbeeld van hoe versigtig die betrokke persone moet wees om nie impulsief op te tree nie. Beide die Departement van Onderwys en die SBL moes hulle vergewis van die regte prosedures voordat hulle die finale besluit geneem het. Hulle kon ook nie die besluit terugtrek en die applikante weer op ʼn kontrakbasis aanstel nie. Die SBL as werkgewer moet seker maak dat hulle te alle tye die regte prosedures volg in enige optrede teenoor onderwysers om sodoende onderwysersekuriteit te bevorder.