• No results found

STRATEGIE BINNE PREDIKING

4.4 AGS VANDAG

Die AGS is tans meer as ‟n honderd jaar oud (Burger & Nel 2008b: 472). Die AGS se leerstellinge het wortels wat vanaf die Nuwe Testamentiese tyd regdeur die kerkgeskiedenis loop (Möller 1989: 5). Dit onderskryf die belangrikste leerstellings van die sentrale en behoudende Christendom, soos geformuleer in die Apostoliese Geloofsbelydenis (Möller 1989: 5):

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde; En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;

Wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig, gestorwe en begrawe is, en in die doderyk neergedaal het;

Wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

Opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader, vanwaar Hy sal kom om te oordeel die lewende en die dode.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ‟n heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges; Die vergewing van sondes;

Die wederopstanding van die vlees; En ‟n ewige lewe.

128 Volgens Möller (1989: 5) is daar egter drie belangrike verskilpunte tussen die AGS en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK), en die Gereformeerde Kerke (GK), die bekende susterskerke van Suid-Afrika (Köning 2010: 1):

Die Doping in die Heilige Gees en die Gawes van die Gees: Die AGS, saam met talle ander Pinksterkerke reg deur die wêreld, verwerp die idee dat die Heilige Gees vandag anders werk as in die Nuwe Testamentiese tyd (Möller 1989: 5). Die beoefening van die “Gawes van die Gees” word vandag nog in die AGS toegelaat, en sluit ‟n woord van wysheid, ‟n woord van kennis, geloof, gesondmaking, wonderwerke, profesie, onderskeiding van geeste, talespraak en uitleg van tale in (Krüger 1985: 3). Die Heilige Gees word gesien as ‟n helper in die uitlewing van mense se roepings en dienslewering in die kerk, sowel as in die res van die wêreld (Krüger ibid.). Daar word ook baie klem gelê op die “Vrug van die Gees”, ook bekend as liefde, blymoedigheid, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Krüger ibid.).

Die sakrament van die doop: Die AGS glo dat die sakrament van die doop slegs bedien kan word aan persone wat tot geloof en tot bekering gekom het, en dus nie aan suigelinge nie (Möller 1989: 5). Verder moet dit geskied by wyse van indompeling volgens die betekenis van die woord (Grieks: baptizo) en soos wat die doop ook in Bybelse tye bedien is (Möller ibid.). Die AGS wy wel kinders aan die Here toe, maar dit is nie ‟n sakrament, soos die doop, nie (Möller ibid.).

Wyse van aanbidding: Die AGS glo dat lidmate tydens die dienste ‟n veel groter aandeel moet hê as om net kollektes te gee, te sing wat aangekondig word en te luister wat van die kansel af gesê word (Möller 1989: 5). Lidmate kan getuienisse lewer, openbarings uit die Bybel met ander deel, profeteer, spreek in tale en tale uitlê (Möller 1989: 6). Lidmate mag ook op sigbare en hoorbare wyse reageer op die prediking en die opsteek van hande, sowel as die klap van hande, is algemeen aanvaarbaar tydens die sing van prys- en aanbiddingsliedere. Die AGS se metode van aanbidding is dus gesamentlike, jubelende sang, begelei deur ‟n verskeidenheid van musiekinstrumente (Theron 2009: 17 – 18). Gemeentelede mag ook soms neerbuig tydens die aanbiddingsbelewenis (Theron 2009: 18).

129 Hoewel die AGS ‟n liturgiese patroon het, kan dit enige oomblik gewysig word indien die predikant en gemeentelede voel dat dit tot stigting van die gemeente sal wees, mits hierdie wysiging op ‟n ordelike wyse geskied (Möller 1989: 6). Hierdie wysigings kan ook dikwels lei na ‟n uitnodiging, waar persone wat gebed benodig na vore, of na die bidkamer, geroep word sodat hulle daar voorbidding kan ontvang. Die AGS verwerp egter alle vorms van fanatisme en geesdrywery, waar daar deur allerlei psigiese en fisieke tegnieke, sowel as onbeheersdheid in emosies en drange, allerlei individuele en groepseffekte geskep word (Möller 1989: 6). Die standaard liturgiese patroon van die AGS lyk egter soos volg (al sou die diens nie noodwendig in hierdie volgorde verloop nie, sal al die elemente in die diens teenwoordig wees):

verwelkoming en openingsgebed,

opneem van tiendes en offergawes,

 lof en aanbidding, begelei deur voorsangers en ‟n orkes,

prediking, en

afsluiting met gebed en aankondigings.

Die doop van die gelowige is nie die enigste sakrament binne die AGS nie. Die ander sakrament binne die AGS is die gebruik van nagmaal. „n Sakrament is ‟n fisieke handeling of gebeurtenis wat geestelike simboliek of betekenis bevat (Holloway 2010: 2). Die AGS gebruik nagmaal om die dood en die opstanding van Jesus te onthou en te vier (Holloway 2010: 2). Die simbole van die nagmaal is die tafel, wat die familietafel van die kerk simboliseer (Holloway 2010: 2), die wyn, wat Christus se bloed en die vergewing van sondes simboliseer (Holloway 2010: 3) en die brood, wat Christus se liggaam simboliseer wat aan die kruis gebreek is (Holloway 2010: 3). Die nagmaal word gewoonlik een maal per maand aan die hele gemeente bedien, maar mag ook tydens enige ander kerkgeleentheid, of selfs by gemeentelede se huise, bedien word (Holloway 2010: 3). Dit mag ook so dikwels as wat daar ‟n behoefte daarna is, gebruik word. Ouderlinge, diakens en geestelike leiers mag nagmaal bedien en enige persoon met ‟n persoonlike verhouding met Jesus Christus mag nagmaal gebruik (Holloway 2010: 3).

130 Möller (1989: 6) sê dat die AGS vereis dat die predikante die suiwere Woord van God sal verkondig. Daar word baie klem gelê op bekering, bevryding van allerlei bindinge, genesing van siektes, bewuswording van sondes en belydenis daarvan, ‟n diepere insig in die Bybel en die betekenis daarvan in die praktiese lewe, uitskakeling van onderlinge geskille, en bo alles ‟n groter liefde vir God en die medemens (Möller 1989: 6).

Die amp van predikant en leraar in die AGS staan onder die benaming “pastoor” (Möller 1989: 6). Dit is na aanleiding van die Latynse woord vir “herder” en is ‟n term wat algemeen in teologiese kringe gebruik word vir die voorganger van ‟n gemeente. Pastore moet na matrikulasie ‟n minimum van drie jaar teologiese opleiding ontvang en daarna ‟n verdere jaar of meer praktiese skoling in ‟n gemeente ondergaan, alvorens hulle georden mag word (Möller 1989: 6). Die ouderlinge en diakens vorm die gemeenteraad, of kerkraad, onder voorsitterskap van die pastoor. Daar word van alle gemeentelede verwag om ‟n aktiewe deel te hê in evangelisasie, allerlei kerklike aktiwiteite en barmhartigheidswerk, en om in alle afdelings van die sosiale lewe ‟n opbouende en opheffende bydrae te lewer.

Die moderne AGS maak ook gebruik van die selkerk-model. Hier word gemeentelede aangemoedig om deur die week in kleiner groepe van huis tot huis bymekaar te kom, net soos die Nuwe Testamentiese kerk gedoen het (Theron 2009: 19). Die twee pilare van selgroepe, ook bekend as omgeegroepe, is omgee en evangelisasie (Theron 2009: 19). Bestaande gemeentelede moet hier geestelik, emosioneel en liggaamlik versorg word, terwyl ongelowiges vir die kerk gewen moet word (Theron 2009:19). Binne die selgroeptyd sal die selgroeplede met mekaar kuier, die Here aanbid, Bybelstudie doen en soms ook vir mekaar bid (Theron 2009: 19).

Lidmate van die AGS word geleer om ‟n tiende van hulle inkomste aan die werk van die Here in hulle eie gemeente te gee (Möller 1989: 7). Gemeentelede word aangemoedig om opsionele offerande te gee (Theron 2009: 9). Die gee van hierdie offerande geskied uit vrye keuse en word dikwels gebruik vir evangelisasie en vir die versorging van armes binne die spesifieke gemeente (Theron 2009: 9 – 10).

131 Pastore word hoofsaaklik opgelei by die AGS Teologiese Kollege te Auckland Park, Johannesburg, ook bekend as die Aucklandpark Teologiese Seminarium, terwyl ‟n aantal ook aan teologiese fakulteite van universiteite, of by privaatkolleges, studeer. Die twee satellietkampusse van die Aucklandpark Teologiese Seminarium is in Umtata en Durban (Auckland Park Theological Seminary 2010: 1). Die Aucklandpark Teologiese Seminarium het in 1950 met die opleiding van pastore begin (Hattingh 2008: 18). Op 7 Junie 1993 het Aucklandpark Teologiese Seminarium „n samewerkingsooreenkoms met die Universiteit van Johannesburg (toe nog die Randse Afrikaanse Universiteit) aangegaan om grade in Teologie aan te bied (Hattingh 2008: 18). Daar is ook ‟n groot aantal jeugwerkers, kinderwerkers, sendelinge en hospitaalkapelane voltyds of deeltyds in diens van die AGS.

Die AGS het ‟n lang pad die afgelope eeu gekom – van sekte tot hoofstroomkerk. Vandag is die AGS ‟n gerespekteerde kerk wat op verskeie maniere sy plek – in sommige opsigte ‟n toonaangewende plek – in die samelewing volstaan (Jackson 2008: 13).