• No results found

Hoofstuk 3: Interpretatiewe ondersoek van GRK

7. Skoonouers as oorsaak van GRK

Cunningham en Thornton (2005; 2006; 2007) het ʼn reeks studies gedoen waar daar gekyk word na die invloed wat ouers het op hulle kinders se besluite en optrede in hulle huwelike. In die eerste studie het Cunningham en Thornton (2005:138) gevind dat wanneer ouers geskei is, dit veroorsaak dat hulle kinders meer verdraagsaam is met betrekking tot egskeidings. ʼn Groter verdraagsaamheid van egskeidings kan beteken dat daardie persoon self makliker sal skei. In die tweede studie het Cunningham en Thornton (2006:669) gevind dat ouers wat tevrede is met hul huwelik ʼn meer aantreklike model is vir kinders en dat kinders meer geneig is om die familieverwante konsep van gelukkig getroude ouers na te boots as van minder gelukkig getroude ouers. Dit beteken egter dat ouers wat gelukkig getroud is, ʼn baie groter invloed het op hulle kinders se keuses aangaande die huwelik. In die derde studie het

Cunningham en Thornton (2007:139) gevind dat kinders van ouers wat skei ʼn baie groter verdraagsaamheid toon vir saamwoon voor die huwelik. Hierdie bevinding sou beteken dat ouers se huwelike aan die een kant hulle kinders se besluite rondom die huwelik beïnvloed en aan die ander kant ook hulle houding rondom die huwelik beïnvloed. Wat in al drie hierdie studies uitstaan is om te sien hoe ouers se besluite in die huwelik ʼn direkte en indirekte invloed het op hulle kinders se besluite aangaande die huwelik. Die bevindinge van hierdie studies sou waarskynlik nog verder kon strek tot die verhouding tussen die geslagsrolle wat ouers in die huis vervul en die geslagsrolle wat hulle kinders in die huis vervul. In hierdie verband het Álvarez en Miles (2009:23) gevind dat seuns van pa’s wat huishoudelike take verrig meer geneig is om self ook huishoudelike take te verrig en meer tyd aan hierdie take spandeer teenoor seuns wie se pa’s nie hierdie take verrig nie. Álvarez en Miles (2009:24) brei uit daarop deur te sê dat ouers wat gelyke verdeling van take het, ʼn positiewe langtermyn effek op hulle kinders kan hê. Deur hierdie studie van Álvarez en Miles (2009) kan daar dan juis gesien word dat die geslagsrolle wat ouers vervul in die huis, die geslagsrolle wat hulle kinders vervul ook kan beïnvloed. Daar is ook bevind deur Reczek, Liu en Umberson (2010:1216) dat die verhouding wat kinders met hulle ouers het, die kwaliteit van die kinders se huwelike beïnvloed. Reczek et al. (2010:1216) sê ook dat kinders wat ʼn geskiedenis het van stres in die verhouding van hulle ouers, geleer het hoe om spanning te hanteer op so ʼn wyse dat dit hulle beskerm teen probleme in hulle eie huwelik. Só kan daar gesien word hoe ouers op verskeie maniere hulle kinders se huwelike asook besluitneming daarin kan beïnvloed. Dit kan egter van baie waarde wees wanneer daar gewerk word met ʼn egpaar wat GRK ervaar, om te bepaal wat die verhouding met hulle ouers is. Uiteindelik kan daar so bepaal word hoe elkeen grootgemaak is, asook hoe dit hulle verhouding met hulle eggenoot beïnvloed.

8. Voorlopige samevatting

Hierdie hoofstuk is aangepak met die doel om die vraag “Hoekom gaan dit aan?” te beantwoord en deur verskeie teorieë beter begrip in die tweede hoofstuk van hierdie studie te verkry. Daar is gepoog om te bepaal hoekom sekere sake na vore getree het in die tweede hoofstuk deur te kyk na verskeie oorsake van GRK. Deur navorsing in veral die psigologie, sosiologie en antropologie het daar hoofsaaklik die volgende sake na vore getree:

 GRK kan ʼn direkte of indirekte oorsaak hê en dus kan verskillende persone GRK ervaar aangaande dieselfde saak, maar die kern van die probleem verskil. Dit beteken egter dat die oorsaak van die GRK verskillend hanteer behoort te word om juis die kern van die probleem te behandel.

 Die gemeenskap is die bodem waaruit GRK groei en beïnvloed alle ander oorsake van GRK. As gevolg van geslagstereotipes word geslagsrolle veralgemeen en ontwikkel

mense idees en standaarde rondom geslagsrolle. Uiteindelik behoort omstandighede eggenote te motiveer om mekaar se geslagsrolle te identifiseer en te aanvaar, eerder as die geslagstereotipes.

 ʼn Persoon se geslag kan in hulle huwelik lei tot GRK. Aan die een kant kan daar GRK ontstaan omdat die een eggenoot ʼn bepaalde verwagting het van die ander eggenoot, maar die ander eggenoot is fisies nie in staat om daardie verwagting te vervul nie (as gevolg van sy/haar geslag). Aan die ander kant kan daar GRK ontstaan in dieselfde situasie, maar omdat die een eggenoot dink dat hy/sy nie in staat is om die bepaalde verwagting te vervul nie (moontlik as gevolg van onkundigheid).

 Die rol wat ʼn eggenoot by die werk vervul het ʼn groot invloed in die rol wat daardie eggenoot by die huis vervul. As gevolg van verskil in werksrolle kan daar egter GRK ontstaan. Uiteindelik maak mens se beroep ʼn groot deel uit van jou lewe en kan dit op verskeie maniere jou familielewe beïnvloed.

 Finansies is een van die grootste oorsake van konflik in ʼn huwelik wat mense op fisiese en emosionele vlak beïnvloed. Wanneer eggenote GRK ervaar as gevolg van finansies, is dit van groot belang om verskeie ander faktore as sekondêre oorsake na te spoor.

 Ouderdom kan veroorsaak dat verskillende persone oor verskillende aspekte GRK kan ervaar, aangesien hulle in verskillende lewenstadiums is. Ouderdom beïnvloed jou taalgebruik, optrede en gesondheid. Groot ouderdomsverskille tussen egpare kan veroorsaak dat daar GRK ontstaan as gevolg van die verskil in ontwikkelingstadiums in verband met werk, mag, geld en belangstelling.

 Ouers het ʼn groot invloed op hulle kinders se lewens en veral ook hulle huwelike. Ouers se huwelike kan dien as voorbeeld of afskrikmiddel vir hulle kinders se huwelike. Uiteindelik kan die geslagsrolle wat ouers in die huis vervul ook die geslagsrolle van hulle kinders beïnvloed. Dus kan skoonouers die oorsaak wees van GRK.

Met bogenoemde moontlike oorsake van GRK moet daar onthou word dat dit nie die enigste oorsake van GRK kan wees nie, maar dat hier verskeie oorsake is wat oorweeg behoort te word wanneer egpare GRK ervaar. Die kern van die probleem kan uiteindelik ook in ʼn verskeidenheid aspekte lê en dus behoort daar met die individu omgegaan word om te bepaal presies wat die oorsaak van die GRK is.