• No results found

ALGEMENE KENMERKE VAN ONDERNEMINGSVORME

Alvorens „n besigheid tot stand gebring word, behoort die inisieerders daarvan inligting oor die onderskeie ondernemingsvorme en elkeen se voor- en nadele in te win ten einde „n ingeligte keuse uit te oefen wat hul unieke omstandighede die beste pas. Die keuse van of „n eenmansaak, vennootskap, beslote korporasie, maatskappy of besigheidstrust het verreikende implikasie ten opsigte van die bestuur, administrasie, belastingimplikasies en finansiële verpligtinge daarvan.

Eenmansaak

„n Eenmansaak is die eenvoudigste maar populêrste ondernemingsvorm en die onderneming word deur slegs een persoon besit (Zimmerer & Scarborough, 2008: 163). ‟n Eenmansaak is nie ‟n selfstandige wetlike entiteit nie, maar kan gesien word as ‟n verlenging van die eienaar se bates, maar die eienaar moet ook verantwoording doen aan al die krediteure (Longenecker, 2003: 243). Die eienaar as persoon ontvang al die winste, maar moet ook alle verliese dra, risiko‟s neem en alle onkoste betaal. „n Eenmansaak is gewoonlik die vorm wat gekies word om „n onderneming mee te begin en is ‟n sinvolle keuse vir ‟n entrepreneur wat ‟n geleentheid identifiseer en sy vaardigheid/deskundigheid, kapitaal of eie arbeid aanwend tot sy finansiële voordeel. Veral ondernemings wat nie ‟n groot finansieringsbehoefte het nie, of wat persoonlike dienste en goedere verskaf is geneig om as eenmansaak te bestaan (Mohr et al., 2004: 54). Die grootste voordeel wat ʼn eenmansaak het, is dat die eienaar vry van inmenging deur ander in sy/haar besigheid is, maar die grootste nadeel is dat die eienaar se persoonlike eiendom nie gevrywaar is teen krediteure se eise nie. In ʼn eenmansaak is die eienaar nie ʼn werknemer nie en kan dus nie besigheidsvoordele soos medies, ander belastingvrye byvoordele en versekerings voordele op aanspraak maak nie. By die afsterwe of ernstige ongeluk van die eienaar, kan dit ʼn katastrofiese uitwerking op die entiteit hê

indien daar geen boedel of ander wetlike dokument in plek is om die besigheid te laat aangaan nie.

Tabel 5.1: Voor- en nadele van eenmansaak (Zimmerer & Scarborough,

2008: 164, 165)

Voordele Nadele

Eenvoudig om op te rig Onbeperkte persoonlike antwoordelikheid

Goedkoopste om besigheid te begin Beperkte aanlegte en moontlikhede

Wins is eienaar s‟n Gevoel van isolasie

Neem besluite alleen Beperkte kapitaal

Geen spesiale wetlike beperkinge Geen kontinuïteit van besigheid Maklik om te sluit

Vennootskap

„n Vennootskap bestaan uit twee of meer persone wat saam „n onderneming besit met die doel om ‟n wins te maak (Zimmerer & scarborough, 2008: 166). ‟n Vennootskap is ook nie ‟n afsonderlike wetlike entiteit nie. ‟n Ooreenkoms tussen die vennote bepaal die optrede van die vennootskap. Die maksimum aantal vennote is 20 (Kroon, 1999: 61). In die ondernemingsvorm besit die eienaars al die bates, dra geld, eiendom, arbeid en kennis by, maar moet ook verantwoording doen aan al die krediteure (Kuratko, 2007: 487). Die eienaars as persone ontvang al die winste, maar moet ook alle verliese dra, risiko‟s neem en alle onkoste betaal. Ondernemings wat nie ‟n groot finansieringsbehoefte het nie, of wat gespesialiseerde kundigheid vereis is geneig om as vennootskappe te bestaan (Mohr et al., 2004: 54). ʼn Vennootskap is nie ʼn aparte regspersoon afsonderlik van die individue wat dit saamstel nie (Silke, 2003: 346).

Tabel 5.2: Voor- en nadele van vennootskappe (Longenecker, 2003: 246)

Voordele Nadele

Deel werkslading Interpersoonlike konflik

Deel emosionele las Ontevrede met vennoot

Voorsien uitvoerende talent wat andersins dalk nie bekostigbaar is nie

Afwesigheid van een leier

Deel finansiële las/wins/belasting Verwatering van bates

Kameraadskap Frustrasie om nie eie idees uit te voer nie

Vedere punte deur Zimmerer & Scarborough, 2008 : 167 - 170

Maklik om op te rig Probleme met vennoot se belang by ontbinding

Groter kapitaal Geen kontinuïteit van besigheid

Kan vennote beperk Gebind deur wetgewing

Min wetlike beperkings Aanpasbaarheid

ʼn Vennootskapsooreenkoms moet opgestel word voordat daar met besigheid begin kan word. Indien een vennoot te sterwe kom, moet die vennootskap ontbind word en weer van vooraf met die oorblywende vennote gesluit word. Alle belange moet in die ooreenkoms aangeteken word, byvoorbeeld: salarisse, rentes, ensovoorts. Die verhouding vir die verdeling van winste/verliese moet dus ook duidelik in die ooreenkoms uitgewys word.

Beslote korporasie

„n Beslote korporasie is soos ‟n nagemaakte persoon, „n onsigbaar en denkbeeldige besigheidsvorm wat net volgens wetgewing bestaan en beskik oor die voordele van ‟n selfstandige regspersoon (Kuratko, 2007: 491; Zimmerer, 2008: 174). Dit impliseer dat die entiteit eiendomme mag besit, gedagvaar kan word en dagvaardigings kan uitreik. Die individuele lede word nie aanspreeklik gehou vir bedryfsprobleme wat mag ontstaan nie. Die ledetal van „n beslote korporasie mag nie meer as tien wees nie. Amptelik geregistreerde dokumente, volgens die voorgeskrewe vereistes van die Wet, moet by die Registrateur van Beslote Korporasies wees voordat die entiteit as amptelik beskou kan word (Kroon, 1999: 63: Zimmerer, 2002: 111). ‟n Beslote korporasie word wetlik verplig om jaarliks finansiële state op te stel wat deur ‟n rekeningkundige beampte gekontroleer moet word. Dit is dus ‟n eenvoudiger en goedkoper manier van besigheid doen, maar behou die laer vlak van finansiële aanspreeklikheid van ‟n maatskappy (Van Rensburg, 2008: 42). Dit is wenslik om ʼn samewerkingsooreenkoms op te stel. Indien daar geen sulke spesiale bepaling is nie, word die beslote korporasie dieselfde behandel as ʼn maatskappy vir inkomstebelastingdoeleindes (Silke, 2003: 356). Daar is algemene reëls beskikbaar by die Registrateur van Beslote korporasies wat intree indien daar nie ʼn samewerkingsooreenkoms gesluit is nie. In die lede se samewerkingsooreenkoms moet die lede se bydraes, wat hulle verantwoordelikhede is, asook hoe die winste verdeel sal word duidelik uiteengesit word. Indien die lede enige ander interne reling wil maak, kan dit ook in die dokument vervat word.

Indien ʼn onbevoegde lid van ʼn beslote korporasie wel aan bestuur deelneem en daar bewys gelewer kan word van sy/haar onbevoegdheid, word die individuele lid verantwoordelik gehou vir die gevolge van sy/haar besluite. Geen winsdeling mag plaasvind indien die beslote korporasie se bates nie die laste oorskry nie, of voordat die lede van die entiteit goedkeuring gegee het vir die winsverdeling nie.

Indien ʼn lid van ʼn beslote korporasie te sterwe kom, is dit nie nodig dat die beslote korporasie ontbind nie. Die afgestorwene se aandeel kan oorgedra word aan ʼn geïdentifiseerde persoon/erfgenaam of dit kan verkoop word aan ʼn belangstellende nuwe lid/lede. ʼn Lid kan uittree of ʼn nuwe lid kan bykom ooreenkomstig die besluit wat vroeër in die samewerkingsooreenkoms gedokumenteer is.

Daar is ‟n paar spesifieke vorms van vennootskappe en beslote korporasies wat erken word (Kuratko, 2007: 495). Meer besonderhede is nie nodig vir die doel van die navorsing nie.

Maatskappy

Maatskappye word streng volgens wetlike bepalings tot stand gebring, en beskik oor die voordele dat dit as „n kunsmatige regspersoon apart en onderskeibaar van sy lede kan optree (Silke, 2003: 356). Dit impliseer dat die maatskappy eiendomme mag besit, gedagvaar kan word en dagvaardigings kan uitreik. Die individuele aandeelhouers word nie aanspreeklik gehou vir bedryfsprobleme wat mag ontstaan nie. Daar bestaan heelwat verskille tussen die struktuur en bedryf van private en publieke maatskappye, maar alle maatskappye is verplig om „n geoktrooieerde rekenmeester aan te stel, wat jaarliks die sake van die besigheid kan ouditeer. Daar word dus volledige finansiële rekords van alle transaksies volgens AARP gehou. Die maatskappy word ook belas met die nodige belasting op die wins wat gemaak is. Dividende word aan die aandeelhouers uitbetaal. ʼn Private maatskappy mag ʼn maksimum van vyftig lede hê, terwyl ʼn Publieke maatskappy nie minder as sewe lede mag wees nie. ʼn Privaat maatskappy mag nie sy aandele aan die publiek aanbied vir inskrywing nie, terwyl die publieke maatskappy daarop aangewese is dat die publiek die aandele moet koop. Dit is dus duidelik dat daar nie sprake is daarvan dat die publieke maatskappy se lede mekaar ken nie. Amptelike geregistreerde dokumente, volgens die voorgeskryfde vereistes van die Wet, moet by die Registrateur van Maatskappye wees voordat die entiteit as amptelik beskou kan word (Kroon, 1999: 66).

Aandele kan van aandeelhouers verwissel sonder dat die besigheid geaffekteer word. Die bestuur van die entiteit vind plaas deur die maatskappy se organe, naamlik die direksie, funksionarisse en die ledevergaderings.

Besigheidstrust

‟n Besigheidstrust is „n ondernemingsvorm wat net onder spesiale omstandighede toegelaat word en word onder streng wetlike vereistes bedryf. Daar bestaan twee soorte trusts, „n testamentêre trust en die trust inter vivos. Die testamentêre trust het die versorging van die afgestorwene se afhanklikes ten doel en die inter vivos trust kan vir ander doeleindes gebruik word (gewoonlik vir boedelbelasting doeleindes).

In beide die besigheidstrust en trust inter vivos word „n ooreenkoms met „n tweede persoon aangegaan om besigheid ten gunste van „n derde party te bedryf. Die begunstigdes van die trust mag die trustee insluit. Dit kom geredelik voor waar „n plaas namens ander persoon/persone bedryf word, of soortgelyke omstandighede. ʼn Trustakte moet by die Meester van die Hooggeregshof ingedien word, waarin al die magte van die trustee uitgespel word. Die besigheidstrust is slegs ʼn regsfiguur en nie ʼn regspersoon soos by ʼn beslote korporasie en ʼn maatskappy nie (Kroon, 1999: 68).

Die verdeelde inkomste word in die hande van die begunstigdes belas en die trust word slegs op die onverdeelde inkomste belas. Winste word verdeel volgens die goeddunke van die trustees.

‟n Toenemend gewilde besigheidsvorm is ‟n franchise, gewoonlik deel van ‟n kettingroep met bepaalde bemarkingsvoordele (en finansiële implikasies), wat gekoop kan word om „n besigheid in ‟n spesifieke sektor te bedryf (Kuratko, 2007: 499).