• No results found

Beradingsvaardighede in die hantering van egpare wat worstel met GRK

Hoofstuk 5: Pastorale berading van egpare wat worstel met GRK

2. Beradingsvaardighede in die hantering van egpare wat worstel met GRK

Om te praat van beradingsvaardighede waaraan ʼn pastorale berader behoort te voldoen, kan daar eenvoudig voorgestel word dat alle pastorale beraders aan sekere vereistes moet voldoen om ʼn suksesvolle pastorale berader te wees. In hierdie verband kan daar verwys word na sekere funksies waaraan ʼn pastorale berader poog om te voldoen (Anon, 2014:3), naamlik: bevestiging, leiding, handhawing, versoening, koestering, interpretasie en diagnose. Indien dit die geval sou wees, sou daar nie ten volle aanvaar word dat elke persoon uniek is nie. Alhoewel dit van baie waarde is dat alle pastorale beraders aan sekere vaardighede voldoen, kan dit moeilik wees om daardie vaardighede eenvoudig van toepassing te maak op

elke individu – nóg minder op elke moontlike situasie. Dit is egter vanselfsprekend dat elke

individu ʼn unieke samestelling, soort persoonlikheid en eie omstandighede het en soveel te meer sal elke probleemsituasie waarmee daar geworstel word, ʼn unieke oorsaak en uitkoms hê. Met die inagneming daarvan sou die voorstel van sekere beradingsvaardighede ʼn goeie grondslag kan bied vir enige berader, maar met die inagneming dat omstandighede uniek is en dus met aanpassing ʼn moontlikheid bied. Om dan te praat van beradingsvaardighede in die hantering van egpare wat worstel met GRK, word daar sekere omstandighede in ag geneem, terwyl die beradene se omstandighede nie vooraf bepaal kan word nie. Die beradingsvaardighede word dus van toepassing gemaak op ʼn buigbare situasie waar individue (as beradenes) ʼn invloed het op die gevolg en uitkoms daarvan.

As vertrekpunt tot hierdie bespreking kan daar gekyk word na Collins (2008:483) se benadering by die berading van huweliksprobleme. Collins (2008:483) begin sy bespreking deur te verduidelik dat die berading van een persoon reeds moeilik genoeg is, en daarom des te meer die berading van ʼn egpaar. Hierdie siening word waarskynlik gemik daarop dat daar reeds soveel invloede in ʼn enkele persoon se lewe is, en hoeveel te meer sal daar nie in ʼn egpaar se lewe wees nie. Dit lei daartoe dat die pastorale berader reeds vooraf gereed moet wees in beide die hantering van die egpaar en elkeen se individuele lewe. Daarmee verduidelik Collins (2008:483) dat voordat beraders begin met huweliksberading, hulle selfondersoek behoort in te stel en duidelikheid moet hê oor hulle eie gesindhede, vooroordele, motiverings en kwesbaarhede. Collins (2008:483-490) bespreek sewe aspekte in hierdie verband – in hierdie bespreking word daar slegs na die eerste aspek verwys, terwyl die oorblywende ses aspekte eers van toepassing is op die volgende afdeling van hierdie hoofstuk. Die eerste aspek wat Collins (2008:483-484) bespreek, is:

Wees voorbereid – Die pastorale berader kan hom-/haarself vooraf afvra of hy/sy moontlike

vooropgestelde idees het of onseker is oor sy/haar eie lewe of huwelik. Daar behoort in gedagte gehou te word dat elke situasie verskillend is en dat daar met unieke mense gewerk word. Nóg meer is dit baie moeilik om berading te bied oor ʼn bepaalde saak waar die pastorale berader se lewe self sorg benodig. Die pastorale berader behoort dus te verseker dat sy/haar verhouding met hul eggenoot en gesin gesond is en dat hulle voortdurend saam groei in geloof. Die pastorale berader behoort hom-/haarself te herinner dat geen mens alle moontlike tegnieke kan bemeester nie – dit word ook nie verwag van hom/haar nie. “Jou taak is om beskikbaar te wees vir die egpaar, tegnies so vaardig as moontlik en opreg gewillig om die Heilige Gees deur jou te laat werk as ʼn instrument tot genesing”. Alhoewel daar wel spesifieke voorbereiding is wat die pastorale berader kan doen (soos formele opleiding), word die berading op die effektiefste manier benader wanneer dit aan God toegewy word. Uiteindelik behoort die pastorale berader ʼn goeie ondersteuningsisteem te hê, nie net in familie en vriende nie, maar in ander professionele kundiges in ʼn verskeidenheid dissiplines.

Om voorbereid te wees kan verseker dat die beradene(s) die nodige berading kry wat hulle verlang en dit kan selfs van baie waarde wees vir die pastorale berader in sy/haar eie lewe. Die pastorale berader kan selfs in sommige gevalle vind dat vorige ervarings hom/haar beter in staat stel om ʼn betrokke situasie te benader. Doxsee (2004:4) verduidelik oor huweliksmentorskap, wat ook van toepassing kan wees op pastorale berading, dat dit ʼn tipe tweerigting-ervaring van onderrig is. Die mentor (pastorale berader) kan geag word as onderwyser, maar behoort ook leerder te wees, wat oop is om mislukkings en suksesse te deel en het ʼn waardering van groepinteraksie as ʼn geleentheid om te groei in sy/haar eie verhouding (Doxsee, 2004:4). Hierdie verduideliking van Doxsee (2004) beskryf ʼn unieke beradingsvaardigheid wat die pastorale berader aan die een kant op besorgdheid instel (deur ervarings te deel), maar aan die ander kant ook verseker dat die pastorale berader in elke gegewe situasie groei om selfs nog meer bevoegd te wees.

Met die inagneming van Doxsee (2004) se bespreking, moet daar in gedagte gehou word dat elke beradene uniek is. Terwyl dit van die uiterste belang kan wees om goed voorbereid te wees en uit ervaring te leer, is daar sekere aspekte wat nie vooraf bepaal kan word nie – mense se omstandighede is elkeen uniek. Die pastorale berader sou dan nodig hê om vas te stel wat die rede is dat elke beradene ingestem het vir pastorale berading om sodoende te bepaal waarop hy/sy behoort te konsentreer. In hierdie verband verduidelik Compton (2005:34) die verskil tussen twee tipes motivering, naamlik:

 Intrinsieke motivering – wanneer mens betrokke moet word in ʼn aktiwiteit bloot vir sy eie onthalwe, ongeag van enige eksterne beloning

 Ekstrinsieke motivering – wanneer mens optree met die doel om een of ander eksterne beloning te verkry in status, roem, geld of ander aansporings wat van buite onsself kom

Compton (2005:34) brei uit hierop deur te sê dat as mense gemotiveerd is om sekere aktiwiteite te doen bloot vir hulle eie genot en dan beloning kry vir dieselfde aktiwiteit, dit gesien kan word as ʼn afskrikmiddel. Dit sou egter dan nodig wees vir die pastorale berader om vooraf te bepaal wat elke beradene se motivering is (oor die rede hoekom hulle gekom het vir pastorale berading) en dan ook te identifiseer as daardie motivering sou verander of beïnvloed word. Deur die identifisering van die beradene se motivering kan die pastorale berader verskeie sleutelaspekte aandui as besprekingspunte. Alhoewel hierdie vaardigheid nie noodwendig vanself kom vir alle persone nie (dit is amper meer ʼn kuns), is dit steeds van baie waarde vir die pastorale berader om uit te kyk vir die beradene se motivering. As die pastorale berader nie hierdie aspekte kan identifiseer nie, kan hy/sy selfs oorweeg om direk die vraag te stel aan die beradene en sodoende verseker dat dit aandag geniet.

Die volgende beradingsvaardigheid wat bespreek word, en moontlik die belangrikste, fokus op die pastorale berader se karakter. In hierdie verband verduidelik Egan (2010:42) dat ʼn professionele persoon (dit sluit verskeie beroepe in) wat poog om iemand te help, aan sekere waardes behoort te voldoen. Hierdie waardes kan veral van toepassing gemaak word op pastorale berading van die huwelik. Die waardes, asook die sleutelaspekte daarvan, word bespreek (aangepas en vertaal uit Egan, 2010:42-63):

 Respek – hierdie is die grondslag waarop die hele verhouding gebou word  Doen geen skade

 Wees bevoeg en toegewyd

 Wees daar vir die beradene – besorgdheid en gepaste konfrontasie is belangrik  Neem aan dat die beradene goeie bedoelings het en dat hy/sy wil verander  Moenie te vinnig oordeel nie

 Fokus op die beradene se agenda

 Empatie – hierdie is die verbintenis wat tussen die berader en beradene gemaak word  Verstaan die beradene se standpunt en gevoel en kommunikeer begrip daarvoor  Begryp die beradene binne sy/haar konteks

 Begryp die dissonansie van die beradene se standpunt en realiteit

 Diversiteit – hierdie aspek is nie direk van toepassing op hierdie studie nie, maar wel van waarde om erkenning te gee

 Begrip vir diversiteit

 Pas intervensie by beradene se kultuur aan

 Werk met beradene as individu en moenie stereotipeer nie  Verantwoordelikheid – van beide die berader en beradene

 Begin met die aanname dat die beradene kan verander as hy/sy wil  Moenie die beradene sien as ʼn slagoffer nie

 Moenie mislei word deur iemand se voorkoms nie  Deel die hulp (voorgestelde metode) met die beradene

 Help die beradene om die beradingsessies te sien as werksessies  Word ʼn coach vir die beradene

 Aanvaar hulp as ʼn natuurlike, tweerigting-invloed  Fokus op leer in plaas van help

 Moenie op die beradene se breekbaarheid of swakpunte fokus nie

Soos daar gesien kan word, stel Egan (2010) ʼn verskeidenheid sleutelaspekte voor vir die toepassing van hierdie waardes. Die waardes wat genoem word behoort deel te wees van die pastorale berader se persoonlikheid en karakter en kan van kardinale belang wees tydens huweliksberading waar GRK geïdentifiseer word as die kernprobleem. Daar kan verder uitgebrei en klem geplaas word op respek (veral bevoegdheid) as fokuspunt en kern van die pastorale berader se bydrae in vaardigheid. Bannister, Park, Taylor en Bauerle (2015:90) het gevind dat Christelike egpare ʼn oorweldigende voorkeur getoon het om ʼn gelisensieerde Christelike berader, eerder as ʼn predikant of gelisensieerde sekulêre berader, te sien. Om kortliks te verwys na die term “gelisensieerde”, kan daar afgelei word dat dit iemand is wat opgelei is, geregistreer is en ʼn sekere etiese kode volg (SAAP, 2015). Dit sou ook kon insluit dat die pastorale berader ʼn verantwoordelikheid het om voortdurend sy/haar kennis uit te brei en dus op datum te bly in beide die akademie en media. Wat verder geïdentifiseer kan word is dat sekere take toegeëien word aan sekere beroepe. Terwyl daar van ʼn predikant moontlik verwag word om te preek en ʼn sekulêre berader om oor humanisme te praat, word daar van ʼn Christelike (pastorale) berader verwag om op Christelike wyse as herder op te tree. Die pastorale berader kan kortliks beskryf word as iemand soos Jesus Christus of selfs iemand wat namens Jesus Christus optree. Alhoewel dit ʼn groot taak is wat die pastorale berader het om te vervul, is dit juis in en deur Jesus Christus wat die pastorale berader in staat gestel word om as herder en verteenwoordiger van God op te tree deur die werking van die Heilige Gees, soos saamgevat by die beskrywing van die vrug van die Gees in Galasiërs 5:22-25:

“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid,

goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Die vrug van die Gees kan gesien word as die ideale eienskappe van ʼn pastorale berader. Die waardes wat Egan (2010) noem, kan dan gesien word as die uitloop van hierdie eienskappe. Wanneer die pastorale berader dan egter toelaat dat die Gees sy/haar gedrag bepaal, sal hierdie dinge uiteindelik vanself waar word en in plek val. Ten slotte kan dit saamgevat word in ʼn enkele kerngedagte: die pastorale berader se optrede, gesindheid en gees word alles daarop gerig om God se wil te verrig, terwyl hierdie aspekte terselfdertyd deur God bepaal word.