• No results found

SKEMATIESE VOORSTELLINGS VAN KARAKTEROPVOEDING

Die wese van karakteropvoeding word geïllustreer deur die onderstaande drie skemas of modelle wat uit verskillende hoeke na karakteropvoeding kyk, maar

in wese op dieselfde neerkom.

3.4.1 DeRoche en Williams se model (DeRoche en Williams, 1998:xxiii)

Figuur 3.1: Komponente van ‘n Omvattende Karakteropvoedingsraamwerk

(DeRoche en Williams, 1998:xxiii)

Die vervlegtheid van akademiese prestasies en karakteropvoeding word duidelik deur die model geïllustreer, asook die feit dat onderwysers, leerders, ouers en die gemeenskap saamwerk om karakteropvoeding te laat plaasvind. Volgens DeRoche en Williams (1998:23, 24) is die gesin die belangrikste rolspeler in kinders se morele opvoeding, maar die gesin kan nie die opvoedingstaak alleen behartig nie. Die gemeenskap en die skool moet die gesin ondersteun in morele opvoeding. Hulle voeg dan by:

“It is our belief that character education is a planned effort by the whole community … to assist children and youth in becoming morally literate adults. Schools and community agencies should help parents provide children and youth with a moral road map or compass” (De Roche en Williams, 1998:24).

3.4.2 Lickona se model (Lickona, 1991:69)

Lickona se omvattende model is gebaseer op drie fasette van morele

Figuur 3.2: ‘n Omvattende Benadering tot Karakteropvoeding (Lickona, 1991:69)

opvoeding: morele kennis, morele gevoel en morele optrede. Dié model toon hoe ʼn karakter, gebaseer op die kernwaardes, respek en verantwoordelikheid, gevorm kan word deur verskillende klaskamerstrategieë en ook deur strategieë wat verder gaan as die klaskamer. Dié strategieë sluit onder andere in vennootskappe tussen die skool, ouers en gemeenskap, ʼn positiewe morele skoolklimaat en versorging ook buite die skool en klaskamer.

In die heel binneste sirkel is die twee universele morele waardes wat die kern van moraliteit uitmaak, naamlik respek, wat respek vir die self, respek vir ander se regte en waardigheid en respek vir die omgewing insluit. Verantwoordelikheid is die aktiewe deel van moraliteit en behels omsien na die self en ander en die bou van ʼn beter wêreld.

Karakter omsluit die totale persoon en het daarom implikasies vir wat die persoon weet (hoof), voel (hart) en doen (hand). “Moral knowing”, of die kognitiewe keerkant van karakter, behels die onderstaande: evaluering of iets reg of verkeerd is, kennis van morele waardes en die vermoë om ʼn saak vanuit ʼn ander persoon se perspektief te sien, morele redenering, besluitneming en selfkennis. Die emosionele kant van karakter behels dat ʼn persoon hom daartoe verbind om die regte morele keuses te maak, ʼn goeie selfbeeld te hê, empatie met ander te hê, lief te wees vir dit wat goed en reg is en selfbeheersing en nederigheid te toon. Dit wat die persoon voel en weet, moet neerslag vind in optrede. Hierdie morele aksies behels die bevoegdheid om emosie in dade te omskep, wilskrag en goeie gewoonte.

Die tweede sirkel dui aan wat die onderwyser moet doen om die karakter, soos beskryf in die heel binneste sirkel, te vorm. Dit beskryf ʼn onderwyser wat omgee, ʼn morele klaskamerkultuur skep, morele dissipline vestig deur reëls en inoefening, ʼn demokratiese klasatmosfeer skep, akademiese vakke gebruik as vormingsmiddel van karakter, koöperatiewe leer gebruik, akademiese verantwoordelikheid vestig, morele metakognisie aanmoedig en die leerders leer hoe om konflik te hanteer.

Die buitenste sirkel verduidelik die rol wat die skool speel ten opsigte van karakterbou. Dit behels dat rolmodelle van buite die skool betrek word, ʼn skoolklimaat geskep word waardeur die waardes wat in die klas gevestig word, verder versterk en bevestig word en laastens dat die gemeenskap en ouers aangemoedig moet word om deel te wees van die karakteropvoedingsproses. Die twee modelle sê inhoudelik dieselfde. Die klemverskil lê daarin dat

DeRoche en Williams in hulle model fokus op die samewerking tussen die verskillende rolspelers van karakteropvoeding en karaktervorming (ouers, gemeenskap, onderwysers en leerders) met die kurrikulum as vertrekpunt.

Lickona se model fokus op die karakter wat gevorm word, op respek en verantwoordelikheid en opmorele wyse ken, voel en optree.. Alle karakteropvoedingsaktiwiteite behoort daarop gefokus te wees.

3.4.3 Navorser se eie model

Karakteropvoeding kan ook op ʼn derde wyse skematies voorgestel word:

Figuur 3.3: Alternatiewe skematiese voorstelling van Karakteropvoeding

Bostaande is ʼn eenvoudige skematiese voorstelling van karakteropvoeding. Die ouers, skool en gemeenskap lewer almal bydraes tot die karakteropvoeding van die kind. Kernwaardes word aan die kind voorgehou, bespreek en gemodelleer sodat kernwaardes ingeskerp kan word. Die negatiewe is ook waar: indien die ouers, skool of gemeenskap negatiewe waardes modelleer, word dit ook aan die kind oorgedra en kan dit deel word van die kind se waardestelsel. Hier word verwys na paragraaf 5.4.3 waar bespreek word hoe negatiewe waardes deur die ouers en gemeenskap die skool se karakteropvoedingsprogram kan ondermyn.

SKOOL OUERS

GEMEENSKAP

KIND

Die pyltjies wat van die kinders na die skool, ouers en gemeenskap wys (en andersom) dui daarop dat die rolspelers by mekaar betrokke is. Net soos wat die skool, ouers en gemeenskap bemoeienis maak met die kind deur kernwaardes te vestig, net so reageer die kind op hierdie bemoeienis en raak by die gemeenskap betrokke deur verskeie sosiale aksies.

Dis ook belangrik om daarop te let dat kinders gesien word as eie persoonlikhede met unieke karakters, wilskrag en verwysingsraamwerke. Daarom is daar ʼn wisselwerking tussen die kind en die kernwaardes: die kind beleef, toets, besluit en kies op die ou end self watter waardes hy gaan aanvaar en internaliseer.