• No results found

Hoofstuk 3: Interpretatiewe ondersoek van GRK

2. Die oorsaak van konflik

Dit is uiters moeilik om te bepaal wat die presiese oorsaak van konflik tussen mense is. Daar is egter ʼn groot verskeidenheid faktore wat ʼn rol kan speel en so sal dit ook verskil, nie net van geslag tot geslag nie, maar van persoon tot persoon. In hierdie verband het O’Neil et al. (1986) die geslagsrolkonflik-skaal (GRKS) ontwikkel om patrone van GRK te assesseer. O’Neil et al. (1986:335) het twee maatstawwe ontwikkel (GRKS-I en GRKS-II), waar GRKS-I mans se persoonlike geslagsrolhouding, -gedrag en -konflik situasies assesseer en GRKS-II mans se GRK in spesifieke GRK situasies assesseer. Volgens O’Neil et al. (1986:337) het mans se vrees vir hul vroulikheid ʼn direkte tersaaklikheid vir patrone van GRK. Alhoewel hierdie studie van O’Neil et al. spesifiek van toepassing is op mans, sou presies die omgekeerde van toepassing kon wees op vrouens – vrouens se vrees vir hul manlikheid het ʼn direkte tersaaklikheid vir patrone van GRK. Net soos wat GRK ʼn man kan laat twyfel in/worstel met sy geslagsrol in ʼn huwelik, só kan GRK ʼn vrou ook laat twyfel in/worstel met haar geslagsrol in ʼn huwelik. Dit sal ongekontroleerd wees om O’Neil et al. se GRKS (I of II) eenvoudig van toepassing te maak op alle vrouens, aangesien verskeie faktore ʼn invloed kan hê op die uitwerking van GRK. Zamarripa, Wampold en Gregory (2003:333) het in hierdie verband probeer bepaal of die verhouding tussen mans se GRK-veranderlikes en verstandelike gesondheid veralgemeen kan word tot vrouens. Zamarripa et al. (2003:338) het gevind dat die konflik tussen werk en familie beide geslagte op soortgelyke maniere beïnvloed. In verband met sukses, mag en kompetisie is daar gevind dat dit meer van toepassing is om hulle houding en oortuiging in verband met toepaslike sukses en ontoepaslike sukses te ondersoek (Zamarripa et al., 2003:338). Toepaslike sukses sluit aspekte soos prestasie,

gesonde kompetisie en kompetisie as dryfveer tot verbetering in, terwyl ontoepaslike sukses aspekte soos kompetisie as doel om ander te verneder en om waarde te heg aan wen ongeag vir die rede hoekom dit nodig is, insluit (Zamarripa et al., 2003:338). Die relatiewe lae korrelasie tussen die skale vir hierdie tipes sukses verleen ondersteuning vir die opvatting dat toepaslike en ontoepaslike sukses afsonderlik beskou behoort te word (Zamarripa et al., 2003:338). Uiteindelik kan daar gesien word dat alhoewel daar moontlike ooreenkomste is tussen mans en vrouens se ervaring van GRK, dit in die meeste gevalle uniek is.

Ongeag die ervaring van GRK, is daar verskeie oorsake daarvan en kan daar onderskei word tussen direkte oorsake en indirekte oorsake. Deur te onderskei tussen direkte oorsake en indirekte oorsake kan daar tot by die kern van die probleem gekom word en stel dit mens dus in staat om die moontlike konflik ten volle op te los.

2.1.

GRK as direkte of indirekte oorsaak

Volgens Egan (2010:5) ontstaan probleemsituasies in/deur ons interaksie met onsself, met ander en met sosiale instellings, organisasies en instansies van die lewe. Daar is egter verskeie faktore wat probleemsituasies beïnvloed. Dit beteken dat terwyl ʼn egpaar GRK kan ervaar oor dieselfde situasie, daar verskillende invloede kan wees op hulle lewens en dus kan die fokus van die GRK verskil. Die werke van Roman Jakobson kan verdere insig in hierdie verband bied. Roman Jakobson verskaf in verband met verbale kommunikasie ʼn model wat bestaan uit ses kommunikasiefaktore wat benodig word om die belangrikste aspekte van die betrokke kommunikasiesituasie te dek (Thorlacius, 2002:86). Ten opsigte van elke faktor het hy ʼn taalfunksie verbind (Thorlacius, 2002:86), naamlik:

1. Die emotiewe funksie – wat fokus op die sender

2. Die konatiewe funksie – wat fokus op die geadresseerde 3. Die referensiële funksie – wat fokus op die konteks 4. Die poëtiese funksie – wat fokus op die boodskap 5. Die metalinguïstiese funksie – wat fokus op die kode 6. Die fatiese funksie – wat fokus op kontak

Elk van hierdie funksies kan dan visueel voorgestel word op die volgende wyse (aangepas uit Thorlacius, 2002:86):

Elke linguistiese boodskap bevat meer as een van hierdie taalfunksies, maar een van hierdie funksies kan dominant wees, terwyl die ander vyf funksies ʼn kleiner rol speel in die boodskap (Thorlacius, 2002:86). Alhoewel Jakobson se model veral van toepassing is op linguistiese boodskappe, is daar ʼn waarheid daarvan in elke vorm van kommunikasie waarin die mens hom-/haarself bevind. As die voorbeeld van ʼn man wat met sy vrou wil kommunikeer as voorbeeld gebruik word, kan daar voorgestel word dat die man (1) ʼn bepaalde boodskap (4) aan sy vrou (2) wil gee. Terselfdertyd is daar ʼn betrokke konteks (3), kontak (6) en kode (5) wat ʼn invloed het op die boodskap (4). Indien die konteks (3), kontak (6) en kode (5) nie noukeurig oorweeg word nie, sou dit kon veroorsaak dat die vrou (2) die verkeerde (of nie volledige) boodskap (4) ontvang. Elke persoon sou waarskynlik ʼn ander aspek as belangrik ag en sodoende is dit belangrik dat wanneer mense met mekaar kommunikeer, hulle mekaar se besonderhede in ag neem om uiteindelik te verseker dat die korrekte (en bedoelde) boodskap oorgedra word.

Merrit, Mandal, Epstein, Werlinich en Kerrigan (2014:1333) het in ʼn studie wat gepoog het om te verstaan wat gebeur wanneer eggenote meningsverskille het en veral wanneer daar aggressie gebruik word, gevind dat sulke verhoudings baie kompleks is en verdere ondersoek verdien. Daar is uiteindelik gevind dat eggenotes se omstandighede (soos gevoelens en houding), geskiedenis (soos vorige gevalle van geweld of ouerlike geweld) en konteks (soos die teenwoordigheid van kinders) kan lei tot hierdie meningsverskille en selfs in sommige gevalle ʼn voorspeller van geweld kan wees (Merrit et al. 2014:1333-1334). Daar kan egter gesien word dat die oorsaak van konflik nie ʼn maklike of reguit antwoord het nie. Die oorsaak van konflik kan so wyd strek soos daar ʼn verskil in persoonlikheid tussen persone is aangesien beide persoonlikheid en omgewing ʼn rol speel in die ervaring van konflik. Sanbonmatsu, Hill, Moore, Behrends en Uchino (2014:801) het in ʼn studie oor “coping intentions” gevind dat mense die neiging het om ʼn oplossing te soek wat daarop gemik is om die moontlike oorsaak van hulle probleme wat hulle selektief aan dink of oorweeg, te hanteer. Dit beteken egter dat

1. Sender 2. Geadresseerde

3. Konteks 4. Boodskap

5. Kode 6. Kontak

mense verskeie aspekte sien as oorsake van hulle probleme en daarom op verskillende maniere optree. In verband met GRK kan daar gesê word dat mense oplossings oorweeg wat die direkte probleem waarmee hulle assosieer, hanteer. Dit lei daartoe dat twee persone dieselfde probleem sien uit verskillende oogpunte. Wat vir die een persoon lyk na ʼn direkte oorsaak, is vir die volgende ʼn persoon ʼn indirekte oorsaak.

In die voorafgaande bespreking kan daar gesien word dat dit baie belangrik is om te bepaal wat die betrokke persoon sien as die direkte en indirekte oorsaak. Die direkte oorsaak bring mens tot by die kern van die probleem en kan help om GRK uit te klaar. Wanneer die kern van die probleem identifiseer is, word die oorsaak van die GRK eers ten volle verstaan. Wanneer die oorsaak van die GRK verstaan word, kan daar met daardie betrokke oorsaak gewerk word. Alhoewel die oorsake van GRK baie wyd kan strek en van mekaar verskil, kan dit van baie waarde wees om na ʼn paar spesifieke oorsake te kyk, aangesien dit ʼn uitbreiding op ander oorsake kan wees en verdere insig kan bied in spesifieke (en meer algemene) probleme.