• No results found

3.2 REGTE VAN ONDERWYSERS

3.2.6 Die reg op vryheid van uitdrukking (artikel 16)

Die reg op vryheid van uitdrukking as een van die regte van onderwysers is van kardinale belang vir onderwysersekuriteit. Ingevolge artikel 16 van die Grondwet het:

(1) Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is‒ (a) die vryheid van die pers en ander media;

(b) die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra; (c) die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en

(d) akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing.

(2) Die reg in subartikel (1) omvat nie‒ (a) propaganda vir oorlog nie;

(b) die aanstigting van dreigende geweld nie; of

(c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.

Volgens Van Vollenhoven (2006:70) is baie Suid-Afrikaners in die verlede verhinder om uiting te gee aan artikel 16(1) en daarom is alle mense, selfs onderwysers, nooit geleer om krities te dink om enige iets wat met hulle gebeur of wat vir hulle gesê word, te bevraagteken nie. Vandag het alle Suid-Afrikaners die reg op vryheid van uitdrukking, wat beteken dat onderwysers situasies by hulle skole krities kan evalueer deur enige besluite wat die SBL neem te bevraagteken of om die redes waarom sake op ʼn sekere wyse hanteer word te wil weet, sonder dat die SBL dit teen die onderwysers kan hou. Indien die SBL onderwysers nie die geleentheid gun om beleide of enige aangeleentheid krities te evalueer nie, ontneem hulle onderwysers die reg op uitdrukking.

Artikel 16(1)(b) bevestig die reg om idees te ontvang en aan almal oor te dra. Dié idees kan bevraagteken, oorweeg, aanvaar of verwerp word (Smith, 2010:185). In die skoolopset kan dit problematies wees indien die inligting gekommunikeer van die SBL na ʼn onderwyser onpopulêr, neerhalend of negatief van aard is en dan in so ʼn mate onderwysersekuriteit nadelig beïnvloed. Volgens Oosthuizen (2014:40), Van Vollenhoven (2006:63) en Joubert en Prinsloo (2015:55) is vryheid van uitdrukking nie slegs vryheid van spraak nie. Uitdrukking sluit baie meer in as spraak: dit sluit uitdrukking in deur sang, dans, kunswerk, kleredrag, haarstyl, juweliersware, publikasie van foto’s, sketse, skryfwerk, ensovoorts. Die negatiewe uitdrukkings deur die SBL na onderwysers kan deur enige genoemde tipe uitdrukkings teenoor onderwysers gemaak word. Kragtens artikel 16(1)(d) kan daar byvoorbeeld konflik ontstaan indien die SBL besluit om die onderrigmateriaal self te kies wat onderwysers mag gebruik sonder om die onderwyser te konsulteer en sodoende die onderwyser se reg op akademiese vryheid beperk. Wanneer onderwysers se reg op akademiese vryheid ontneem word (in die geval deur die SBL), laat dit hulle professioneel onbevoeg voel en kan dit hulle gevolglik psigologies affekteer.

Die reg op vryheid van uitdrukking is onderworpe aan ʼn inherente beperking wat in sub-artikel (2) uiteengesit word. Artikel 16(2) verklaar dat die reg op vryheid van uitdrukking uitsluit:

 propaganda vir oorlog;

 oproering of dreig met geweld; of

 voorspraak vir haat gebaseer op ras, etnisiteit, geslag of godsdiens, insluitend opruiing om skade te berokken.

Artikel 16(2) plaas dus sekere vorme van uitdrukking buite die bestek van hierdie reg, byvoorbeeld die aanstigting van geweld en sekere vorme van haatspraak (Currie & De Waal, 2013:357). Die reg op vryheid van uitdrukking is nie absoluut nie. Vulgêre woorde, verset en beledigings word ook nie deur die reg beskerm nie. Die SBL kan dus nie onbeperk uiting gee aan hulle emosies, idees en griewe nie. Hoewel individue die reg het om hulle opinies en griewe te lug, moet dit volgens bepaalde prosedures geskied. Voorts het almal in die skool dieselfde reg op vryheid van uitdrukking, onder meer die reg om gehoor te word. Daarom het geen SBL-lid die reg om die onderwyser se opinie of idees belaglik te maak nie. Dit is dus duidelik dat hoewel almal die reg op vryheid van uitdrukking het, daardie reg met bepaalde verpligtinge gepaard gaan. Die SBL het byvoorbeeld die verantwoordelikheid om nie hulle reg op vryheid van uitdrukking op onderwysers af te dwing en daardie onderwysers in die proses van bepaalde regte te ontneem nie.

Die Menseregtekommissie het ʼn beswaar in 1998 van ʼn 14-jarige dogter, Layla Cassim, van Crawford College ontvang. In Oktober 1998 het Layla ʼn artikel op die kennisgewingbord gelees wat oor die Israel-Palestina land aangeleentheid gehandel het. Sy het gevoel dat daar twee kante ten opsigte van die aangeleentheid is en dit aan haar Geskiedenis-onderwyser, meneer McMahon,

genoem. Hy nooi haar toe om ʼn artikel in antwoord op die eerste een te skryf, wat sy toe gedoen het. Hy het die artikel langs die ander een op die kennisgewingbord aangebring. Die artikel het egter soveel polemiek veroorsaak dat mede-leerders haar beskuldig het van anti-Semitisme en anti-wit. Op 20 November 1998 ontvang sy ʼn brief van die prinsipaal wat haar skors en van die kampus verban totdat die uitslag van die dissiplinêre komitee bekend is. Geen dissiplinêre verhoor het egter plaasgevind nie en haar skorsing is ter syde gestel. Tydens ʼn vergadering by die kantoor van die Menseregtekommissie is die aangeleentheid bespreek, maar daar kon nie tot ʼn vergelyk gekom word nie en die samesprekings het gevolglik misluk. Die regsdepartement het gevolglik ʼn bevinding gemaak ten opsigte van die beswaar wat ingedien is. Die regsdepartement het bevind dat die skool artikel 33 en artikel 16 van die Grondwet oortree het.

Die SBL moet te alle tye, soos bewys deur bogenoemde bevinding, onderwysers se reg op vryheid van uitdrukking respekteer en nie onderwysers aanvat of aankla indien hulle sienswyse verskil nie. Onderwysers se reg op psigologiese sekuriteit sal geskend word indien die SBL hulle aanvat en aankla omdat hulle skriftelik of mondelings verskil oor sekere aangeleenthede. Onderwysers se reg op vryheid van godsdiens word volgende bespreek.