• No results found

4.2 WERKSAAMHEDE VAN ALLE SKOOLBEHEERLIGGAME

4.2.1 Funksies van die skoolbeheerliggaam

4.2.1.5 Ondersteuning van die personeel

Artikel 20(1)(e) van die SASW bepaal dat die SBL die “prinsipaal, opvoeders en ander personeel van die skool ondersteun in die verrigting van hul professionele werksaamhede”. Die interpretasie van ondersteuning kan verskeie vorme aanneem. Daar is ʼn fyn lyn tussen ondersteuning van die SBL en die inmenging op onderwysers se professionele terrein. Ondersteuning kan morele ondersteuning wees teenoor ouers in die gemeenskap. Die SBL kan byvoorbeeld nie die wiskunde- program ondersteun om leerders se syfervaardighede te verbeter sonder om materiaal of fondse daarvoor beskikbaar te stel nie. Bogenoemde ondersteuning is positiewe ondersteuning. Ander ondersteuning van die SBL kan weer deur onderwysers beskou word as inmenging op hulle regte as professionele onderwysers. Byvoorbeeld, in die geval waar die SBL by die prinsipaal daarop aandring om te weet waarom onderwysers altyd laat is en watter stappe al teen die onderwysers geneem is. Volgens Van Wyk (2004) het ʼn onderwyser die volgende in die verband gesê: “They (the SGB) always tell us that we cannot survive without them or they threaten us with redeployment,

while the teachers in the urban schools do not experience this kind of ‘involvement’ in their schools”. Dit is wel so dat die SBL in belang van die skool moet optree en dus vrae moet vra oor gedurige laatkommery of afwesighede. Die skeiding tussen professionele bestuur (d.w.s. die taak van die prinsipaal) en die beheer (d.w.s. die taak van die SBL) is nie altyd duidelik nie. As SBL-lede meerderwaardig en dreigend optree, het dit definitief ʼn invloed op onderwysersekuriteit deurdat dit onderwysers geïntimideerd en psigologies onveilig laat voel en hulle werksaamhede word gevolglik negatief geaffekteer.

Die SBL het ʼn magtige invloed op die verhouding tussen alle rolspelers van die skoolgemeenskap. Hulle kan die algemene geluk van die skool beïnvloed (Clarke, 2012:92). Indien die SBL en die prinsipaal nie hulle verskille ten opsigte van inmenging van die SBL op professionele aangeleenthede op ʼn konstruktiewe manier hanteer nie, kan die konflik na die onderwysers deurskemer. Onderwysers kan gevolglik negatief geaffekteer word omdat die skoolatmosfeer ondraaglik kan raak. Die SBL moet aan die begin besef dat hulle nie ʼn onderhandelingsforum is nie, maar ʼn raad wat beheer oor ʼn skool moet uitoefen in die beste belang van die skool (Clarke, 2012:92).

Die voorwoord van die SASW bevestig die belangrikheid van die SBL se regsplig by die ondersteuning van die onderwysers. Luidens die voorwoord moet die staat in vennootskap met die SBL help met die bevegting van rassisme, seksisme en ander vorme van diskriminasie, ʼn bydrae maak tot die verbetering van armoede, asook die ekonomiese gesondheid van die gemeenskappe en die regte van leerders, ouers en onderwysers beskerm (Oosthuizen, 2014:294). Volgens Oosthuizen is die ontwikkeling van ʼn goeie gedragskode vir leerders noodsaaklik, aangesien die huidige situasie in baie Suid-Afrikaanse skole gekenmerk word deur insidente van verskeie vorme van aggressie teen onderwysers, onder meer verbale en fisiese aanvalle, intimidasie, teistering en beledigings. Die SBL moet dus onderwysers ondersteun deur hulle fisiese en psigologiese sekuriteit te verseker deur die daarstelling van ʼn goeie en effektiewe gedragskode vir leerders.

Volgens Joubert en Prinsloo (2015:103) is die volgende riglyne belangrik indien die SBL effektiewe ondersteuning aan die skool en onderwysers wil verleen:

 Demonstrering van gedissiplineerde gedrag

Gedissiplineerde gedrag is ʼn verbinding tot optredes wat wêreldwyd as korrek aanvaar word. Dit beteken dat die SBL hulle moet verbind tot die skep van gedissiplineerde gedrag wat alle wettige aspekte omvat en sodoende die fisiese en psigologiese sekuriteit van die onderwysers beskerm en waarborg.

 Deursigtigheid

Deursigtigheid is die gemak waarmee ʼn buitestaander ʼn betekenisvolle analise kan maak van die SBL se optredes, doelstellings en die finansiële bestuur van die skool. Dit is ʼn maatstaaf om te bepaal hoe effektief, akkuraat en betyds die SBL die nodige inligting beskikbaar stel. Byvoorbeeld, as die SBL finansiële probleme het en nie hulle verpligtinge kan nakom ten opsigte van die voorsiening van papier, ink en afdrukke nie en dan ook nie die onderwysers betyds daaroor inlig nie, kan dit onderwysers in die verleentheid plaas om nie hulle werksaamhede betyds af te handel nie en sodoende onnodige druk op onderwysersekuriteit plaas.

 Onafhanklikheid

Onafhanklikheid verwys na die omvang waartoe die meganismes daargestel is om konflik wat moontlik bestaan, te minimaliseer of te vermy – byvoorbeeld, die dominansie van ʼn sterk prinsipaal of SBL-voorsitter. Die meganismes wissel van die samestelling van die SBL, aanstellings van komiteelede en aanbevelings van onderwysers wat effektief moet funksioneer ten einde moontlike konflik uit te skakel, wat gevolglik onderwysers se veiligheidservaring kan verseker. Die besluitneming in die onderskeie meganismes moet altyd objektief wees en moet nie deur die prinsipaal of voorsitter van die SBL beïnvloed word nie. Die SBL moet altyd sake wat onderwysers raak objektief ondersoek omdat enige invloed van die prinsipaal wat nie bewys kan word nie, onderwysersekuriteit psigologies kan affekteer.

 Verantwoordbaarheid

Individue of groepe in die SBL wat besluite neem en optredes teenoor spesifieke sake voorstel, moet vir hulle besluitnemings en optredes verantwoordbaar gehou word. Daar moet effektiewe meganismes daargestel word wat die SBL-lede verantwoordbaar maak. Dit sal onderwysers die geleentheid bied om sekere besluite en optredes deur die SBL te bevraagteken, wat gevolglik verseker dat onderwysers se regte nie so maklik geskend sal word nie.

 Verantwoordelikheid

Verantwoordelikheid verwys na die gedrag wat gekorrigeer moet word en die strafbaarmaking vir wanbestuur. Die SBL is verantwoordelik vir die onderwyser se fisiese en psigologiese veiligheid by die skool en indien die SBL nie hierdie regsplig effektief kan uitvoer nie, moet hulle daaraan aandag skenk en dit korrigeer. Die SBL moet dus beleide implementeer wat sal verseker dat hulle die verantwoordelikheid ten opsigte van die veiligheid van onderwysers nakom.

 Regverdigheid

Die sisteem wat in die skool bestaan moet regverdig wees: almal wat belang by die skool het, asook hulle vooruitsigte, moet in ag geneem word. Onderwysers se regte moet gerespekteer word net

soos wat kinders se regte gerespekteer moet word. Indien die regte van die kind meer aandag geniet as die onderwysers se regte, is dit onregverdig teenoor die onderwyser.

 Sosiale verantwoordelikheid

Skole wat goed beheer en bestuur word, is bewus van die sosiale aangeleenthede en plaas ʼn hoë prioriteit op etiese standaarde. Die SBL moet onder geen omstandighede onderwysers uitbuit of teen hulle diskrimineer nie en verantwoordelik optree deur nie hulle menseregte te skend nie.