• No results found

LYS VAN FIGURE

2.9 NARRATIEWE KOMMUNIKASIE AS KOMMUNIKASIEMODUS

Ricoeur en Brooks (in Ryan 2004: 2) verduidelik dat die daad van vertelling mense in staat stel om tyd, bestemming en verganklikheid te verwerk, om identiteit te skep en te projekteer en om hulleself binne die samelewing te posisioneer. Vertelling is ‟n manier om betekenis aan die lewe te gee, alternatiewe realiteit te ondersoek en om gedagtes te strek verby die tasbare wêreld. Dit gee toegang tot die wêreld van drome, fantasie en moontlikhede. Narratiewe verwys egter nie net na fiktiewe tekste nie, maar ook na nie-fiktiewe tekste (Kruger, Rayner & Wall 2004: 42).

36 Turner (in Ryan 2004: 3) sien stories as een van die fundamentele denk-instrumente. Volgens hom gebruik die mens dieselfde kognitiewe beginsels wanneer hy in die alledaagse lewe handel as wat hy gebruik wanneer hy stories lees en hoor. Maar waar Turner narratiewe sien as dié instrument van menslike denke, beskryf Jerome Bruner (in Ryan 2004: 3) dit eerder as een van twee fundamentele denkwyses. Hy onderskei die narratiewe denkwyse van die paradigmatiese, of argumentatiewe, denkwyse. Argumente oortuig van waarheid, maar stories oortuig van lewensgetrouheid.

Die narratiewe modus is ‟n spesifieke modus. Dit hanteer en verwys na menslike bedoelings en aksies en die gevolge daarvan (Ryan 2004: 3). Ryan (2004: 8 – 9) stel die volgende vereistes vir herkenning van ‟n narratiewe teks voor:

 ‟n Narratiewe teks moet ‟n wêreld skep wat met karakters en voorwerpe gevul word. Dit beteken dat ‟n narratiewe teks altyd die bestaan van karakters, en hierdie karakters se kenmerke, sal voorhou.

 Die wêreld waarna die teks verwys moet ‟n toestandsverandering ondergaan, wat deur ongewone fisieke gebeure veroorsaak word. Dit kan toevallige gebeure wees of na doelbewuste menslike aksies verwys. Hierdie veranderinge skep ‟n temporale dimensie en plaas die narratiewe wêreld binne die verloop van geskiedenis.

 Die teks moet die rekonstruksie van ‟n interpreterende teks van doelwitte, planne, oorsaak-verhoudings en psigologiese motiverings rondom die narratiewe gebeure toelaat. Hierdie implisiete redes gee samehang en verstaanbaarheid aan die fisieke gebeure en omvorm hulle tot ‟n storielyn.

Wanneer ‟n teks aan die bogenoemde vereistes voldoen, kan dit dus as ‟n narratiewe teks beskou word. Ryan (2004: 9) definieer narratief as ‟n tekstuele daad van voorstelling. Die teks word geënkodeer om ‟n spesifieke soort betekenis voor te stel. Enige tekens kan gebruik word vir hierdie enkoderingsproses. Verder is narratief ook ‟n denkbeeld of ‟n kognitiewe konstruksie wat deur die interpreteerder gebou word in reaksie op die teks. Hierdie voorstelling kan deur verskeie stimuli veroorsaak word, nie net deur narratiewe tekste nie. Daar word dikwels narratiewe beelde in die mens se gedagtes gevorm in reaksie op die lewe, wat nie noodwendig ‟n narratiewe teks sal wees nie. Hier kan nou onderskei word tussen

37 twee modaliteite (Ryan 2004: 9), naamlik tussen “om ‟n narratief te wees” en “om narratiwiteit te besit”.

“Om ‟n narratief te wees” is van toepassing op enige semiotiese voorwerp wat geskep word met die doel om ‟n narratiewe teks in die denke van die gehoor te skep (Ryan 2004: 9). “Om narratiwiteit te besit” verwys na enige kommunikasie-aksie wat die vermoë besit om ‟n narratiewe teks in die denke van die gehoor te skep, al is dit nie noodwendig vir daardie doel geskep nie. Prente, musiek, dans en die lewe self besit narratiwiteit, al is dit nie letterlike narratiewe nie. Dit is duidelik dat taal die beste semiotiese kode is wanneer dit by storievertel kom (Ryan 2004: 10), aangesien dit meer volledig as enige van die ander kodes is.

In hierdie studie gaan daar hoofsaaklik op die verbale elemente van narratiewe kommunikasie gefokus word. Teoreties gesproke is die betekenis wat narratiewe skep nie gekoppel aan‟n spesifieke medium nie, maar prakties gesien, besit narratiewe ‟n medium van keuse en hierdie medium is taal (Ryan 2004: 13). Juis hieroor is kortverhale, nuus, geskiedenis en gespreksvertellings die bekendste vorme van narratief (Ryan 2004: 13).

Die nie-verbale elemente gaan in ‟n mindere mate aandag geniet. Hierdie elemente kan egter nie uitgelaat word nie, aangesien sekere betekenis bloot beter op ‟n visuele of nie-verbale wyse uitgedruk word, as wat dit op ‟n verbale wyse uitgedruk sou word (Ryan 2004: 12).

Ryan (2004: 13 – 14) stel ‟n oop lys van narratiewe pare voor. Hier word ruimte gemaak vir verskeie soorte narratiewe:

Diaktiese/Mimeties: Diaktiese vertelling verwys na die verbale storievertellingsaksie

van ‟n verteller. Taal is hiervoor nodig, hetsy in die verbale of geskrewe vorm. Mimetiese vertelling is die aksie van “wys”. Hier werk die ontvanger van die narratief onder die leiding van die vertellersbewustheid, maar daar is geen vertellersfiguur nie. Dit kan veral in die dramatiese kunste, soos film, teater, dans en opera, gesien word. Hierdie twee narratiewe tipes kan ook oorvleuel.

38  Outonoom/Verduidelikend: Die outonome teks dra ‟n nuwe storie aan die ontvanger

oor. Die logiese ankerpunte van die storie moet dus sigbaar wees in die teks. Die verduidelikende teks hervertel en voltooi ‟n storie en maak staat op die ontvanger se vorige kennis van die storielyn. Dit kan daarom gebeur dat ‟n teks ‟n bekende storie op ‟n nuwe, veranderde manier vertel. Hierdie teks val dan binne albei kategorieë van die paar.

Ontvanklik/Deelnemend: In die ontvanklike teks speel die ontvanger geen aktiewe

rol in die gebeure wat in die narratief voorgestel word nie. Die ontvanger ontvang bloot net ‟n vertelling van die narratiewe aksie as ‟n eksterne getuie. Die storielyn van die deelnemende teks is nie heeltemal vasgepen nie. Die ontvanger word ‟n aktiewe karakter in die vertelling en dra by tot die skryf van die storielyn. Hierdie soort narratief kom veral voor in improvisasie-teater en interaktiewe digitale media.

Aktueel/Virtueel: In die aktuele modus spesifiseer die teks ‟n voldoende aantal punte

op die narratiewe baan om ‟n redelike definitiewe storielyn te projekteer. In die virtuele modus word net een of twee punte gespesifiseer. Die ontvanger moet dan die res van die virtuele kurwes van die verhaal self verbeel en voorstel.

Letterlik/Metafories: Letterlike narratiewe voldoen aan al die vereistes van

tradisionele narratiewe definisies, terwyl metaforiese narratiewe net aan sekere vereistes voldoen.

Daar is ook ‟n aantal ander soorte narratiewe, wat vervolgens bespreek sal word.

2.9.1 Aangesig-tot-aangesig narratiewe

Aangesig-tot-aangesig narratiewe verwys nie net na mondelinge narratiewe nie (Ryan 2004: 40). Daar is twee eienskappe waaraan ‟n narratief moet voldoen om aan hierdie kategorie te behoort, en hierdie eienskappe kom nie net by mondelinge narratiewe voor nie.

Eerstens moet die narratief interaktief wees (Ryan 2004: 40). Die verteller sal sy verhaal aanpas vir die betrokke gehoor se behoeftes. Die verhaal word geskep en herskep soos die

39 vertelling plaasvind. Die verteller reageer op verskeie faktore, soos vrae wat die gehoor mag hê, onderbrekings, versoeke om verduidelikings, lag en gesigsuitdrukkings.

Tweedens moet die narratief binne die multi-kanaal dimensie, naamlik die askoestiese ruimte, plaasvind (Ryan 2004: 40). Aangesig-tot-aangesig vertelling is meer as net ‟n kognitiewe ervaring van taal gebaseer op sintaksis en semantiek; dit is ook ‟n liggaamlike optrede waar betekenis geskep word deur gebare, gesigsuitdrukkings en intonasie.

2.9.2 Standaardstorie

‟n Standaardstorie kan gesien word as ‟n storie wat oor en oor herhaal word om sodoende stabiliteit aan ‟n professionele praktyk te verleen (Josselson & Lieblich 1999: 171). Hierdie stories se aansprake op waarheid word nie getoets of gedebatteer nie, maar bloot aanvaar. Dié storie is so selfverduidelikend dat die aanspraak wat dit op geldigheid maak die behoefte aan bewyse oorskadu. ‟n Standaardstorie sal dus as waar aanvaar word totdat daar ‟n storie met teenoorgestelde waarheid na vore kom (Josselson & Lieblich 1999: 172). Wanneer dit gebeur, sal die storie wat die mees bevrydende gevolge vir die gehoor het, aanvaar word.

Vervolgens gaan die elemente van narratiewe kommunikasie aandag geniet. Van hierdie elemente gaan ook later deur die navorser gebruik word om te bepaal of ‟n bepaalde teks as

‟n narratief beskou kan word, of nie.