• No results found

Vraag 26: SOU U WEER U KIND LAAT DEELNEEM?

2.3 Aanbieding van data ingewin tydens onderhoude met ander belangrike rolspelers

2.3.11. Onderhoud met Suzanne Erasmus

Suzanne Erasmus het reeds „n jarelange verbintenis met verskeie eisteddfods as sangonderwyser en het oor die jare gereeld kandidate ingeskryf. Dit is egter eers vanaf 2004 wat sy as beoordelaar by die Stellenberg en Helderberg Eisteddfods begin optree het. Sy was nog nooit as beoordelaar by die Paarl Vallei Eisteddfod betrokke nie. Sy is „n onderwyser by Laerskool Eikestad in Stellenbosch en ook „n baie bekwame sangeres wat ten tye van hierdie studie aan „n Meestersgraad in sang aan Stellenbosch Universiteit gewerk het. Dit is vir haar „n voorreg om as beoordelaar te kan optree en sy voel dat sy haar kennis in hierdie opset met ander kan deel sonder om intimiderend te wees. Volgens haar moet „n

beoordelaar oor „n baie deeglike kennis van sy/haar vakgebied beskik en moet hy/sy oortuigend daaroor kan praat. Dit is uiters belangrik om altyd positief teenoor alle kandidate te reageer en spesifieke, opbouende kritiek te verskaf, sodat dit sinvol en leersaam is. Die person moet ook oor „n goeie kennis van die repertorium beskik en „n sin van gepaste standaarde hê. Wanneer sy na

kandidate luister wil sy graag „n vrye, ondersteunde klank hoor. Goeie intonasie, duidelike diksie, musikale sang en goeie frasering, meelewing, sinvolle vertolking en korrekte liedkeuse is ander aspekte wat vir haar belangrik is. „n Suksesvolle kandidaat moet ook reeds oor goeie verhoogetiket beskik en moet ook aandag gee aan dinge soos die opstap en afstap van die verhoog af.

Erasmus voel dat die toekenningstruktuur die kandidate genoegsaam beloon en dat dit „n aansporing is om „n beter simbool of persentasie te behaal. Sy dink dit is uiters belangrik dat „n beoordelaar moet kan motiveer waarom „n kandidaat „n sekere toekenning ontvang het en vind dat leerders dikwels met

baie hoë verwagtinge en „n onrealistiese beeld van hul eie sang na die eisteddfod kom en dan teleurgesteld en ontnugter is as hulle nie die hoogste toekenning kry nie. Sy is van mening dat dit veral die geval is by kandidate wat sangonderrig ontvang by persone wat nie oor genoegsame kennis beskik nie. Dit is ook vir haar belangrik dat „n beoordelaar nie beïnvloed word om aan „n

kandidaat „n hoër punt te gee net omdat die beoordelaar byvoorbeeld die betrokke onderwyser ken nie. „n Beoordelaar moet werklik onpartydig kan funksioneer. Volgens haar is dit meestal dieselfde groep skole wat elke jaar deelneem, maar sy vind dat alle groepe in die gemeenskap verteenwoordig word. Sy beklemtoon dat dit soms die geval is dat daar deelnemers van histories- benadeelde gemeenskappe deelneem wat baie potensiaal toon, maar waar die onderwyser nie oor die nodige kennis en ondervinding beskik om die leerders af te rig nie. In so „n geval voel sy baie sterk daaroor dat die eisteddfod optrede „n opbouende ervaring vir hierdie leerders en onderwysers moet wees en dat die beoordelaar met opbouende kritiek die onderwyser en kandidate moet help, sodat hulle weer die vrymoedigheid sal hê om in te skryf.

Erasmus lê klem daarop dat deelname aan eisteddfod „n reg en „n voorreg vir elke kind is. Enige person moet die geleentheid hê om te mag deelneem; tog voel sy as „n kandidaat nie op standaard is nie en moontlik „n negatiewe ervaring kan hê moet die onderwyser die vrymoedigheid hê om die kandidaat te onttrek. In haar ondervinding as beoordelaar, maar ook as onderwyser, vind sy dat sommige ouers geweldig baie van hulle leerders verwag. In die geval van die eisteddfod neem party ouers dit persoonlik as die kind nie die beste in die afdeling gevaar het nie. Sy het haarself al in situasies bevind waar „n ouer „n kandidaat se uitslae met haar wou bespreek. In daardie gevalle het sy geluister wat die ouers op die hart het en dan haar besluit gemotiveer. Hier beklemtoon sy dat „n grondige kennis van sangtegniek van onskatbare waarde is.

Die eisteddfod gee vir soveel leerders „n simpatieke ruimte om op te tree en belangrike blootstelling op te doen. As kind het Erasmus net een keer die geleentheid gehad om aan „n eisteddfod deel te neem, maar sy kan dit nog baie

149

duidelik onthou. Oor die algemeen vind sy dat die standaard by eisteddfods baie hoog is, veral in die hoërskool ensemble afdelings waar daar reeds musiek van „n hoë gehalte gelewer word. Sy voel die blootstelling wat die leerders by hulle skole ontvang vir hul deelname aan eisteddfod is wonderlik, aangesien sport so baie aandag binne die skoolopset geniet. Die trofeë wat kandidate kan wen is nog „n bykomende motivering om harder te werk. Dit is ook in baie gevalle hierdie toegewyde kandidate wat meer geneig is om hul musiekloopbaan na skool voort te sit.

Volgens Erasmus kry onderwysers glad nie genoeg erkenning vir die ongelooflike harde werk wat elke jaar met die eisteddfod gepaard gaan nie. Sy maak „n punt daarvan om tydens die eisteddfod die onderwysers in haar

kommentaar te betrek en haar waardering teenoor hulle uit te spreek. Persoonlik verkies sy om nie vir langer as 2 jaar agtereenvolgens dieselfde eisteddfod te beoordeel nie, aangesien die beoordelaar die leerders te goed leer ken en dan nie meer so onpartydig kan funksioneer nie. Die beoordelaar moet te alle tye onthou na watter ouderdomsgroep daar geluister word. Dit is belangrik dat kandidate die beoordelaar kan volg en verstaan, veral wanneer kommentaar uitgedeel word na die tyd, anders het die beoordelaar niks bereik nie. Erasmus glo leerders hou daarvan om met mekaar te kompeteer en dat dit juis kompetisie is wat 'n groot motivering is om vir die eisteddfod in te skryf. Sy beklemtoon egter dat hulle dit altyd moet geniet. Ten slotte dui sy daarop dat die geslaagdheid van die eisteddfod grotendeels afhang van die beoordelaar se meelewing en dat die eisteddfod juis nie so formeel soos „n musiekeksamen moet wees nie. Die feit dat daar „n gehoor is en dat daar van tyd tot tyd kommentaar gegee word, help ook om die spanning te verlig.

2.3.12. Kommentaar op onderhoude gevoer met Sonja van Amstel en