• No results found

Hoofstuk 6: Samevatting en gevolgtrekkings van bevindinge

2. Gevolgtrekkings

2.1.

Empiriese ondersoek van GRK

Daar is op kwalitatiewe wyse ʼn empiriese ondersoek ingestel wat handel oor GRK in ʼn jong huwelik. Deelnemers is gekies volgens die vereiste dat hulle getroud moet wees vir minder as vyf jaar. Uiteindelik het vyf egpare (tien deelnemers) vraelyste (bestaande uit vyf kort en agt lang vrae) voltooi wat handel oor GRK in hulle huwelik, asook hulle siening van GRK. Deur elkeen van hierdie vrae is daar ʼn poging aangewend om beter begrip te kry van GRK by jong getroudes. Die geskrewe antwoorde wat ontvang is, is getranskribeer in kort, eenvoudige en akademiese taal. Deur noukeurige interpretasie van die antwoorde is dit verder verkort om slegs te fokus op die belangrike elemente van die antwoord. Nadat die antwoorde verwerk, hersien en in verband gebring is met mekaar, is dit bespreek en geïnterpreteer.

Die empiriese ondersoek dien as ondersteuning vir die bevindinge wat in die probleemstelling (vgl. Hoofstuk 1) identifiseer is. GRK word beskou as ʼn indringende probleem en kan verskeie probleme veroorsaak in ʼn huwelik en vind veral plaas wanneer daar nie ooreenstemming is oor geslagsrolle nie. Alhoewel GRK nie altyd ʼn direkte invloed het nie, kan dit dien as sekondêre oorsaak van ander probleme en dus veroorsaak dat ander terreine van die huwelik beïnvloed word.

Deur die empiriese ondersoek het daar verskeie belangrike sake na vore getree, naamlik:  GRK ontstaan as gevolg van ʼn persoon se betrokkenheid (of tekort daaraan) by ʼn

bepaalde saak

 Mense se redes vir dieselfde GRK verskil as gevolg van hul ervaring daarvan  Mans en vrouens ervaar GRK verskillend

 Mense se beroepe kan ʼn bepalende faktor wees van GRK  Finansies is die grootste GRK waarmee mense worstel

 Mense se ouderdom en ouderdomsverskille kan gekoppel word aan hulle ervaring van GRK

 Mense word beïnvloed deur hulle ouers

Die verskeie sake wat uitgelig is, is in verdere besonderhede bespreek in die daaropvolgende hoofstukke (veral Hoofstuk 3).

2.2.

Interpretatiewe ondersoek van GRK

Deur navorsing in veral die psigologie, sosiologie en antropologie is verskeie teorieë ondersoek met die doel om verdere begrip te kry aangaande die onderskeie sake wat geïdentifiseer is in Hoofstuk 2 van hierdie studie. Die verskeie vakdissiplines wat bestudeer is, is benader met die inagneming van die Woord van God. Terwyl daar omgegaan is met dissiplines wat nie noodwendig ʼn direkte Christelike oorsprong het nie, is daar na die onderskeie dissiplines gekyk deur die lens van die Woord van God. Deur hierdie teoretiese ondersoek, met die fokus om Hoofstuk 2 beter te begryp, het die volgende sake na vore getree:

 Ongeag van mense se ervarings van GRK, is daar verskeie oorsake daarvan en kan daar onderskei word tussen direkte en indirekte oorsake. Die direkte oorsaak bring mens na die kern van die probleem en help om GRK beter te verstaan.

 GRK word in alle gevalle veroorsaak deur sosiale faktore, aangesien dit is waar geslagsrolle veralgemeen word en mense idees en standaarde van geslagsrolle optel. Soms verrig egpare sekere take as gevolg van die gemeenskap se idees rondom taakverdeling, maar uiteindelik kan sekere sosiale standaarde lei tot GRK.

 Mense se geslag kan gesien word as die biologiese of psigiese ingesteldheid of beperking op mense se geslagsrolle. Mans en vrouens verskil biologies van mekaar in terme van genetiese samestelling en dit lei daartoe dat mans en vrouens verskillend optree, wat kan lei daartoe dat GRK ontstaan indien hulle mekaar se optrede nie kan begryp nie. Mans en vrouens verskil ook psigies van mekaar deur veral die uitdrukking van emosies (om slegs na ʼn enkele komponent te verwys). Geslag as biologiese of psigiese oorsaak kan uiteindelik ʼn rol speel by GRK.

 Mens se beroep maak ʼn groot deel uit van mens se lewe, aangesien daar soveel tyd daaraan spandeer word. Die werk-/familieverhouding is uiters belangrik, aangesien beide mens se werk en familie ʼn invloed kan hê op mekaar, asook verskeie ander faktore in mens se lewe.

 Finansies staan uit as die hoofoorsaak van konflik oor die algemeen en in hierdie studie ook as die grootste oorsaak van GRK. Konflik rondom finansies word gesien

as ʼn baie komplekse probleem aangesien dit verskeie ander faktore van mens se lewe beïnvloed.

 Deur na iemand se ouderdom te kyk, kan daar baie geleer word van daardie persoon. Ouderdom het veral ʼn invloed op mense se liggaamlike tevredenheid, lewenservaring, volwassenheid en ʼn verskeidenheid ander faktore (soos taalgebruik, optrede en gesondheid). Uiteindelik bepaal mens se ouderdom in baie gevalle mens se geslagsrol en kan dit ʼn direkte of indirekte invloed op GRK hê.

 Ouers het ʼn groot invloed in hulle kinders se lewens. Dit kan aan die een kant beteken dat kinders hulle ouers gaan navolg of aan die ander kant juis nie. Die geslagsrolle wat ouers in hulle huise vervul, beïnvloed die geslagsrol wat hulle kinders eendag in hulle eie huise vervul.

Deur die bespreking van bogenoemde sake is die doel van hierdie hoofstuk bereik deur verdere insig te verskaf in verband met die sake wat uitgelig is in Hoofstuk 2.

2.3.

Skrifperspektiewe rakende GRK

Deur eksegese te doen van verskeie perikope, is die Skrif ondersoek van riglyne van die huwelik. Die Skrif verskaf nie direkte riglyne in verband met GRK nie, maar deur die riglyne vir ʼn huwelik kan daar sekere gevolgtrekkings gemaak word in verband met GRK. Die volgende bevindinge is gemaak uit elk van die gekose perikope:

 Genesis 1:26-31 – God het die mens geskep na sy beeld en met ʼn bepaalde doel in die skepping. Alle mense is geskep na God se beeld en daarom behoort ons ander mense, mans en vrouens, te sien as ons gelykes. Ons moet eerder saam met ons eggenote werk om God se wil uit te voer.

 1 Korintiërs 11:8-12 – Terwyl die vrou geskep is ter wille van die man, het God beide mans en vrouens geskep en is hulle afhanklik van mekaar. Daarom behoort mense hulle eggenoot te sien as hulle gelyke, iemand waarvan hulle afhanklik is, en hulle te respekteer.

 Galasiërs 3:26-29 – Deur geloof in Jesus Christus is almal kinders van God. Daarom behoort mense hulle eggenoot te sien as hulle gelyke, want hy/sy is ook ʼn kind van God.

 Efesiërs 5:21-33 – Mans en vrouens behoort aan mekaar onderdanig te wees. ʼn Man moet sy vrou liefhê en ʼn vrou moet aan haar man eerbied betoon. Daarom behoort egpare hulle huwelik gelyk te stel aan Jesus Christus se verhouding met sy kerk. Ten spyte daarvan dat hierdie perikope nie direkte riglyne in verband met GRK verskaf nie, kan elkeen van hierdie riglyne toegepas word op GRK. Dus is die doel van hierdie hoofstuk

bereik daarin dat daar vir die normatiewe taak uiteengesit is wat behoort aan te gaan in ʼn huwelik.

2.4.

Pastorale berading van egpare wat worstel met GRK

Deur beradingsvaardighede en –riglyne te ondersoek, asook strategieë voor te stel, is daar, met die inagneming van die voorafgaande bevindinge, bepaal hoe die pastorale berading van egpare wat worstel met GRK behoort plaas te vind. In hierdie verband is die volgende sake noodsaaklik tydens berading:

 Die pastorale berader behoort sy vaardighede veral te belê in respek, empatie en verantwoordelikheid. Die pastorale berader word gesien as herder en verteenwoordiger van God en daarom behoort sy/haar karaktereienskappe vervul te word uit die vrug van die Gees. Die hele menswees van die pastorale berader word gerig daarop om God se wil te verrig, maar word ook juis bepaal deur God.

 Die pastorale berader behoort aan vaardighede te voldoen wat op die uitkyk is vir besondere kwessies, die huwelik kan evalueer, beradingsdoelwitte kan stel en fokus op persone, probleme en prosesse. Effektiewe kommunikasie is ʼn belangrike riglyn wat aandag verdien tussen die pastorale berader en die beradene, asook tussen eggenote. Die pastorale berader behoort uiteindelik te weet hoe ʼn huwelik behoort te lyk om sodoende te verseker dat die beradene(s) daarheen kan werk.

 Die strategieë wat die pastorale berader kan gebruik behoort daarop gefokus te wees dat die beradenes beide afsonderlik en saam groei in geloof en in persoon. Dit beteken egter dat beradenes selfondersoek behoort in te stel wanneer hulle apart is en saam groei wanneer hulle bymekaar is. Deur voortdurend saam en apart te groei, kan daar verseker word dat hulle huwelik getransformeer word.

Die doel van hierdie hoofstuk is bereik deur die voorgestelde strategieë wat die pastorale berader kan gebruik tydens die beradingsproses om die beradene(s) te begelei tot ʼn herstelde, getransformeerde huwelik.

2.5.

Finale Gevolgtrekkings

Die navorsingsvraag en subvrae wat in hierdie studie gestel is, is uiteindelik beantwoord deur elk van die bogenoemde hoofstukke. Elkeen van die vier hoofstukke het ʼn subvraag beantwoord in oorkoepelende antwoord op die navorsingsvraag. Deur die beantwoording van hierdie vrae is die doelwit en doelstellings bereik. Die studie toon duidelik aan op watter wyse die pastorale berader huweliksberading kan verskaf aan eggenote wat worstel met GRK.

Die sentrale teoretiese argument van die studie is gedeeltelik bewys deur beter begrip te kry oor GRK, te fokus op geloofsgroei en uiteindelik voorstelle te maak vir effektiewe pastorale berading aan egpare, sodat egpare begelei kan word tot ʼn gesonde Christus-gesentreerde huwelik. Die sentrale teoretiese argument kan verder verryk word deur te verwys na sekere tekortkominge van hierdie studie, asook areas voor te stel vir verdere navorsing.

3. Beperkinge van die studie en voorgestelde areas vir verdere navorsing