• No results found

2.4 ENKELE MODELLE WAARDEUR WAARDES GEVESTIG KAN WORD

2.4.3 Waarde-uitklaringsmodel

Die waarde-uitklaringsmodel het as uitgangspunt dat die moderne jeug in ʼn komplekse wêreld leef waarin verskeie teenstrydige en verwarrende waardes aan hulle opgedring word. Die talryke waardes wat deur politiese, godsdienstige en morele kodes op die jeug afgeforseer word lei tot ʼn morele krisis en noodsaak ʼn effektiewe benadering tot waardeopvoeding wat die jeug sal bemagtig om verantwoordelike waardeoordele te maak (Chazan, 1985:46). Hierdie benadering wil kinders toerus om self hulle eie waardes te kies wat vir hulle belangrik is.

“Values clarification attempts to help the individual decide what to value … The model is an attempt to help people decrease value confusion and promote a consistent set of values through a valuing

process … The values clarification process is designed to promote intelligent value choices through a process of choosing, prizing, and behaving” (Hersh, Miller en Fielding, 1980: 74 en 75).

Voorstanders van die waarde-uitklaringsmodel is onder andere Raths, Harmin en Simon (1978) en tot onlangs toe ook Kirschenbaum (2000). Kirschenbaum het egter die tekortkominge van die waarde-uitklaringsmodel besef en staan tans ‘n meer samevattende (“comprehensive”) benadering tot waardeopvoeding voor (Kirschenbaum, 2000: 4 – 20).

Volgens hierdie benadering tot waardeopvoeding word waardes beskou as rigtingwysers vir optrede (Raths, Harmin en Simon, 1978:26; Hersh, Miller en Fielding, 1980:76). Hierdie beskouing stem ooreen met die omskrywing van waardes in hoofstuk 1 (paragraaf 1.4.2). Wat egter vir die voorstanders van waarde-uitklaring belangriker is, is die proses waarvolgens ʼn persoon sy waardes kies: “’How did she get her ideas?’ is a more fundamental question for us than ‘What did she get?’ … Giving a person a process of valuing is giving them something that should serve them well and long” (Raths, Harmin en Simon, 1978:8).

Volgens Raths, Harmin en Simon (1978:26-28) kan daar net van ʼn waarde gepraat word wanneer daar aan die onderstaande kriteria van waardeskepping voldoen word. Die sewe kriteria is:

i. vrye keuse: die persoon moet voel hy het ʼn betrokke waarde self gekies. Wanneer waardes vir iemand gekies word, is hy nie so toegewyd om dit na te streef nie as wanneer hy dit self gekies het nie. ii. keuse uit alternatiewe: indien ʼn persoon self waardes kan kies,

impliseer dit dat hy ʼn keuse uit verskeie alternatiewe moet maak;

iii. deeglike oorweging moet geskenk word aan die gevolge van die verskillende alternatiewe: daar word kognitief met die keuse van waardes omgegaan. Die persoon moet verstaan wat die implikasie is van die waarde(s) wat gekies word;

iv. waardes wat gekies is, moet gekoester word: die persoon moet gelukkig wees met die waardes wat hy gekies het;

v. bevestiging: die persoon is bereid om aan ander bekend te maak watter waardes hy kies en voorstaan;

vi. optrede: optrede moet gerig word volgens die waarde wat gekies is. Die persoon se lewe moet deur die nuut gekose waarde(s) beïnvloed en verander word; en

vii. herhaling: waardes moet by herhaling toegepas en uitgeleef word. Die drie prosesse waarop waardes gebaseer is, is daarom die proses van keuse (i-iii), bevestiging van waardes (iv en v) en ooreenstemmende optrede (vi en vii). Verskillende metodes wat gebruik kan word om waardes te vorm, sluit in: groepbesprekings van morele dilemmas, die rangskikking van waardes in rangorde, stemming waar moraliteit afhang van die demokratiese meerderheid op ʼn spesifieke tydstip en verhelderende response (De Klerk, 2003:52).

Die waarde-uitklaringsmodel stem filosofies ooreen met Rousseau se siening dat die mens van nature goed is. Daarom kan die kind aan homself oorgelaat word sodat hy sy “natuurlike goedheid” kan ontwikkel. Hattingh (1991:247) voer aan dat waarde-uitklaring nie in ag neem dat kinders nie altyd gereed is

vir die abstrakte denke wat vereis word vir die toepassing van die sewe kriteria van waardeskepping nie. Boonop word daar ook nie voorsiening gemaak vir die individuele gereedheidsvlak (kognitief, emosioneel, fisies en moreel) van die kind nie.

“Indien volwassenes nie duidelike riglyne neerlê waardeur die toelaatbare en die ontoelaatbare van mekaar onderskei word nie en die nog nie volwasse kind daarom te gou gedwing word tot volwasse, onafhanklike besluitneming, word gevoelens van onsekerheid beleef, as gevolg van die afwesigheid van opvoedingsgesag wat hom/haar beveilig” (De Klerk, 2000:348).

Verdere kritiek is dat daar te veel klem geplaas word op gevoel. Kilpatrick (1993:81) skryf dat hierdie benadering gevoel omtrent gelykstel aan waardes. Wanneer kinders voel dat drink, rook, afkyk in toetse, seks en stokkiesdraai vir hulle voldoen aan die sewe kriteria van waardeskepping, is daar niks (volgens hierdie benadering) wat ʼn onderwyser kan doen om die kinders anders daaroor te laat dink nie. Hierdie oorbeklemtoning van gevoel kan juis daartoe lei dat kinders later nie meer tussen waardes en emosies sal kan onderskei nie. Kilpatrick (1993:81) kritiseer hierdie benadering verder daarvoor dat die skynbaar waarde-neutrale benadering wat deur opvoeders gevolg word in waarde-uitklaring, eintlik aan kinders die boodskap oordra dat waardes relatief is. Die keuse tussen verskillende tipes jogurt en die keuse vir of teen voorhuwelikse seks is ewe belangrik. “There is an attempt to avoid predetermined standards, to encourage open discussion and inner-reflection, but without reference to any particular intellectual or moral paradigm” (Purpel, 1991:310).

Kirschenbaum (2000:10) was aanvanklik ʼn voorstander van waarde-uitklaring, maar het later tot die besef gekom dat daar tekortkominge in die benadering is en dat dit in samewerking met ander waardeopvoedingsbenaderings gebruik moet word om effektief te wees:

“It (met ander woorde waarde-uitklaring – CJS) took traditional values for granted. It assumed that people had within them enough

decent goodness, intuitive understanding of right and wrong, fairness and justice, and strength of character that … they would ultimately make good and responsible choices … it was … training in traditional values that had helped develop their sense of right and wrong, conscience, empathy, and responsibility to a sufficient degree that values clarification techniques could work” (Kirschenbaum, 2000:10).

Waarde-uitklaring het volgens Kirschenbaum (1992:774) ook ʼn belangrike bydrae tot waardeopvoeding gelewer. Dit het skole en ander opvoedkundige instansies bemagtig om morele kwessies openlik te bespreek. Dit het ook praktiese tegnieke bekend gestel waarmee leerders nou oor hierdie morele kwessies kon reflekteer en wat hulle kon motiveer om hulle eie mening openlik uit te spreek. Dit het bewys dat leerders van verskillende agtergronde en intellektuele vlakke saam oor waardes kan gesels en ʼn ervaring van sukses en eiewaarde kan hê. En dit het die belangrikheid van onafhanklike denke en die reg om te mag verskil, beklemtoon. “It faded from prominence, though not from use” (Kirschenbaum, 1992:774).