• No results found

Beroep en finansies as oorsake van GRK

Hoofstuk 3: Interpretatiewe ondersoek van GRK

5. Beroep en finansies as oorsake van GRK

Mense se beroepe maak oor die algemeen ʼn groot deel uit van hulle lewens. As daar vir ʼn oomblik gedink word dat die meeste mense agt ure per dag werk en ongeveer agt ure per dag slaap, is dit reeds tweederdes van hulle dag. Dan is nie eers in berekening gebring die tyd wat mense op die pad spandeer op pad werk toe en terug tuis nie, of langer ure werk nie. Dit los min tyd vir mense om te spandeer op ander dinge. Daar kan net aangeneem word dat mense se beroepe nie net hulle lewens beïnvloed nie, maar ook hulle persoonlikhede en verhoudings en selfs ander aspekte van hulle lewens. In die konteks van hierdie studie kan dit van waarde wees om beroep en finansies terselfdertyd te bespreek, aangesien daar ʼn direkte verband tussen hierdie aspekte kan wees en elkeen ʼn soortgelyke oorsaak van GRK kan wees. Uiteindelik sou opleiding ook saam met hierdie twee aspekte bespreek kon word, alhoewel daar in hierdie studie veel minder aandag daaraan geskenk is. Ten spyte van die tekort aan fokus op onderrig in hierdie studie, kan dit van waarde wees om kortliks te kyk na een spesifieke studie wat handel oor onderrig. Volgens Calvo-Salguero, García-Martínez en Monteoliva (2008:545) het vlak van onderrig ʼn invloed op die verskil in vrouens se geslagsroloriëntasie, maar nie in mans nie. Vlak van onderrig is ʼn belangriker faktor wanneer dit kom daarby om moontlike verskille in geslagsroloriëntasie in vrouens te verduidelik as in mans (Calvo-Salguero et al., 2008:545). Calvo-Salguero et al. (2008:545) het verder ʼn patroon bespeur wat voorstel dat die manlike stereotipe ʼn meer rigiede konfigurasie het as sy vroulike eweknie. Dit is uiteindelik belangrik om te besef dat die vlak van onderrig tot ʼn sekere mate ʼn bepaling kan wees van iemand se geslagsrol. Sommige mense is egter veel meer ego-gedrewe as ander en dan kan hulle eggenoot se vlak van onderrig ʼn bydraende faktor tot GRK wees. Verder word beroep en finansies as aparte oorsake bespreek, alhoewel daar verskeie verwysings tussen die aspekte kan wees, as gevolg van die interafhanklike konneksie.

5.1.

Beroep as oorsaak van GRK

Dit kan moeilik wees om die invloed van iemand se beroep in hulle lewe te verstaan as mens dit nog nie self ervaar het nie. Daar is egter soveel faktore in mens se lewe wat mens se werk kan beïnvloed. Volgens Harvey en Mukhopadhyay (2007:57) kan mense geld-arm, tyd-arm of beide wees. Iemand se beroep is een van die grootste bepalende faktore hiervan en kan mense op verskeie maniere beïnvloed. Hill, Tranby, Kelly en Moen (2013:1014) meen dat tyd stres, haastigheid en druk vir nog tyd by werkende ouers veroorsaak. Hill et al. (2013:1014) brei uit daarop deur te verduidelik dat werkstoestande mense se tyd by hul families asook die druk vir tyd beïnvloed. ʼn Persoon se beroep kan egter daartoe lei dat hulle ʼn tekort het aan tyd (of geld – word hierna bespreek) en sodoende veroorsaak dat hulle nie by hul families of

rus uitkom nie. In hierdie verband kan daar gesê word dat tydsberekening ʼn belangrike faktor is by eggenote se beroepe en kan lei tot GRK indien daar verwag word dat die persoon meer tyd by die familie behoort te spandeer. Daar is gevind dat konflik tussen mens se werk en familie selfs kan lei tot depressie en angs in beide mans en vrouens (Zamarripa et al., 2003:337). Dit beteken egter dat konflik tussen ʼn persoon se werk en familie hulle aan die een kant in ʼn tweestryd kan stel wat verdere spanning veroorsaak of aan die ander kant kan lei tot fisiese nagevolge (as gevolg van depressie en angs). Die verhouding tussen werk en familie is dus van die uiterste belang om te onderhou.

Zamarripa et al. (2003:337) verduidelik verder dat dit duidelik is dat die toename van vroue in die arbeidsmag die rol van vrouens as ondersteuner van die man se loopbaan verander het daarna om gebalanseerde werks- en familierolle te vervul. Die toename van vroue in die arbeidsmag lei aan die een kant tot emansipasie, beter familie-inkomste, sosiale erkenning en beter selfbeeld en selfverwesenliking, maar aan die ander kant ook tot ʼn verhoging in psigologiese angs (Bethge & Borngräber, 2015:2). Couzy (2012:59) verduidelik dat elke rol wat ʼn vrou vervul sekere verwagtinge op haar plaas deur haarself en ander en dat daardie verwagtinge in sommige gevalle vrouens se optrede en emosies kan bepaal. Couzy (2012:59) brei uit deur te sê dat daar net soveel verwagtinge is soos wat daar rolle is en dat die waarskynlikheid daar is dat daardie rolle een of ander tyd gaan bots, wat die vrou laat met baie uitdagings. Die rolle bots uiteindelik omdat die vrou nie al die verskillende rolle op dieselfde tyd kan vervul nie (Couzy, 2012:59). Shaheen (2012:72) meen in hierdie verband dat werkende vroue hulle huishoudelike en werksverpligtinge moet balanseer deur hulle persoonlike en professionele lewe te integreer. Shaheen (2012:72) verduidelik dat ʼn huisvrou haar huis en familie sien as die primêre belang, terwyl ʼn beroepsvrou werksverpligtinge sien as hul eerste besorgdheid. Wanneer daar dan ʼn onverenigbaarheid tussen die eise van iemand se huishoudelike en werksrol is, veroorsaak dit ʼn mate van spanning en werk-familie- konflik (Shaheen, 2012:72). Alhoewel hierdie studies veral gerig is op vrouens wat deel is van die arbeidsmag, sou dit aan die een kant ook van toepassing wees op mans, maar aan die ander kant ʼn geleentheid bied aan mans om hulle vrouens in hierdie werk-familie-verhouding te ondersteun – nie noodwendig meer as hoofbroodwinners nie, maar eerder nou as eggenoot wat verantwoordelikhede en rolle gelyk kan verdeel.

Verder verduidelik McCreary, Saucier en Courtenay (2005:90) dat mans wat meer manlik wil wees, hoër vlakke van GRK ervaar in verband met die gemeenskap se verwagting dat hulle suksesvol, kragtig en kompeterend moet wees, asook in die balans tussen werk en ontspanning. Daar is egter groot druk op mans om te voldoen aan hulle rol om manlik te wees en terselfdertyd aan werksvereistes te voldoen. Die feit dat die man meer druk op homself plaas, kan ʼn aanduiding van die verwagting van sukses en kompetisie wees om meer te

verdien, terwyl dit ook kan beteken dat die balans tussen werk en ontspanning nie gehandhaaf word nie. Uiteindelik kan daar gesien word hoe die verwagting van sukses en kompetisie, asook die balans tussen werk en ontspanning, ʼn invloed op mans en vrouens se GRK kan hê. Ten slotte beweer Minnotte, Minnote, Pedersen, Mannon en Kiger (2010) dat familiekonflik wat ontstaan as gevolg van werk veroorsaak dat beide eggenote se huweliksbevrediging beïnvloed word. Geslagsideologieë beïnvloed dan verder die konflik tussen werk en familie en die invloed wat dit het op huweliksbevrediging (Minnotte, Minnote & Pedersen, 2013:686). Dus is dit van die uiterste belang om aandag te skenk aan die werk-familie-verhouding en konflik in daardie verband te minimaliseer.

5.2.

Finansies as oorsaak van GRK

In die voorafgaande bespreking is daar gesien watter groot rol iemand se beroep kan speel by GRK. Die rol wat mens moet vervul by die werk kan egter die rol wat mens moet vervul by die huis beïnvloed. Alhoewel finansies direk gekoppel is aan mens se beroep, veroorsaak dit nie noodwendig GRK op dieselfde wyse nie. Terwyl die rol wat mens vervul by die werk afgesonder is van die rol wat mens vervul by die huis, is die rol wat iemand vervul in finansies grotendeels gekoppel aan die rol wat mens vervul by die huis, aangesien dit ʼn direkte invloed daarin het. Daarom word finansies as ʼn aparte oorsaak bespreek, maar met die inagneming dat dit ʼn uitvloeisel van mens se beroep is. Papp, Cummings en Goeke-Morey (2009:100) het gevind dat eggenote oor die algemeen meer dag-tot-dag meningsverskille het, maar dat finansies uitstaan as die hoofoorsaak van konflik omdat dit voortdurend opduik, mense meer geneig is om dit verkeerd te hanteer en dit minder opgelos word as ander probleme. Daarop sê Papp et al. (2009:100) dat finansiële konflik meer stresvol en bedreigend is as ander konflik tussen eggenote.

In ʼn studie wat ondersoek ingestel het oor die voorspellers van finansiële konflik tussen egpare, het Dew en Stewart (2012:56) gevind dat finansiële konflik ʼn komplekse probleem is, wat kan ontstaan as gevolg van ʼn verskeidenheid redes. Dew en Stewart (2012:56) noem die volgende veranderlikes as moontlike voorspellers van finansiële konflik:

 Finansiële welstand en ekonomiese druk  Mag

 Kommunikasie  Respek

 Gelyke inkomste

As daar vir ʼn oomblik voorgestel word dat ʼn bepaalde egpaar finansiële probleme het omdat die man nie genoeg geld verdien nie, kan daar konflik ontstaan omdat die man voel soos ʼn mislukking in sy rol, of dit kan wees as gevolg van ekonomiese druk (of verskeie ander moontlikhede). Daar kan egter gesien word hoe verskeie veranderlikes moontlike voorspellers van finansiële konflik en verdere konflik (soos GRK) kan wees en dat die rede vir die konflik kan verskil van persoon tot persoon.

ʼn Ander faset word verduidelik deur Britt, Huston en Durband (2010:56) naamlik dat argumente wat handel oor geld voorspel kan word wanneer daar ʼn groot ouderdomsgaping tussen eggenote bestaan, asook die teenwoordigheid van kinders in die huis. Alhoewel hierdie studie nie handel oor kinders nie, sal die ouderdomsgaping tussen eggenote later bespreek word. Uiteindelik sê Dew en Stewart (2012:58) dat dieper verhoudingsprobleme hulself kan manifesteer deur finansiële konflik. Dit kan egter baie moeilik wees om finansies as ʼn alleenstaande oorsaak van konflik te sien, aangesien dit aan verskeie ander kwessies gekoppel kan word. In ooreenstemming met hierdie stelling beweer Dean, Carroll en Yang (2007:276) dat eggenote finansiële probleme verskillend ervaar en dat daar ander faktore is wat kan bepaal hoe baie en gereeld finansiële probleme uitkomstes in die huwelik bepaal. Ten spyte daarvan is dit steeds van waarde om ondersoek daarna in te stel, aangesien dit kan lei tot verdere insig in GRK.

In ʼn ander studie het Dew en Dakin (2011:40) gevind dat finansiële probleme, asook huistake, geassosieer word met familie- en geslagsrolle. Finansiële meningsverskille word sterker onder mans geassosieer as voorspeller van konflik, terwyl meningsverskille aangaande huistake sterker onder vrouens geassosieer word as voorspeller van konflik (Dew & Dakin, 2011:40). Verder verduidelik Dean et al. (2007:278) dat wanneer daar finansiële probleme ontstaan in ʼn huwelik, vrouens meer geneig is om negatiewe gevoelens teenoor hulle eggenoot te hê en hulle probleme te sien as ʼn mislukking in sy rol. Dit kan egter verduidelik word daardeur dat die verantwoordelikheid vir konflik in finansies oor die algemeen gekoppel word aan mans (Kleinke, 1977:221). Alhoewel mans nie meer noodwendig die enigste broodwinner is nie, kan hierdie bevindinge gekoppel word aan ʼn geslagstereotipe wat die man wel so identifiseer.

Ten slotte kan daar gesê word dat finansies ʼn groot invloed het in verskeie faktore van mense se lewens en dat dit nie net iemand se lewe op fisiese vlak beïnvloed nie, maar ook op emosionele vlak. As daar gekyk word na Vraag 7 van die lang vrae in Hoofstuk 2 van hierdie studie, kan daar gesien word dat Finansies gesien word as die grootste/ergste konflik waarmee meeste van die deelnemers al te doen gehad het. Finansies word egter gesien as

ʼn groot bedreigende probleem en bogenoemde besprekingspunte behoort noukeurig oorweeg te word in die hantering van finansiële probleme.