• No results found

Die empiriese bevindings aangaande die SBL se bevoegdheid in terme van die implementering van hulle regsplig vir die versekering van onderwysersekuriteit word bespreek. Die volgende kategorieë, naamlik finansies, die skoolomgewing, betrokkenheid van SBL-lede en kapasiteit/ funksionaliteit, word weergegee.

7.4.1 Finansies

Die tekort aan finansies by skole veroorsaak dat die veiligheidsmaatreëls nie in daardie opset opgeskerp kan word nie. Die installering van kameras en veiligheidshekke, asook die aanstelling van veiligheidsbeamptes om die in- en uitgange van skole te beman is slegs ʼn ideaal vir

onderwysers om te verseker dat hulle fisies en psigologies beskermd is. Die SBL se onvermoë om finansies effektief te bestuur en aan te vul deur fondsinsamelings, borge en donasies is die oorsaak vir die gebrek aan finansies (§ 6.3.3.1).

Die SBL se ondeursigtige bestuur en beheer van die finansies ten opsigte van effektiewe begroting en kommunikasie van beskikbare fondse aan die personeel ten einde onderwysers op hoogte te hou van die finansiële verwikkelinge, ontbreek. Onderwysers weet nooit hoeveel geld beskikbaar of begroot is vir spesifieke afdelings nie, wat meebring dat geld nie korrek aangewend word vir die aanskaffing van veiligheidsinstrumente nie. Die SBL het nie die finansiële vaardighede nie en word basies net gesien wanneer hulle tjeks by die skool kom teken. Dit is ʼn aanduiding dat die SBL nie werklik betrokke is by die uitvoering van finansiële beleide nie en dus nie reg laat geskiet aan artikel 37(1) van die SASW nie. Die studie bevind dus dat deelnemende onderwysers fisiese en psigologiese ongeborgenheid ervaar omdat die SBL nie die nodige kundigheid en vaardigheid het om die skoolfinansies effektief te bestuur nie.

7.4.2 Skoolomgewing

Die skoolomgewing (meer spesifiek die in- en uitgange van skole) voldoen nie aan die standaard ten opsigte van die Regulasies vir Veiligheidsmaatreëls by Openbare Skole (SA, 1996c) nie, aangesien daar vrye toegang tot die perseel is. Onderwysers ervaar deurlopend vrees omdat enige persoon enige tyd van die dag hulle kan konfronteer sonder dat die ontvangspersoneel in die kantoor bewus is dat sodanige persoon op die terrein is, soos ʼn onderwyser bevestig het. Die inbrake by skole laat onderwysers ook fisies en psigologies onveilig voel omdat die onderwyser direk aan moontlike konfrontering of konflik met inbrekers blootgestel word. Die SBL se plig om skole behoorlik te beveilig met goeie en effektiewe toegangsbeheermaatreëls en die installering van alarmstelsels en veiligheidshekke sal onderwysers fisies en psigologies veilig laat voel (§ 6.3.3.3). Deelnemers meen dat die gebrek aan veiligheidsmaatreëls by die skool hulle fisies en psigies onveilig laat voel.

7.4.3 Betrokkenheid van die skoolbeheerliggaamslede

Die empiriese studie het bevind dat deelnemers se sekuriteitsbelewenisse negatief beïnvloed word omdat SBL-lede nie hulle pligte nakom nie. Die SBL-voorsitters by twee skole is aktief betrokke om onderwysers te help om hulle sekuriteit te verbeter deur werkwinkels te organiseer en veiligheidshekke en diefwering te maak om onderwysers in ʼn sekere mate van veiligheid te voorsien. Die onderwysers weet nie wie die ander SBL-lede is nie omdat die lede so min by die skool betrokke is (§ 6.3.3.3). Die meeste van die ander lede is baie passief, wat daartoe aanleiding gee dat die onderwysers baie van die lede se pligte moet uitoefen. Dit beteken dat die onderwysers baie keer nie in hulle klasse is om leerders op te voed nie, maar onder meer besig is met reëlings vir fondsinsamelingsaktiwiteite, wat hierdie onderwysers aan vervolging blootstel. Die

sorgsaamheidsplig wat onderwysers teenoor die leerders moet hê, word dus nie uitgevoer nie omdat onderwysers nie in hulle klasse is nie.

Die studie toon ook dat die SBL se ouer-komponent skitter in hulle afwesigheid wat die uitoefening van hulle pligte behels, terwyl die onderwyser-komponent op die voorgrond van alle aktiwiteite is wat by die skole aangepak word. Die SBL se onderwyser-komponent is in beheer van die skool, veral wat fondsinsameling betref ‒ wat weereens onderwysers weerhou om hulle opvoedingstake behoorlik uit te voer. Die ouer-komponent word basies net gesien wanneer hulle ontbied is om die tjeks te kom teken. Die onderwysers se addisionele verantwoordelikheid plaas ekstra verpligtinge op hulle, wat aanleiding gee tot ʼn gebrek aan psigologiese veiligheid omdat hulle normale pligte nie uitgevoer word nie.

Die kapasiteit/ funksionaliteit van die SBL, as laaste kategorie van die familie SBL-bevoegdheid, word vervolgens bespreek.

7.4.4 Kapasiteit/ Funksionaliteit

Die SBL se effektiewe uitvoering van sy regsplig is van kardinale belang om onderwysersekuriteit te waarborg. Daar is bevind dat die SBL nie kennis dra van alle funksies wat hulle veronderstel is om te implementeer nie (§ 6.3.3.5). Dit veroorsaak dat baie van die funksies wat onderwysersekuriteit behoort te verbeter geensins uitgevoer word nie. Om dié rede is daar enorme veiligheidsprobleme wat by skole bestaan. Die SBL se gebrek aan kennis en verstaan ten opsigte van hulle regsplig veroorsaak dat onderwysers fisiese en psigologiese ongeborgenheid ervaar omdat funksies wat hulle sekuriteit behoort te beskerm, nie geïmplementeer word nie.

Onderwysers ontvang geen ondersteuning en leiding van die SBL ten opsigte van werkwinkels om hulle met sekuriteit te help nie. Onderwysers voel aan hulle eie genade oorgelaat ten opsigte van leerderwangedrag en departementele druk wat negatief op hulle inwerk. Die SBL is ook nie altyd beskikbaar om dringende aangeleenthede wat onderwysersekuriteit bedreig, te hanteer nie. Verder is daar ook nie ʼn dagbestuur by sekere skole nie, wat meebring dat aspekte rakende onderwysersekuriteit nie vinnig en doeltreffend hanteer en opgelos word nie.