• No results found

5.9 GELDIGHEID EN BETROUBAARHEID

6.3.3 Skoolbeheerliggaam se bevoegdheid

6.3.3.1 Finansies

Volgens ʼn deelnemer is finansies en onderwysersekuriteit verwant aan mekaar. Dit beteken dat die skool finansies moet hê om sekere veiligheidsmaatreëls daar te stel om sodoende onderwysers se veiligheid te waarborg. Hy noem verder dat die skool daarna streef om die veiligheid te waarborg, maar dat die tekort aan finansies dit onmoontlik maak. Die deelnemer som die situasie so op:

In die eerste plek meneer, u weet nou natuurlik sekuriteit gaan gepaard met fondse geld, geld is ʼn probleem. Onlangs is hier by die skool ingebreek twee, drie maal en wat doen jy omtrent dit, want dit kos geld om ʼn sekuriteitstelsel te installeer. So dit is ʼn probleem, geld is ʼn probleem en dan wil ek sê die wil. Ons weet ons moet dit

doen, maar die wil is net nie daar nie, want dis geld ek wil dit graag doen, maar ek kan nie (1:49).

Ingevolge die SASW (artikels 36-43) is die beheer van finansies van ʼn openbare skool die SBL se verantwoordelikheid (§ 4.2.1.18). Die SBL moet verseker dat beleide (volgens die Departement se riglyne, waarvolgens beleide effektief implementeer moet word) bestaan. Die SBL se afwyking van departementele beleide aangaande die finansies van skole, ten opsigte van wanbesteding of ʼn tekort aan finansies, kan fisies en psigologies op onderwysersekuriteit inwerk, aangesien beplande aktiwiteite nie effektief uitgevoer kan word nie (§ 4.2.1.9). Die tekort aan finansies by die skool waarvan die deelnemer melding gemaak het, kan ʼn direkte gevolg wees van die SBL se gebrek aan kundigheid om beleide effektief uit te voer, wat gevolglik onderwysersekuriteit fisies en psigies affekteer.

ʼn Ander deelnemer meen dat die manier waarop die finansies van die skool beheer en bestuur word, nie korrek is nie, aangesien daar nie duidelik gespesifiseer word hoeveel geld vir elke afdeling van die skool beskikbaar is nie. Sy sê dat hulle by die vorige skole presies geweet het hoeveel geld vir ʼn afdeling begroot is, terwyl haar huidige skool ʼn gebrek aan finansiële deursigtigheid openbaar:

Soos ek gewoond was by ander skole vir die kwartaal is dit geallokeer vir dit, vir netbal, vir sport soveel is daar. Niemand het nog so iets gedoen sodat jy as opvoeder kan sien daar is genoeg geld nie, maar ons sukkel met ʼn sekuriteitsprobleem […] (7:13).

Ingevolge artikel 38 van die SASW moet die SBL jaarliks ʼn begroting opstel ooreenkomstig met departementele riglyne (§ 4.2.1.21). Die begroting moet duidelik aandui hoeveel daar vir ʼn spesifieke afdeling begroot word. Dit sal dus net logies wees om dit verder in kwartale te verdeel namate sekere fasette afgehandel word, ten einde presies te weet wanneer oorspandering plaasvind. Die SBL se gebrek aan die nodige finansiële kennis kan meebring dat daar nie behoorlik begroot word vir die aspekte wat onderwyser se veiligheid affekteer nie of dat die aspekte waarvoor daar begroot is, nie uitgevoer word nie. Dit veroorsaak dat die proses van begroting deur die SBL ʼn nuttelose aktiwiteit is, aangesien die wanbesteding op hulpmiddele wat nie onderwysers bemagtig om effektief te onderrig nie, ʼn impak het op die ongeborgenheid van onderwysers.

Die SBL is verantwoordelik vir die finansiële bestuur en moet ʼn finansiële komitee vir die uitvoering van dié taak saamstel. Die finansiële komitee moet ʼn sekere mate van kennis en vaardighede in die opsig hê ten einde die finansies van die skool effektief te kan bestuur (§ 4.2.1.20). ʼn Deelnemer het ʼn probleem omdat slegs een persoon die finansies van die skool hanteer en hulle nie ʼn benul het of daar geld is om veiligheidsmaatreëls te versterk nie. Soos reeds vermeld, is dit ongesond om finansies alleen te hanteer, maar effektief indien ʼn komitee met die nodige vaardighede dit hanteer.

Die deelnemer noem voorts dat daar nog nooit by enige personeelvergadering ʼn finansiële verslag voorgelê is nie. Die fokusgroeponderhoud het die uitlating bevestig dat die personeel nooit weet hoeveel geld die skool het nie. Die deelnemer noem dat die SBL net daar is om tjeks te teken en verder lig hulle nooit die personeel in oor hoeveel geld daar is nie. Die personeel word net ingelig as daar nie geld is nie, sodat hulle kan begin om ʼn fondsinsamelingspoging van stapel te stuur. ʼn Ander deelnemer het ook vermeld dat die onderwysers op hulle eie geld by die skool insamel:

Ek praat nou baie goed, byvoorbeeld die vrou is nie finansiële beampte, sy hanteer alles. By ander skole is jy altyd twee. Ek kan nie vir u sê is daar geld dat ons veiligheid kan opskerp, al dan nie, ek kan nie sê nie (7:18),

Die beheerliggaam is net daar om tjeks teken, verder doen hulle niks nie. Ons word nooit ingelig hoeveel geld daar is nie; net as daar nie geld is nie word ons ingelig. Die skool is in rooi. Daar is nie geld nie. Ons moet nou geld insamel (13:37).

Volgens Clarke (2007:284) bepaal die finansiële beleid die volgende: hoe finansiële transaksies hanteer word; die interne kontroles; asook die delegering van verantwoordelikhede vir die kontrolering dat die bogenoemde in ooreenstemming met die skool se beleid en prosedures uitgevoer word. Die magtigingsproses vir ʼn skooluitgawe moet duidelik wees sodat almal presies weet wat van hulle verwag word. Die finansiële bestuursproses is noodsaaklik en word dikwels aan ʼn rekenkundige beampte by die skool gedelegeer. Die SBL moet gevolglik kontroleer dat die rekenkunde beampte die finansiële transaksies, interne kontroles en verantwoordelikhede in ooreenstemming met die skoolbeleid uitvoer ten einde wanbesteding en oorbesteding te voorkom. Wanbesteding en oorbesteding kan onderwysers psigologies onveilig laat voel omdat daar nie geld sal wees om sekuriteitstelsels in stand te hou of uit te brei nie.

Alle personeel moet ingelig wees rakende die finansies van die skool sodat daar geen finansiële onduidelikheid by enige rolspelers is nie. Die onduidelikheid oor finansies kan veroorsaak dat rolspelers nie gaan saamwerk vir die insameling van addisionele fondse wat aangewend kan word om aflos-onderwysers te betaal nie. Die afwesigheid van aflos-onderwysers lei daartoe dat onderwysers blootgestel word aan die addisionele verpligting van toesighouding van leerders waar hulle geen vak aanbied nie. Dit kan emosionele druk op onderwysers plaas.