• No results found

FIGUUR 1: TODOROV SE NARRATIEWE FORMULE

2.11 NARRATIEWE STYL

2.11.3 Stilstaande prente

Alleenstaande prente kan nie redes en oorsake uitbeeld nie, dus lê hul primêre narratiewe waarde in die illustratiewe modus (Ryan 2004: 139). Varga (in Ryan 2004: 139) glo dat prente nie ‟n tweede manier is om ‟n verhaal te vertel nie, maar eerder ‟n manier is om ‟n verhaal te herroep. Hierdie stelling is ook van toepassing op musiek en dans.

Prente leef in ‟n simbiotiese verhouding met die oorspronklike, verbale teks (Ryan 2004: 139). In die ideale geval sal die verbale en visuele saamsmelt in die gedagtes van die ontvanger om een kragtige beeld te vorm. Hier vul elke weergawe die leemtes gelaat deur die ander. Stil films en pantomimes val ook in hierdie kategorie.

59 Dit is belangrik om daarop te let dat prente net een punt binne ‟n vertelling kan voorstel (Ryan 2004: 140). Hierdie oomblik of punt staan dikwels bekend as ‟n swanger oomblik, wat die bekendste oomblik binne ‟n sekere narratief sal wees. Die oomblik skep afwagting en voorsien die ontvanger met ‟n reeks narratiewe moontlikhede (Ryan 2004: 140). Elke ontvanger sal hul eie narratief verder skep.

Narratiewe prente het groot geskiedkundige waarde. Die skilderye in die Middeleeuse katedrale het ‟n belangrike kulturele funksie vervul (Ryan 2004: 141). Dit het Bybelse verhale uitgebeeld aan diegene wat nie kon lees nie. Steiner vertel dat hierdie skilderye die ontvangers aan totale vertellings blootgestel het, aangesien daar ‟n reeks skilderye sou wees wat verskillende punte in die verhaal sou uitbeeld (Ryan 2004: 141). Tog sou vooraf-kennis van die verhaal nodig wees om die ware betekenis van die narratiewe prente te verstaan.

Moderne strokiesverhale kan ook gesien word as narratiewe prente. Die basiese storielyn word deur die teks uitgebeeld, maar die sketse bied sterk narratiewe ondersteuning. Verskillende groottes raampies stel verandering in die narratiewe pas voor, ander raampies stel vooruit-flitse voor, die verwydering van raamlyne stel die vergroting van ruimte voor en tematiese herhaling kan ook deur die sketse voorgestel word (Ryan 2004: 143 – 144). Die voorkoms van karakters kan ook as letterlike metafore dien (Ryan 2004: 144). Die sketse verskaf soms subtiele, bykomende inligting.

Films is prente in beweging en kan dus ook as narratiewe beskou word. Oor die algemeen is prente egter nie-liniêr en nie-temporaal en skep hulle dus nie-liniêre en nie-temporale narratiewe. Hier is dit egter belangrik om daarop te let dat die nie-liniêre prent altyd na ‟n mitologiese gebeurtenis of die beslissende draaipunt van ‟n verhaal sal verwys (Ryan 2004: 283), en daarom sal dit as narratief beskou kan word.

Foto‟s verwys wel nie na mitologiese gebeure nie, maar kan die beslissende draaipunt van ‟n nie-fiktiewe vertelling uitbeeld. Dit kan gesien word as ‟n gevriesde oomblik in ‟n

60 voortdurende narratief (Kruger, Rayner & Wall 2004: 44). ‟n Goeie voorbeeld hiervan sal die gebruik van nuusfoto‟s in ‟n koerant wees. Hierdie foto‟s sal dikwels die voorafgaande vertelling ondersteun en die aandag vestig op die oomblik van konflik (Kruger, Rayner & Wall 2004: 44).

2.11.4 Musiek

Musiek is die kunsvorm wat die bekendste is onder die meeste mense, tog is dit die kunsvorm met die hoogste vlak van tegniese kompleksiteit (Ryan 2004: 267). Dit is dikwels moeilik om musiek met woorde te beskryf en die isolasie en tegniese woordeskat van hierdie dissipline te oorbrug. Dus maak musiek-teoretici meer en meer gebruik van die narratiewe teorie om hul dissipline te beskryf (Ryan 2004: 267). Somtyds is narratiewe metafore die enigste manier om oor musiek te praat.

Die verhouding tussen musiek en narratiewe is veelvoudig (Ryan 2004: 267). Dramatiese narratiewe word dikwels getoonset in die vorm van operas, instrumentele komposisies illustreer soms bekende narratiewe (The Sorcerer’s Apprentice deur Paul Dukas), verbale vertellings vergesel musiek (Peter and the Wolf deur Prokofiev) en nuwe musiek word geskep om die stemming in films en teater te skep (Ryan 2004: 267). Sommige teoretici glo ook dat musiek self ‟n onderliggende narratiwiteit bevat.

Narratiewe stel altyd die vooruitgang van tyd voor deur die verandering wat sekere voorwerpe ondergaan (Ryan 2004: 268). In musiek word tyd ook ervaar as verandering, al beïnvloed die verandering nie tasbare objekte nie. Wanneer daar nie spesifieke semantiese inhoud of ‟n tydsdimensie is nie, is die diepe narratiwiteit van musiek ‟n metaforiese fenomeen. Al sou daar nie karakters of ligging wees nie, behou musiek altyd die idee van vooruitgang, die begeerte vir iets-wat-moet-kom, vals of vervulde verwagtinge, die opbou en val van spanning, die idee van ‟n einde en die herinneringe aan iets wat verby is (Ryan 2004: 268). Musiek bevat dus narratiwiteit, sonder dat dit self ‟n formele narratief is. Dit skep altyd die atmosfeer van ‟n verhaal, al sou dit nie self ‟n spesifieke verhaal vertel nie.

61 John Neubauer (in Ryan 2004: 268 - 269) verduidelik dat narratiewe uit die musikale teks sal vloei. Die luisteraar skep ‟n storielyn deur die leë spasies wat musiek laat met persoonlike voorstellings te vul. Neubauer beskou die narratiewe studie van musiek dus as die versameling en analise van die beelde en gebeure wat luisteraars spontaan assosieer met musiek. Musikale narratiwiteit hang dan af van die luisteraar se interpretasie. Musiek vertel dus nie noodwendig ‟n storie nie, maar stel die luisteraar in staat om musiek met stories te assosieer (Ryan 2004: 283).

In argaïese kulture word mites oorgedra deur verhale wat saam met musiek opgevoer word (Ryan 2004: 284). Westerse musiek se narratiewe ontwikkeling het ook begin deur hierdie storievertel-kapasiteit op mitiese inhoud toe te pas. Behalwe dat musiek die voortvloei van tyd voorstel en met vorige verhale geassosieer kan word, kry ‟n mens dikwels die gevoel dat iets gebeur in ‟n musikale werk (Ryan 2004: 283). Die betekenis of tema wat die komposisie probeer oordra, kan as ‟n abstrakte storielyn beskou word.