• No results found

Evaluering van stories deur die gebruik van die Narratiewe teorie

LYS VAN FIGURE

2.6 TEORETIESE KONSEPTE VAN NARRATIEWE TEORIE

2.6.3 Evaluering van stories deur die gebruik van die Narratiewe teorie

Hierdie teorie word gebruik om te bepaal of ‟n storie saamhang en waar lui vir ‟n gehoor (Cragan & Shields s.a.: 162). Die Narratiewe teorie se primêre evaluatiewe konsepte is dus Gehoor, Narratiewe waarskynlikheid en Narratiewe getrouheid (Terblanche & Terblanche 2007: 102). Met behulp van hierdie konsepte kan die mag van narratiewe as ‟n regverdiging van menslike aksie, evalueer word (Cragan & Shields s.a.: 162). Hierdie konsepte bepaal ook die Narratiewe rasionaliteit van ‟n vertelling (Terblanche & Terblanche 2007: 102).

30 2.6.3.1 Gehoor

Stories deel nie net iets oor die wêreld mee nie, maar impliseer ook ‟n gehoor (Terblanche & Terblanche 2007: 102). Die gehoor se belangrikheid lê daarin dat hulle die hoofbepalers van die sukses van ‟n meeslepende storie is (Terblanche & Terblanche 2007: 102). Aangesien mense die natuurlike vermoë besit om die samehang en getrouheid van stories te herken, is hulle aktiewe, ononderdrukbare deelnemers aan die betekenissamestelling van die storie (Terblanche & Terblanche 2007: 102).

2.6.3.2 Narratiewe waarskynlikheid

Narratiewe waarskynlikheid verwys na die gehoor se evaluering van die vertelling se samehang (Cragan & Shields s.a.: 162). Samehang is die komponent wat die storie as geheel in fokus bring (Terblanche & Terblanche 2007: 102).

Fisher (in Terblanche & Terblanche 2007: 102) stel dat narratiewe waarskynlikheid ook verwys na die formele kenmerke van ‟n storie, bedink as ‟n onderbroke opeenvolging van gedagtes en/of handelinge in die lewe of in literatuur. Die vertelling moet dus vry wees van teenstrydighede. Daar is vier vrae wat die gehoor dan hulself moet afvra (Cragan & Shields s.a.: 162):

 Is die storie samehangend?

 Is die storie intern konsekwent of konstant?

 Is die storie konsekwent of in lyn met ander stories oor dieselfde onderwerp wat ons al gehoor het?

 Is die storie in lyn met vorige karakteriserings van die storieverteller?

Fisher (in Cragan & Shields s.a.: 162) het drie maniere voorgestel om die narratiewe waarskynlikheid van ‟n storie te bepaal:

31  Kyk na die storie se strukturele samehang: Hier word gekyk of die storie intern konstant of konsekwent is. Dit beteken dat die dele van die storie bymekaar inpas en dus nie weersprekend van aard is nie (Terblanche & Terblanche 2007: 102).

Ondersoek die storie se materiële samehang: Dit staan ook bekend as eksterne konsekwentheid (Terblanche & Terblanche 2007: 102). Dit dui op die mate waarin die storie rekenskap gee van feite wat as waar bekend staan (Terblanche & Terblanche 2007: 102). Hier word gekyk of enige bewyse vermis word en of enige hoofargumente wat gewoonlik in kompeterende stories as hoofargumente voorkom, vermy word.

Analiseer die storie se karakterologiese samehang: Hier word gekyk of die optrede van die karakters in die verhaal konsekwent en betroubaar is en of die karakters se optrede konsekwent is met dié van die storieverteller. Wanneer daar karaktereienskappe van die storieverteller is wat verskil van die algemene optrede van die karakters in die storie, vernietig dit die storie se materiële samehang, sowel as die karakterologiese samehang (Cragan & Shields s.a.: 163).

2.6.3.3 Narratiewe getrouheid

Narratiewe getrouheid ondersoek hoe waar ‟n storie is. Wanneer hierdie evaluerende konsep gebruik word, toets die navorser om te sien of die storie “waar lui” in vergelyking met ander stories wat min of meer in dieselfde kategorie val (Cragan & Shields s.a.: 163). Fisher (in Cragan & Shields s.a.: 163) beveel twee toetse vir narratiewe getrouheid aan:

 Die toets van rasionele redes.

 Die toets van waardebelaaide goeie redes.

Die toets van rasionele redes vind plaas wanneer ‟n gehoorlid die rasionele argumente van die storie kritiseer en die bewyse binne die storie toets (Cragan & Shields s.a.: 163). Ten einde volgens Fisher te kan besluit of ‟n boodskap waar klink of nie, is daar met betrekking tot die logika van redes in ‟n storie vyf aspekte waarop gelet moet word (Terblanche & Terblanche 2007: 103):

32  Neem in aanmerking of die stellings in die boodskap wat voorgee om “feite” te wees, inderdaad “feite” is. Word die stellings deur konsensus of betroubare getuies bevestig?

 Bepaal of relevante “feite” uitgelaat is en of die “feite” wat aangebied word op enige wyse verwring of buite konteks gebruik is.

 Herken en assesseer die onderskeie redenasiewyses deur hoofsaaklik van die maatstawwe van informele logika gebruik te maak.

 Assesseer die relevansie van die individuele argumente met betrekking tot die uitspraak wat in die boodskap voorkom. Dit gaan nie net oor die deeglikheid van die argumente nie, maar ook oor die mate waarin al die betekenisvolle argumente wat aangewend behoort te word, geïdentifiseer is.

 Oordeel of die boodskap die “werklike” kwessie in die saak direk aanspreek. Oordeel of die boodskap aandag gee aan die vrae waarom die hele saak draai of behoort te draai.

Met betrekking tot die assessering van die waardebelaaide redes wat ‟n rol in die bepaling van die waarheidsgetrouheid van stories speel, het Fisher vyf vrae voorgestel om die waardebelaaide goeie redes van ‟n storie te toets (Terblanche & Terblanche 2007: 104). Dit sluit feite-, relevansie-, gevolge-, konsekwentheids-, en transendente kwessie-vrae in (Cragan & Shields s.a.: 163):

Feite-vraag: Watter waardes word in die storie gereflekteer, hetsy op ‟n implisiete of eksplisiete wyse (Fisher 1987: 109)?

Relevansie-vraag: Is die waardes wat in die storie gereflekteer word relevant, akkuraat en onverdraaid vir die onderwerp wat die storie voorstel?

Gevolge-vraag: Wat is die uitkomste, in terme van die mense wat die vertelling hoor en hul verhouding met ander in die samelewing, wanneer daar gehoor gegee word aan die waardes wat die vertelling bevat?

Konsekwentheidsvraag: Is die waardes in die vertelling konsekwent met die gehoor se waardes, die waardes van diegene wat hulle respekteer en die waardes van ‟n ideale gehoor?

Transendente kwessie-vraag: Al kom die storie as waar voor in ‟n sekere geval, is die waardes in die storie in lyn met die waardes van die idealistiese/moralistiese mite

33 of die materialistiese mite? Dit verwys ook na watter mate die vertelling se waardes die ideale basis vir menslike gedrag voorstel (Fisher 1987: 109).

Wanneer die gehoor die waardebelaaide goeie redes van ‟n storie aanvaar, beskou hulle dus die storie as waar (Cragan & Shields s.a.: 163).