• No results found

FINANSIËLE REKENINGKUNDIGE IMPLIKASIES BY

ONDERNEMINGSVORME

Verskillende behoeftes, slaggate en verpligtinge spruit voort uit die onderskeie ondernemingsvorme. Een van die belangrike aspekte waarmee rekening gehou

moet word, is die hantering van die finansiële state. Dit is algemeen bekend dat die hantering van geld in die dag tot dag bedryf van ‟n besigheid, sowel as vir groot projekte wat aangepak word, ‟n kritiese faktor in elke besigheid is. Nie alleen dui finansiële bestuur en akkurate finansiële verslaggewing op tendense binne ‟n onderneming nie, maar dit bepaal ook die buigsaamheid (al dan nie) ten opsigte toekomstige uitbreiding.

Die proses van oscibant beteken dit ‟n effek op besigheidsintelligensie, besluitneming (veral ten opsigte van risikohantering), sowel as die spoed en omvang waarteen ontwikkeling en verandering moet plaasvind om aan die besigheidsdoelwitte te beantwoord.

In ‟n eenmansaak is daar wetlik geen onderskeid tussen die eienaar se eie en die onderneming se finansies nie. Dit bly egter tog wenslik om die onderneming as afsonderlike besigheid te bedryf om die winste/verliese duidelik uit te wys (Hartley, 2000: 40). Winste van die onderneming word volgens die inkomstebelastingwet as deel van die persoonlike inkomste gesien en sodanig belas.

Soortgelyk erken die inkomstebelastingwet nie „n vennootskap as „n afsonderlike entiteit nie. In ‟n vennootskap word geen onderskeid tussen die eienaars se eie en die entiteit se finansies getref nie. Dit is tog noodsaaklik om die entiteit as afsonderlike besigheid te bedryf om die winste/verliese duidelik uit te wys sodat winsdeling aan die einde van die boekjaar bereken kan word. Om sodanige proses te laat gebeur, moet behoorlike finansiële state gehou word deur „n persoon wat die rekeningkundige taal verstaan en die winsverdeling moet duidelik gestipuleer wees in die vennootskapsooreenkoms. Elke vennoot is afsonderlik en gesamentlik aanspreeklik vir die indiening van die gesamentlike opgawe. Die vennote is aanspreeklik vir belasting in hulle afsonderlike individuele kapasiteit (Silke, 2003: 247), maar die vennootskap as sodanig is nie aanspreeklik vir enige belasting nie. Winste van die entiteit word volgens die inkomstebelasting as deel van die persoonlike inkomste gesien en elke vennoot word individueel belas.

In beslote korporasies word wetlik onderskei tussen die eienaars se eie en die entiteit se finansies. Aangesien „n beslote korporasie „n „maatskappy‟ is vir belastingdoeleindes, word die belasting op dieselfde wyse as die van „n publieke maatskappy bepaal (Silke, 2003: 359). Dit is noodsaaklik om die entiteit se boekhouding deeglik te dokumenteer sodat die winste/verliese duidelik uitgewys kan word aan die einde van die boekjaar. Om sodanige proses te laat gebeur, moet behoorlike finansiële state gehou word deur „n persoon wat die rekeningkundige taal verstaan. Aangesien daar nie van beslote korporasies geouditeerde finansiële state vereis word aan die einde van die boekjaar nie, is dit nie nodig om aan die Algemene Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk (AARP) se vereistes te voldoen nie. Hoewel dit nie nodig is dat al die transaksies aan AARP voldoen nie, is dit tog beter om so na as moonlik aan die aanvaarde praktyk te bly. Indien groot bedrae geld by die bank geleen is, mag dit gebeur dat die bank geouditeerde state vereis. Die Registrateur van Beslote Korporasies vereis dat die jaareindstate wel deur „n rekeningkundige beampte afgeteken word. „n Rekeningkundige beampte moet by ‟n professionele liggaam, wat deur die Minister in terme van die Wet aanvaar word, geregistreer wees.

Die wins van „n beslote korporasie word volgens die inkomstebelasting nie as deel van die persoonlike inkomste van elke lid gesien nie, en die entiteit word onafhanklik belas. Elke lid word slegs individueel dienooreenkomstig sy/haar deel belas sodra daar dividende uitbetaal word.

Die belasbare inkomste van „n maatskappy word bereken vir sy finansiële jaar op dieselfde manier as vir persone anders as maatskappye (Silke, 2003: 357). Dit is noodsaaklik om die entiteit se boekhouding deeglik te dokumenteer sodat die winste/verliese duidelik uitgewys kan word aan die einde van die boekjaar. Om sodanige proses te laat gebeur, moet behoorlike finansiële state gehou word deur „n persoon wat die rekeningkundige taal verstaan. Aangesien geouditeerde finansiële state aan die einde van die boekjaar vereis word, is dit nodig om aan die Algemene Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk (AARP) se vereistes te voldoen.

Winste van die maatskappy word volgens die inkomstebelasting nie as deel van die persoonlike inkomste van elke aandeelhouer gesien nie en die maatskappy word as sodanig belas. Elke aandeelhouer word slegs individueel dienooreenkomstig sy/haar deel belas sodra daar dividende uitbetaal word. In „n besigheidstrust word die verdeelde inkomste in die hande van die begunstigdes belas en die trust word slegs op die onverdeelde inkomste belas. Indien daar sake bedryf word wat „n wins/verlies voortbring, word winste/verliese verdeel volgens die goeddunke van die trustees. Aangesien daar meer as een begunstigde is, moet die boekhouding van die trust apart hanteer word. Wetlik is daar geen onderskeid tussen die begunstigde se eie en sy/haar deel van die verdeelde trustwinste/inkomstes se finansies nie.

In ‟n neutedop kom dit daarop neer dat, indien „n persoon „n natuurlike of „n regspersoon is en inkomste verdien is die persoon belastingpligtig. „n Maatskappy en „n beslote korporasie is onafhanklike regspersone en is dus in eie reg belastingpligtig. „n Trust is „n persoon anders as „n natuurlike persoon en word dus belas op sy belasbare inkomste (Kroon, 1999: 226).

Vir die doel van die navorsing gaan klein entiteite en die bydrae wat projekbestuur tot hul finansieel rekeningkundige behoeftes ondersoek word. Enige van die geïdentifiseerde ondernemingsvorme kan vir die ondersoek gebruik word, maar maatskappye word as ondernemingsvorm uitgesluit, aangesien hulle wetlik verplig word om „n geregistreerde geoktrooieerde rekenmeester aan te stel.

Meeste besighede begin klein en groei mettertyd. Baie besighede speel binne een jaar bankrot, gevolglik is die studie gefokus daarop om die belangrikheid van die rekeningkundige proses aan die klein sakeman te motiveer. Daar is wetlike vereistes wat van toepassing is indien „n besigheid meer as R100 000 wins per jaar maak; wat dan in „n mate die entiteit deur middel van belastingwetgewing verplig om die state op te stel.

Om te voldoen aan die behoefte aan goeie boekhouers en „n rekeningkundige stelsel wat aan die nodige vereistes voldoen, het daar met die verloop van tyd

wetlike bepalings aangaande die rekeningkundige verpligtinge, wat vereis word by sommige ondernemingsvorme, ontstaan.

Met die snelveranderende tegnologie is stabiliteit binne ʼn entiteit nie meer ʼn gegewe nie. „n Behoorlike kommunikasieproses binne „n onderneming is van die uiterste belang sodat inligting kan vloei. Verandering kom so gereeld voor dat bestuur dit so maklik moet kan akkommodeer en kommunikeer soos enige ander normale bestuurstaak (De Villiers, 2003: 92). Bestuurders is tans baie meer geïnteresseerd in die risiko om verandering aan te bring en dring aan op beter gereedskap, metodes (insluitend kommunikasiemetodes) en data, wat die risiko van die projek/probleem met ʼn algehele strategie wat hulle kan implementeer verbind (Bartlett, 2002: 1).

Een van die belangrikste stappe in bestuur is besluitneming. Om behoorlike besluite te neem, moet ʼn persoon ingelig wees oor die situasie op hande. Dit is belangrik dat die bestuur die besluitnemingsomgewing waarin ʼn probleem voorkom, moet kan identifiseer. Daar word na drie breë besluitnemings- omgewings verwys (Render et al., 1997: 36, 37):

Besluitneming met bekende moontlike uitkomste;

Besluitneming met risiko elemente, waar die waarskynlike moontlike uitkomste bekend is; en

Besluitneming met onbekende moontlike uitkomste.

Daar bestaan tegnieke wat dan as moontlike hulpmiddele gebruik kan word om die eienaar te waarsku indien die besigheid finansiële probleme (soos onder andere bankrotskap) in die oë staar. Volgens fokusgroeponderhoude wat gehou is, is dit duidelik dat nie slegs die opstel van boeke deesdae van belang is nie, maar dat daar ook verskeie ander dienste is wat die rekeningkundige beampte ook aan kan bied. Dienste soos byvoorbeeld:

Die boekhouproses; Lone en salarisse;

Belasting op toegevoegde waarde (BTW); Inkomstediens (SAID);

Jaareindstate;

Sekretariële werk (CIPRO);

Interpretasie van finansiële state, ensovoorts.

Indien die tyd wat dit neem en alle dienste, wat deur „n rekenmeester aangebied kan word, as een totale pakket gesien word, neem die boekhoudingsproses meer as sestig persent van die tyd in beslag (Fokusgroeponderhoude). Aangesien al die ander dienste uitkomste en interpretasies van die resultaat van die boekhouding is, is dit noodsaaklik dat die boeke noukeurig en korrek gedoen word anders sal die ander dienste se resultate nie korrek wees nie.