• No results found

HOOFSTUKVYF LIMINALITEIT

5.3 Die oorgangsrites

5.3.3 Die postliminale fase

Die postliminale fase in Van Gennep se drieledige model van die oorgangsrites, is die derde en laaste fase van die oorgangsrites waartydens die inisiant weer simbolies deel gemaak word van die samelewing en 'n nuwe sosiale rol vertolk. In die konteks van Britz (2007:19) se lesing, is die liminale toestand verwant aan die tweede fase by die oorgangsrites, en die postliminale fase die fase waarin X en Y ontslaan word uit die hospitaal en terugkeer na die wereld buite die hospitaal. Dit is wel nie duidelik of X en Y weer teruggekeer het na die wereld buite die hospitaal nie en die moontlikheid bestaan dat X en Y te sterwe gekom het in die hospitaal. Wiid vermeid in Memorandum 3 dat hy na die nag van 5 Oktober by die hospitaal probeer uitvind het wat van X en Y geword het:

En:

Op die gevaar af dat ek die verhaal hier met onnodige uitweidings sal vertraag, wil ek tog vertel hoe ek daar alieen gele het in daardie intensiewesorgeenheid nadat ek teruggekom het van die toetse, hoe ek myself uit my naarheid probeer sus het met die herinnering aan hulle nagtelike simposium [...]. Elke keer as ek my oe oopgemaak het, het ek opnuut geskrik vir die onbesette bed links en die ewe lee een regs. Hoe graag wou ek nie toe vra nie: Verduidelik dit weer, asseblief, meneer X, herhaal dit weer stadig, meneer Y (Van Niekerk, 2006:23- 24).

'n Paar dae na my ontslag het ek meneer X en meneer Y deur die hospitaalinligtingskantoor probeer opspoor, maar is telkens afgesny of moes ure lank luister na telefoonmusiek terwyl ek gewag het om deurverwys te word. Na twee weke, toe ek weer ter been was, het ek gaan navraag doen by die hospitaal, maar na 'n gewag by vier verskillende toonbanke is ek ferm die deur gewys. My poging tot uitleg van die gesprek daardie nag aan die dienspersoneel is gewoon geTgnoreer. Ek is vertel dat inligting oor kliente sonder uitsondering vertroulik hanteer word, en dat, indien dit vir my so belangrik was om in verbinding te bly met hulle, ek hulle adresse en telefoonnommers moes gevra het terwyl hulle nog saam met my in intensief was, waar kliente origens, soos die inligtingsbeampte dit vir my uitgespel het, tydens die kort periodes van afwesigheid van die nagstaf "oorgelaat was aan mekaar se genade" (Van Niekerk, 2006:24-25).

Die enigste bewys van X en Y se bestaan, het voorts dus bly bestaan in Wiid se gedagtes en herinneringe. Wiid vermeld dan ook in Memorandum 3, dat al bewys wat hy gehad het, sy geheue was en die was na sy eie "beproewinge ewe beneweld as hulle s'n en vol deurmekaar stemme" (Van Niekerk, 2006:23). Wiid se liminale toestand duur met ander woorde voort na sy ontslag uit die hospitaal, omdat hy die transformasies wat X en Y se gesprekke meegebring het, in die vier maande van navorsing oor die vreemde gesprek integreer in sy siening van die werklikheid. Britz (2007:19) meen ook dat Wiid 'n "uitgerekte drumpelervaring" beleef, wat aansluit by die laasgenoemde transformasies. Wiid beweeg eers van 'n liminale toestand oor na 'n postliminale toestand, wanneer hy aan die einde van sy skrywe van Memorandum

3 besluit om nie terug te keer na die hospitaal vir verdere chirurgie nie (vgl. Van

Niekerk, 2006:121).

Die postliminale fase word deur verskeie metafore belig. Die gedagte wat Wiid aan die einde van die skryf van Memorandum 3 koester, naamlik om Buytendagh oor te

nooi vir ete (vgl. Van Niekerk, 2006:122), is kenmerkend van die postliminale fase. Van Gennep (1960:24) skryf:

Ceremonies to lift a taboo, to determine who will be the protecting spirit, to transfer the first death, to insure all sorts of future security, are followed by rites of incorporation: libations, ceremonial visiting, consecration of the various parts of the house, the sharing of bread and salt or a beverage, the sharing of a meal.

Wiid dink oor wat hy sal doen wanneer hy tuisbly, in die laaste paar maande van sy lewe. Hy skryf gevolglik:

Miskien kan ek horn [Buytendagh]33 een aand hierdie week oornooi. Ek sal horn

vra om asseblief skoene aan te trek. Ek wil nie he iemand moet dink dat ek boemelaars hier in die woonstel inbring nie.

Miskien kan ek selfs iets maak om te eet, nie dat ek van kook veel ervaring het nie, maar ek kan altyd kyk in my ma se ou ringbandkookboekie of daar iets ligs is wat ek vir horn aanmekaar kan slaan. Soos spaghetti met 'n sous van ryp tamaties en 'n lekker sterk Cheddar oorgerasper. 'n Stokbrood miskien. Hy sal wyn saambring, soos ek horn ken (Van Niekerk, 2006:122).

Hierdie gedagtes is die begin van die Wiid se postliminale fase, waarin hy weer deel word van die sosiale struktuur. Hy skryf dan in die naskrif (vgl. Van Niekerk, 2006:121-124) oor sy "memorandum" wat hy in die aand voor sy hemieude hospitalisasie geskryf het. Die implisiete teks wat hy tot stand bring, kan gesien word as 'n simboliese afgebakende liminale ruimte, waarvan die hoofteks, Memorandum 3 en Addendum 1, 2 en 3 deel uitmaak:

Miskien kan ek dan, nadat die ys gebreek is, die onderwerp aanroer van die memorandum. Hy sal 'n hele boel daaroor te se he, ek is seker. Waarskynlik met die deur in die huis val.

Ek sien dit al. Hy sal die papiere in die lug rondskud, die spot dryf met my onhandige poging. Waarskynlik kort voor lank op die mat rondrol van die lag, die ou jakkals, die trane uit sy oe vee met daardie vod van 'n sakdoek.

Miskien het ek teen daardie tyd self al 'n idee van hoe ek die ding leesbaarder kan maak, die sinne verkort, die paragrawe herrangskik, X en Y se gesprek in meer (of dalk minder?) besonderhede uitwerk, die voetnote voltooi, sodat ek 'n afgeronde stuk kan agterlaat, iets wat Joop eendag as ek nie meer daar is nie in

'n boekie kan bind en op sy rak kan sit by die "Parow-memorabilia", of in die katalogus onder "Memoirs van ons leners".

Of miskien sal dit beter werk as 'n kinderverhaal? Daar was eendag 'n man oor wie se lewer iets geloop het.

Mens moet die rakkertjies aan die raai hou tot reg aan die einde. Ons sou dit kon uitprobeer op 'n Saterdag tydens die jongspan se storieuur. Joop sal my 'n paar idees kan gee. Miskien sal hy na ete by my bly en my help (Van Niekerk, 2006:123-124).

Die implisiete teks word dan 'n simbool van liminaliteit in die drieledige struktuur van die oorgangsrites, wat aansluit by die wisselwerking tussen die wereld van die teks en die wereld van die leser, in hierdie geval waar Wiid se "memorandum" die teks is, en Joop Buytendagh die leser. Wiid beklemtoon hoe hy teen die tyd dat Buytendagh sou kom kuier, reeds verbeteringe aan sy teks aangebring sou he. Hierdie wisselwerking tussen die wereld van die teks en die wereld van die leser speel op fiktiewe vlak op soortgelyke wyse as in die werklike wereld af, waar die leser nie fisies vir die outeur se watter veranderinge sy moet aanbring nie, maar 'n nuwe teks tot stand bring, waarin die narratiewe in die teks tot betekenisvolle kodes verwerk is, wat lei tot 'n beter verstaan van die romanteks.

Wanneer die opeenvolging van die skildertekste in die "Hospitaalreeks 2004-2006" bestudeer word, is daar ook tekens van 'n postliminale fase. Die eerste skilderteks se titel is "Hospitaaldiptiek - Die ingang" (kyk Figuur 1), wat die preliminale fase van die drieledige struktuur in terme van hospitaalverblyf belig, gesien die parkeerarea aan die buitekant van die hospitaal en die wagkamer in die hospitaal self. Die derde skilderteks, "Hospitaal - Aankoms" (kyk Figuur 3), is 'n hospitaalbed waarskynlik in die algemene saal wat die preliminale fase belig. Die blomme op die bedkassie sou die leidraad wees vir hierdie interpretasie, siende daar nie blomme in die ISE toegelaat word nie.

"Hospitaaldiptiek II - Die nag vantevore" (kyk Figuur 5) beklemtoon die temporele aard van die narratief van die skildertekste. Die regterkantste skilderteks wat 'n beeld is van skemer, bring liminale assosiasies mee, en skakel met die dood, die baarmoeder, onsigbaarheid en donkerheid, biseksualiteit, wreedaardigheid, vuilheid en son- en maansverduisteringe (Pina-Cabral, 1997:32-33), asook skemer [vgl.

3.2.1]. Skemer kan simbolies gelees word as 'n oorgangstyd - spesifiek tussen dag en nag, maar met 'n dringender betekenis, wat die diskoers tussen lewe en dood vooropstel. Die skildertekste wat as "stillewes" voorgestel word, naamlik "Operasiesaalstillewe I en II" (kyk Figuur 9 en 10), asook "Hospitaalstillewe I, II en III" (kyk Figuur 11, 12 en 13), kan op konnotatiewe vlak gelees word as stillewes [vgl. 4.4.3], waar die lewelose objekte die vernaamste bron van inligting oor die materiele kultuur van 'n spesifieke samelewing in 'n gegewe tyd bevat. Hierdie lewelose objekte word dan ook gekonnoteer met die liminale fase en belig veral die transformasies wat die pasient in die operasie sou ondergaan. Hier word die instrumente wat uitgebeeld word in die operasieprosedures gebruik.

Die skilderteks, getiteld "Die herstelkamer" (kyk Figuur 14), wys dan op 'n trollie wat, wanneer dit met die woordteks in verband gebring word, dui op die pasient wat geskuif word van die onderskeie operasiesale, na die versorgingsale. Hier is reeds spore van 'n postliminale fase te bespeur, gesien die wieletjies aan die onderkant van die trollie wat suggereer dat die pasient die hospitaal as oorgangsruimte sien, en hy/sy weer terugkeer na die wereld buitekant die hospitaal. Die postliminale fase beklemtoon dan ook dat die pasient terugkeer na die sosiale struktuur, as "ander" mens, gesien die uitslag van die mediese prosedure.

5.3.4 Gevolgtrekking

Die preliminale fase, die liminale fase en postliminale fase is onderskeidelik van toepassing gemaak op die pasientkarakters X, Y en Wiid se ervaring van die hospitaal as deel van die oorgangsrites. Die skildertekste is ook in verband gebring met die drieledige struktuur van die oorgangsrites. Wat hier opvallend is, is dat die skildertekste, soortgelyk aan die woordteks, ingepas kan word binne die drieledige struktuur van die oorgangsrites. Hierin staan dan ook 'n parallelle vertelling voorop, wat die narratief in die skildertekste soortgelyk aan die woordtekste beklemtoon. Vervolgens word ondersoek ingestel na die limiete van die drieledige struktuur van die oorgangsrites.