• No results found

DIE TAAK VAN DIE SKOOL EN ʼn POSITIEWE SKOOLKLIMAAT

Die volgende beginsels vir effektiewe en omvattende karakteropvoeding in skole is deur die Character Education Partnership geformuleer:

(i) etiese kernbeginsels as die basis van ʼn goeie karakter word bevorder;

(ii) karakter word omvattend gedefinieer sodat met begrip daaroor gedink en opgetree kan word;

(iii) ʼn uitgebreide, intensionele en effektiewe benadering tot karakteropvoeding word gebruik;

(iv) ʼn versorgende skoolgemeenskap word geskep; (v) leerders kry genoeg geleentheid vir morele optrede;

(vi) ʼn sinvolle en uitdagende akademiese kurrikulum word ingesluit waar alle leerders gerespekteer word, hulle karakter ontwikkel word en almal welslae kan behaal;

(vii) daar is ’n strewe om leerders se selfmotivering en selfbemagtiging te ontwikkel;

(viii) die skool se personeel is almal verbind tot karaktervorming en tot die etiese kernbeginsels wat by die leerders gevestig word;

(ix) ʼn gedeelde morele leierskap en langtermynondersteuning vir die karakteropvoedingsinisiatief word gevestig;

(x) die gesinne en gemeenskap word as vennote in die karakteropvoedingsprojek betrek; en

(xi) die skool se karakter, personeel as karakteropvoeders en die mate waartoe die leerders goeie karakter openbaar (word voortdurend geëvalueer voortdurend

Alhoewel skole se behoeftes en die leerder- en gemeenskapsamestelling verskil, het skole van karakter een gemene deler: hulle is daaraan toegewy om die kind in sy geheel op te voed. Sodanige skole ontwikkel die leerders op akademiese, sosiale en etiese/morele gebied deurdat karakteropvoeding deel uitmaak van al die kurrikulum-, sport- en kultuurbedrywighede. Sekere kern- etiese waardes word gedefinieer en eksplisiet uitgelig sodat alle lede van die skoolgemeenskap daarmee vertroud is. Hierdie waardes word gedefinieer ten opsigte van optrede en dan word daarvolgens opgetree, die voorbeeld word deur die onderwysers gestel en dit word bespreek sodat dit die basis uitmaak van alle menslike verhoudings by die skool (Character Education Partnership, 2005). Alle betrokkenes by die skool weet watter waardes deur die skool voorgestaan word en watter optrede van elkeen verwag word. Die waardes beïnvloed die hele skoolklimaat omdat dit dan ʼn integrale deel van die versteekte kurrikulum vorm.

Wanneer daar gepraat word van ʼn skoolklimaat, word die HAT se definisie van die woord klimaat aanvaar, nl. die “gees” (besielende krag) wat in die skool heers. ʼn Klimaat wat deur kernwaardes onderlê word, beteken dus dat die optrede van die betrokkenes by die skool besiel/aangedryf word deur die waardes wat geïdentifiseer is.

De Roche en Williams (1998:66) beklemtoon dat ʼn skoolklimaat van waardes, eerder as individuele programme, die groot rolspeler is wat die leerders se karakter kan verander:

“The hidden curriculum consists of the events, situations, and incidences that occur on a regular basis that may be planned or unplanned, anticipated or unanticipated. The overall school climate is a reflection of all of the combined aspects of the hidden curriculum and its effects on all of the people that enter the school. School

climate is a major factor affecting character education because it can negate the effects of any formal program”.

Heath (1994:313) voel ook baie sterk oor ʼn positiewe skoolklimaat: “It is a school’s climate of values, not just its specific programs, that alters character”. Die word klimaat word dikwels in die literatuur oor karakteropvoeding saam met die begrip verborge kurrikulum gebruik. Leming (in Lockwood, 1997:23) vergelyk hedendaagse karakteropvoeding met karakteropvoeding in die 1920’s en 1930’s en kom tot die slotsom dat karakteropvoeding soos dit vandag geïmplementeer word, baie meer suksesvol is. Hy verwys dan na die verborge kurrikulum en die bewustheid daarvan as een van die redes waarom karakteropvoeding vandag ʼn groter sukses is:

“… current (character education) programs possess a greater core awareness of the role of the hidden curriculum and the importance of school climate … earlier approaches (to character education) did not devote as much attention to the indirect influences on what kids learn and how they learn it”.

Purpel (1991:310) sien die omvang, en daarom die invloed van die verborge kurrikulum op die leerders as groter as net dit wat alles in die skool gebeur:

“The recent research into the hidden curriculum, however, has revealed that the agenda of the schools is larger than the explicit list of courses, syllabi, and programs. Schools also are themselves influenced by particular social and cultural orientations, values, and beliefs. We have come to see in recent research how the schools are not and cannot be neutral, that they are active participants in cultural politics. Schools inevitably make morally important decisions in such areas as grading, tracking, curriculum, and what constitutes appropriate teacher and student behaviour.”

Op grond van 20 jaar se navorsing oor skoolklimaat en die verborge kurrikulum, maak De Roche en Williams (1998:66, 67) die volgende aanbevelings:

• vasgestelde reëls en prosedure, beloning en penalisering, byeenkomste en eerbewyse is belangrik;

• ʼn positiewe werksverhouding tussen die skool se personeel, ouers en gemeenskap bevorder ’n positiewe skoolklimaat;

• die fisiese omgewing van die skool moet skoon en netjies wees om ʼn aangename en veilige werksomgewing te skep; en

• die skoolklimaat moet deurtrek wees van ʼn suksesverwagting en suksesbelewing, en sukses moet ook tydens byeenkomste beloon word; Dit sou kon insluit toekenning van sertifikate vir Klas Van Die Week, beloning en erkenning van enige sukses wat ook in ekstrakurrikulêre aktiwiteite behaal word en ʼn algemene positiewe verwagting wat deur die onderwysers se taalgebruik, woordkeuse en optrede weerspieël word.