• No results found

HOOFSTUKVYF LIMINALITEIT

5.4 Die limiete van die oorgangsrites

5.4.3 Wat gebeur eintlik in die romanteks?

Die vraag wat ondersoek word in hierdie afdeling, naamlik wat gebeur nou eintlik in die romanteks?, sluit voorlopige betekenisgewing in, maar finale sluiting word verhoed. Die finale betekenis word as 't ware deurgaans uitgestel deur nuwe interpretasies van die romanteks. Dit sluit aan by die Franse filosoof, Jacques Derrida (1930-2004), se gebruik van die woord differance. Hierin word Derrida se woordspel "difference" teenoor "differance" gebruik wat dieselfde uitgespreek word. "Difference" dui op die differensiering tussen die tekens in 'n sisteem waarvan De Saussure gepraat het, die idee dat elke teken 'n eie betekenis het in opposisie tot ander tekens, en "differance" 'n skepping van Derrida na aanleiding van die Franse woord 'differer' (om uit te stel), verwys na die uitstel van betekenis, die

onmoontlikheid om in 'n teksinterpretasie by 'n uiteindelike "vaste punt" te kom (vgl. Van der Merwe & Viljoen, 1998:121-122). Hier word ook genoem dat die

interpretasie van die skildertekste telkens met elke nuwe aanskouer wat dit waarneem, geherinterpreteer word en nuwe betekenismoontlikhede vorm. Dit sluit aan by die gedagte dat die aanskouer in Van Zyl se skildertekste deel uitmaak van die skilderteks, waar betekenisse telkens opnuut gekonstrueer word [vgl. 2.2.4].

Die volgende voorlopige betekenisse word gekonstrueer: Wiid besluit aan die einde van sy skrywe van Memorandum 3 om nie terug te gaan na die hospitaal vir verdere chirurgie nie, ten spyte van die feit dat hy terminaal siek is. Hy keer met ander woorde van sy eersgenoemde hospitalisasie terug, nie as "nuwe mens" soos dit in die drieledige struktuur van die oorgangsrites beskryf word nie, maar steeds as marginale mens wat die diskursiewe formasie, wat die Franse antropoloog, Michel Foucault (1926-1984), in sy teks The technologies of the self (1988) belig, ondermyn. Volgens Foucault gaan "technologies of the self oor die volgende:

...permit individuals to effect by their own means or with the help of others a certain number of operations on their own bodies and souls, thoughts, conduct, and way of being, so as to transform themselves in order to attain a certain happiness, purity, wisdom, perfection, or immortality (Foucault, 1988:18).

Die besluit wat Wiid neem om nie terug te gaan na die hospitaal nie, beteken dat hy op sy eie manier sy einde tegemoet gaan. Hy besluit om teen die voorgeskrewe struktuur, wat deur sosiale strukture afgedwing word, te draai. Wiid skryf die volgende oor sy besluit om nie terug te gaan na die hospitaal nie:

Ek sal hulle bel en aankondig dat ek die operasie kanselleer. Permanent. Ek hoef hulle niks te verduidelik nie. 'n Klein skeduleaanpassing en hulle sal vergeet dat ek ooit op hulle aanboordlys was (Van Niekerk, 2006:121).

Die implikasie van Wiid se besluit hou verband met die feit dat hy gekonfronteer word met die uiteindelike drumpel, naamlik die drumpel van die dood. Sy skrywe kan gesien word as die produk van die liminale toestand wat hy ervaar, waaruit sy nuwe gemeenskapsin (communitas) tot uiting kom. Hierdie punt word in die volgende gedeelte verder uitgebrei.

5.4.3.1 Memorandum: tussen lewe en dood

Die spel tussen lewe en dood word op 'n besondere wyse in die romanteks aangespreek, wat spesifiek ook met laasgenoemde punt verband hou. Dit gebeur deur die karakter Wiid wat as terminale pasient met die uiteindelike drumpel, naamlik die dood gekonfronteer is. Wiid skryf op kreatiewe wyse 'n verhalende memorandum wat gesien kan word as die produk van die liminale fase waarin sy nuwe gemeenskapsin (communitas) tot uiting kom. Hambidge (2007) meen dat om te skryf of te skilder, is om '"n fase, 'n tydperk, 'n waarneming dood te verklaar." Gesien dat die dood die mens se bestaan oorskadu, gebeur dit dan dat Wiid in hierdie laaste fase van sy lewe bestek neem van wat met horn gebeur, wat in sy verlede gebeur het en wat vir horn voorle in die toekoms. Wiid se projek om bestek te neem van sy lewe deur middel van sy skrywe, kan gelees word as tekenend van sy sterwensangs, maar ook van sy opgeskerpte bewustheid van die kortstondigheid van die lewe.

Die woord memorandum word gesien as metafoor vir die romanteks en skakel met die diskoers van herinnering [vgl.2.2.1]. Reeds aan die begin van Memorandum 3 skryf Wiid dat hy by gebrek aan ervaring van hierdie soort stelwerk "met die deur in die huis val in die hoop dat die een ding op die ander sal volg, sodat die leser ten

minste 'n idee kan kry wat gebeur net" (Van Niekerk, 2006:6-7). Die uitdrukking "met die deur in die huis val" bring reeds liminale assosiasies mee, wat die oorgang van een toestand na 'n ander voorstel, en dui op die inhoud van die vertelling, waar Wiid se herinnering aan die nag van 5 Oktober 'n sentrale posisie beklee. Van Gennep (1960:20) skryf oor die betekenis van 'n deur:

The rituals pertaining to the door form a unit, and differences among particular ceremonies lie in technicalities: the threshold is sprinkled with blood or with purifying water; doorposts are bathed with blood or with perfumes; sacred objects are hung or nailed onto them, as on the architrave. Trumbull, in the monograph which he devoted to "the threshold covenant," bypassed the natural interpretation, although he wrote that the bronze threshold of Greece "is an archaic synonym for the enduring border, or outer limit of spiritual domain." Precisely: the door is the boundary between the foreign and domestic worlds in the case of ordinary dwelling, between the profane and sacred worlds in the case of a temple. Therefore to cross the threshold is to unite oneself with a new world (Van Gennep, 1960:20).

In Wiid se vertelling glip "metaforiese taal [...] in sy verslag in" (vgl. Burger, 2007), wat die teks met verskeie diskoerse verbind. Wiid skryf: "My koffer staan van twaalfuur af gepak vir die hospitaal en ek het my voorgeneem om vanaand vroeg in die bed te kom sodat ek die tyd kan neem om myself te kalmeer terwyl ek luister na die lysters en die janfrederike" (Van Niekerk, 2006:9-10). Die woord "koffer" word hier 'n simbool van vertrek. Die voels word 'n simbool van die nuwe gemeenskapsin of communitas. Wiid se skrywe beklemtoon dan ook liminaliteit as basis van die sosiale konfigurasies wat deur sy skrywe sy nuwe gemeenskapsin tot uiting bring.

5.5 Slot

In hierdie hoofstuk van die verhandeling is ondersoek ingestel na die liminale toestande, prosesse en transformasies soos uitgebeeld in die romanteks, Memorandum. Dit is gedoen deur eerstens Van Gennep se drieledige struktuur van die oorgangsrites te gebruik om die pasientkarakters se situasie te ontleed en te interpreteer. Die ondersoek het die intensiewesorgeenheid as liminale ruimte met verwysing na die drieledige struktuur van die oorgangsrites ingesluit, asook die

ondersoek van die preliminale en postliminale fases wat hieruit afgelei is. Die skildertekste is ook deur middel van die drieledige struktuur verken. Vervolgens is die limiete van die drieledige struktuur van die oorgangsrites ondersoek, waar liminaliteit as die basis van sosiale konfigurasies gestel is, eerder as 'n blote fase in die drieledige struktuur. Gevolglik is 'n poststrukturele benadering tot liminaliteit ondersoek deur die onderskeid tussen die dag-aspekte en nagtelike aspekte. Aan die einde van die hoofstuk is die vraag wat die romanteks nou eintlik beteken, na aanleiding van die poststrukturele lesing, aan bod gestel.

Twee spesifieke gevolgtrekkings kan op grond van die voorafgaande gemaak word: die eerste is dat Van Gennep se drieledige struktuur van die oorgangsrites van toepassing is op die romanteks omdat dit besondere betekenismoontiikhede binne die oorgangsrites in terme van die romanteks ontsluit. Hier is gevind dat die hospitaalruimte binne die struktuur besondere implikasies ten opsigte van die preliminale, liminale en postliminale fases van die pasientkarakters en die opeenvolging van die skildertekste bewerkstellig. Die beperkings van hierdie lesing is duidelik wanneer die betekenisse van die onderskeie oorgangsrites alleenlik binne bogenoemde struktuur aan bod kom. Geen meervoudige betekenisse is moontlik nie, dit wil se, geen betekenisse word buite die drieledige struktuur ontgin nie. Die drieledige struktuur word dan ook afgedwing op die teks, wat belangrike gevolge vir die strukturalistiese lesing inhou. Die poststrukturalistiese benadering tot die romanteks maak nie die lesing van die drieledige struktuur ongeldig nie. Hierdie benadering stel 'n verskuiwing van sosiale konfigurasies na vore, waar liminaliteit as basis daarvan funksioneer. Op grond van hierdie benadering is vasgestel dat die teenstrydighede wat as gevolg van die struktuur op die lesing afgedwing word, bepalend is vir meervoudige betekenismoontiikhede in die romanteks wat binne en buite die struktuur ontleed en gei'nterpreteer word.

HOOFSTUK SES