• No results found

5.9 GELDIGHEID EN BETROUBAARHEID

7.3.1 Gedragskodes vir leerders

Die empiriese bevindinge dui aan dat leerderwangedrag een van die hoofoorsake is van die gebrek aan onderwysersekuriteit en dat onderwysers nie weet wat die gedragskode behels om leerderwangedrag effektief te hanteer nie. Onderwysers laat soms leerders toe om die gedragskode te oortree sonder om teen die leerders op te tree omdat hulle nie regtig weet watter stappe om te volg soos dit in die gedragskode van die skool gestipuleer word nie. Sommige onderwysers tree soms verkeerd op teenoor ʼn spesifieke oortreding weens hulle onkundigheid ten opsigte van die gedragskode en dit stel hulle gevolglik bloot aan vervolging (§ 6.3.2.1). Die bevinding bevestig die aanname dat indien ʼn skool nie ʼn behoorlike gedragskode vir leerders aanvaar het nie, plaas dit meer druk op die onderwysers omdat onderwysers nie sal weet hoe om leerders te dissiplineer nie

en dan moontlik onwettige dissiplinêre maatreëls gebruik ten einde dissipline te handhaaf (§ 6.3.2.1). Verder dui dit ook op die feit dat onkunde lei tot ʼn gebrek aan sekuriteitsbelewenis. Die SBL se onvermoë om ʼn effektiewe gedragskode op te stel dra gevolglik daartoe by dat onderwysers fisiese en psigologiese ongeborgenheid ervaar.

Die empiriese studie het bevind dat daar probleme rondom leerders se dissiplinêre verhore is as gevolg van die SBL se ondoeltreffende uitvoering daarvan. Ten eerste is bevind dat die SBL te lank neem voordat hulle leerders dissiplinêr aankla, wat veroorsaak dat die graad van leerderwangedrag toeneem en uitbrei en sodoende onderwysers meer blootstel aan ongeborgenheidservarings. Ten tweede, bevindinge beklemtoon ook die SBL se onvermoë in aangeleenthede waar hulle nie die korrekte prosesse volg om leerders tydelik te skors nie, asook dat hulle hul nie tot die hof wend om besluite deur die Departementshoof om leerders weer by die skool toe te laat te weerlê nie. Ten derde is daar bevind dat van die skole nie regtig van dissiplinêre verhore gebruik maak om leerders se oortredings effektief te hanteer nie. Dit veroorsaak dat die siklus van leerderwangedrag en die ongeborgenheid van onderwysers ongesteurd voortgaan in die skole waar hierdie studie uitgevoer is.

Die beleide, as die tweede kategorie van onderwysregsdeterminante, word vervolgens bespreek.

7.3.2 Beleide

Die meeste onderwysers is bewus van beleide en die inhoud van die beleide wat hulle sekuriteit behoort te beskerm. Gevolglik kon hulle verskeie aspekte uitlig wat veronderstel is om in die beleide voor te kom wat ontbreek en aanleiding gee tot die ervaring van fisiese en psigologiese onveiligheid. Die beleide bestaan werklik by die onderskeie skole, maar die gebrek aan die uitvoering van die beleide gee aanleiding tot die belewing van ongeborgenheid by onderwysers (§ 6.3.2.2).

Die twee beleide, naamlik die toelatingsbeleid en veiligheidsbeleid, is pertinent genoem as die beleide wat die grootste invloed op onveiligheidservarings by onderwysers het. Die toelatingsbeleid wat veronderstel is om die toelating van leerders te reguleer dien nie sy doel nie, aangesien daar meer leerders by skole toegelaat word as wat die skole kan akkommodeer. Die gevolg is meer leerders in die skool en klasse wat ʼn groter sorgsaamheidsplig op onderwysers plaas. Dit kan ernstige fisiese en psigologiese ongeborgenheid by onderwysers veroorsaak. Die veiligheidsbeleide van skole in die studie is soms verouderd en uitgedien, word nie effektief uitgevoer nie, dek nie alle fasette van veiligheid nie en toon ʼn gebrek aan konsultasie met onderwysers, alhoewel dit die SBL se regsplig is om te verseker dat onderwysers fisies en psigologies veilig is.

7.3.3 Aanstellings

Die empiriese bevindings het getoon dat die SBL nie altyd die bekwaamheid van onderwysers in ag neem by die aanstellings van onderwysers nie. Onderwysers word aangestel om die bestaande nood of behoefte van die skool aan te pak sonder dat hulle die nodige spesialisering en ervaring in ʼn spesifieke leerarea het (§ 6.3.2.3). Die aanstellings van onderwysers wat nie die nodige bekwaamheid in ʼn spesifieke leerarea het nie kan meebring dat daar te veel druk op die onderwyser geplaas word, wat gevolglik die onderwyser psigologies affekteer (byvoorbeeld die onderwyser wat net na ʼn week handdoek ingegooi het).

Die SBL se ouer-komponent se onkundigheid aangaande die ‘beste belang-beginsel’ van die skool het veroorsaak dat kandidate nie op grond van hulle vermoëns aanbeveel word nie, maar volgens voorafgaande besprekings en voorsê deur die onderwyser-komponent. Die onderwysers word dus op grond van onbillikheid en ongelykheid aangestel, wat nie noodwendig die beste belang van die skool bevorder nie. Die SBL is verantwoordelik vir die opstel van ʼn visie en missie vir die skool, die doelwitte van die skool, asook die skool se plan om alle belanghebbendes se behoeftes te bevredig (Oosthuizen, 2009:286). Volgens Joubert en Prinsloo (2009:80) sowel as Joubert en Bray (2007:50) moet die SBL onder meer gelykheid en regverdige arbeidspraktyke in ag te neem met die opstel van ʼn visie en missie-stelling (§ 4.2.1.3). Die verkeerde uitvoer van die SBL se regsplig deur die ongelyke en bevooroordeelde behandeling van onderwysers tydens onderhoude is ʼn bewys dat gelykheid en regverdige arbeidspraktyke nie deel is van die visie en missie van die skole wat in hierdie studie betrek is nie, wat meebring dat onderwysers psigologiese onveiligheid beleef. Deelnemers in hierdie studie het gevolglik onregverdige en ongelyke behandeling in die onderhoude ervaar wat hulle sekuriteitsbelewenisse negatief geaffekteer het.

Die derde familie is die bevoegdheid van die SBL, wat baie belangrik is in die beantwoording van die navorsingsvraag.