• No results found

STRATEGIE BINNE PREDIKING

4.2 NAAM VAN DIE KERK

Daar is verskeie teorieë oor die oorsprong van die naam van die kerk (Apostolic Faith Mission 2008c: 1). Dit is egter duidelik dat die naam nie in Suid-Afrika gebore is nie, maar wel saam met die Amerikaanse sendelinge na hierdie land gekom het (Apostolic Faith Mission 2008c: 1). Charles Parham, Pinkster-pionier van Kansas in Amerika, het eerste van hierdie term gebruik gemaak. Hy was seker dat hierdie beweging die terugkeer na die Apostoliese geloof aangedui het, aldus die term “Apostoliese Geloofsending”.

123 4.3 KORT GESKIEDENIS VAN DIE KERK

Dit was ‟n lang pad wat die AGS die afgelope honderd jaar gekom het – van sekte tot hoofstroomkerk (Jackson 2008: 13).

Die AGS het op 25 Mei 1908 in Suid-Afrika tot stand gekom nadat die Amerikaanse sendeling John G. Lake in ‟n veelrassige kerk in Doornfontein, Johannesburg, gepreek het (Jackson 2008: 13). By hierdie diens het ‟n huishulp van ‟n welgestelde gesin genesing van ‟n opsigtelike siekte ontvang (Burger 1987: 167). Daar word vertel dat die werkgewer dit dadelik agtergekom het en die volgende aand ook in die kerkdiens was. Hier is sy ook van ‟n siekte genees. Binne ‟n week was die Doornfontein-kerkie tot oorlopens toe vol (Jackson 2008: 13). So het die Suid-Afrikaanse Pinkster-beweging vinnig veld gewen onder mense van alle rasse en alle klasse.

John G. Lake en Thomas Hezmalhalch was die grootste rolspelers in die vroeë jare van die AGS in Suid-Afrika. Hulle was saam hoofpastore by die AGS-moedergemeente in Breëstraat in Johannesburg (AGS Siloam 2008b: 3). Hierdie gemeente het bekend gestaan as die Sentrale Tabernakel.

Lake en Hezmalhalch was deel van ‟n geselskap van 17 Amerikaners wat op ‟n sendingtog na Suid-Afrika gekom het (Burton 1983: 32). Van hierdie 17 het slegs Lake en sy gesin, Hezmalhalch en sy vrou, Meneer Lehman en Mejuffrou Sackett in Johannesburg gearriveer. Lehman was die enigste een van die geselskap wat Afrika voorheen besoek het. Hy het reeds vyf jaar lank onder die Zoeloes bedien en was hulle taal magtig. Daar het hoegenaamd geen organisasie agter hierdie manne gestaan nie. ‟n Vriend het op die laaste oomblik twee duisend dollar gegee, maar dit het slegs die reiskoste gedek (Burton 1983: 32 – 33).

124 Lake het Opsiener Bryant van die Zion Apostolic Church in South Africa geken, en hierdie ouderling het sy gemeente voorberei op die koms van die Lake-geselskap. Hy het in ‟n mate ook die weg voorberei vir die opwekking wat gevolg het (Burton 1983: 32 – 33). Hierdie gemeente het hulle ruim gebou in Breëstraat tot diens beskikbaar gestel nadat die kerkie in Doornfontein te klein geword het (Nothnagel 1995: 8). Daar het aand na aand groot skares hier vergader en dit het die AGS se bekende Sentrale Tabernakel geword.

In die begin van 1909 het Lake vir Biskop Furge, die biskop van die Church of England for Africa, ontmoet (Pinksterboodskapper 1983: 32). Hy het ‟n reeks dienste gereël vir hierdie Church of England-predikante sodat hulle van hom lering kon ontvang. Hierdie dienste het uitgeloop op ‟n sending uit Engeland van ‟n komitee, bestaande uit leraars van die Church of England, om Lake se werk te ondersoek en verslag daaroor te doen. Lake het ook hierdie groep aan die pinkster- en genesingsboodskap blootgestel (Pinksterboodskapper 1983: 32).

Die AGS het so gegroei dat gedeelde sentrale bestuur ‟n behoefte geword het. Die uitvoerende raad van die AGS het vir die eerste keer op 27 Mei 1909 vergader (AGS Siloam 2008b: 3). Hier is Hezmalhalch as die eerste president van die AGS verkies. Hoewel die beweging uit Amerika gekom het, het dit spoedig onder Afrikaanssprekendes veld gewen. So word P.L. le Roux in 1913 die eerste Suid-Afrikaanse president van die AGS (Burger 1987: 190). Hy was tot in 1942 die leier van die kerk.

Die vroeë AGS-lidmate was oortuig dat hulle bestaansreg in Suid-Afrika direk gekoppel was aan hulle evangelisasie en veral sendingwerk (Burger 1988a: 3). P.L le Roux het byvoorbeeld by die jaarlikse konferensie van 1926 die volgende gesê (Burger 1988a: 3):

“Die president waarsku dat as die AGS nie wakker word ten opsigte van Missionale gebruike nie, die kerk as ‟n sendingorganisasie sal uitsterf.”

P.L. le Roux was ‟n boesemvriend, vertroueling en dissipel van dr. Andrew Murray (Jackson 2008: 13). Murray se leerstellings, saam met die Sioniste-beweging en die Anglo Boere-

125 oorlog, het alles bygedra om die weg te baan vir hierdie Pinkster-beweging in Suid-Afrika (Apostolic Faith Mission 2008b: 1).

Gedurende die eerste paar dekades van die AGS se bestaan het daar ‟n sterk gevoel van “anti- kerk” geheers (Burger & Nel 2008b: 59). Hierdie gevoel was in reaksie op die historiese kerke se aandrag op vorm en formaliteit, sowel as die verwerping wat lidmate ervaar het wanneer hulle positiewe oortuigings oor die leringe van die AGS uitgespreek het (Burger & Nel 2008b: 59). Weens hierdie sterk gevoel was die AGS tot en met 1961 ook nie as ‟n kerk geregistreer nie, maar wel as ‟n onbeperkte maatskappy en ‟n sendinggenootskap (Burger & Nel 2008b: 82).

In ‟n onderhoud met dr. Isak Burger, huidige president van die AGS, skryf Jackson (2008: 13) dat daar dikwels teen die AGS gediskrimineer is. Daar sou byvoorbeeld geen grond in die hoofstraat van ‟n dorp aan die AGS verkoop word nie. Burger sê as ‟n mens vandag nog gaan kyk, sal daar op baie plattelandse dorpies gesien word dat die AGS se kerkgebou in die sogenaamde onderdorp staan (Jackson 2008: 13). Senator Gerrie Wessels het ‟n groot rol gespeel om hierdie situasie te verander. Volgens Burger was hy een van die invloedrykste en mees charismatiese leiers wat die AGS nog opgelewer het, al was hy nooit president van die kerk nie (Jackson 2008: 13). Senator Wessels was ‟n pastoor wat in die vroeë 1950‟s groot skares mense met sy preke teen kommunisme gelok het. In ‟n politieke skuif om stemme te wen, het die Nasionale Party Wessels ‟n setel in die senaat aangebied. Die AGS het toe reeds ‟n groot hoeveelheid van hul kiesers bedien. Senator Wessels se politieke loopbaan het hom invloed besorg wat hy ook ten bate van die kerk kon gebruik (Jackson 2008: 13). Hierdie pastoor en vise-president van die AGS het nie net die AGS se belange beskerm deur sy setel in die Senaat nie, hy het ook uitsaairegte en beter grondregte vir die AGS beding.

Dr. F.P. Moller het gedurende sy presidentstermyn (1967 – 1988) ‟n groot bydrae gelewer tot die teologiese verantwoording van die AGS en die Pinksterbeweging (Jackson 2008: 13). Dit was onder sy leiding wat die Werkersraad van die AGS (die nasionale raad van voltydse en deeltydse werkers van die AGS) reeds in 1983 uitsprake gemaak het oor die eenheid van die

126 kerk ten opsigte van velkleur, ras, taal en kultuur (Pinksterboodskapper 1983: 14) en in 1986 die Apartheidsisteem verwerp het (Burger & Nel 2008b: 240). Hierdie amptelike verklarings was vrylik in die pers beskikbaar. Die verklaring uitgereik oor die eenheid van die kerk word so ingelei en afgesluit (Pinksterboodskapper 1983:14):

Die Raad insake Leerstelling, Etiek en Liturgie van die AGS het bevind en gee uitspraak dat daar geen Bybelse gronde is om by wyse van kerklike verordening te bepaal dat mense van verskillende velkleur, ras, taal of kultuur in verskillende gemeentes moet aanbid nie. So ‟n verordening is in stryd met die eenheid van die kerk… Hoe hierdie beginsels in praktiese gestaltes daar sal uitsien, sal eers duidelik wees wanneer die verandering aan kerkwette by die Werkersraad van 1984 ter sprake sal kom.

Die NG Kerk het sedert 1945 die AGS as ‟n sekte beskou. Nadat die huidige president van die AGS, dr. Isak Burger, en prof. Johan Heyns, moderator van die NG Kerk, in die laat jare tagtig goeie vriende geword het (Jackson 2008: 13), is die AGS by die NG Kerk se algemene sinode van 1990 as Christelike Kerk erken. Burger is in April 1988 verkies tot die sewende president van die enkelafdeling van die AGS van Suid-Afrika (Hattingh 2008: 17). Burger is ook in April 1996 as president verkies van die verenigde, of saamgesmelte, AGS (Burger & Nel 2008a: 116). Hierdie verkiesing tydens die Eenheidskonferensie in Centurion, is een van die hoogtepunte van Burger se termyn as president van die AGS (Burger 2008: 2). Hy was een van die hoof-rolspelers tydens hierdie verenigingsproses van die AGS van Suid-Afrika en is tot op hede steeds president van die kerk (Apostolic Faith Mission 2008d: 1).

Daar is teen die einde van 2007 ‟n opname gemaak van al die AGS-lidmate en –gemeentes. Daar was 1800 gemeentes en 1,2 miljoen lidmate van die AGS in Suid-Afrika (Burger & Nel 2008b: 448). Burger glo dat die AGS vandag sy plek volstaan in die behoudende evangeliese stroom in die land en dat dit een van die hoofstrome van die Christendom geword het (Jackson 2008: 13). “In Afrika is dit veral die Pinksterbeweging wat veld wen en kyk jy na

127 die kerklike toneel, kom talle van die leiers van die onafhanklike kerke oorspronklik uit die AGS,” sê Burger (Jackson 2008: 13).