• No results found

Eie voorgestelde strategieë vir transformasie

Hoofstuk 5: Pastorale berading van egpare wat worstel met GRK

4. Voorgestelde strategieë wat lei tot transformasie

4.3. Eie voorgestelde strategieë vir transformasie

Hierdie metode van transformasie begin deur die beradene(s) wat bepaal (het) wat verander behoort te word (dus waar die probleem is) en daarna te bepaal wat hulle dink die eindpunt behoort te wees. Egpare wat worstel met GRK sou reeds hier weet dat daar wel GRK is, asook wat die oorsaak van die GRK is deur die pastorale berader wat hulle gelei het tot hierdie punt (soos voorgestel deur die beradingsriglyne). Deur effektiewe kommunikasie sou egpare dan voorstelle maak en ʼn konstruktiewe gesprek met mekaar voer oor wat hulle eindpunt as egpaar behoort te wees met die GRK. Deur samesmelting van idees of deur tot ʼn kompromie te kom, kan daar verseker word dat eggenote die beste moontlike eindpunt kies vir hulle GRK. Dit is belangrik dat daar ooreengestem word wat die eindpunt is, aangesien egpare nie teen mekaar kan werk nie. Om dan saam, as egpaar, tot hierdie eindpunt te werk, kan beteken dat eggenote deur selfondersoek en –evaluering moet gaan om te verseker dat elke individu sy/haar beste gee om te verseker dat die huwelik as samewerkende eenheid funksioneer. Die volgende skets kan dien as voorstelling van hierdie proses:

Soos daar gesien kan word in die skets, sou dit beteken dat elke eggenoot selfondersoek gaan instel, daarmee saam die nodige veranderinge aanbring en uiteindelik bymekaar kom in ooreenstemming met mekaar se idees van ʼn getransformeerde huwelik. As daar gekyk word na Hoofstuk 2 van hierdie studie (vgl. Vraag 1 van die lang vrae), kan daar verskeie probleme identifiseer word in die deelnemers se ervaring en hantering van GRK in hulle huwelik. Daar word gesien dat sommige eggenote GRK ervaar het, terwyl hulle eggenoot dit nie ervaar het nie. Daar word ook gesien dat sommige eggenote eers baklei (of meningsverskille het) oor die GRK, voor daar tot ʼn oplossing gekom is. Hierdie voorgestelde proses is egter nie so

Egpaar met GRK Selfondersoek vir eggenoot 1 Selfondersoek vir eggenoot 2 Getransformeerde huwelik

eenvoudig nie, aangesien die transformasie van die huwelik nie bloot gaan daaroor om ooreen te stem oor mekaar se geslagsrolle nie. Die transformasie van die huwelik gaan daaroor om opnuut, as eenheid, opreg teenoor mekaar en teenoor God te funksioneer – nie as blote oplossing tot die probleem nie, maar as ʼn Christelike egpaar wat tot eer en heerlikheid van God leef (vgl. Hoofstuk 4). Met die inagneming van die voorafgaande skets kan die volgende skets dien as voorgestelde strategieë vir die transformasie van ʼn huwelik wat worstel met GRK:

Terwyl daar in die vorige skets gesien kan word dat egpare mekaar probeer vind by ʼn getransformeerde huwelik, word daar in die laasgenoemde skets gesien hoe egpare tyd kry om die huwelik te laat transformeer. In teenstelling met die vorige skets word daar in hierdie skets veral gefokus op die egpaar wat saam groei. Die skets begin deur die egpaar wat worstel met GRK. Hierdie egpaar probeer dan eers saam groei in geloof. Indien die groei in geloof nie op sigself die huwelik laat transformeer (GRK oplos) nie, moet elke eggenoot selfondersoek instel. Tydens die selfondersoek kyk elke eggenoot na wat die GRK is, wat dit veroorsaak en wat hy/sy kan doen om dit te verbeter. In hierdie proses van selfondersoek word elke eggenoot ʼn geleentheid gegee om na sy/haar eie geslagsrol te kyk, asook om nader aan God te groei. Wanneer eggenote se selfondersoek klaar is, word daar weer gepoog om saam te groei in geloof. Hierdie proses kan daagliks (of gereeld) herhaal – dit sal veroorsaak dat eggenote bewus word van hul eie bydrae (goed en sleg) tot die geslagsrolle, asook dat eggenote voortdurend nader groei aan God. Wanneer die egpaar voldoende saam groei in geloof en die GRK opgelos of verbeter is, word die huwelik getransformeer. ʼn Getransformeerde huwelik beteken dat eggenote mekaar sien as beeld van God, eggenote afhanklik is van mekaar, eggenote verskil van mekaar in werklikheid, maar in geloof gelyk is aan mekaar en eggenote se verhouding teenoor mekaar gelyk gestel word aan Jesus Christus

Egpaar met GRK Selfondersoek vir eggenoot 1 Selfondersoek vir eggenoot 2 Getransformeerde huwelik Groei saam in geloof

se verhouding met die kerk (vgl. Hoofstuk 4). Die volgende gevallestudie kan dien as voorbeeld hoe hierdie proses van transformasie werk:

Tydens pastorale berading is daar vasgestel dat Jan en sy vrou, Petro, GRK ervaar as gevolg van finansies. Jan voel sy vrou maak onverskillige besluite en spandeer hulle geld te maklik. Petro voel weer dat haar man nie genoeg geld maak nie en daarom sukkel hulle finansieel. Jan ervaar egter GRK omdat sy vrou voel hy is nie goed genoeg as finansiële voorsiener nie, terwyl Petro GRK ervaar omdat haar man voel sy is onverskillig en dus nie waardig nie. In ʼn poging om verandering te bring, stel die pastorale berader voor dat die voorgestelde metode van transformasie gebruik word. In hierdie proses poog Jan en Petro om eerstens nader aan God te groei. Hulle lees saam uit die Bybel, bid saam en gaan meer gereeld saam kerk toe. Alhoewel dinge begin beter gaan, voel Jan en Petro dat hulle GRK steeds voortgaan. Daarop gaan doen elkeen selfondersoek om te bepaal watter bydrae elkeen as individu kan maak om die situasie te verbeter. Jan gaan dink oor sy werk – hy oorweeg of hy moontlik moet soek vir ʼn beter werk of dalk net moet bly by sy huidige werk en meer ure insit. Petro gaan dink oor die finansiële besluite wat sy neem – sy oorweeg of sy nie moontlik te veel klere koop nie of selfs of sy nie moet begin werk nie. Nadat Jan en Petro tyd gehad het om te dink daaroor, besluit hulle om saam te kom en te bid oor die situasie. Nadat hulle gebid het, deel hulle die oorwegings wat hulle gevind het tydens hulle selfondersoek. Daarmee word hulle geleentheid gegee om mekaar se denke en idees te hoor, asook om saam met God na te dink oor hulle besluitneming. Jan en Petro besluit weer om selfondersoek in te stel en mekaar se denke in oorweging te bring. Hierdie keer het hulle reeds beter begrip vir mekaar. Jan en Petro gaan aan met hierdie proses tot hulle uiteindelik besluit dat Petro ʼn deeltydse werk gaan neem, waar sy ekstra geld kan kry om haarself bietjie te pamperlang. Deur hierdie proses besef Jan hoe afhanklik sy vrou van hom is en dat hy juis as finansiële voorsiener moet omsien na sy vrou. Petro aan die ander kant, kry meer geleentheid om haarself te pamperlang en buitendien het haar man begin om haar te bederf en dus voel sy weer waardig. Beide Jan en Petro ervaar nie meer GRK nie en sodoende het hulle huwelik getransformeer.

In die gevallestudie kan daar gesien word dat daar verskeie faktore van Jan en Petro beïnvloed is. Die GRK is nie net opgelos nie, maar hulle het gegroei op so ʼn wyse wat hulle mekaar beter verstaan en deur verskillende sterkpunte na vore te bring, mekaar meer voldoende kan aanvul. Die verandering wat hierdie proses bring word daargestel deur die egpaar wat mekaar vind in geloof, daardeur groei en sodoende mekaar makliker kan vind in die proses van transformasie om uiteindelik die GRK op te los. Geloof word egter gesien as skakelpunt vir die egpaar om mekaar se persoonlikhede ook beter te verstaan en uiteindelik die GRK daardeur op ʼn effektiewe wyse te benader.

5. Voorlopige samevatting

Hierdie hoofstuk is aangepak met die doel om die vraag “Hoe behoort ons te reageer?” te beantwoord. Deur die voorstel van sekere beradingsvaardighede en –riglyne is daar fokus geplaas op die uitvoering van die pastorale berader se taak. Met die inagneming daarvan is daar uiteindelik ʼn metode voorgestel vir die transformering van ʼn egpaar se huwelik wat worstel met GRK. Die volgende sake het in hierdie hoofstuk besondere indruk gemaak:

 Om voldoende effektiewe pastorale berading te verskaf behoort die berader respek en empatie te hê vir die beradene, asook verantwoordelikheid te neem in die beradingsproses. Die vrug van die Gees kan gesien word as die ideale eienskappe van ʼn pastorale berader. Uiteindelik behoort die pastorale berader se hele wese daarop gerig wees om God se wil te verrig, terwyl die verskeie aspekte terselfdertyd deur God bepaal word.

 Om die beradingsvaardighede dan in werking te stel, kan die pastorale berader sekere beradingsriglyne volg. Deur veral op die uitkyk te wees vir besondere kwessies, die huwelik te evalueer, sekere doelwitte in plek te stel en te fokus op die persone, probleme en prosesse, kan die pastorale berader makliker slaag in sy/haar taak om die beradene te lei tot die oplossing van sy/haar GRK.

 Dit is uiters belangrik om geloofsgroei deel te maak van strategieë wat lei tot transformasie. Terwyl selfondersoek en diep nadenke kan lei daartoe dat die beradene sy/haar eie situasie beter begryp, help die geloofsgroei dat eggenote nader groei aan mekaar en uiteindelik saam hulle huwelik laat transformeer op so ʼn wyse dat die GRK nie meer teenwoordig is nie.

Elkeen van hierdie sake verdien ʼn besondere plek in die beradingsproses. Ten slotte kan daar aangeneem word dat die integrasie van hierdie verskeie aspekte van die uiterste belang is om die sukses van die pastorale berading te verseker.