• No results found

Beradingsriglyne in die hantering van egpare wat worstel met GRK

Hoofstuk 5: Pastorale berading van egpare wat worstel met GRK

3. Beradingsriglyne in die hantering van egpare wat worstel met GRK

In die vorige afdeling is daar gesien watter beradingsvaardighede die pastorale berader kan benodig in die hantering van egpare wat worstel met GRK. Die beradingsriglyne, alhoewel dit direk aansluit by die beradingsvaardighede, is nie dieselfde nie. Terwyl die beradingsvaardighede fokus op sekere eienskappe waarin die pastorale berader behoort te voldoen nog voor die berading begin, fokus die beradingsriglyne daarop om daardie vaardighede in werking te stel tydens berading. Die hoofdoel van die beradingsriglyne is dan om te verseker dat die beradene(s) voldoende, effektiewe pastorale berading ontvang. Soos met die beradingsvaardighede is elke beradene ʼn unieke individu en beteken dit dat die riglyne ook uniek sal wees. Ten spyte daarvan verseker die beradingsriglyne dat die pastorale berader ʼn verskeidenheid moontlikhede in oorweging bring en sodoende verskeie areas van berading oorweeg.

In ʼn vroeë studie wat handel oor hierdie komponent van berading het Schauble en Hill (1976:277) beweer dat nog voor berading begin word, daar eers bepaal moet word watter vorm van behandeling die mees geskikte behandeling is vir daardie egpaar. Wanneer huweliksprobleme ontstaan as gevolg van persoonlikheidsprobleme, moet die berading gerig wees op individuele berading, terwyl indien dit ontstaan as gevolg van interaksie tussen die eggenote, behoort die berading gefokus wees op die huweliksverhouding (Schauble & Hill, 1976:277). Die bevindinge van Hoofstuk 3 wat dui op die direkte en indirekte invloede van GRK, ondersteun gedeeltelik die bewering van Schauble & Hill (1976:277), aangesien dit vir die een eggenoot ʼn direkte oorsaak kan wees en vir die ander ʼn indirekte oorsaak. Dit kan dus van waarde wees om vooraf in pastorale berading van GRK te bepaal waar die probleme ontstaan met die doel om te fokus op sekere aspekte. In ʼn meer onlangse bron verwys Collins (2008:483-490) na ʼn verskeidenheid aspekte wat oorweeg behoort te word in huweliksberading – hierdie aspekte strek veel wyer en is meer kompleks as dié van Schauble en Hill (1976:277), maar sluit tot ʼn mate ideaal daarby aan. Die eerste van die sewe aspekte wat Collins (2008:483-490) noem is reeds in die vorige afdeling bespreek. Die oorblywende ses aspekte waarop Collins (2008:484-490) fokus, kan soos volg uiteengesit word:

Wees op die uitkyk vir besondere kwessies – Daar is verskeie tegnieke wat oorweeg kan

word vir huweliksberading (soos beelding, diagramvorming, rollespel, ens.), wat elk op ander aspekte fokus. Ongeag watter tegniek die pastorale berader op besluit, is daar sekere vrae wat gevra kan word om verskeie komponente in oorweging te bring, naamlik:

a) “Behoort ʼn mens die egpaar alleen of saam te sien?” Daar moet in gedagte gehou word dat eggenote bereid sal wees om verskillende inligting te deel wanneer hul eggenoot teenwoordig is al dan nie. Daar behoort dus strategies oorweeg te word wanneer eggenote saam en apart gesien word om sodoende verskillende inligting te bekom. As daar gekyk word na Hoofstuk 2 van hierdie studie, kan daar aangeneem word dat sommige van die deelnemers nie gemaklik sal wees om sommige van die vrae voor sy/haar eggenoot te beantwoord nie (omdat dit wrywing kan uitlok), terwyl dit nodig sou kon wees om sommige vrae te stel wanneer egpare bymekaar is, met die doel om ʼn meer volledige uiteensetting van ʼn betrokke probleem te kry.

b) “Behoort daar tydsbeperkings vir berading te wees?” Sommige egpare het slegs enkele sessies nodig om hulle probleme uit te sorteer, terwyl ander selfs maande kan neem. Die berading behoort nie onnodig lank te duur nie. As daar gekyk word na Hoofstuk 2 van hierdie studie kan daar gesien word dat sommige egpare ʼn veel wyer verskeidenheid probleme het as ander egpare. Daar kan selfs gesien word dat die een eggenoot GRK ervaar terwyl sy/haar eggenoot dit nie ervaar nie (vgl. Vraag 1 van die lang vrae). Dit kan egter ʼn veel langer proses wees om eers so ʼn egpaar op dieselfde bladsy te kry teenoor ʼn egpaar wat reeds weet wat beide se probleem is. c) “Is groepsberading wenslik?” Sommige egpare kan baat vind daarby om hulle

probleme te deel met ander egpare of wanneer hulle na ander egpare se probleme luister. Groepsberading behoort noukeurig oorweeg te word aangesien dit vir party egpare baie goed werk, terwyl ander nie so goed baat daaruit nie. As daar na Hoofstuk 2 van hierdie studie (vgl. Vraag 7 van die lang vrae) gekyk word, kan daar gesien word dat sommige egpare soortgelyke probleme ervaar (soos finansies). Vir sommige egpare kan dit wenslik wees om met ander egpare te praat wat dieselfde probleme ervaar – op hierdie manier kan egpare verdere kry insig in hulle situasie.

d) “Behoort die berader alleen te werk of saam met nog ʼn berader?” Met die bespreking van persoonlike probleme kan sommige eggenote meer gemaklik daarmee voel om met iemand te praat van dieselfde geslag. Om dan saam met ʼn berader van die teenoorgestelde geslag te werk kan help tydens die beradingsproses. Net so kan ʼn berader van die teenoorgestelde geslag moontlik ʼn alternatiewe perspektief bied op die egpaar se probleme. As daar gekyk word na Hoofstuk 2 (vgl. Vraag 2 tot Vraag 6 van die lang vrae) kan daar gesien word dat sommige onderwerpe wat behandel word,

baie geslagspesifiek kan wees en kan beteken dat ʼn beradene nie gemaklik voel om te praat met ʼn berader van die teenoorgestelde geslag nie.

Evalueer die huwelik – Die berader moet probeer bepaal hoekom die egpaar besluit het om

te gaan vir berading. Wanneer ʼn egpaar gaan vir berading as gevolg van GRK, behoort daar oorweeg te word wat gelei het tot die GRK en veral of die eggenote se redes ooreenstem. Eggenote se siening oor die probleem beskryf nie net die konflik nie, maar gee reeds ʼn idee oor die verhouding wat hulle met hul eggenoot het. Deur spesifieke insidente te noem, kan veralgemening vermy word en daar verseker word dat elke eggenoot self die probleem beter verstaan.

Bepaal beradingsdoelwitte – Die berader en beradene(s) benader die huweliksberading elk

met sekere verwagtings en doelwitte. Hierdie doelwitte behoort so duidelik moontlik gestel te word en nie in teenstelling met die ander party se doelwitte nie.

a) Bepaal die beradingsdoelwitte en formuleer dit. Die pastorale berader behoort te weet waarheen hy/sy op pad is met die beradingsproses en wat die eindpunt behoort te wees in verband met die GRK. Wanneer die beradingsdoelwitte duidelik is, is dit makliker om te konsentreer op die beradene(s) se doelwitte. Die beradingsdoelwitte kan bepaal word deur die stel van sekere vrae en ʼn duidelike uiteensetting van die GRK te kry (vgl. Hoofstuk 2). Wanneer die GRK beter verstaan word, sal dit makliker wees om beradingsdoelwitte te stel.

b) Bepaal die beradene(s) se doelwitte. Die beradene(s) se doelwitte stem nie altyd ooreen met die berader se doelwitte nie, maar dit is noodsaaklik dat die beradene(s) hulle doelwitte duidelik stel om vas te stel dat die beradene self bewus is van sy/haar bedoelings. Hierdie kan ook later die beradene(s) help met evaluasie om te bepaal of sekere doelwitte bereik is of nie.

c) Stel gemeenskaplik aanvaarde doelwitte. Deur die stel van duidelike, spesifieke, bereikbare en onmiddellike doelwitte kan die beradene(s) gemotiveer word om gedrag in verband met die GRK op ʼn spesifieke manier of in ʼn spesifieke tydperk te verander. Wanneer doelwitte bots, kan dit openlik bespreek word. Al die doelwitte sal nie van die begin af ooreenstem nie, maar begin meer met daardie doelwitte wat wel ooreenstem of help om doelwitte te formuleer wat kan ooreenstem.

d) Hoe om die doelwitte te bereik. Soos daar in Hoofstuk 3 gesien is, strek die oorsake van GRK redelik wyd en eggenote kan selfs oorsake verskillend interpreteer. Terwyl die een eggenoot sy/haar eggenoot se beroep sien as die oorsaak van GRK, sien die ander eggenoot finansies as die oorsaak van GRK (vgl. 5.1 en 5.2 van Hoofstuk 3).

Elke berader kan besluit op ʼn ander tegniek om hierdie doelwitte te bereik, maar dit is belangrik om veral te fokus op die persone, die probleme en die prosesse.

Fokus op persone – Huweliksberading is meer as net die oplossing van praktiese probleme.

Daar is persone, kinders van God, betrokke. Hierdie “persone” het die potensiaal om baie seer te kry of om genesing en vervulling in God te vind. Die pastorale berader se doel is om hierdie persone tot die laasgenoemde te lei, nie omdat hulle waardig genoeg is of die probleem van belang is nie, maar juis omdat hulle kinders van God is. Die persone moet net so goed – selfs beter – verstaan word as die probleem.

Fokus op probleme – Eers wanneer die pastorale berader die beradene(s) beter as persone

verstaan, kan daar op die probleem gefokus word. Onthou dat die persoon altyd eerste kom, maar met die inagneming dat die beradene daar is om ʼn bepaalde doel te bereik (bv. die GRK op te los) en indien die GRK nie hanteer word nie, kan dit moeilik wees om by daardie doel uit te kom. Die beradene(s) kan gelei word tot verandering of moontlike alternatiewe optrede oor die GRK. Wanneer die beradene(s) ʼn werkende oplossing kry, kan daar reeds makliker met die GRK omgegaan word.

Fokus op prosesse – Wanneer die beradene(s) gaan vir pastorale berading (veral ook oor

GRK), word daar veral op die inhoud van die probleem gefokus. Wat in gedagte gehou moet word, is dat die prosesse (kommunikasie) net so belangrik is. In baie gevalle ontstaan probleme as gevolg van ʼn tekort of gebrek aan kommunikasie. Kommunikasie kan uiteindelik gesien word as die kern van ʼn voorgestelde oplossing vir die hantering van GRK.

In verband met die laasgenoemde riglyn van Collins (2008:490) het Mahaffey (2010:48) gevind dat die Miskommunikasiemodel beraders toelaat om ʼn meer direktiewe en minder dreigende benadering vir die probleem te bied. Mahaffey (2010:46) verduidelik hoe die model werk deur die volgende skets (aangepas en vertaal):

Die skets bestaan uit ʼn persoon (Persoon A) wat ʼn boodskap stuur, geïllustreer deur ʼn pyl, na ʼn ander persoon (Persoon B), wat terugvoer verskaf aan die persoon wat die boodskap gestuur het, geïllustreer deur ʼn pyl wat terugwys na Persoon A. ʼn Stippellyn word dan om die grense van die papier geteken om die hele kommunikasieproses te omkring. Hierdie lyn word gemerk as die omgewing van die kommunikasieproses. Gedurende ʼn oop gesprek met die egpaar oor kommunikasie word verskille gelys om Persoon A en Persoon B.

Alhoewel hierdie slegs ʼn enkele voorgestelde riglyn is wat die pastorale berader kan volg om meer oor kommunikasie van die egpaar te leer, gee dit ʼn goeie aanduiding van die kommunikasieproses en waarna die pastorale berader behoort te kyk. Wanneer egpare worstel met GRK, is goeie, effektiewe kommunikasie van die uiterste belang om te verseker dat verdere probleme nie ontstaan nie. Deur die tekorte of gebrekke aan kommunikasie uit te wys, kan die egpaar gemotiveer word om beter te kommunikeer en sodoende die GRK op ʼn konstruktiewe wyse aan te pak.

ʼn Saak wat tot dusver min tot geen aandag geniet het, gaan daaroor dat die pastorale berader die beradene moet motiveer om sy/haar ondersteuningsisteem uit te brei. Volgens Worthington en Ripley (2002:464) is dit belangrik om toe te laat dat egpare oor hul huwelik praat en kan dit selfs gedoen word met ander egpare. Navorsing toon aan dat sosiale ondersteuning ʼn groot rol speel in die vermindering van negatiewe gevolge wat geassosieer word met sekere aspekte van GRK (Wester, Christianson, Vogel & Wei, 2007:222). ʼn Sosiale ondersteuningsisteem kan ʼn belangrike element wees in die proses om egpare te help deur hulle worsteling met GRK. Daar moet wel in ag geneem word dat egpare verskil en dus nie

dieselfde ondersteuning benodig nie. In sommige gevalle kan die pastorale berader dit goedvind om so ‘n sisteem te help vind/skep en in ander gevalle kan die beradene net gemotiveer word om voordeel uit sy/haar huidige ondersteuningsisteem te trek. Hoe dit ook al sy, is dit belangrik dat beide die pastorale berader en beradene bewus is van die voordele van ʼn sosiale ondersteuningsisteem en sodoende gemotiveer word om daardie sisteem te bevorder in die beradene se lewe.

Ten slotte behoort die pastorale berading op een of ander manier, op ʼn gegewe tyd en in ʼn gegewe situasie, tot ʼn einde te kom. Pastorale berading word nie gedoen met die doel dat die beradene afhanklik van die berader moet wees nie. Daar word gewerk na ʼn punt toe waar die beradene juis onafhanklik van die berader op ʼn gesonde wyse gesonde besluite kan neem. Dus behoort die pastorale berader uit te kyk na sekere eienskappe of optredes wat die beradene ontwikkel het, om sodoende te verseker dat daardie vordering plaasgevind het. In hierdie verband het Britzman en Sauerheber (2014:429) ʼn lys van voorskrifte (of bestanddele) van huweliksbevrediging saamgestel. Hierdie lys kan veral van toepassing gemaak word op egpare wat GRK ervaar. Die pastorale berader kan dan uitkyk vir daardie tekens (Britzman en Sauerheber, 2014:429):

 Neem konsekwent ʼn aktiewe belangstelling in die lewe van sy/haar eggenoot se lewe deur intieme interaksie

 Behandel sy/haar eggenoot met respek en soek altyd eers om te verstaan

 Help sy/haar eggenoot om belangrik te voel en fokus op hul positiewe eienskappe  Hanteer konflik op ʼn sagte, positiewe manier wat woede versag en kompromie

bevorder en gee ʼn gevoel van spanwerk

 Ontwikkel hoop en drome saam waar beide eggenote betrokke is daarin om saam te werk in die rigting van ʼn wedersydse toekoms en ʼn lewe wat saak maak

 Weerhou die gebruik van kritiek wat dikwels lei tot verdediging, minagting en onversetlikheid

 Doen gereeld selfondersoek deur te reflekteer hoe goed of dikwels die bogenoemde gedrag geïmplementeer word, asook die soeke na persoonlike groei of selfsorggeleenthede (wanneer dit nodig is)

Alhoewel hierdie ʼn baie kort, bondige lys is, kan dit dien as goeie riglyn vir die pastorale berader om uit te kyk na hierdie besondere kwessies en te verseker dat die egpaar (beradenes) groei in hulle huwelik. Daar is wel moontlik ander aspekte wat bygevoeg kan word of selfs van hierdie aspekte wat nooit gereflekteer word nie. Daarom behoort die pastorale berader die betrokke egpaar se omstandighede en situasies in gedagte te hou en is dit van die uiterste belang dat hy/sy beide eggenote op ʼn persoonlike vlak leer ken deur die

berading. Om uiteindelik dan hierdie bestanddele van huweliksbevrediging met die egpaar te bereik, sou dit van waarde wees dat die pastorale berader sekere strategieë aan die egpaar voorstel wat kan lei tot transformasie in hul huwelik.

4. Voorgestelde strategieë wat lei tot transformasie