• No results found

Hoofstuk 3: Interpretatiewe ondersoek van GRK

4. Geslag as oorsaak van GRK

Dit is moeilik om voor te stel dat GRK kan ontstaan of veroorsaak word as gevolg van iemand se geslag; dit is immers waaroor GRK gaan – probleme wat veroorsaak word as gevolg van foutiewe rolle of persepsies daarvan in verband met iemand se geslag. In hierdie verband verduidelik Nobelius (2004) die verskil tussen “sex” en “gender”. In Afrikaans is daar nie hierdie selfde onderskeid tussen terme nie, alhoewel dit van toepassing kon wees om te praat van geslag en geslagsoriëntasie (nie seksuele oriëntasie nie). Geslag (“sex”) sou dan verwys na die biologiese verskille, soos kromosome, hormonale profiele en interne en eksterne seksorgane, terwyl geslagsoriëntasie (“gender”) sou verwys na die karaktereienskappe wat ʼn gemeenskap of kultuur klassifiseer as manlik en vroulik (Nobelius, 2004). Die term man verwys dan daarna om beide ʼn manlike geslag en geslagsoriëntasie te hê, terwyl vrou verwys daarna om beide ʼn vroulike geslag en geslagsoriëntasie te hê (Nobelius, 2004). Wanneer daar in hierdie studie gepraat word van geslag as oorsaak van GRK, word daar nie bedoel dat GRK ontstaan juis omdat iemand man of vrou is nie. Daar word eerder bedoel dat mense se geslag hulle in staat stel (of laat dink hulle is slegs daartoe in staat) om sekere take te verrig en weer nie in staat stel (of laat dink hulle is nie daartoe in staat) om ander take te verrig nie. Geslag as oorsaak van GRK kan dus in hierdie verband gesien word as die biologiese of psigiese ingesteldheid of beperking op mense se geslagsrolle. Dit beteken egter dat mans en vrouens in sommige gevalle fisies nie in staat is om ʼn spesifieke geslagsrol te vervul nie (biologiese beperking) of in ander gevalle dink hulle is nie in staat om dit te vervul nie (psigiese beperking).

4.1.

Geslag as biologiese oorsaak van GRK

Kom ons stel vir ʼn oomblik voor dat ʼn spesifieke man sy eie geslagsrol sien as die een wat vir die familie moet sorg en verseker dat daar kos op die tafel is. Wanneer hierdie man egter in ʼn situasie geplaas word waar sy baba geborsvoed moet word, maar sy vrou is nie daar nie, kan dit tot GRK lei, omdat hy twyfel in sy geslagsrol as versorger en voorsiener van kos. Alhoewel daar in hierdie verband ander alternatiewe kan wees, sien die man sy eie onbevoegdheid as ʼn beperking van sy eie geslagsrol. In ʼn ander voorbeeld kan daar voorgestel word dat ʼn spesifieke vrou haar eie geslagsrol sien as die een wat die huis binne aan die kant moet hou en verseker dat alles in plek is. Wanneer hierdie vrou dan probeer om ʼn swaar meubelstuk te skuif, besef sy dat sy nie sterk genoeg is om die taak te verrig nie. Dit veroorsaak dan GRK, omdat sy onbevoeg voel in haar geslagsrol as die een wat die huis binne aan die kant moet hou en verseker dat alles in plek is. In beide voorbeelde kan daar gesien word dat die betrokke party fisies nie in staat is om hulle spesifieke geslagsrol uit te

voer nie en dat dit ook kan lei tot GRK. Daar word nou dieper gekyk om beter begrip in hierdie verband te kry.

Marieb en Hoehn (2007:481) verduidelik dat daar reeds in die fetus, lank voor geboorte, geslagspesifieke areas verskyn in beide die brein en spinaalkoord. Die kern van hierdie sentrale senuweestelsel se geslagspesifieke ontwikkeling gaan daaroor of die fetus testosteroon afskei of nie – indien dit dit doen, sal manlike patrone ontwikkel (Marieb & Hoehn, 2007:481). Dit het tot gevolg dat mans en vrouens reeds met geboorte fisies van mekaar verskil. Volgens Burton (2012), is mans oor die algemeen fisies sterker as vrouens en het digter en sterker bene en ligamente. Die groter spiermassa van mans is die gevolg van spierhipertrofie (vergroting) wat veroorsaak word deur testosteroon (Burton, 2012). Burton (2012) brei uit daarop deur te sê dat mans beter kardiovaskulêre reserwes het, minder sukkel met depressie en ander soortgelyke versteurings, dat daar meer mans is met ʼn besondere hoë IK, dat mans tot ʼn baie hoër ouderdom tot vaderskap in staat is en mans oor die algemeen langer as vrouens is. Daarteenoor, sê Burton (2012), dat vrouens minder aansteeklike siektes ontwikkel, laer bloeddruk het, minder geneig is om te sukkel met alkoholisme, psigopatie en ander psigiatriese versteurings, daar minder vrouens is met leerprobleme, dat vrouens kan geboorte gee en oor die algemeen langer lewe as mans. Alhoewel hierdie lys nie noodwendig alles biologies van aard is nie, kan daar gesien word dat daar ʼn duidelike biologiese verskil tussen mans en vrouens is. Die volledige lys van biologiese verskille tussen mans en vrouens strek veel wyer as die bestek van hierdie navorsing maar dit is uiters belangrik om dit in ag te neem, aangesien dit ʼn direkte invloed op ʼn persoon se gedrag het.

Verder verduidelik Berenbaum et al. (2011:817) dat sekere geslagshormone veroorsaak dat mense (hetsy manlik of vroulik) sekere emosies ervaar en selfs dat mense in sekere omstandighede op sekere maniere optree. Alhoewel daar ʼn groot debat is oor die verhouding tussen psigiese geslagsverskille en biologiese geslagsverskille (Berenbaum et al., 2011:817) is dit baie moeilik om nie in ag te neem dat die fisiese voorkoms van mans en vrouens verskil nie. ʼn Eenvoudige aspek soos voorkoms kan selfs veroorsaak dat verskillende mense in verskillende omstandighede beland. Nog verder verduidelik Marini (1990:114) dat beide biologiese en sosiale invloed ʼn rol speel in die daarstel van geslagsdifferensiasie en - stratifikasie. Marini (1990:114) brei uit hierop deur te verduidelik dat biologiese faktore in die verlede die verdeling van arbeid beperk het (veral in vrouens se rolle in voortplanting en mans se groter fisieke krag). Daar sal later in verdere besonderhede gegaan word oor arbeid en beroepe. Vir nou is dit belangrik om in hierdie verband te sien dat biologiese faktore ʼn bepaalde rol kan speel in geslagsrolle, aangesien dit mens in staat kan stel of beperk tot die verrigting van sekere take. Uiteindelik verskil mans en vrouens biologies van mekaar, nie net in verband met fisiese voorkoms nie, maar veral ook in verband met genetiese samestelling

(soos die verskil in geslagshormone). Hierdie aspek lei daartoe dat mans en vrouens op verskillende wyses optree teenoor mekaar en kan daarom lei tot GRK indien hulle nie mekaar se optrede kan begryp nie.

4.2.

Geslag as psigiese oorsaak van GRK

Die psigiese aspekte van ʼn mens kan in totaliteit verwys na die mens se verstandelike, intellektuele en sielkundige komponente. Alhoewel die psigiese aspekte verbind kan word aan die fisiese, verwys dit nie op sigself na die fisiese aspekte nie, maar kan dit kortom gesien word as alles van die mens wat nie sigbaar of tasbaar is nie. Ter verduideliking hiervan word die psigiese aspekte van die mens in hierdie afdeling bespreek.

Kom ons stel in ʼn volgende voorbeeld voor dat ʼn spesifieke vrou meer tyd as haar man het om take by die huis te voltooi. Aangesien haar man baie hard moet werk, kry hy nie kans om gras te sny nie. Dit veroorsaak dat daar GRK ontstaan as gevolg van die man wat nie sy verpligtinge nakom nie. Die vrou het moontlik nooit geleer hoe om gras te sny nie en daarom kan sy dit nie doen nie, ten spyte daarvan dat sy die tyd het. In hierdie geval is die vrou psigies ingestel dat haar man die handewerk moet doen en dink sy dat sy dit nie kan doen nie, daarom ervaar hulle GRK. In ʼn verdere voorbeeld kan daar voorgestel word dat ʼn man by die huis werk en dus minder tyd op die pad (met verkeer) hoef te spandeer. Daarteenoor spandeer sy vrou baie tyd op die pad en ry sy baie vroeg in die oggend en kom eers laataand tuis. Dit veroorsaak dat die vrou nie geleentheid kry om die huis skoon te maak nie, waar die taak dan oorgelaat word aan die man. Die man voel hy kan nie so goed skoonmaak soos sy vrou nie en daarom ontstaan daar GRK tussen hulle. In hierdie geval het die man waarskynlik die tyd om skoon te maak, maar hy is psigies ingestel daarop dat vrouens beter skoonmaak as mans en daarom sou dit nie help as hy dit doen nie. In beide voorbeelde is die spesifieke partye fisies in staat om die betrokke take te verrig, alhoewel hulle nie psigies daarop ingestel is nie en oortuig is dat hulle nie kan nie. Die redes vir hierdie oortuiging kan verskil van individu tot individu.

Cinardo (2011:20) verduidelik in hierdie verband dat nog voor die samelewing mans en vrouens vorm, elke individu se brein reeds ontwikkel is, afhangende van daardie persoon se geslag. Cinardo (2011:20) brei uit hierop deur te sê dat die redes daaragter dat mans en vrouens anders kommunikeer, omgewingsfaktore oorskry en dit ingesluit is in hulle neurologiese strukture en chemiese reaksies. Wat dit egter beteken is dat, behalwe vir die fisiese verskille, mans en vrouens biologies reeds ingestel is om op ʼn spesifieke manier te dink en op te tree. Daarteenoor verduidelik Berenbaum et al. (2011:814) dat gene geaktiveer of onderdruk word deur omgewingsfaktore en dat hormone en breinfunksionering beïnvloed

word deur verskillende omgewings, gedrag en ʼn gesamentlike uitwerking van gene en sosiale omgewing. Die bevindinge van Cinardo (2011) teenoor Berenbaum et al. (2011) laat blyk dat daar ʼn groot teenstrydigheid is in hierdie verband. As daar dieper gekyk word, kan daar egter gesien word dat beide navorsers na dieselfde eindpunt toe neig. Cinardo (2011) verduidelik dat nog voor daar omgewingsfaktore is, die mens reeds met ʼn bepaalde potensiaal gebore word, as gevolg van sy/haar geslag, terwyl Berenbaum et al. (2011) sê dat die mens se genetika en breinfunksionering geaktiveer of onderdruk kan word deur omgewingsfaktore. Berenbaum et al. (2011) erken dus hierdie selfde potensiaal, alhoewel die fokus in hulle studie veel meer op die omgewingsfaktore val. Soos daar in die vorige bespreking oor biologiese oorsake (3.1) gesien kan word, is daar voortgaande debatte oor die verhouding tussen psigiese geslagsverskille en biologiese geslagsverskille. Wat wel in beide bogenoemde studies na vore tree is dat daar beide biologiese en psigiese geslagsverskille kan wees en dat hulle mekaar interafhanklik beïnvloed.

In ʼn studie wat handel oor geslagsverskille in emosionele uitdrukking, stel Blier en Blier-Wilson (1989:292) dat mans en vrouens emosies anders uitdruk. Die verskil bly dus nie net by optrede nie, maar het selfs ʼn effek op die uitdrukking van emosies. Verder dui Blier en Blier- Wilson (1989:293) aan dat mans oor die algemeen minder vertroue as vrouens het om kwesbare emosies (soos hartseer en vrees) uit te druk. Dit kan dan ook tot gevolg hê dat mans minder geneig is om sulke emosies te erken of die oorsaak van sulke emosies te bely. Die uitdrukking van emosies kan gesien word as ʼn proses van hulp soek en dus kan navorsing in hierdie verband van waarde wees. In ʼn studie wat handel oor mense se houdings om hulp te soek, het Turkom (2005:396) gevind dat daar ʼn verskil is in mans en vrouens se houding om hulp te soek, maar dat daar nie ʼn verhouding is tussen die persone se geslagsrolle en hulle houding om hulp te soek nie. Meer spesifiek sê Boisjolie (2013:24) dat daar nie ʼn verhouding is tussen GRK en die houding om hulp te soek nie. Boisjolie (2013:24) sê wel dat daar ʼn waarskynlikheid is dat ʼn verskeidenheid van manlike ideologieë, norme en geslagsrolle ʼn rol speel daarin om mans te ontmoedig om hulp te soek. Volgens Windle en Smith (2009:257) is daar ʼn verhouding tussen mans se GRK en hulle vrouens se huweliksaanpassing (die aanpassing om nuwe rolle te vervul wat mekaar komplementeer, in teenstelling met twee aparte eenhede). Dit beteken egter dat indien die huweliksaanpassing nie suksesvol plaasvind nie, daar ʼn groter geneigdheid is tot GRK onder mans. Dit kan ook beteken dat indien huweliksaanpassing wel gebeur, dit ʼn groot verandering vir een van die partye kan wees en daar dus GRK ontstaan. Uiteindelik kan daar gesê word dat beide biologiese en psigiese aspekte ʼn rol kan speel by GRK en dat die oorsaak van GRK noukeurig oorweeg behoort te word.