• No results found

RUIMTELIKE KONFIGURASIES

3.2 Die konstruksie van die vertelde ruimte

3.2.2 Die konstruksie van die (vertelde) hospitaalruimte

In hierdie gedeelte van die hoofstuk word ondersoek ingestel na Wiid se vertellings en beskrywings rondom sy belewing van die hospitaalruimte tydens sy eerste hospitalisasie. Wiid verwys eerstens na die naam van die hospitaal, naamlik "Tygerberghospitaal" (Van Niekerk, 2006:20), wat volgens horn "die beste staatshospitaal op die kontinent" (Van Niekerk, 2006:27) is. Die hospitaalgebou word beskryf as 'n "geelgrou ark van bakstene" (Van Niekerk, 2006:42) "gestrand daar op die haai vlakte" (Van Niekerk, 2006:42) met "dooie gras en boumateriaal om sy onderstel, landingsplatforms soos los stukke dok aan die agterkant neergeplak" (Van Niekerk, 2006:42). Die vergelyking "landingsplatforms soos los stukke dok" (vgl. Van Niekerk, 42), is deel van 'n hele aantal seemetafore waarna deurgaans in die verhandeling gewys word. Die seemetafore sluit ook aan by die skildertekste in die "Hospitaalreeks 2004-2006" (kyk Figuur 1,2, 15) waar die see uitgebeeld word. Die vermelding van die "los stukke dok" skakel eweneens met die skilderteks, "Raft of the Medusa" (kyk Figuur 30). Hierdie skilderteks is deur Theodore Gericault (1798- 1863), 'n skilder uit die Romantiek. Die assosiasie met fisiese lyding, skakel met die pasiente aan boord van die hospitaal. Die rylaan na die hospitaal word vervolgens as "ewe onopbeurend" (Van Niekerk, 2006:42) beskryf. Die rylaan se naam is "Francie van Zijlrylaan" (Van Niekerk, 2006:42). Wiid vra: "Wie was Francie? Kon hulle nie maar 'n Francois of Francine gebruik nie?" (Van Niekerk, 2006:42).

Wiid word aanvanklik in die algemene saal opgeneem. Dit is ook hier waar hy vir die eerste keer kennismaak met X en Y na wie hy onderskeidelik verwys as meneer Stoel en meneer Bril (vgl. Van Niekerk, 2006:14). Wiid beskryf die volgende voorwerpe wat hulle by hulle het. Dit sluit in "persoonlike items, medisyne, toiletgoed, pantoffels, vergrootglas, leesbril" (Van Niekerk, 2006:11). Wiid beskryf ook die oortreksels van hulle boeke: "meneer Rystoel se boek was binne-in 'n rooi fluweelsloop met 'n toetrekkoord, meneer Donkerbril s'n oorgetrek met plastiek" (Van Niekerk, 2006:11). Nadat hulle die boeke op die bedkassie langsaan die beddens neergesit het, beskryf Wiid hoe hulle met '"n gemompel en 'n gefladder" die "hoe beddens bestyg" en "probeer nesskop" het "onder die stywe groen lakens" (Van

Niekerk, 2006:11). Die boeke wat X en Y by hulle het, is twee van die belangrikste intertekste van die romanteks, naamlik The poetics of space (1964) deur Gaston Bachelard en The idea of a town (1989) deur Joseph Rykwert. In die volgende afdeling waar ondersoek ingestel word na die wereld van die teks en die wereld van die leser, word verder hieroor uitgebrei, asook in die hoofstuk oor intertekstualiteit (vgl. Hoofstuk Vier).

Verderaan beskryf Wiid 'n volgende insident waar X en Y se houding ten opsigte van die hospitaalpersoneel, maar ook die hospitaalpersoneel ten opsigte van die pasiente uitgebeeld word. Die gebeurtenis handel oor X en Y wat van die algemene saal na die onderskeie operasiesale geskuif word. X vra of hy homself in sy rolstoel kan rol tot by sy bestemming, en Y meen dat hy ook self kan loop tot by die operasiesaal:

Daarop het 'n heftige alterkasie gevolg waartydens die personeel op elke teenwerping van X en Y professioneel bly antwoord het met: Dis teen die reels, of: Dit word nie toegelaat nie. Die personeel het die menere die hele tyd in die derde persoon aangespreek, soos in: Hulle moet nou hulle samewerking gee, asseblief (Van Niekerk, 2006:14).

Hierdie episode eindig waar die saalsuster X en Y aanspreek en vir hulle die vorm voorhou wat hulle by die opname geteken het. Dit beklemtoon die burokratiese aard van die hospitaai as instansie, waar die pasient onderwerp word aan reels en klousules en die pasiSnt (soortgelyk aan 'n klient) onderworpe is aan 'n kontrak. Die vragg wat gevra word is in hoe 'n mate hierdie insident (direk of indirek) bygedra het tot Wiid se besluit om nie terug te gaan na die hospitaai nie. Soos verder in hierdie afdeling geTllustreer word, sou die leser die afleiding kon maak dat meeste van die gebeure in die hospitaai op die aand van 5 Oktober 2005 bygedra het tot Wiid se besluit om nie terug te keer na die hospitaai vir verdere chirurgie nie.

Later die dag word Wiid na die intensiewesorgeenheid verskuif. Wiid vermeld hoe hy om twaalfuur vir "waameming" (Van Niekerk, 2006:16) opgeneem is in die intensiewesorgeenheid. Hy meen dat hy nie "omgegee" het om daar opgeneem te word nie, al was hy "naar en duiselig" (Van Niekerk, 2006:16). Dit was "op daardie

stadium stiller in die ISE as in die algemene saal" (Van Niekerk, 2006:16) en "daar was 'n bietjie van 'n uitsig op 'n binnehof en die verpleegsters was sagmoediger" (Van Niekerk, 2006:16). Teen vyfuur die middag word X en Y aan sy linker- en regterkant "gemstalleer" (Van Niekerk, 2006:16).

Wiid herken eers vir meneer X nadat hulle sy "suurstofmasker afhaal" (Van Niekerk, 2006:16). Hy vermeld dat die verpleegpersoneel eers "die groen gordyne rondom horn toegetrek voordat hulle horn van die trollie af op sy bed oorgetel net" (Van Niekerk, 2006:16). Wiid het "'n glimp [...] van wit omswagtelde ledemate" (Van Niekerk, 2006:16) opgevang wat dui op die amputering van X se ledemate. Y het "ronde sponse op albei sy oe" gehad met "verbande daaromheen om sy kop gedraai" (Van Niekerk, 2006:16) wat dui op Y se oe wat verwyder is. Wiid vertei ook hoe hy angstig geraak het ornrede X en Y sy uitsig op die "buitewereld" versper (vgl. Van Niekerk, 2006:16) as gevolg van die grootte van die mediese fasiliteite. Hy het onmiddellik vir 'n kalmeerpil gevra soos vooraf gereel. Hy noem ook dat sy "geblokkeerde uitsig" (Van Niekerk, 2006:17) sy verbeelding op hoi laat slaan het en dat hy "deur 'n beeld van 'n advertensiebord van 'n strand vol sonbaaiers" (Van

Niekerk, 2006:17) gesteur was.

Die kos in die hospitaal word deur Wiid genoem en beskryf: '"n stuk vaal gestoomde vis, 'n klont pampoen, en 'n loperige skep spinasie. Via en rooi jellie vir nagereg" (Van Niekerk, 2006:16). Terwyl hy aan die kos geproe het, het hy bewus geraak van die "swaar asemhaling" (Van Niekerk, 2006:17) van menere X en Y en het sy kos op die maat daarvan gesny en "vurk vir vurk opgelaai" (Van Niekerk, 2006:17). "Ten minste" skryf hy, het hy nie nodig gehad om "alleen [...] tuis voor my gekookte aartappel te sit nie" (Van Niekerk, 2006:17). Wiid se persoonlikheid word hier illustreer deurdat hy die beste probeer maak van elke situasie, "...soos ek van kindsbeen geleer is, die beste maak van 'n slegte saak en die moeisame asemstote weerskante van my aangewend as 'n pasaangeer. Op die maat het ek my kos gesny en vurk vir vurk opgelaai en weer afgelaai" (Van Niekerk, 2006:17).

Die feit dat die intensiewesorgeenheid as 'n private ruimte bestempel word, word beklemtoon deurdat "slegs naaste familie [...] toegelaat" (Van Niekerk, 2006:18)

word om die pasient te besoek. Y ontvang 'n besoeker wat by die voetenent van sy bed staan en snik. Omdat sy nie die "einde van besoektyd" wou respekteer nie, het die personeel haar "weggelei" (Van Niekerk, 2006:18). X ontvang 'n protea sowel as 'n nota. Daar word wel nie blomme toegelaat in intensiewesorg nie en die is uit die saal verwyder (vgl. Van Niekerk, 2006:18).

Wiid skryf oor die begin van X en Y se gesprek, die volgende:

Met tussenposes het ek my verbeel dat ek woorde kon onderskei, maar dit het lank gevat voordat ek deur my eie ongemak heen agtergekom het dat daar iets aan die gang was tussen die twee, aanvanklik 'n gemompel, wat algaande oorgegaan het in vraende geluide, en uiteindelik iets wat geklink het na 'n gesprek (Van Niekerk, 2006:20).

Wiid poog om met die skryf van Memorandum 3, 'n rekonstruksie van die gesprek tussen X en Y te maak. Die gesprek tussen X en Y handel oor 'n verskeidenheid onderwerpe. Die eerste gesprek wat Wiid kon onthou, word soos volg voorgestel:

Wie het die eerste sin gespreek? Nie Y nie, maar X.

Dit was 'n rondvaart in 'n reguit gang, het hy gefluister, in die patryspoorte

. vierkantige notisies opgehang (Van Niekerk, 2006:32).

Die woorde "rondvaart" en "patryspoorte" (vgl. Van Niekerk, 2006:32) is skeepsmetafore wat weer eens met die see geassosieer word. Wiid meen hy kon wel die uiting nog verstaan. Hy verduidelik soos volg:

Dit kon ek nog volg, al was dit vreemd geformuleer. In al die deure van die hospitaal was daar inderdaad ronde loervensters. Op my eie trollietog deur die lang gange was ek gou die tel kwyt, om nie te praat van die rigting nie. 'n Doolhof was dit, al was alles helder verlig met orals kleurstrepe op die vloer en duidelike naamborde. Soos in 'n stad, het ek onthou het ek gedink op pad na die operasiesaal: Op elke hoek kry jy die helder blou-en-rooi neon van 'n KFC of die groot geel M van McDonald's en dan wonder mens, selfs ek wat alles oplet, of jy om dieselfde blok aan die ry is. In die hospitaal was dit die eenselwigheid van die kleure en die ruimtes wat my laat voel het ek staan stil terwyl ek voortgerol word (Van Niekerk, 2006:32).

Die eenselwigheid van kleure en die ruimtes van die hospitaalruimte word uitgebeeld as 'n doolhof waar die pasient verlore voel. Die betekenis wat hieruit gekonstrueer word, is dat die pasient, wat reeds in 'n staat van angs verkeer (gesien die mediese prosedure - vgl. Addendum 1), nog meer verlore voel in die doolhofagtige gange tussen die verskillende sale. In die hospitaal kan die pasient nie seker wees van enigiets nie. Die beskrywing van die binnekant van die hospitaal is ewe ondraaglik. Y maak die opmerking dat alle beddens in die hospitaal wiele het en meneer X voeg daarby dat alle kaste van glas is (vgl. Van Niekerk, 2006:43). Wiid dink hieroor na en interpreteer dit soos volg:

Dat wat vas is in 'n huis weggewiel kon word in 'n hospitaal? En dat al die beddens en trollies op hulle voorlopige haltes in sale en gange en hysbakke 'n mens laat voel het soos 'n los naaf in plaas van 'n willende persoon? Dat die sigbaarheid van vreemde pypies en knypers in glaskaste alleen hulle onkenbaarheid beklemtoon het? Dat hoe intensiewer jy versorg is, hoe meer uit voeling het jy geraak met jouself as 'n siek mens? Soos meneer Y op 'n stadium gese het: Hulle sorg virjou tot in die puntjies, maarjou sorge is vir hulle geen

sorg nie (Van Niekerk, 2006:44, 46).

Bogenoemde beskrywings van die beddens, trollies, gange, vreemde pypies en knypies in glaskaste word fotorealisties in die skildertekste van Adriaan van Zyl uitgebeeld (kyk Figuur 3, 6, 7 en 12). Hier is dus 'n direkte verband tussen die woord- en beeldteks wat die wereld van die teks, en spesifiek die inhoud daarvan beklemtoon. Die vervreemdende effek wat die hospitaal op die pasient het, word soos volg deurWiid aan dokter Snyman belig:

Het u al opgelet, dokter Snyman, hoe lyk die binnekant van party hospitale? Hulle verf 'n groen streep op die vloer en noem dit Groeneweideweg vir onkologie, of Morestondlaan, pienk vir hartomleidings. Maar geen begeleiding vir die bang gemoed nie. Moet self opsnork en eindelose vorms invul terwyl jou sandjies uitloop (Van Niekerk, 2006:79).

Volgens Wiid het die heftigste gesprek tussen X en Y gehandel oor lyding wat kunsmatig verleng word deur jou hoop op mediese sorg te plaas sodat die mens langer kan lewe. In die rekonstruksie van die gesprek verwys Wiid na die artikel van Ivan I Mich, naamlik "Hospitality and pain" wat in die hoofstuk wat handel oor

intertekstualiteit onder die loep gebring word (vgl. Hoofstuk Vier). Y beskryf in hierdie gesprek die hospitaal met die volgende woorde:

Valhek, waghok, meet, weeg, drukgang, narkosekamer, slagbed, herstelfuik, intensiewesorg (Van Niekerk, 2006:61).

Y stel op dramatiese wyse in die konteks van hierdie gesprek voor, dat in plaas van verlos te word van "redundante dele" , sou hulle beter af gewees het as hulle "die

oerou kuns ars moriendi aangeleer hef (vgl. Van Niekerk, 2006:62). Dit is, volgens

Wiid se navorsing, die volgende:

Artis bene moriendi. (Lat.) Letterkundige tekste 1415-1450 met voorskrifte & tekeninge vir 'n goeie dood. Deemoed, onthegting, lydsaamheid, ens. Aanwending v. hierdie sterwensdeugde op d. regte moment in d. sterfproses heet 'n "kuns" (Van Niekerk, 2006:134).

Om saam te vat: Wiid se beskrywing van die uitbeelding van die hospitaalruimte, sowel as die funksionering van die ruimtelike aspekte wat hierby ingesluit is, maak die leser bewus van die ontwikkeling ten opsigte van Wiid se idees rondom mediese sorg: Wiid se aanvanklike idee oor die hospitaal as instansie, is dat mens dankbaar moet wees vir die sorg wat hulle jou bied; in 'n gesprek tussen X en Y wou hy se dat hulle "bevoorregte kliente in 'n mega-onderrighospitaal" (Van Niekerk, 2006:38) is, maar bedink homself. Die prentjie van die hospitaal, soos in die storie-wereld gekonstrueer, ondermyn die gedagte van Wiid, waar hy die genadelose ruimte en die interaksie tussen personeel en pasient in sy verhalende memorandum beklemtoon. Dit word verder ondermyn en gekompliseer deur X en Y se gesprekke oor die hospitaal as instansie waar geen genade vir die pasient voorsien word nie. Hierdie belewing, wat deur verdere navorsing van Wiid ondersteun word, gee aanleiding tot Wiid se besluit om nie terug te keer na die hospitaal vir verdere chirurgie nie, met die hoop op 'n beter heengaan.