• No results found

KEUSE VAN WAARDES BY KARAKTEROPVOEDING

Wanneer daar oor karakteropvoeding gepraat word, word heel eerste gevra watter waardes aan die leerders oorgedra gaan word. Geloofs-, kultuur- en etniese verskille tussen landsburgers en dus ook leerders, lei daartoe dat die keuse van waardes ʼn sensitiewe saak in ʼn multikulturele samelewing soos Suid-Afrika raak waarin menseregte ʼn prominente rol speel.

Die hewige debat oor wie se waardes en watter waardes onderrig moet word, word egter oorskadu deur ouers en onderwysers se bekommernis oor wat van die jeug van die 21ste eeu gaan word. Volgens Kilpatrick (1997) het die Amerikaners in die 1970’s en 1980’s dit aan leerders self oorgelaat het om hulle waardes te kies:

“We thought that if parents and teachers refrained from teaching values, youngsters would be free to think for themselves. But that is not what happened. Instead youngsters were left to the mercy of the peer group and the media. And, of course, the media had no hesitation about imposing its own values on children.”

Die keuse van watter waardes gevestig behoort te word, kan dus nie aan die leerders alleen oorgelaat word nie. Die onus rus nou weer op die onderwys om vandag se jeug toe te rus met ʼn waardestelsel wat sal werk in ʼn pluralistiese samelewing. Dit is dan ook waaraan die Manifes oor Waardes, Opvoeding en Demokrasie in Suid-Afrika sy ontstaan te danke gehad het, naamlik die noodsaaklikheid van ʼn waardedokument waarin riglyne gegee kan word vir die opvoeding van Suid-Afrikaanse jeug. Alhoewel professor Wilmot James (DvO, 2001:iii) skryf dat “(t)here is no intention to impose values, but to generate discussion and debate …”, word daar tog in die dokument tien kernwaardes geïdentifiseer wat in Suid-Afrika prominensie behoort te kry.

Waardeopvoeding is onafskeidbaar deel van wat in die klaskamer gebeur. Waardes word implisiet onderrig waar onderwysers byvoorbeeld die leerders se

aandag op netheid, respek vir ander, werksetiek, eerlikheid, verantwoordelikheid en hardwerkendheid fokus, waar stiptelikheid by die inhandiging van huiswerk beklemtoon word en hoflikheid teenoor die onderwyser en klasmaats aangemoedig word. Hierdie waardes is inherent deel van die skoolstelsel en ook deel van die kultuur waarin die skool funksioneer. Die blote bestaan van ʼn skool bevestig bogenoemde waardes (Damon, 1988:131, 132). Alles wat in die klaskamer gebeur, het waarde-implikasies: “… anything you do in your classroom is character education. If you’re yelling at the kids, that’s character education, but what are you teaching them? … You are not tolerant, so you encourage them to become intolerant” (Lockwood, 1997:44).

Dit lei weer tot die vraag watter waardes dan onderrig moet word. Hoe kies die onderwyser watter waardes in sy of haar klas onderrig en uitgeleef moet word sonder om enige geloofs- of kulturele groepering te na te kom of te bevoordeel? Lickona (1991:38) verdeel morele waardes in twee groepe: universele morele waardes soos byvoorbeeld regverdigheid, respek, gelykheid tussen mense en vryheid van ander, en nie-universele morele waardes, met ander woorde die waardes waarvoor ʼn persoon persoonlik verplig voel soos vervat in sy godsdienstige oortuiging. Hierdie waardes mag nie op ander afgedwing word nie. “Universal moral values … bind all persons everywhere because they affirm our fundamental human worth and dignity”. Damon en Colby (1996:35) steun Lickona se siening aangaande kernwaardes wat universeel geldig is wanneer hulle sê:

“Although the nature of the consensus will vary to some extent from one community to another and a complete consensus will not be possible even within most communities, there are some core values that most adults in most communities will have in common”.

Bostaande siening dat universele morele waardes geld, word verder ondersteun en uitgebrei deur Covey (1999:32-35). Hy praat van “natuurlike wette” wat deel uitmaak van elke mens se samestelling en gewete, ongeag geloofsoortuiging, etniese groepering, politieke oortuiging of sosio-ekonomiese

status. Volgens Covey bestaan hierdie natuurlike wette of beginsels in alle mense, of hulle daaraan gehoor gee of nie. Die beginsels waarna hy verwys, is regverdigheid, waaruit die konsepte billikheid (“equity”) en geregtigheid (“justice”) voortvloei, integriteit en eerlikheid wat vertroue in enige verhouding skep, menswaardigheid en diens. Hierdie beginsels is volgens hom diep fundamentele waarhede wat universeel geldig is en wat ander waardes in die regte rigting stuur. Hierdie waardes voldoen aan die klassieke etiese toetse van omkeerbaarheid, met ander woorde “Wil jy op dieselfde manier behandel word?” en veralgemening, met ander woorde “Wil jy hê dat alle mense op dieselfde wyse moet optree in ʼn soortgelyke situasie?”

Kilpatrick (1997) ondersteun ook die idee van universele waardes wat deur talle gemeenskappe erken word: “The trick, in both traditional and individualistic societies, is to help a youngster develop a set of universal values: an objective set of principles by which he can judge both the media and his own behaviour.” Dit is hierdie universele waardes waaraan vandag se jongmense blootgestel behoort te word en wat by hulle ingeoefen behoort te word. Post-moderne denkers stem nie daarmee saam dat algemeen-geldige waardes identifiseer kan word nie. Universele waardes behoort, volgens hulle, gekontekstualiseer te word. Maar selfs wanneer waardes in konteks gesien en bespreek word, word daar teruggekeer na dieselfde waardes wat oor geloofs- en kultuurgrense heen strek, soos blyk uit die volgende: In Afrika-konteks kan die universele waardes saamgevat word onder die begrip ubuntu (“menslike waardigheid”). Mbigi en Maree (in Beets en Van Louw, 2005:185) identifiseer die waardes wat vervat word in ubuntu as groepsolidariteit, inskiklikheid, deernis en ontferming, respek, menswaardigheid en ‘n kollektiewe eenheid. Universele waardes in ‘n Afrika-konteks manifesteer dus as ubuntu “...with a long and profound tradition of humanistic concern, caring and compassion, as well as preoccupation with humanness...” (Horsthemke en Enslin, 2005:67). Ramphele (in Horsthemke en Enslin, 2005:67) voeg egter hierby: “Ubuntu as a philosophical approach to social relationships must stand alongside other approaches and be judged on the value it can add to better human relations in our complex society.” Ubuntu kan daarom beskou word as die kontekstualisering van universele waardes in ‘n

Afrika-konteks, sonder om die identifisering van universele waardes te weerspreek.

Die Manifes oor Waardes, Opvoeding en Demokrasie erken ook dat daar universele waardes bestaan: “… which transcend language and culture …” (DvO, 2001:iv). Tien fundamentele waardes is in die Manifes geïdentifiseer wat in Suid-Afrikaanse skole die basis van waardeopvoeding kan vorm. Van daardie tien waardes kan die waardes van menswaardigheid, verantwoordelikheid en respek as universele waardes beskou word. Die Manifes word in hoofstuk 4 meer volledig bespreek.